Wat van gay kerke?

Kyk ook:

Skuilkrans NG gemeente in Pretoria het onlangs saam met die gay kerk, die Reformerende kerk, paasfees gevier (kyk Skuilkrans en gay gemeente hou saam sangdiens vir Paasfees. Kyk dieselfde artikel om meer te lees oor die twee kerke se verhouding). Die vraag is of dit ’n goeie ding was. Wat moet Die Kerk se houding teenoor gay kerke wees in die algemeen?

*****

Daar is sommige Christene wat glo dat homoseks nie sonde is nie en daarom glo dat dit geen probleem is om saam met ’n gay gemeente te aanbid nie. Homoseksualiteit word nie spesifiek in die 10 gebooie genoem nie (Eksodus 20), en word deur hierdie mense as wysheidsliteratuur gesien – dit is dat dit meer as ’n riglyn dien eerder as ’n eksakte wet. (Hierdie manier van redenasie kan ook gebruik word om seks met diere te regverdig nie.) Dit is egter baie duidelik dat die Bybel homoseks as sonde sien (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit). As ’n mens wel besluit om nie homoseks as sonde te sien nie, moet ’n mens jouself ernstig afvra of die Bybel nog van enige nut is – as ’n mens iets wat so duidelik in die Bybel gestel word “anders kan interpreteer”, dan is alles in die Bybel oop vir interpretasie. Dan kan ’n mens nie mense kwalik neem wat byvoorbeeld glo dat Jesus slegs metafories opgestaan het nie (soos Julian Müller en Jurie le Roux).

Daar is egter ’n ander groep mense wat huiwerig is om te sê dat homoseks nie sonde is nie, omdat die Bybel so duidelik daaroor is. (My ervaring is dat baie van hierdie mense in die meeste gevalle ook nie glo dat homoseks werklik sonde is nie.) Omdat hulle egter simpatie met gays het, wend hulle hul tot die argument dat ons nie oor hulle kan oordeel nie en ook dat God se genade vir almal bedoel is. Niemand is immers sonder sonde nie, dus hoe kan ons onsself heilig hou en vir gays sê dat hulle vol sonde is. Bybelverse wat tipies gebruik word as argument, is die volgende:

  • Matteus 7:3 Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
  • Markus 2:17 Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
  • Johannes 12:47 En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red.
  • 1 Johannes 2:2 Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
  • Romeine 3:23-24: (23)Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, (24)maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
  • 2 Korintiërs 5:19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Dus redeneer hierdie tweede groep mense dat (alhoewel homoseks moontlik sonde is) ons saam met gay kerke kan aanbid omdat God se genade vir almal bedoel is. Dit is oënskynlik ook baie Christelik om verdraagsaam te wees – om alle mense te aanvaar ten spyte van ons verskille.

Dit is waar dat Christus vir almal op aarde gesterf het – dit is so dat God se genade wel vir almal beskikbaar is (alhoewel sekeres sal redeneer dat dit slegs vir die uitverkorenes bedoel is volgens die uitverkiesingsleer, maar kom ons laat dit daarby). Jy kan egter slegs genade ontvang as jy om vergifnis vra vir jou sonde. As die lidmate van gay kerke nie dink dat homoseks sonde is nie, dan gaan hulle ook nie om vergifnis daarvoor vra nie.

Volgens Romeine 6 is ons dood vir die sonde indien ons tot bekering gekom het:

(1)Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? (2)Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
(6)Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
(11)Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (12)Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. (13)Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. (14)Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. (15)Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. (16)Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.

As mense openlik in gay verhoudings staan en homoseks is sonde, dan is hulle nie dood vir die sonde nie. Hulle sal ook nie daarvoor om vergifnis vra nie, want hulle wend geen poging aan om hulle sonde te stop nie (wat baie duidelik is volgens die Reformerende kerk se missie wat by Skuilkrans en gay gemeente hou saam sangdiens vir Paasfees gelees kan word). Dit is heeltemal anders as iemand wat sonde doen en belydenis daarvoor doen voor God en probeer om dit nie weer te doen nie.

Verder is die Bybel baie duidelik wat ware liefde vir God is: Ware liefde vir God is gehoorsaamheid aan Hom (kyk Sam 15:22-23, Joh 14:15, Joh 15:10,14, Ps 40:7, Jer 7:22-23). Dit help nie ’n persoon wat nie wil afsien van een of ander sonde in sy lewe probeer God beïndruk met allerhande dinge soos die gee van tiendes of om kerk toe te gaan nie. Ware liefde vir God is gehoorsaamheid aan Hom.

Wat is ons plig teenoor gay kerke?

Dit is so dat die Bybel vol is daarvan dat ons nie ander moet oordeel nie. Dit is egter baie belangrik om te onderskei: ’n mens kan nooit die persoon veroordeel nie, maar wel die sonde. Ons het ’n plig om die sonde te oordeel (kyk Die Bybel oor oordeel). Die Bybel gee ons ’n goeie riglyn in Matteus 18:

(15)”As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. (16)Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17)En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

En ook in Lukas 17:3:

(3)Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.

Let wel dat Matteus 18:17 nie soos volg lui nie: “As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom aanvaar vir wie hy is en moet jy die oordeel aan God oorlaat.” Nee, Jesus sê dat jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar moet behandel. Kyk ook 1 Korintiërs 5 hieronder.

Siende dat gay kerke reeds besluit het dat hulle voort sal gaan om in sonde voort te lewe, moet hulle volgens Jesus self as “’n heiden en ’n tollenaar” behandel word (Mat 18), eerder as mede broers en susters in die geloof, soos wat Skuilkrans NG gemeente gedoen het.

Terloops, as jy redeneer dat niemand sonder sonde is nie en daarom kan ons nie vir die gays sê dat hulle sonde doen nie (kyk weer Matteus 7:3), dan maak jy Matteus 18 en Lukas 17:3 hierbo ongeldig. Dit is sinneloos om so te redeneer.

Gay kerke kan vergelyk word met enige van die volgende voorbeelde:

  • ‘n Kerk wat pornografie nie as sonde sien nie en waar daar pornografiese prente op die muur is as jy in die kerk inkom en God geloof word vir die mens se wonderlike liggaam en seks.
  • ‘n Persoon wat glo dat hy ’n Christen is en mense vermoor omdat hy glo dat hy so gebore is en dat daar niks fout is daarmee nie.
  • ‘n Man wat sy vrou letterlik en/of figuurlik mishandel en niks daarmee fout sien nie.
  • ‘n Dwelm of alkoholverslaafde wat besluit het dat hy nie wil verander nie en dat die mense rondom hom, hom so moet aanvaar.
  • ‘n Prostituut of pornografie-akteur wat glo dat dit nie sonde is nie en dat hy/sy ’n Christen kan wees én hierdie dinge doen.
  • Enigiemand wat sê dat mense of die kerk hom moet aanvaar met sy sonde (watter aard ookal), maar die persoon is nie bereid om aan sy sonde te werk nie.

Kyk ook die artikel Homoseksueles en bankrowers. Dit is tog baie duidelik dat die groepe hierbo nie as medegelowiges gesien moet word nie. Sulke mense moet op hulle sonde gewys word en as hulle nie wil luister nie, moet bande met hulle verbreek word, soos Jesus in Matteus 18 voorskryf.

In Johannes 8 het Jesus wel die prostituut teen die skrifgeleerdes en Fariseërs verdedig, maar in vers 11 sê Jesus: “…en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Jesus sou definitief nie daarvoor te vinde gewees het dat mense bloot aan kan hou om sonde te doen nie. Jesus het nie kom sterf sodat mense aan kan hou om sonde te doen nie.

Hoe moet die kerk uitreik na gay kerke?

Die kerk kan nie uitreik na gay kerke nie. ’n Kerk kan nie eers enige gesamentlike projekte met ’n gay kerk hê nie, nie eers ’n gesamentlike barmhartigheidsprojek soos ’n uitreik na ’n plakkerskamp nie. Die gay kerke het reeds baie duidelik hulle besluit geneem en gesamentlike aksies gaan meer kwaad doen as goed omdat dit altyd die boodskap aan ander gelowiges sal uitstraal dat homoseks nie sonde is nie. Hier geld 1 Korintiërs 5 (wat aansluit by Matteus 18):

(9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

Dit laat ’n mens ook dink aan:

  • 2 Korintiërs 6:14: Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?
  • Hebreërs 10:26-31: (26)Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (27)Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. (28)As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. (29)Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? (30)Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:“Dit is mý reg om te straf;Ek sal vergeld;”en verder:“Die Here sal oor sy volk oordeel.” (31)Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

‘n Mens kan slegs na individuele gays uitreik en ’n pad met hulle stap. ’n Mens moet dit ook doen. Volgens Matteus 18.

Ten slotte

As jy glo dat homoseks nie sonde is nie, dan moet jy jouself eerlik afvra of die Bybel nog enige doel het, want die Bybel is op vyf (moontlik ses) plekke baie duidelik daaroor. Dit is baie duidelik dat hierdie dele in die Bybel nie bloot net wysheidsliteratuur is nie.

As jy erken dat homoseks sonde is, en jy volg die Bybelse riglyne soos beskryf in Matteus 18 en 1 Korintiërs 5, dan moet jy mense wat openlik homoseks beoefen (soos lidmate van gay kerke) as “heidene en tollenaars behandel” en jy “moenie eers saam met hulle eet nie”.

Ek dink die vraag wat gevra moet word is die volgende: hoe sou jy as Christen ’n persoon behandel wat beweer dat hy ’n Christen is en gereeld kerk toe gaan, maar hy woon saam met sy meisie of hy verneuk sy vrou gereeld of hy beroof banke vir ’n lewe? Wat dit presies beteken om iemand as “‘n heiden en ’n tollenaar te behandel” (Matteus 18) weet ek nie (alhoewel dit seker duidelik is as Paulus in 1 Korintiërs 5 sê dat ’n mens nie saam met so ’n persoon moet eet nie), maar ek sal nie ’n hegte vriendskap met so ’n persoon kan hê nie. Ek mag dalk selfs so ’n persoon eerder probeer vermy.

Mag ons hierin wysheid ontvang…

1 thought on “Wat van gay kerke?”

  1. In die Ou Testament word na homoseksuele verwys as skandseuns en was nie toegelaat nie.
    Deut 23:17 Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie, en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie.
    Om te verwys na God as liefde, is ‘n misbruik van die woord liefde.
    Maleagi 2:17 Julle vermoei die Here met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy ‘n behae, of waar anders is die God van reg (Liefde).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui