Die Bybel oor doodstraf

Daar is 2 redes hoekom ek in die doodstraf glo:

  1. Ek glo dat dit misdaad sal verminder.
  2. God sê baie duidelik dat moordenaars (en ander boosdoeners) doodgemaak moet word. Dus is dit ’n Bybelse beginsel. Dit het nie verval met die koms van Jesus in die Nuwe Testament nie – die God van die Ou Testament bly en is ook die God van die Nuwe Testament (kyk Die Bybel oor God se onveranderlikheid).

Die Bybel is duidelik oor moordenaars

Die Bybel is baie duidelik wat met moordenaars moet gebeur:

  • Genesis 9:5-6: (5)Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van ’n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van ’n mens, en van ’n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens. (6)Wie die bloed van ’n mens vergiet, deur ’n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.
  • Eksodus 21:14: Wanneer iemand egter ’n ander opsetlik doodmaak, moet jy hom selfs by die altaar wegvat en doodmaak.
  • Numeri 35:33: Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is.

Die wette wat God vir Moses gegee het, het God persoonlik aan Moses gegee – daar kon nie enige misverstand wees nie (Eksodus 33:11):

  • Numeri 12:6-8: (6)het die Here gesê: “Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. (7)Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. (8)Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?”
  • Eksodus 33:11: Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.
  • Deuteronomium 9:1: Die Here het vir my die twee plat klippe gegee waarop met sy eie vinger al die woorde geskryf was wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het, die dag met die vergadering.

God pas doodstraf op ander volke toe

God het meermale beveel dat stede/nasies uitgewis word, insluitende “onskuldige” vroue en kinders. Dit dui moontlik daarop dat God die doodstraf toegedien het op hierdie mense:

God het die farao hardkoppig gemaak en op die ou end is die eersgeborenes doodgemaak. Was dit nie dalk God se wraak in die vorm van doodstraf, op farao omdat hy die Joodse babatjies onskuldig vermoor het nie?

(Vir meer oor die kwessie dat God nasies uit laat wis het, kyk Om God en die Bybel te verstaan.)

Doodstraf sal misdaad verminder

Daar is mense wat beweer dat die doodstraf nie noodwendig misdaad sal verminder nie. Die Bybel verskil egter. Hier is ’n paar verse in die Bybel wat verklaar dat doodstraf misdaad sal verminder:

  • Deuteronomium 13:11: Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so ’n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.
  • Deuteronomium 17:13: Die hele volk sal hiervan hoor en bang word om so moedswillig op te tree.
  • Deuteronomium 19:13: Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan.
  • Deuteronomium 21:21: Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.
  • Esegiël 23:44-49: Hier beveel God self dat Ohola en Oholiba doodgemaak moet word om as voorbeeld te dien vir ander.

Doodstraf vir meer as net moord

In die Bybel moes die doodstraf vir meer as net moord toegepas word. Dus was doodstraf ’n baie erkende straf in die Bybel:

Esegiël 18:10-13

(10)“Maar so iemand kan ’n wilde seun hê wat moord pleeg of van dié sondes doen (11)terwyl die pa dit nie gedoen het nie. As die seun aan die offermaaltye op die berge deelneem, ’n ander se vrou onteer, (12)die mens in nood en die arme verdruk, mense beroof, goed wat hy in pand geneem het, nie teruggee nie, hulp soek by afgode en so afskuwelike dade pleeg, (13)geld op rente uitleen of woekerwins vat, kan hy nie bly lewe nie. Hy sal nie bly lewe nie, hy het al hierdie afskuwelike dinge gedoen en hy moet dood. Hy verdien die dood.

Doodstraf nie ligtelik nie

Doodstraf is nooit ligtelik gesien nie. Die Bybel gee nie ’n lisensie om links en regs dood te maak nie. God het juis die doodstraf ingestel omdat God soveel waarde aan die lewe heg. Daarom is die doodstraf slegs toegepas op grond van die getuienis van twee of meer mense:

  • Deuteronomium 17:6: Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word; hy mag nie gedood word op die verklaring van een getuie nie.
  • Deuteronomium 19:15: Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. ’n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

Die beginsel van “‘n oog vir ’n oog” geld duidelik in die Bybel soos in die volgende verse gesien kan word:

  • Eksodus 21:23-25: (23)As sy blywend beseer is, is die straf: ’n lewe vir ’n lewe, (24)’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand, ’n voet vir ’n voet, (25)’n brandwond vir ’n brandwond, ’n wond vir ’n wond en ’n kneusplek vir ’n kneusplek.
  • Levitikus 24:17-22: (17)Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. (18)As iemand ’n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: ’n lewe vir ’n lewe. (19)As iemand ’n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word: (20)as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word. Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het. (21)As iemand ’n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang, maar as iemand ’n moord pleeg, moet hy die doodstraf kry. (22)Hierdie beginsel geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge, want Ek, die Here, is julle God.”

“‘n Oog vir ’n oog” is nie tot niet verklaar in Matteus 5:38 nie, dit is steeds deel van God se karakter (word later bespreek).

Hoe doodstraf uitgevoer moet word

God het gesê dat die volk self die doodstraf moes toedien deur die moordenaar buite die stad met klippe dood te gooi:

God het die wette in baie detail vir Moses gegee, dus kon Hy as Hy wou, gesê het dat sekere mense aangestel moes word (laksmanne) wat die doodstraf moes toedien. God het egter verkies dat die mense dit self moes uitvoer. Daar is seker nie iets fout om, soos in die 1900 en vroeër, laksmanne aan te stel om dit uit te voer nie. As ’n mens egter die emosionele las sien wat hierdie taak op laksmanne sit, wonder ’n mens of die publiek nie self die straf moet toedien nie.

Verder sê hierdie moontlik iets van openbare teregstellings: daar is niks fout met openbare teregstellings nie en dit kan moontlik selfs meer effektief wees om misdaad te bekamp.

Asielstede vir mense wat ander per ongeluk doodmaak

Dit is interessant dat indien ’n persoon iemand anders selfs per ongeluk doodgemaak het, kon die oorledene se familie steeds wraak neem op sy dood en die persoon wat die dood veroorsaak het, doodmaak, sonder om skuldig aan moord te wees. In so ’n geval kon die persoon wat die dood veroorsaak het egter na ’n asielstad vlug vir veiligheid. Kyk:

  • Numeri 35:9-34
  • Josua 20:2: Julle moet nou die asielstede afstaan wat Ek julle deur Moses beveel het,
  • Josua 20:9: Dit was die stede waarop ooreengekom is. Enige Israeliet, of enige vreemdeling tussen die Israeliete, wat onopsetlik die dood van ’n ander veroorsaak het, kon na so ’n asielstad toe vlug sodat hy nie deur ’n bloedverwant van die oorledene doodgemaak word sonder dat hy deur ’n vergadering verhoor is nie.

Owerhede het die reg om doodstraf toe te dien

Volgens die Bybel het die owerheid die reg gekry om die doodstraf toe te dien:

  • Spreuke 20:26: ‘n Wyse koning sif die skuldiges uit en straf hulle genadeloos.
  • Romeine 13:4: want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.

God is regverdig en daarom straf Hy

Verder is God regverdig deur te straf in die algemeen:

  • Nahum 1:2: Die Here is ’n God wat baie begaan is oor sy volk, ’n God wat Hom wreek. Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn, die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam teen sy vyande. (3)Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie.
  • Rigters 9:24: God het dit oor Abimelek gebring oor die onreg wat hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God wou hulle dood wreek, en Hy het dié dinge oor die burgers van Sigem gebring omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.
  • 2 Konings 9:7: Jy sal die koningshuis van Agab vernietig. So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete, oor die vergieting van die bloed van al die dienaars van die Here.
  • Psalm 9:13: Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood, Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie.
  • Jesaja 1:24: Daarom sê die Here die almagtige God, die Sterke van Israel: Ek sal afreken met my teëstanders. Ek sal My wreek op my vyande.
  • Ensovoorts (soek die woord “wreek” in die Bybel vir meer)

Argumente teen die doodstraf

Mense wat teen die doodstraf is, gebruik soms die volgende argumente:

Mag nie wraak neem nie

Die argument is dat ons nie wraak moet probeer neem deur dieselfde aan mense te doen wat hulle gedoen het nie. Mense beweer dat Jesus die gedagte van “‘n oog vir ’n oog” tot niet verklaar het met Sy uitspraak in Matteus 5:38.

  • Matteus 5:38: Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’
  • Spreuke 20:22: Moenie sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is” nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.
  • Spreuke 24:29: Moenie sê: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen, ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het” nie.

Hierdie verse is van toepassing op individuele gevalle. ’n Mens se gesindheid moet nie wees om wraak te neem nie: Bv as mense by jou kom kuier en hulle breek ’n glas of bord, moet jy nie van hulle verwag om dit te vervang of daarop aandring dat jy ook een van hulle borde/glase kan breek nie. Kyk ook die res van Matteus 5 (vers 39-42). ’n Mens moet ’n gesindheid van vergifnis hê (kyk Vergifnis). Dit beteken egter nie dat daar nie straf moet wees nie, want anders moet daar ook nie tronke wees nie. En hoe bepaal ’n mens die intensiteit van die straf: deur die beginsel van “‘n oog vir ’n oog”.

Jesus beskerm vrou wat op owerspel betrap is

Die argument is dat Jesus in Johannes 8 teen die doodstraf was toe hy vir ’n vrou wat op owerspel betrap is in die bresse getree het:

  • Johannes 8:3-7: (3)Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. (4)Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. (5)Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” (6)Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. (7)Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”

Die fariseers was weer besig om Jesus te probeer uitlok. Ek dink nie Jesus wou met hierdie insident sê dat doodstraf verkeerd is nie, maar wou uitlig dat die gesindheid van die fariseers verkeerd was. Ook wou hulle die vrou stenig, maar wat van die man wat ook owerspel gepleeg het? Die Bybel is duidelik dat beide die man én vrou wat aan owerspel skuldig was gestenig moes word (kyk Levitikus 20:10, Deuteronomium 22:22 en ook Genesis 38:24-26 wat handel oor Juda en Tamar). Dus was daar dubbel standaarde.

Indien Jesus hiermee wou sê dat niemand in die posisie is om iemand anders te oordeel nie, dan moet daar ook nie ’n regsisteem wees wat mense tronk toe kan stuur nie. Vergelyk hierdie gedeelte met Esegiël 23:44-49 waar God self beveel dat Ohola en Oholiba doodgemaak moet word. Kyk ook Die Bybel oor Oordeel.

‘n Ander argument is dat die doodstraf moontlik nie die gepaste straf vir owerspel is nie (uit die beginsel van “‘n oog vir ’n oog”). Hoekom dit in Levitikus en Deuteronomium so gespesifiseer word, weet ’n mens nie.

Menseregte is teen doodstraf

Mense redeneer soms dat doodstraf teen menseregte is. Dit is ook die hoofrede hoekom doodstraf afgeskaf is – want dit is kwansuis teenstrydig met mense se reg om te lewe. Menseregte is egter deel van humanisme en is ’n stel reëls wat mense uitgedink het sonder om die Bybel in ag te neem. Alhoewel daar baie dinge in die humanisme is wat ooreenstem met God se wette, is alles van menseregte nie God se wette nie. Jy sal nêrens in die Bybel lees van menseregte nie, maar slegs van mensevoorregte.

Baie dinge het verander in NT

Die argument is dat daar baie dinge is wat verander het vanaf die tyd van die Ou Testament en dat doodstraf een daarvan is: Dit is waar dat baie dinge verander het, maar daar is geen aanduiding dat doodstraf een van daardie dinge was nie. As die afskaffing van die doodstraf van Jesus af gekom het, sou ons dit duidelik in die Bybel gelees het en sou die dissipels hulle ook beywer het om nie meer die doodstraf toe te pas nie. Dit sou dan moontlik al lankal in ander lande afgeskaf gewees het. Daar is egter eers vrae oor die doodstraf begin vra met die ontstaan van humanisme en menseregte in die 1900’s (?). Verder is die God van die Ou Testament ook dieselfde God van die Nuwe Testament – as doodstraf vir God aanvaarbaar was in die OT, dan sal dit ook vir Hom aanvaarbaar wees in die NT.

Moet towenaars vandag nog doodstraf kry?

Party redeneer dat as ons vandag nog doodstraf wil toedien, hoekom nie ook nog aan towenaars, kinders wat hul ouers vloek, mense wat op die sabbat werk, mense wat egbreek, ens (die hele lys onder Doodstraf vir meer as net moord).

Hierdie is nie ’n geldige argument nie, want dan kan gevra word of mens hierdie dade dan met tronkstraf moet straf? Van hierdie dinge word vandag baie ligter gestraf, heel moontlik juis omdat die beginsel van “‘n oog vir ’n oog” gevolg word. Hoekom God hierdie dinge so swaar gestraf het in die Ou Testament, kan ’n mens waarskynlik nie heeltemal weet nie.

4 thoughts on “Die Bybel oor doodstraf”

  1. n Persoon het my mee gedeel dat daar in die Bybel staan stout kinders is deur hulle ouers dood gemaak. Ek hom gevra waar dit staan. Hy het gese in die Ou Testament. Hy sal sy dominee vra. Hy het ook vir my gese hy glo nie alles wat in die Bybel staan nie. Vlgs my is die Bybel God en die Woord is 110 persent korrek..

    1. Petro, ja, Levitikus 20:9 sê: “Wanneer iemand sy pa of sy ma vloek, moet hy doodgemaak word. Hy het sy pa of sy ma gevloek en hy verdien die dood.”
      Dieselfde in Eksodus 21:17, Matteus 15:4 en Markus 7:10.
      Ek dink mens kan verder aflei dat dit nie sommer net vloek is nie, maar nader aan vervloek.

  2. Liewe Daniel, Matthéüs 5:38 was aangehaal om die naratief van die skrywe te staaf, deur dit onafhanklik op sigwaarde te stel, en geen konteks by dit gevoeg het nie.

    Net so het die donker middeleeue mense oningelig gehou deur die Bybel net in Latyns beskikbaar te stel sodat niemand dit kon lees om self kennis te neem van die ware betekenis van die skrifte nie.

    Die konteks van Matthéüs 5 weerlê egter in geen onsekere terme, die narratief van die skrywe.

    Die diepte, die onverstaanbare genade en liefde van God, is moeilik om te begryp in Matthéüs 5, veral as jy dit teen die agtergrond van vandag se misdaadsyfers moet stel, en nog so meer as jy self deel is van die statistieke.

    Maar die doodstraf is nie ‘n NT beginsel nie. Die diepte van die wysheid van God deur die Verlossing plan van Jesus gaan die begrip en verstand van die mens te bowe.

    Dit is juis in dit dat ons sukkel om ook tenvolle ‘n oorgawe van absolute vertroue aan God te gee, want hoe kan mens deur dit gaan? Hoe kan mens moord “ongestraf” laat bly?

    Vergifnis word ons deel, SLEGS in totale oorgawe van ons ALLES aan God. Jy sou sê dis maklik om te praat, ja dit is, maar nee, dit is ook nie. Want my gedagtes hou die herhinneringe van twee kindersterftes en ‘n plaasaanval in ons familie se kringe.

    Hoe het ons deur die emosionele pyn gekom sonder om te verhard in “geregtigheid”?, VERGIFNIS.

    Jesus se voorbeeld gaan ons verstaan van Matthéüs 5 vooruit.

    Moet nie die waarheid en krag daarvan verwater deur dit onafhanklik te kwoteer om OT geskrifte te wil bekragtig nie.

    Mag die kragvolle werking van die Heilige Gees die waarheid onder Sy kinders bekragtig.

    Seëngroete

    1. Gerdus, ek dink ek het my argument baie duidelik gemaak, maar ek gaan jou tog baie kortliks antwoord:
      Vergifnis het niks met straf te doen nie. Om ‘n persoon te vergewe beteken nie dat die persoon ongestraf gelaat moet word nie. As ‘n dief by jou inbreek en jou goed steel, beteken dit nie hy moet tronkstraf vryspring omdat jy hom vergewe het nie.
      Nêrens in die Nuwe Testament word die doodstraf opgehef nie. Matteus 5:38 se doel is verseker nie om doodstaf af te skaf nie.

      Dit is alles goed en wel om God te vra om in te gryp om misdaad en veral moord te verminder, maar soms wonder ek of God nie dink: “Ek het mos vir julle ‘gereedskap’ (doodstraf) gegee om moordenaars te hanteer. Hoekom gebruik julle dit nie?”

      Kyk ook Die Bybel oor “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui