Beskuldig dan ook God self van onverdraagsaamheid (G Aggenbag)

Kyk ook:

Ek verwys na dr. Frits Gaum se artikel Die NG Kerk en gays: ‘Tyd vir herbesin’ in Rapport van 28 Junie 2015.

Dr. Gaum mislei die lesers. Laat ons padlangs praat en ophou om werklikhede in mooi woorde te pakketteer.

Ek stel vooraf: Dit is nie sonde om gay alias homoseksueel geöriënteerd te wees nie. Gay persone het hulp, onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nodig. Die meeste van hulle weet nie eens dat selfde-geslag-aangetrokkenheid oorsake het. En selde ken hulle die oorsaak van hulle oriëntering. Hulle kan gehelp word deur vakkundiges en mense wat die moeite doen om navorsing te doen, hulleself te vergewis van die feite en bereid is om ’n pad met hulle te stap. Gay mense wat hulp soek kán gehelp word. Ek het eerlike simpatie met hulle. Kyk bv www.learntolove.co.za.

Dr. Gaum meen dat dit ’n gruwelike onreg is om van gay predikante te verwag om selibaat te bly. Dit beteken dat hulle vry moet wees om homoseks na willekeur te beoefen. Hy hamer tot vervelens op woorde soos “verdraagsaamheid”, “ruimte skep” en “toegewing maak” en soortgelyke sinonieme. Die feit is egter dat God se Woord geen verdraagsaamheid of enige van hierdie toegewings ken wanneer dit kom by dinge wat Hy uitdruklik verbied nie – waarvan homoseks alias sodomie een is.

Dr. Gaum behoort te weet wat die Bybel oor homoseks sê, of is hy een van die sg. teoloë wat God se uitsprake in die Bybel só verduidelik en verdraai totdat dit “sê” wat hy dit wil laat sê? As dr. Gaum in hierdie geval enigiemand wil beskuldig van onverdraagsaamheid en dergerlike sinonieme, dan moet Hy God self daarvan beskuldig – nie dié wat na Sy bevele wil luister en aan Hom gehoorsaam wil wees nie. God se Woord noem homoseks ’n gruwel, iets skandeliks, mekaar se liggame onteer. Wat God oor homoseks sê, kan gerus gelees word by (o.a.) Rom.1:22-28; 1Tim.1:10; Lev.20:13; 1Kon.14:24.

Ek stel dit aan dr. Gaum dat juis hý liefdeloos is deurdat, in plaas van hierdie mense te help met hulle probleem, hy propageer dat hulle dit moet aanvaar en dat hulle nie selibaat (sonder homoseks) hoef te bly nie. God het seks vir die huwelik gereserveer en op enige ander terrein verbied – hetsy homoseksueel of heteroseksueel. Hy is besig om vir homself God se toorn op die hals te haal deur ongehoorsaamheid aan Hom te propageer (Rom1:28). Die komende Algemene Sinode sal waarskynlik dieselfde pad loop.

***********

In reaksie op hierdie brief, skryf Etta van der Merwe die volgende:

Toe ek vra of hy gay is, sê hy: Ja, Mamma

Saterdag 11 Julie 2015 16:55

Netwerk24

Ds. Gideon Aggenbag se brief in Rapport van 5  Julie, “Beskuldig dan ook God self van onverdraagsaamheid”, het betrekking.

Ek wil met dié skrywe nie klippe gooi nie en ook nie juis by ’n debat betrokke raak nie.

Ek aanvaar ook Aggenbag het nie kinders wat gay is nie. Een van my kinders is gay.

Dominee, ek wonder wat sou u raad aan my en my kind wees as ek my na u moes wend met hierdie probleem. Ek sidder om te weet.

Ek het ná ’n paar insidente my kind gevra of hy gay is. Sy antwoord was: “Ja, Mamma.” Ek moes ’n blitsbesluit neem – en by my was daar absoluut geen twyfel dat ek hom nooit daaroor, of oor enigiets anders, sal verwerp nie.

Ja, dominee, ek lees u teksverwysings dat sodomie in die Bybel verbode is, onder meer Romeine 1:22-28. Maar wat sou u doen, dominee, hom reg slaan? Hom die huis verbied, hom verneder, die Bybel vir hom lees, hom uitwerp omdat hy hom met semels gemeng het en die varke hom nou moet vreet?

Weet u van die lang pad van loutere hel, selfontkenning, selfontdekking en verwerping waardeur hierdie mense gaan?

Dominee, wie dink u dan het my kind geskape? Ek het my kinders lief, onvoorwaardelik, en as hulle foute maak, moet hulle die gevolge dra, maar om iemand te verwerp vir dit wat hy is of voel – nie ’n manier nie.

Ek wil u baie mooi vra om asseblief weer u brief te gaan lees. Dalk moet u eerder u onverdraagsaamheid vir uself hou. Ds. Aggenbag, besin.

Etta van der Merwe

Bloemfontein

Kommentaar

George Bekker het die volgende gepaste kommentaar hierop gelewer:

Dankie aan Etta van der Merwe vir haar brief. ’n Ouer se liefde vir haar/sy kind is nie onderhandelbaar nie. Dit moet almal se uitgangspunt wees, ook Aggenbag s’n. Aan die ander kant stel die Bybel ook eise. Die gay-persoon moet aan die Bybel se seksuele vereistes voldoen of die Woord verwerp. Volgens my interpretasie bring dit mee dat die gay-persoon hom/haar van seksuele aktiwiteite moet weerhou – dis die hade werklikheid wat in die oë gekyk moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui