Kerk dalk nou in hof gepak

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer. Die gay van wie hieronder gepraat word is Johan Strydom. Kyk ook na die artikels hierbo in die “Kyk ook”-blokkie.

**************

Kerk dalk nou in hof gepak

29 Aug 2008 09:52:52:870PM

Sommige kerklui was erg bekommerd dat godsdiensvryheid in die gedrang gebring word deur die hofuitspraak oor die NG kerk Moreletapark, Pretoria, se ontslag van ’n gay musiekdosent.

Neels Jackson

Sommige kerklui was gister erg bekommerd dat godsdiensvryheid in die gedrang gebring word deur die hofuitspraak oor die NG kerk Moreletapark, Pretoria, se ontslag van ’n gay musiekdosent.

Ander kerklui het gevoel dat dié kommer ongegrond is.

Die Evangeliese Alliansie en die Apostoliese Geloofsending het in afsonderlike verklarings albei gesê die uitspraak van die gelykheidshof in Pretoria teen Moreletapark het ernstige implikasies vir godsdiensvryheid.

Albei verklarings meen die deur word nou daarvoor geopen dat uitsprake wat gemaak word van die kansels van kerke, moskees, sinagoges en tempels af, nou in die howe uitgedaag kan word.

Dit kom nadat die gelykheidshof bevind het dié gemeente het gediskrimineer teen mnr. Johan Strydom, ’n musiekdosent, weens sy seksuele voorkeure.

Hulle moet hom om verskoning vra en R86 970 aan hom betaal.

Eerw. Moss Nthla van die Evangeliese Alliansie het gesê dit plaas kerke in ’n baie moeilike posisie as hulle tussen die Bybel en landswette moet kies.

Dr. Isak Burger, president van die AGS, het gesê die kerk is nou weer in die posisie van die vroeë kerk wat gesê het hulle moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die owerheid.

Die AGS het volgens hom geen keuse nie as hom hulle van die hof se beslissing te distansieer.

Dr. André Bartlett, voorsitter van die Gautengse Raad van Kerke, meen egter dat godsdiensvryheid glad nie hier in die gedrang kom nie.

Volgens hom beteken die uitspraak net dat die kerk in sy arbeidspraktyke nie bo landswette verhewe is nie.

Ds. André Muller, predikant van die Reformerende Kerk, wat gay lidmate bedien, het ook gesê dit gaan hier suiwer om die werkverhouding. Kerke kan steeds besluit dat hulle nie gay orreliste wil aanstel nie, maar hulle moet dit net vooraf duidelik stel. Moreletapark het dit nie gedoen nie.

Hy het gesê vir gay mense is die groot betekenis van dié uitspraak dat hulle nie meer hoef bang te wees om in die werkplek geviktimiseer te word nie. Dit sal ’n groot stuk vrees uit hul lewens wegvat.

Mnr. Eddie Makue, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, meen ook nie dat godsdiensvryheid nou in gedrang is nie.

Hy het gesê die kwessie is wat kerke doen met die opdrag dat hulle hul naaste moet liefhê soos hulself.

Almal is na die beeld van God geskape en jy kan nie iemand op grond van sy seksualiteit van God se liefde uitsluit nie. Christus aanvaar mense ondanks hulself, het Makue gesê.

njackson@beeld.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui