Gaywees nie keuse, sê verslag

Kyk ook:

Die volgende artikel is geskryf deur Elsabe Brits (wat terloops pro-evolusie en pro-homoseksualiteit is). Hierdie wys maar net weer hoe subjektief die wetenskap is: volgens hierdie berig is wetenskaplikes seker dat ’n mens gay gebore word terwyl ander wetenskaplikes weer oortuig is dat daar geen bewyse bestaan nie (kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit).

Ongeag wat die werklikheid is, verander dit niks aan God se opinie wat duidelik in Sy Woord bekend gemaak word.

**********

Gaywees nie keuse, sê verslag

Netwerk24

‘Ingebore en onveranderlik’

Seksuele oriëntasie is nie ’n keuse nie, maar aangebore, het Suid-Afrikaanse wetenskaplikes in ’n beleids- en navorsingsverslag gesê.

Luidens die verslag is daar nié wetenskaplike bewyse vir die volgende stellings nié:

  • Die manier waarop jy grootword, het ’n invloed op jou seksuele oriëntasie.
  • Jy kan gay word deur kontak met gay mense.
  • Groepsdruk kan jou seksuele oriëntasie verander.
  • Seksuele mishandeling in jou kinderdae maak jou gay.
  • Gay mans en vroue se seksuele oriëntasie kan verander word met terapie – inteendeel, dit doen skade en is oneties.

Dit is deel van die verslag van Suid-Afrika se sambreelliggaam vir die wetenskappe, die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf), wat honderde navorsingsartikels van oor die wêreld heen bestudeer en toe onlangs sy bevindings, saam met sy Ugandese eweknie, gepubliseer het.

Die verslag van byna 100 bladsye, genaamd Diversity in Human Sexuality, is gelei deur prof. Daya Reddy, president van die akademie. Die paneelvoorsitters was prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, en prof. Jerry Coovadia, ’n kenner in pediatrie.

Die mandaat van die akademie is om die regering van bewysgegronde wetenskaplike advies oor wetenskap wat van nasionale belang is, te voorsien.

“Teen dié tyd is daar aansienlike wetenskaplike konsensus dat seksuele oriëntasie ingebore en onveranderlik is vir die meeste mense,” het die akademie gesê.

“Dit word nie gekies nie, soos sommige mense wat verkeerdelik daarna verwys as ’n ‘leefstylkeuse’.”

Daar word onder meer gesê oriëntasie word in die eerste ses maande van ’n embrio se lewe bepaal vanweë die invloed en konsentrasie van sekere hormone, asook genetika en immunologie.

Sterk genetiese ooreenkomste is gevind tussen gene op die X-chromosoom van gay mans, asook hoe dié chromosoom van ’n ma ’n rol speel in haar kinders se seksuele oriëntasie.

Daar is nog ’n leemte in die aantal studies oor gay vroue.

In die veld van epigenetika is die eerste keer gevind daar is ’n verband tussen oorerflikheid en seksuele oriëntasie.

Epigenetika is die studie van genetiese chemiese reaksies en hoe dit gene en die manier hoe hulle uitgedruk word, beïnvloed.

Wanneer daar na epimerkers gekyk word, word gesien dit word oorgedra van een generasie na die volgende.

Só kan ’n pa, onder meer, meer manlike eienskappe aan sy dogter oordra wat haar oorsensitief vir testosteroon maak, en ’n ma kan epimerkers oordra wat haar seun minder sensitief daarvoor maak.

Tot wie ’n mens aangetrokke is, ontwikkel vroeg in die lewe – vir seuns gemiddeld op 9,5 jaar en meisies tussen 10 en 10,5 jaar.

Lees ook:

Kommentaar

Jan Louw

Ek reageer op Elsabé Brits se berig (29/7) aangaande ’n wetenskaplike verslag oor gay oriëntasie. Tussen die lyne lees mens lees dat daar nog niks bewys is nie, maar die akademie sê tog: “Teen dié tyd is daar aansienlike wetenskaplike konsensus dat seksuele oriëntasie ingebore en onveranderlik is vir die meeste mense,”

Ek het in my lewe al geleer dat mens versigtig moet wees vir mense wat wetenskap en statistiek wil gebruik om hulle eie idees te bevorder.

In my jeugjare het die idee posgevat dat botter skadelik is vir ’n mens. Nou blyk dit ná ’n paar dekades dat botter gesond is en dat margerien eintlik méér skadelik is vir ons gesondheid.

Daar was jare lank ’n siening dat mens koffie moet vermy. Baie mense het hulle toevlug na gedekafinieerde koffie geneem. Nou sê die dokters daar is bevind jy kan maar jou koffie drink. Dit is in werklikheid goed vir jou, veral vir asmalyers.

Tim Noakes beweer met wetenskaplike aansprake dat rooivleis met vet net die ding vir jou is as jy wil maer word.

Mandela het gesê navorsing het bewys dat die doodstraf nie ’n afskrikmiddel is vir mense om moord te pleeg nie.

Ek dink ons moet ons maar liewer laat lei deur ons gesonde verstand en dit wat ons met ons eie oë sien en met ons eie ore hoor.

Jan Louw

Reitz

Johan Janse van Rensburg

Gay-geen nog nie gevind

Donderdag 06 Augustus 2015 03:30

Die berig “Gaywees nie keuse” (29/07) verwys.

ASSAF se verslag word voorgehou as die nuutste navorsing wat bewys dat gaywees “ingebore en onveranderlik” is. ’n Groot getal navorsingsartikels oor homoseksualiteit word deur ’n span kundiges beoordeel. Die verslag bestaan dus uit die interpretasie van bestaande navorsing en is nie nuwe genetiese navorsing nie.

Daar is egter ’n groot verskeidenheid wetenskaplike artikels wat die moontlikheid van ’n genetiese verband verwerp.

In ’n navorsingsartikel kom Suhay en Garretson (2015) tot die gevolgtrekking dat argumente wat die genetiese verband met homoseksualiteit verwerp, gemiddeld meer oortuigend gereflekteer het as argumente ten guns­te van die genetiese verband met homoseksualiteit.

In die ASSAF-verslag is daar selfs ’n verwysing na die gevolgtrekking van navorsing wat in 2014 deur Sanders et al. gedoen is. Dié navorsing het bevind dat daar genetiese invloede kan wees wat saam met ander faktore soos multi-kulturele faktore in seksuele oriëntasie ’n rol speel, maar dit is “far from determinant”.

Navorsing wat op ’n genetiese verband gedui het, kon nie met latere navorsing bevestig word nie.

Onder die opskrif “Genetics and Homosexuality: Are People Born Gay?” bespreek Rich Deem die resente navorsing en bevind hy: “Attempts to find a ‘gay gene’ have never identified any gene or gene product that is actually associated with homosexual orientation, with studies failing to confirm early suggestions of linkage of homosexuality to region Xq28 on the X chromosome” (Internet: Evidence for God).

ASSAF se verslag is ook nie ’n onweerlegbare bewys nie.

Trouens, op ASSAF se eie webtuiste is daar ’n navorsingsartikel wat soos volg begin: “Are people born gay or straight? Much of the current media sources assume the question is a solved scientific problem with all the evidence pointing toward a biological (probably genetic) basis for a homo­sexual orientation.

“Contrary to this perception, the question has been poorly studied (or studied poorly), although there is some evidence on both sides of the question” (Genetics and homosexuality).

Prof. Johan Spies (departement genetika, Universiteit van die Vrystaat) som die huidige navorsing op: “Die bewering dat ’n gay-geen gevind is, word duidelik nie deurslaggewend deur navorsing bevestig nie.”

Prof. Johan Janse van Rensburg

Bloemfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui