Matteus 7:1-5 (balk in eie oog, splinter in ander)

Kyk ook:

Matteus 7:1-5

(1)“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; (2)met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. (3)“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? (4)Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? (5)Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

(Kyk ook Lukas 6:41-42.)

Daar is mense wat hierdie gedeelte gebruik om te beweer dat ons nie moet oordeel nie of dat ons onsself eerder by ons eie foute moet bepaal. Almal het tog immers balke in hulle eie oë.

Toegegee, wanneer ’n ander persoon tereggewys word, moet dit in die regte gesindheid gedoen word, en moet dit altyd gepaard gaan met selfondersoek. Maar om hierdie gedeelte te gebruik om te argumenteer dat ons nie ander op hulle foute moet wys nie, dan is dit ’n fout. Daar is twee dinge wat oorweeg moet word:

1. In watter konteks het Jesus dit gesê?

Die konteks lê in vers 5, in die woord “Huigelaar”. Die 53 vertaling praat van “geveinsde”, dus ’n skeinheilige. Jesus praat hier met mense wat eerste is om sondes van ander uit te wys, maar nooit selfondersoek doen en besef dat hulle self ook skuldig is aan sonde nie.

Die vraag is of almal balke in ons oë het? Die antwoord is “nee”. As ’n bankrower iemand anders wil berispe wat af en toe ’n sjokolade uit ’n winkel steel, is dit duidelik dat die bankrower skynheilig is. Hy het die balk in die oog en die sjokoladedief die splinter. As die sjokoladedief die bankrower wil berispe, dan is dit seker ook skynheilig, maar die punt wat Jesus hier maak is om eers selfondersoek te gaan doen voor jy teregwys. Jesus wil nie sê dat omdat almal sonde het, kan mens niemand teregwys nie. So ’n siening is duidelik teenstrydig met wat die Bybel op ander plekke sê. (Kyk ook Almal het ’n balk in hulle oog.)

2. Wat sê die Bybel daaroor om mense tereg te wys?

Die Bybel is baie duidelik dat ons ’n verantwoordelikheid het om ons broer tereg te wys. Kyk Die Bybel oor oordeel / 3. Ons moet die sonde veroordeel.

Paulus sê ondere andere die volgende:

  • 1 Korintiërs 5: (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.
  • 2 Johannes 1: (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Moet ’n mens vir Paulus sê: “Stadig oor die klippe, Paulus. Haal eers die balk uit jou eie oog!”

Nee, definitief nie.

Hier volg nog ’n paar gedeeltes (kyk ook Die Bybel oor oordeel):

Wanneer jy iemand teregwys, doen dit in nederigheid en doen selfondersoek, maar doen dit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui