Homoseksueles en bankrowers

Kyk ook:

In hierdie dae is daar onder sommige Christene baie onduidelikheid oor mense wat hulleself Christene noem maar in ’n SGV (selfdegeslagverhouding) staan. Hoe moet ons as Christene teenoor sulke mense optree?

Wat sê die Bybel?

Die Bybel is só geskryf sodat die man op straat dit kan verstaan (Matteus 11:25). As mens die Bybel op sigwaarde alleen lees is die duidelike gevolgtrekking dat die Bybel teen homoseks is – dat dit selfs vir God ’n gruwel is. As mens bv Bybels in Sjina versprei, is die bedoeling nie om ook ’n teoloog of handleiding saam te stuur om die Bybel uit te lê nie. As hierdie beginsel toegepas word is die Bybel baie duidelik daaroor dat homoseks (selfdegeslagseks) sonde is (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit).

Word jy so gebore?

‘n Mens kan hierdie vraag op drie manier antwoord:

  1. Dit is ’n irrelevante vraag, want ’n mens kan nie toelaat dat genetiese afwykings morele waardes beïnvloed nie.
  2. Ja, jy word so gebore, net soos alle mense gebore word met ’n geneigdheid om sonde te doen (Romeine 3:9-20). Navorsing sal heelwaarskynlik wys dat die meerderheid van heteroseksuele mans gebore word met begeertes vir mooi vrouens (Matteus 5:27-30).
  3. Nee, jy word nie so gebore nie, want daar is baie voorbeelde van homoseksuele mense wat genees is. Wetenskaplike navorsing dui daarop dat jy nie so gebore word nie, maar eerder deur eksterne faktore so gevorm word (kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit).

(Kyk Word jy gay gebore? wat hierdie meer breedvoerig bespreek.)

Hoe word jy gered?

Party mense dink dat ’n mens gered kan word slegs deur in Jesus te glo. Dit is nie waar nie. Jakobus 2:19 sê: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.” Om gered te word moet jy tot bekering kom. Dit behels die afsterwe van die ou mens en opstanding van die nuwe mens (kyk Heidelbergse kategismus, Sondag 33). Jy kan nie bly volhard in sonde nie (Kyk ook 1 Korintiërs 6:9-11).

Hoe moet mense hanteer word wat in SGV staan?

As homoseks dus sonde is, moet dit hanteer word soos enige ander sonde soos diefstal, moord, lieg, bestialiteit, pornografie, onsedelikheid, hoogmoed, ensovoort. Kom ons vergelyk vir ’n oomblik mense wat in ’n homoseksuele verhouding staan met ’n aktiewe bankrower, wat reeds beplan het watter banke hy gaan beroof en nie beplan om daarmee op te hou nie. Nie die homoseksuele persoon óf die bankrower het tot bekering gekom volgens HK, Sondag 33 nie. Kom ons kyk na die volgende vrae:

  • Kan ’n mens bankrowers as belydende lidmate van ’n kerk toelaat?
  • Moet die kerk ’n bankrowerpaartjie se kinders doop? (Onthou, kinders van gelowige ouers word gedoop.)
  • Kan ’n mens bankrowers in die kerk trou?
  • Kan ’n mens bankrowers by die basaar laat help?
  • Kan ’n mens bankrowers toelaat om kerkraadslede te word volgens 1 Tim 3:2 en Titus 1:6?
  • Kan ’n mens bankrowers toelaat om predikante te word?
  • As jou kind ’n bankrower is, sal jy hom ondersteun in sy loopbaankeuse? (Matteus 10:37)
  • As jou kind ’n bankrower is en hy word gevang, sal jy in die hof gaan betoog en sê dat jy trots is om die ouer van ’n bankrower te wees en sal jy pleit dat bankrowery as ’n edele beroep erken moet word?
  • Sal aktiewe bankrowers gered word deur slegs in Jesus te glo sonder om van hulle sonde afstand te doen?
  • Kan ’n mens bankrowers by die kerk se deure stop en belet om ’n erediens by te woon?

Wat jy ookal hierbo antwoord, moet jy van toepassing maak op mense wat in homoseksuele verhoudings staan. (Persoonlik dink ek die antwoord op al bogenoemde vrae is “nee”.)

Daar word van Christene verwag om te streef om sondeloos en heilig te leef. Dit sal baie onregverdig en inkonsekwent wees as homoseksuele mense (of bankrowers) daarvan kwytgeskeld word (Romeine 12:1-2).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui