Sinode Vrystaat gaan nie spesiale sinodesitting hou nie

Kyk ook:

Die moderamen van die Vrystaat Sinode het op 11 Maart 2020 ’n buitengewone moderamenvergadering gehou (soos berig in ‘Geen vrees vir skeuring,’ sê NGK (2 Feb 2020)) en het besluit om nie ’n spesiale sinodesitting, soos Goudland byvoorbeeld gedoen het, te hou nie. Dit is met ’n Whatsapp boodskap gekommunikeer wat hieronder gegee word.

Voor die buitengewone moderamenvergadering is aan ringe gevra om ’n peiling te maak van hoe die gemeentes dink oor die 2019-besluit. Hierdie verslae word ook hieronder gegee en was deel van die agenda van hierdie buitengewone moderamenvergadering. By verre die meerderheid van die verslae is teen die 2019-besluit.

In Hoopstad se verslag (kyk Bylaag 14A: Bultfontein Ring) het hulle spesifiek vir ’n Spesiale Sinodesitting gevra omdat hulle wil hoor waar hulle met die Vrystaatse Sinode staan. Hulle verstaan wat die 2019-besluit sê en het nie ’n spesiale taakspan nodig om vir hulle te vertel hoe hulle verkeerd is nie.

Die moderamen het egter nie hierdie versoek toegestaan nie. In die Whatsapp word gemeentes en ringe uitgenooi om met ’n interimkomitee afsprake te reël indien hulle met hierdie komitee in gesprek wil tree oor die 2019-besluit.

’n Mens kan nie help om te dink dat die Vrystaat Sinode gekaap is nie.

  • Reeds in die berig op 2 Februarie het Pieter van Jaarsveld, moderator van die Vrystaatse Sinode dit duidelik gemaak dat Vrystaat nie bande met die NG Kerk sal breek of doleer ’n Mens lei af dat hulle bloot die vrede gaan probeer behou waar moontlik.
  • Verder, in 2017 het die Vrystaatse sinode die laaste keer gesit. Tydens hierdie sinode het Jan Louw ’n uitgebreide beskrywingspunt aan die sinode voorgelê, maar niks het daarvan gekom nie.

Alhoewel die meerderheid verslae hieronder teen die 2019-besluit is, is dit slegs Leeuwberg en Reitz wat op hierdie stadium doleer. Petrus Steyn doleer ook, maar hulle verslag verskyn nie hier nie. Die vraag is: hoe sterk voel hierdie gemeentes oor die kwessie van homoseksualiteit? Indien die Vrystaat Sinode nie van die Algemene Sinode wil wegbreek nie, wat gaan hierdie gemeentes dan doen?

Opsomming van die verslae

Hier volg ’n baie kort opsomming van die verslae:

  • NG gemeente Leeuwberg: Teen die 2019-besluit en hulle bevestig dat hulle tans doleer.
  • NG gemeente Kestell: Teen die 2019-besluit.
  • NG gemeente Bethlehem-Noord: Teen die 2019-besluit. (Bevestig die Algemene Sinode se besluit van 2007.)
  • NG gemeente Bethlehem-Oos: Geen verslag.
  • NG-gemeente Clarens: Geen verslag.
  • Individu Bouwer van Aardt (lidmaat van Clarens): Teen die 2019-besluit.
  • Individu Gideon Lamprecht (Bethlehem-Panorama): Sien die gaykwessie as ’n randsaak (die implikasie is dat hy nie glo dat dit sonde is nie).
  • Individu RCH Kemp (Bethlehem-Eureka): Teen 2019-besluit.
  • NG gemeente Dealesville: Teen die 2019-besluit.
  • NG gemeente Hoopstad: Teen die 2019-besluit. Vra vir ’n spesiale Vrystaat Sinodesitting.
  • Individu Petri Coetzee (Hoopstad): Reageer op Hoopstad en vra dat Hoopstad ruimte sal maak vir homoseksualiteit. Vra dat die gemeente wetenskaplik moet aantoon dat die Bybel wel teen homoseksualteit is. Vra dat Hoopstad hulle gay rehabilitasieprogram sal wys.
  • Individu Michael Rautenbach: Reageer op Hoopstad en sê dat ’n spesiale sinodesitting nie die pad is om te volg nie.
  • NG Gemeentes Wesselsbron: Geen besluit.
  • NG gemeente Wesselsbron-Noord: Geen besluit. ’n Mens lei van Petri Coetzee af dat hulle eerder ruimte vir gays wil maak in die kerk as om dit as ’n sonde te sien.
  • NG gemeente Bultfontein: Staan by die 2016-besluit.
  • Gesin Van Biljons: Teen die 2019-besluit.
  • Ring van Harrismith
    • Gemeente A: Bekommerd oor 2019-besluit.
    • Gemeente B: Leraar is waarskynlik vir die 2019-besluit.
    • Gemeente C: Teen die 2019-besluit. Skaar hulle by die Moreletaparkbesluit.
    • Gemeente D: Uiters vaag. Kan glad nie aflei waar die leraar staan nie.
    • Gemeente E: Die leraar se standpunt is dat gay persone in lewensverbintenisse kan staan.
    • Gemeente F: Teen die 2019-besluit. Wag om te kyk wat gaan gebeur.
  • NG gemeente Viliers: Teen die 2019-besluit.
  • NG gemeente Reitz: Teen die 2019-besluit en bevestig dat hulle doleer.
  • Ring van Smithfield: Hulle rapporteer dat daar verskillende standpunte in die ring heers.
  • NG Gemeente Bloemvallei: Hulle oefen hulle reg uit om self hieroor te besluit en distansieer hulle van sekere aspekte van die besluit van die Algemene Sinode van 2015.
  • Ring van Valsrivier: Nog nie ’n besluit as Ring geneem nie.
  • NG gemeente Kroonstad: Teen die 2019-besluit.
  • NG gemeente Kroonstad-Noord: Geen besluit
  • NG gemeente Kroonstad-Wes: Teen die 2019-besluit. Skaar hulle by die verklaring van leraars van Namibie.
  • NG gemeente Kroonstad-Suid: Teen die 2019-besluit.
  • NG gemeente Kroonstad-Oos: Neem later hulle besluit.
  • NG gemeente Kroonheuwel-Noord: Teen 2019-besluit
  • Bothaville se drie gemeentes: Gee aan elke mens ruimte om die besluite van die Algemene Sinode vanuit ’n persoonlike geloofsverhouding met die Here te leef
  • NG gemeente Viljoenskroon: Geen terugvoer
  • NG gemeente Vierfontein: Geen terugvoer
  • NG Gemeente Wilgehof: Teen die 2019-besluit.
  • Ring van Welkom: Slegs drie gemeentes het verslae in gestuur. Baie onsekerheid. Een gemeente skaar hulle by die 2015-besluit.

Inhoudsopgawe

  1. Whatsapp boodskap van die moderamen
  2. Bylaag 6D: NG Gemeente Leeuwberg
  3. Bylaag 14: Bethlehem Ring
  4. Bylaag 14A: Bultfontein Ring
  5. Bylaag 14B: NG gemeente Bultfontein
  6. Bylaag 14C: Van Biljons
  7. Bylaag 14D: Ring van Harrismith
  8. Bylaag 14E: Villiers Gemeente
  9. Bylaag 14F: Ringskommissie van die Ring van Reitz
  10. Bylaag 14G: Smithfield Ring
  11. Bylaag 14H: Bloemvallei
  12. Bylaag 14J: Valsrivier Ring
  13. Bylaag 14K: NG Gemeente Wilgehof
  14. Bylaag 14L: Welkom Ring
  15. Bylaag 11: Gideon van der Watt

Whatsapp boodskap van die moderamen

12 Maart 2020

DRINGENDE BOODSKAP VAN DIE MODERAMEN NG KERK VRYSTAAT.

Bring asb onder die aandag van u kerkraad en gemeente.

Besluite van die Moderamen vir u en die gemeente se aandag insake Selfdegeslagverhoudings en die Algemene Sinode 2019 se besluit:

  1. Die Moderamen het besluit om revisie te neem van die besluit om ’n buitengewone sinode te hou.
  2. Die Moderamen het besluit om nie voort te gaan om ’n buitengewone sinode te hou nie.
  3. Hierna het die Moderamen oorgegaan om die volgende besluite te neem:

3.1 Afsprake word gereël met die betrokke gemeentes en ringe (wat skriftelik en amptelik gevra het vir ’n buitengewone sinode en wat ook kennis van dolering gegee het) deur lede van die Interimkomitee en moderamen om gemeentes en ringe te besoek met die doel om luister na hulle besware en hartseer oor die besluit van die Algemene Sinode van 2019, asook om hulle kerkordelike posisie te kommunikeer.

3.2 Gemeentes en ringe word uitgenooi om met die Interimkomitee afsprake te reël indien hulle met die Interimkomitee in gesprek wil tree oor die 2019 besluite.

3.3 Daar word aan gemeentes en ringe gekommunikeer dat daar in 2021 ’n gewone Vrystaat Sinode gehou sal word. Gemeentes en Ringe word versoek om beskrywingspunte te rig aan die Vrystaat Sinode waarin hulle teologies hul standpunt stel en beredeneer waarin die 2019 Algemene Sinode besluit onaanvaarbaar of aanvaarbaarheid beredeneer word. Gemeentes en ringe word daarop gewys dat hierdie beskrywingspunte deur kerkrade en/of ringe goedgekeur moet word om ontvanklik te wees vir bespreking by die 2021 Vrystaat Sinode.

3.4 Die Moderamen besluit om die gewone Vrystaat Sinode met een dag te verleng om sodoende genoegsaam tyd af te staan aan die hantering van beskrywingspunte insake die 2019 Algemene Sinode besluite. Die Moderamen wys ’n taakspan, bestaande uit dr Bertus Celliers, ds Riaan van Zyl en dr Pieter van Heerden aan om deur die beskrywingspunte te werk met die oog op die Vrystaatse Sinode van 2021.

3.5 Bedieningsbegeleiding word opdrag gegee om ’n VBO geleentheid vir predikante te reël waartydens die twee handleidings wat deur die ASM opgestel is om predikante en gemeentes te help met gesprek oor selfdegeslagverhoudings hanteer word en die nodige vaardighede oorgedra word. Die Taakspan van die ASM wat getaak is met selfdegeslagverhoudings en die hantering daarvan in sinodes moet betrek word by die VBO geleentheid. Die titels van die twee handleidings is:

1.1 Gids Agtergrond en Inligting. Die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings.

1.2 Egte Gesprek. ’n Raamwerk vir etiese onderskeiding in gemeentes

3.6 Die Interimkomitee sal deurgaans die situasie in die Vrystaat Sinode monitor en telkens terugvoer gee aan die Moderamen.

Bylaag 6D: NG Gemeente Leeuwberg

5 November 2019

Voorsitter van die Moderamen

Sinode van die Vrystaat

Na afloop van ons kerkraadsvergadering gehou op 5 November, het ons kerkraad eenparig die volgende besluit geneem.

Dit is met groot spyt en hartseer dat ons as gemeente vir die afgelope paar jaar al kennis neem van die invloed van die liberale teologie in ons kerk, veral in die siening en hantering van die Woord van God. Met so ’n humanistiese subjektiewe siening van die Skrif kan ons onsself glad nie vereenselwig nie. Ons staan sterk op die gereformeerde tradisie en siening dat die Bybel objektief, onfeilbaar en akkuraat is. Ons voel baie sterk daaroor dat ons as NG Kerk een belydenis moet hê en dat elke gemeente nie self daaroor kan besluit nie.

Daarom is ons as gemeente nou in ’n staat van dolering teen die Vrystaatse sinode en die algemene sinode met die oog om weg te breek van die NG Kerk, tensy daar besin word oor die plek en die rol van die Skrif in ons kerk en ons weer by een Protestantse belydenis kan terugkom.

Die gevolg is dat ons as gemeente onmiddellik alle verbintenisse met die NG kerk staak asook alle finansiele verlpigtinge.

Voorsitter van die kerkraad

(Geteken)

Ds. E Botha

Bylaag 14: Ring van Bethlehem

Verslag van Bethlehem Ring oor die reaksies wat binne gemeentes (lidmate, ens) ontstaan het ten opsigte van die besluite van die Algemene Sinode-2019 oor selfdegeslagverhoudings

Voordat ek die volledige verskillende reaksies van die gemeentes en individue van die Ring van Bethelehem weergee, net enkele opmerkings (van hulle is eintlik vrae aan die lnterimkomitee/Moderamen).

  1. Die Algemene Sinode 2019 het ’n 12-punt BESLUIT geneem oor selfdegeslagverhoudings. In die antwoord van die ASM aan die Goudland Sinode-afgevaardiges (Vrypos-uitgawe 35-2019), verklaar die ASM die volgende:
    1. Die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse neem geen voorkeurstandpunt vir of teen selfdegeslagverbintenisse in nie.
    2. Die 2019-besluit het die status van ’n beleidsraamwerk. Dit is nie voorskriftelik nie. Geen standpunt word dus op gemeentes afgedwing nie. Die inhoud van die beleid is juis dat ’n diversiteit van standpunte oor hierdie aangeleentheid moontlik is.
    3. Kerkregtelik is dit moontlik vir gemeentes en sinodes om selfstondig beleidstandpunte in te neem oor aangeleenthede soos hierdie.
    4. Die ASM wys ook op die besluit van die Algemene Sinode 2019 dat die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou gehandhaaf word.

Die vrae wat van die lede van die Ring van Bethlehem gevra het:

  1. Wat is die status van hierdie verklaring?
  2. Wat word verstaan onder ” beleidsraamwerk”?
  3. Wat is die status van beleidstandpunte van gemeentes wat lynreg verskil van die Algemene Sinode 2019 se besluit oor Selfdegeslagverhoudings?
  4. Wat is die lidmaatskapstatus van lidmate van gemeentes wie se beleidsstandpunt lynreg verskil van die NG KERK se amptelike standpunt oor hierdie aangeleentheid soos verwoord in die Algemene Sinode 2019 se besluit? Lidmate van die NG KERK of lidmate van hul gemeente?

Oor hierdie vrae sal daar graag uitsluitsel gekry wil word.

  1. Na AS 2015 was daar baie woelinge in die Ringsgemeentes. Soveel so dat die Ringskommissie selfs ’n dagbesturevergadering van die Ringsgemeentes byeengeroep het. Uit hierdie vergadering het ’n verklaring voortgespruit wat 7 uit die 9 gemeentes onderteken het (die verklaring word by Bethlehem-Noord se verslag weergegee). Van die gemeentes het hul eie besluite daarna geneem.
  2. Na AS 2016 was daar ’n groot rustigheid in die gemeentes. Veral ook nadat die Vrystaatse Sinode daarna by hierdie besluit bly staan het.
  3. Na AS 2019 het die olifant weer in die vertrek gekom. ’n Olifant waaroor daar meestal geswyg word of selfs net ’n baie lae profiel gehandhaaf word. Kerkrade wil nie weer van vooraf hieroor praat nie. Die woelinge na 2015 wil nie weer beleef word nie! Kom ons swyg, miskien gaan dit verby! Een leraar het selfs gesê: “Wat kan ek nog meer sê? Ek is gatvol vir al die gesprekke hieroor! Kan ons net verby kom en aangaan met ons bediening!” Al die reaksies in sy gemeente en kerkraad wou hy nie eers op skrif stel nie.
  4. Van die reaksie en vrae van lidmate is:
    1. a) Hoekom het die AS so ’n besluit geneem direk teen die Woord van God?
    2. b) Die gesag van die Skrif word ondermyn.
    3. c) Hoekom het die AS so ’n besluit geneem wat eintlik nie ’n besluit is nie? Hulle het nie standpunt ingeneem nie, alles afgewentel vir gemeentes om te besluit!
    4. d) Watter hulp gaan die sinode aan gemeentes bied waar medeleraars verskil in hul siening oor hierdie saak? Dit is die resep vir skeuring in gemeentes! (Daarom word punt 4 toegepas.)
    5. e) Dankie dat ons gemeente ons eie stand punt kan verwoord! Het ons die reg daartoe? Watter status het ons besluit in vergelyking met die AS se besluit? Dit is tog nie die NG Kerk se besluit/beleid nie!
    6. t) Hoekom maak die gays nie hul eie kerk nie? Hoekom ons kerk deurmekaar kom krap en skeur!
    7. g) Wat beteken dolering? Moet ons dit nie oorweeg nie!
    8. h) Hoekom breek ons gemeente nie weg van die sinodes nie?
    9. i) Gaan ons leraars gedwing word om burgerlike verbintenisse te doen?
    10. j) Ek wil nie geassioseer word met die NG Kerk nie! Ek wil nie ’n lidmaat van so ’n kerk wees nie!
    11. k) Wat is die Vrystaat Sinode se siening?
    12. I) Gaan die Vrystaat Sinode ’n buitengewone sinodesitting hê soos Goudland se Sinode?
    13. m) Gaan enige verdere gesprekke van waarde wees? Die leiers bo het tog klaar besluit! Ons stemme word nie gehoor nie!
    14. n) Geen reaksie nie.
    15. o) Ons kerkraad het nie nou iets amptelik gesê nie.

Gemeentes van die RING VAN BETHLEHEM het sedert 2015 al selfstandige beleidstandpunte oor hierdie aangeleentheid van Selfdegeslagverhoudings geneem:

Volledige besluite en verklarings

NG GEMEENTE KESTELL VERKLARING:

(ALGEMENE SINODE BESLUIT 2019)

Dis met groot hartseer, bekommernis en gebrokenheid voor God dat ons kennis geneem het van die Algemene Sinode se Besluit tov Selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk. Hierdie besluit tas die onfeilbaarheid van die Skrif in sy wese aan (2 Pet 1:20-21;1 Tim 3:16; 1NGB Art 3,5,7; Ps 19:8), asook hoe die Kerk van die Here Jesus dit vir byna 2000 jaar geïnterpreteer, geglo en uitgeleet het onder leiding van die Heilige Gees (Joh 14:26;16:13).

Die huwelik as Goddelike instelling (Gen 1:26-28; Matt 19:4-6, 2HK Sondag 41 Vraag 108) word met hierdie besluite in wese aangetas as die enigste manier hoe God die man en vrou wat Hy onderskeie geskep het, in liefdesgemeenskap saam gevoeg het, sodat daar ’n nageslag vir hulle sal wees wat God kan leer ken en liefhe in ’n verhouding van Waarheid. Dit is ’n dwaling wat ’n sondige, onhoudbare dubbelwaarheid wil handhaaf, want God kan nie lieg nie (Tit 1:2/Heb 6:18).

Hierdie besluit is liefdeloos en genadeloos, want sekere sondes, soos duidelik in die Skrif uitgespel, word hiermee ontsondig en vrygespreek op grond van humanistiese, postmoderne beweegredes (Mat 23:13,15) . Dit is vals en misleidend en soveel sondaars word daardeur mislei en ontneem om God se vrymakende genade deur Jesus Christus te ontvang sodat hulle ’n lewe vol van waarheid en liefde deur die Gees kan leef (Spr 12:17,19; Jer 8:6; Joh 1:14; Joh 8:32)

Dis met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worsteling teen sonde in ons eie lewe, dat ons hierdie verklaring doen, nie vanuit die hoogte en met veroordeling van sommige mense nie, maar met die opdrag om sonde te haat, as die rede waarom Jesus aan die Kruis kom sterf het, want God haat sonde (Spr 6:16-19; Heb 1:9; Rom 5:8). Net soos enige ander sonde wat gelys word in die Woord van God, getuig homoseksualiteit ook van die gebrokenheid van hierdie wêreld. Daarom wil ons net soos met enige ander sonde (Gal 5:17-21, 1 Tim 1:9-10), ook mense met ’n homoseksuele oriëntasie in liefde vashou, bedien en begelei om hul nuwe identiteit in Christus te ontdek en hul lewensroeping as man of vrou uit te leef in vervulling van God se doeI met elkeen se lewe.

Daarom glo ons met ons hele hart:

  • Dat ons nie die “tydsgees” of wetenskap kan gebruik om weg te dwaal van die Woord wat die Waarheid is, nl Jesus Christus (Joh 1:1), wat deur SY Gees ons lei in die hele waarheid nie (Joh 16:13), maar die onfeilbare Woord van God as grondbeginsel en finale outoriteit in gehoorsaamheid sal volg (Ps 119:89,123, 130, 139).
  • Dat die Woord ons duidelik leer dat daar geen ander vorm van die huwelik bestaan of kan bestaan buiten dit wat God vanuit Sy Raadsplan bedink het voor die skepping nie, nl een biologiese man en een biologiese vrou wat mekaar aankleef en een vlees word (Gen 2:24; Mat 19:5), saamgebind deur die verbondsliefde van Christus (OAV-Mal 2:14-15). Dis ’n lewenslange verbintenis en die voorbeeld vir die wêreld van hoe Jesus as die Bruidegom Sy Bruid liefhet en dien en eendag weer gaan kom om haar te kom haal (Open 22:17)
  • Dat die Woord alle seksuele verhoudings tussen ’n man en ’n vrou buite die huwelik as owerspel, losbandigheid of onsedelikheid en as opstand teen God veroordeel (Mark 7:22; 1 Kor 6:13,18; Gal 5:19) . Die homoseksuele verhouding tussen twee mans of twee vroue kan nie as enige vorm van ’n huwelik beskou word nie en daarom kan hulle in elk geval nie versoek word om getroud te wees in ’n Burgerlike Verbintenis of ’n “huwelik” nie. Daarom kan die Kerk ook nie ’n “huweliksformulier” saamstel vir die verbintenis tussen twee mans of twee vroue nie, want dan bevorder ons die leuen.
  • Dat soos met elke ander sonde daar ook vir mense wat hul sondige homoseksuele oriëntasie uitleef, genade, vergifnis en verlossing deur die krag van Jesus se bloed en verlossing aan die kruis en deur SY opstanding beskikbaar is, indien so ’n sondaar sy sonde erken, bely en hom/haar bekeer (1 Joh 1:8-10; 1 Kor 6:9-11).
  • Dat die hele Kerk op aarde, maar spesifiek die NG Kerk se getuienis op die spel is, omdat haar integriteit, geloofwaardigheid, missie en heiligheid dubbelstandaarde van die Waarheid weerspieel. Daarvolgens glo ons dat niemand wat ’n homoseksuele lewenstyl uitleef, enige leierskapposisie behoort te beklee in die NG Kerk nie (1 Kor 6:9-11; 1 Tim 3:l-7;Tit 1:5-9). Die volharding in homoseksuele sonde, soos alle ander sondes, diskwalifiseer so ’n persoon van die Koninkryk van God. Daarmee saam kan die kweekskole van die NG Kerk ook nie teologiese opleiding en legitimasie bied aan openlik erkende homoseksuele persone nie (2 Tim 3:14-17).
  • Dat daar geen ware eenheid in geloof, soos bewerk deur die Heilige Gees, kan wees ten koste van die waarheid nie – (Ef 4:3,13).
  • Dat ons ook alle mense se menswaardigheid voor God erken, omdat alle mense na God se beeld geskep is (Gen 1:26-27) en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom is ons gemeente se deure en ons harte oop om met deernis en liefde, in gehoorsaamheid die Groot Opdrag uit te voer (Mat 28:19-20) deur die evangelie van redding aan alle mense te gaan verkondig, ongeag hulle sonde, wat insluit mense met ’n homoseksuele oriëntasie. Ons wil hulle pastoraal begelei met die liefde van Jesus en SY evangelie.

NG Gemeente Bethlehem-Noord

Besluit van die Kerkraad – NG Gemeente Bethlehem-Noord: (Uittreksel uit die notule van 4 November 2015): “Dat homoseksuele persone welkom is by ons eredienste, maar nie in ons gemeente in die huwelik bevestig, of op ons kansel toegelaat word nie.”

Besluit van die Kerkraad – 20 September 2016: Dat die bewoording van die bovermelde besluit van 4 November 2016 verander word om soos volg te lees:

“dat die Algemene Sinode se besluit van 2007, punt 3, gehandhaaf word, nl: “Alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hul doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug”;

Ten opsigte van punt 4 van die Algemene Sinode se besluit in 2015 om in die lig van 2.1 van Bylaag A erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en voorsiening maak dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hul weg oopsien, bevestig kan word, besluit die Kerkraad soos volg:

(a) dat geen sulke burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag in die kerkgebou van die NG Gemeente Bethlehem-Noord toegelaat sal word nie;

(b) dat geen predikant wat in diens staan van die Kerkraad van die NG Gemeente Bethlehem-Noord, toegelaat sal word om aansoek te doen om sulke burgerlike verbintenisse te bevestig nie.

Ten opsigte van punt 5 van die Algemene Sinode se besluit in 2015 dat dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) vir die legitimasie en ordening van alle persone geld en dat punt 7 van die besluit van 2007 verval (punt 7: Die verlening van predikantebevoegheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen, tot die predikantsamp toegelaat word), besluit die Kerkraad soos volg:

(a) dat geen predikant met homoseksuele oriëntasie as predikant in diens van die NG Gemeente Bethlehem-Noord beroep en bevestig sal word nie.

Dat die Kerkraad die verklaring van sewe ander gemeentes van die Ring van Bethlehem (Bylaag E) onderskryf (Clarens en Bethlehem-Oos Gemeente het nie die verklaring onderteken nie) nl.:

(a) Bely ons dat ons gegrond staan op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God (Kerkorde Art 1);

(b) Aanvaar ons dat die Skrif (Bybel) deur God geïnspireer is en daarom normatief is om die Kerk te onderrig in die waarheid, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16; 1 Kor 2:12-13; 2 Petrus 1:21);

(c) Aanvaar ons dat alle mense deur God geskape is en daarom as Sy eiendom behandel moet word. Die Kerkraad van die NG Gemeente Bethlehem-Noord verbind homself om met liefde en respek teenoor alle mense te leef;

(d) Herbevestig ons dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou, in die lig van die Skrif, as ’n *huwelik beskou kan word. Hierdie verbintenis is bedoel om ’n innige, heilige en lewenslange verbintenis te wees;

*Ps 119:105, 130, 133 en 160*: “U Woord is die lamp wat my die weg wys; die lig op my pad … Wanneer U Woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan die wat nog onervare is … ; Laat U Woord my op die regte pad hou … ; Op U Woord kan ’n mens hom geheel en al verlaat … ”

(e) Aanvaar ons dat seksuele gemeenskap slegs binne die heilige band van die huwelik, Bybels verantwoordbaar is.

Besluit van die kerkraad – 5 November 2019: Die kerkraad herbevestig sy besluit van 20 September 2016.

Of ander kerkrade soortgelyke of ander besluite geneem het, weet ek nie. Niks van hulle ontvang nie.

Ander reaksies:

Ek skryf vanuit Clarens rakende die genoemde onderwerp hierbo genoem.

Nooit sou ek kon dink dat ek vanuit die NG Kerk hierdie onderwerp sou moes bespreek om dit te probeer regverdig of enigsins goed te praat nie, dit na die enigste waarheid die “Bybel” wat deur die Gees van God ons Skepper aan ons gegee is, hierdie duidelik as ’n afstootlike sonde beskryf nie.

Ek as mens kan nie veroordeel of oordeel nie, maar ek kan uit Liefde tereg wys en kan uit Liefde mense probeer lei in ’n rigting nader aan God.

Onthou dat God sê, dat nie almal wat sê “Here Here” die Konningkryk sal binnegaan nie, ten spyte van Jesus se Genade en Sy Bloed aan die Kruis moet ons van ons sonde afsien, wedergebore word en nuut lewe en vergeet van wat was. Dit beteken nie dat ons nie weer versoek sal word nie, maar dan weet ons in wie ons krag lê en dat ons ’n Volmaakte Heilige God aanbid wat ons die krag sal gee om dit te oorkom. God word dan bo jou eie behoeftes gestel en lewe jy volgens Sy Woord wat in die Bybel saam gevat is. Die NG Kerk het ook nog nooit die mens veroordeel nie, maar wel die sonde en as ons op die punt staan om dit nie meer te doen nie, dan versaak ons God se waarheid. God het almal Lief, maar hy sal die sonde oordeel en ons as mens wat nie volmaak is nie kan nie die Waarheid, die Bybel verdraai of aanpas om ons aardse behoeftes en drange te regverdig nie.

Om God aan te neem as jou Saligmaker en Verlosser moet jy al jou sondes belei en dan daarvan afsien, ek dink dat die mense alles met Liefde wil regverdig, maar Liefde steek nie sonde weg nie, maar openbaar dit eerder en verander jou denke en wee om ’n nuwe mens te word, minder jy en meer God.

Dit voel vir my dat hierdie “mense” God die skuld wil gee oor wie en wat hulle is, so gemaak, so geskape, wie is die mens dat God enigsins aan horn dink, maar dit is juis deur Sy Genade, Jesus en Sy groot Liefde, dat ook hierdie mense gered kan word indien hulle daarvan sou afsien.

Die mense wil ’n oordeel oor God bring, hoe kan hulle, dit is juis ’n sonde waaraan hulle toegee in versoeking, aardse drange wat die oordeel oor hulle self bring, God vergewe selfs die moordenaar wat van sy dade afsien en nuut begin.

Ek het kinders wat ek in die waarheid grootmaak en lei deur die Gees en die Skrif, hoe kan ek toelaat dat daar vanuit die Kerk of selfs vanaf ’n kansel die voorbeeld van sonde as God geskape, of dat ons uit Liefde die tipe gedrag moet aanvaar, nee!

God het in die Ou Testament alreeds die dood oor die sonde uitgespreek en God is en sal vir altyd dieselfde bly, ’n jaloerse God wat ons nie wil verloor deur sonde nie, want Hy het ons lief, maar hy sal oordeel veral oor die wat se hulle sien, maar eintlik blind bly.

Laat hierdie mense Kerk toe kom, maar moet nie bang wees om die waarheid met hulle te deel nie, ons is nie op die aarde geplaas om ons eie behoeftes te dien nie, maar ’n Heilige God wat regdeur Sy Woord vir ons die reels neerle, ons bedien ook die Woord vir mekaar om mekaar te bemoedig en te versterk, want ons weet die versoekings is baie, maar in God le ons krag en by Hom vind ons genade. Laat ons vergewe maar laat ons nie die sonde goed praat nie en die oordeel ook so oor jouself bring nie.

Het ons bang geword om Kerklike tug toe te pas? Uit Liefde moet dit ook ons plig wees om te verseker dat daar nie ’n siel verlore gaan as gevolg van sonde nie.

Ek voel dat as die NG Kerk moet skeur oor die onderwerp, laat dit gebeur, laat ons God eerste stel, ook God het gesê verwyder die skynheiliges onder julle uit sodat julle kan groei en volwasse kan raak in die geloof, Hom kan prys vir die Volmaakte God wat Hy is.

Mag God se genade vir ons almal genoeg wees, mag ons nuut lewe en die ou goed agter laat en witter wees as wol tot eer van God, meer van God en minder van onsself.

Bouwer van Aardt – lidmaat van Clarens

Besluite van die Algemene Sinode 2019 van die NG Kerk insake selfdegeslagverhoudinge/homoseksualiteit

‘n Persoonlike standpunt – ds Gideon Lamprecht, NG Gemeente Bethlehem-Panorama:

Bewus van die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef, is dit my roeping as Bedienaar van die Woord om die aan die gemeente van Panorama, in alle omstandighede na die beste van my vermoë geestelike leiding te gee. In ons nadenke oor etiese kwessies in ons moderne samelewing, moet die Bybel sentraal staan en moet voortdurend gesoek word na die waarheid van die Woord oor hoe om te leef midde-in ’n stukkende wêreId.

Besluit van die NG Kerk se Algemene Sinode 2019: Die NG Kerk se Algemene Sinode het verlede week (weer) ’n besluit geneem insake selfdegeslagverhoudinge/homoseksualiteit. Die volledige besluit, waarmee ek op bepaalde punte nie saamstem nie, is verlede week met die gemeente gekommunikeer. Hiermee deel ek graag, lojaal-krities aan my kerk, my persoonlike standpunt en oortuigings met die gemeente.

Waar staan ek?

Ek wil dit onomwonde stel: ek is nie pro-gay nie. In die opsig moet die kerkraad en gemeente asseblief my bona fides aanvaar. Maar ek is ook nie anti-gay nie – in die sin dat ek gays en dit wat hulle doen, met ’n teks uit die Bybel tot in ewigheid wil verdoem nie. Ek wil en sal my ook nie laat in dwing in een van die twee kampe nie. Ek dink nie dis nodig nie. Ek dink ook nie Jesus sou dit gedoen het nie. Ek wil nie bekend staan as ’n pro- of anti-gay dominee nie. Ek wil slegs ’n Bedienaar van God se Woord wees wat die Bybel in sy volle rykdom na die beste van my vermoë verkondig. Ek wil daarom onafhanklik in die lig van die Skrif en soekend na die waarheid, oor die saak dink en dit in die gemeente hanteer.

Hoekom sukkel ek/ons so?

Wat die hantering van die saak so bitter moeilik maak, is: aan die een kant is daar lidmate in die gemeente wat ’n kind/ers het wat gay is. Hulle is besonder sensitief vir enige negatiewe opmerkings oor gay-wees, want en dis die rede: dit raak hulle kinders en – dit hoor ek ook by hulle – hulle kan nie help dat hulle so is nie. Op grond daarvan besef ek dit maar te goed, ons het hier met mense te doen, nie een of ander objek of teoretiese onderwerp wat na ’n week of twee se geredekawel oor en verby is nie. Nee, dit gaan hier oor mense en die werklikheid van hulle homoseksuele/gay oriëntasie. Vir mense wat daarmee worstel het ek en ek wil glo, ook almal van ons, groot deernis.

Die hele saak van seksualiteit en seksuele oriëntasie is baie meer ingewikkeld as wat ’n mens soms dink. Hoekom party mense gay is en of mense hulle oriëntasie kan verander, weet ek nie. Dit is ’n debat op sy eie wat ons liewer vir die kenners van die menslike gedrag moet los. Die feit is, die meeste kern-gay mense kry dit nie reg om hulle oriëntasie te verander nie – selfs al wil hulle ook.

Ek het daarom groot begrip met persone wat op die een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer word. Tydens my byna 20 jaar in die bediening, het ek al baie gesprekke met gelowige gay-mense gehad. Dis verseker nie ’n maklike pad vir hulle – en veral vir hulle ouers! – om te stap nie. Ek het baie groot deernis vir hulle stryd en worsteling, asook die eensaamheid en pyn van verwerping wat hulle (soms) mag ervaar/ervaar het. Ek verbind my daartoe om altyd ’n ondersteunende en pastorale pad van liefde, omgee en begrip met hulle te stap …

Die Woord van God:

Aan die ander kant is daar die Bybel, God se Woord. Daarin vind ons die sogenaamde sewe klassieke Bybeltekste wat bepaalde uitsprake maak oor die saak van die beoefening van homoseks, naamlik Genesis 19: 5, Rigters 19: 22, Levitikus 18: 22 en 20: 13, Romeine 1: 24 -27, 1 Korintiers 6: 9-11 en 1 Timoteus 1: 8-10. In ’n mens se nadenke oor homoseksualiteit, glo ek, moet die tekste verantwoordelik binne hul konteks verstaan word. Dit is ’n kenmerk van ons gereformeerde teologie vir enige een wat soekend is na die waarheid van God se Woord.

Ek persoonlik glo dat die vertaling van die besondere tekste uit die oorspronklike geskrifte/brontekste (Hebreeus en Grieks), die kerk op die punt in die verlede in die steek gelaat het en veroorsaak het dat die kerk tans haarself in die netelige posisie bevind ten opsigte van die onverkwiklike debat oor homoseksualiteit. Sou die (korrekte) vertaling en verstaan van die tekste nie uitgeklaar word nie, gaan die kerk ad infinitum sukkel met die probleem en gaan gelowiges/gemeentes net verder verdeeld raak en uitmekaar dryf, terwyl dit nie nodig is nie.

Ek glo dat ons geroep is om erns te maak met die waarheid van God se Woord en die regte verstaan en toepassing van die tekste, trouens met God se hele Woo rd! Dis presies daar waar ons roeping as gelowiges le, om weer te dink en nuut te dink oor etiese kwessies wat in ’n moderne samelewing anders is as toe die Bybel geskryf is. Om ’n voorbeeld te noem, egskeiding en hertrou word ondubbelsinnig in die Bybel veroordeel (Markus 10: 10-12) en tog dink ons deesdae nie meer so daaroor nie. Dis so algemeen, dit pla ons nie meer nie. Is ons dan konsekwent wanneer ons die Woord lees?

Nou, oor gay-mense self:

Ek is van oortuiging, in lyn met ’n besluit wat die NG Kerk reeds in 2007 geneem het, dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en dat hulle op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die kerk, aanvaar behoort te word. Ek glo die kerk moet die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense aanvaarding, genade, vergifnis en heling bied. Ons lewe in so ’n stukkende wêreld …

Oor die huwelik:

Ek is daarvan oortuig dat die Skrif leer dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou, waar Christus in die middelpunt is, as ’n huwelik beskou kan word. Ek glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik, teen God se wil vir ’n heilige lewe is. God het die heteroseksuele monogame huwelik ingestel as die ruimte waarbinne seksualiteit moet plaasvind.

Oor die besluite van die Algemene Sinode 2019: In die lig van al voorafgaande, die volgende:

  1. glo ek dat die verskil in Skrifhantering en -uitleg (wat aanleiding gegee het tot die “vasgelooptheid” oor die saak), baie dringend in die kerk aangespreek moet word in die belang van die gelowiges aan wie predikante eerlike en verantwoordelike leiding moet gee (punt 1),
  2. mag die eenheid van die kerk nooit teenoor en/of ten koste van die waarheid van die Woord gestel word nie (punt 2),
  3. is ek oortuig dat die hink op twee gedagtes oor die saak, op die lang duur nie heilsaam vir die kerk gaan wees nie (punt 8.1 en 8.2),
  4. sien ek as leraar nie my weg oop om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig nie (punt 8.1 en punt 10),
  5. is ek persoonlik van mening dat sowel homoseksuele as heteroseksuele promiskuïteit in stryd is met ons Christelike etos en die Bybelse eis vir ’n heilige lewe – net soos egbreuk, ontug, geldgierigheid, jaloesie, korrupsie, diefstal, leuns vertel, vloek, vuil taal, onvergewensgesindheid (Ef 4:25-5:5), “onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al die derglike dinge” (Gal 5:19-21), in stryd is met ons Christelike etos,
  6. is ek uiters ongemaklik met drukgroepe wat hul eie persoonlike agendas op die sinodale vergaderings van die kerk dryf.

Wat nou? – die pad vorentoe vir ons in Panorama:

Ek het die afgelope tyd weer baie oor die saak gelees, gedink en gebid. Uiteindelik het ek besef, ons moet baie mooi onderskei tussen kernsake en rand sake as ons oor die gesag van die Bybel dink.

Daar is kernsake waarvoor ek bereid is om my lewe op die spel te plaas, soos byvoorbeeld dat Jesus die lewende, opgestane Here is. As iemand hieroor nie met my saamstem nie, dink ek nie gaan ons ver met mekaar kom nie. Dit is vir my ’n kernsaak, dit raak die hart van die evangelie!

Maar dan is daar ook randsake, minder belangrike sake, waaroor ons met mekaar kan verskil sonder dat dit ons uitmekaar mag dryf. Nie dat dit nie belangrik is om soms daaroor te dink en ernstig met mekaar daaroor te praat nie, maar uiteindelik gaan dit geen verskil aan my saligheid maak nie – randsake soos mekaar se siening oor gay-wees. [Kommentaar: As jy glo dat dit ’n randsaak is, dan beteken dit jy glo nie dat dit sonde is nie. As dit nie sonde is nie, dan is dit belangrik om sulke mense te aanvaar net soos hulle is, sonder om hulle te probeer verander nie.]

Ek het verder ook besef: ’n Skrifgedeelte soos Romeine 13: 8 is hier in die besonder van toepassing. Daar staan naamlik geskrywe: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” Uiteindelik is dit die vraag wat elkeen van ons sal moet beantwoord: wat skuld ek my naaste – ook my gay-naaste? Die Bybel se: liefde, net dit. Nie oordeel nie, nie veroordeling nie, nie verwerping nie, maar liefde. Die gay-persoon moet self met God die saak uitmaak oor sy of haar lewe en seksualiteit. Dis nie my werk nie. My werk is om lief te hê, onvoorwaardelik. Dit, glo ek, is hoe Jesus ons geleer het om met mekaar om te gaan.

Ten slotte:

Dit wil vir my voorkom asof die NG Kerk vasgehaak het by die saak van selfdegeslagverhoudinge/homoseksualiteit. Dis die “olifant in die kamer” waarby ons net nie verby kan kyk nie. Ons moet aanbeweeg as kerk. Daar is soveel ander en belangriker sake wat ons aandag vereis. Ons lewe in ’n wêreld waarin ons mans en ons seuns verdrink in ’n see van pornografie. Daar is soveel maatskaplike en morele verval, soveel geestelike nood, soveel uitdagings. “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” (Matteus 9: 37-38).

Intussen moet ons die Skrif weer en goed gaan lees …

Ek hoop die gemeente hoor my hart. Ek nooi graag alle gelowiges uit om regtig die vrymoedigheid te neem om met my in gesprek te tree oor hierdie en enige ander sake van belang in die kerk.

Reaksie op die besluit van die Algemene Sinode 2019 ten opsigte van selfdegeslagverhoudings

Ds RCH Kemp – NG Gemeente Bethlehem-Eureka

Uit die staanspoor is dit duidelik dat die 2019 Algemene Sinodale besluit ten opsigte van Selfdegeslagverhoudings, ’n eerlike poging deur die vergadering was om ’n kompromie te bereik ten einde kerkskeuring te voorkom. Gevolglik wil ek nie die vergadering se motiewe bevraagteken nie. Die probleem is egter dat ’n kompromie mens dikwels met meer probleme as oplossings laat en so is dit dan ook met hierdie paging. Uiteindelik laat die besluit ons met ’n paar onversoenlike teenstrydighede.

Skrifhantering: Aan die een kant bevestig die besluit sy verbintenis tot die gesag van die Skrif, maar aan die ander kant word beklemtoon dat die hermeneutiek radikaal van mekaar verskil. Dit is natuurlik wel so, maar my vraag is of die Skrif enigsins sy regmatige en gesagvolle plek gegee is gedurende die hele gesprek. As daar na baie van die argumente gekyk word, wil dit soms voorkom of die kerk eerder by die sosiologie en die sielkunde na antwoorde gesoek het. Dit het soms gevoel of die Skrif soos die spreekwoordelike pienk olifant in die kamer hanteer is.

Sonder om te probeer voorgee dat ek al die hermeneutiese kennis in pag het, bly dit vir my bekommerenswaardig hoe veral sterk voorstanders van selfdegeslagverhoudings met die Skrif omgaan. Ek besef dat die kultuurhistoriese agtergrond belangrik is in goeie eksegese en hermeunetiek. Daar word egter somtyds soveel klem op die sosio-kultuur historiese agtergrond geplaas en dat daar dan afleidings gemaak word wat die waarheid al dan nie van die teks bepaal. So byvoorbeeld is die afleiding gemaak dat die Here in die Ou Testamentiese teksverwysings na homoseksualiteit, eintlik dit het teen heteroseksuele mans wat ander heteroseksuele mans verkrag, of dat dit in die nuwe Testament eintlik gaan oor manlike prostitusie, of dat daar in die antieke tyd nie so iets soos ’n liefdesverhouding tussen mense van dieselfde geslag was nie en gevolglik dat die beginsels in die Skrif nie op ons situasie van toepassing gemaak kan word nie. Al hierdie beweringe is volgens my eenvoudig nie waar nie, maar belangriker nog, ondermyn die vorm van eksegese een van die belangrikste waardes van die Reformasie, naamlik dat die Skrifwaarhede toeganklik is vir gewone gelowiges. Die omgang van die Skrif vereis eintlik dat net persone met ’n graad in die historiese omstandighede van die Bybel, die Skrif kan verstaan. Dit beteken dat die kultuur historiese agtergrond die bepalende faktor in hermeneutiek is. Die benadering, hou volgens my, ernstige gevare in vir die toeganklikheid van die Skrif asook vir die gesag van die Skrif.

Ampsdraers: Die besluit hou ernstige probleme in vir die ampte van die kerk, veral vir die legitimasie van leraars. Aan die een kant word gemeentes opgeroep om nag biddend te soek na die waarheid, maar intussen is reeds besluit dat persone wat in selfdegeslagverhoudings betrokke is, reeds toegelaat is tot die ampte, wat die amp van leraar en proponent insluit. Wat gaan die konsekwensies wees vir al die leraars, proponente en ander ampsdraers wat na aanleiding van die besluit deur die sinode, uit die kas geklim en selfs in gemeentes bevestig is, as die soektog na die waarheid ons daartoe lei om te besluit selfdegeslagverhoudings onskriftuurlik is?

Die vraag is dan nou, wat is die pad vorentoe vir die van ons wat nie gemaklik is met die besluit nie? Wat staan ons te doen wat glo dat die besluit die gesag van die Skrif ernstig kan ondermyn? Is daar enigsins ’n kans dat ons stemme in die toekoms gehoor kan word? Is ons nag enigsins welkom in die kerk as ons ernstig verskil.

Die Moderamen se reaksie nadat sommige gemeentes hul ongemak uitgespreek het oor die besluit, was vir my bitter hartseer. Die Moderamen het net gefokus om vir die gemeentes die konsekwensies uit te lig indien hul dit sou oorweeg om hul van die kerkverband te verwyder. Ek dink nie dit was die regte respons nie en dit het baie soos ’n dreigement voorgekom.

Die laaste woord is nog nie gespreek nie. Hierdie is nie ’n rantsaak nie. Dit gaan nie bloot oor selfdegeslagverhoudings nie. Dit gaan oor die gesag van die Skrif en die kerk as draer van die waarheid.

Januarie 2020

Bylaag 14A: Ring van Bultfontein

Opdrag vanaf die Moderamen ontvang: (Tydens die lnterimkomitee (Moderamen) se laaste vergadering van 2019, is besluit dat Ringsverteenwoordigers (Moderamen), sowel as die Ringskommissies genader moet word oor enige moontlike reaksie wat binne gemeentes (lidmate, ens) ontstaan het ten opsigte van die besluite van die Algemene Sinode-2019 oor selfdegeslagverhoudings.

Gemeentes se reaksies:

  1. NG Gemeente Dealesville:

Ek erken ontvangs van die skrywe en gee ons gemeente se besluit deur soos geneem in 2015.

Baie dankie

Annamarie van Biljon (Skriba)

Algemene Sinode se besluit oor die selfdegeslagverhoudinge: Ons gemeente staan by ons besluit van 7 November 2015.

Homoseksualiteit: Kerkraad neem kennis:

  1. van die besluit van die Algemene Sinode (AS)
  2. en lees die tekste betrokke in die AS se verslag genoem;
  3. van die verwysings na die belydende skrifte in die verslag genoem,
  4. van die nuwe hermeneutiek soos in verslag genoem,
  5. van die probleem soos die verslag dit uitdruk en,
  6. van die besluite van die volgende gemeentes in verband met die aangeleentheid nl: Universitas-Wes, Hoopstad en Wolmaranstad.

Besluit: Gemeente Dealesville betreur die besluite rakende selfdegeslagverhoudinge en die Belydenis van Belhar van die Algemene Sinode 2015.

  1. Selfdegeslagverhoudinge: Diep bewus van die worsteling van mense met hul eie seksualiteit en die nodigheid van die kerk se getuienis in die wêreld, is ons oortuig dat die gesag van die Woord oor alle mense geldend is as die geïnspireerde Woord van God.

Ons is oortuig dat die Woord duidelik praat oor:

Die wese van die huwelik as ’n lewenslange verbintenis tussen ’n man en ’n vrou en dat “‘n burgerlike verbintenis” tussen persone van dieselfde geslag nie Skriftuurlik verantwoordbaar is nie.

Ons is voorts oortuig dat die toelating van persone wat in sodanige burgerlike verbintenisse van dieselfde geslag tot die ampte, onskriftuurlik is.

  1. Die gemeente verwerp ook die Skrifgebruik van die sogenaamde “verligte hermeneutiek” wat vanuit die algemene openbaring (menswetenskappe), die gesagsaanspraak van die Woord van God ondermyn. Hierdie Skrifgebruik blyk die teologiese afstand tussen die AS en die gemeente duidelik uit te wys.
  2. Die gemeente is veral hartseer oor die onverkwiklike wyse waarop daar probeer word om ruimte te gee aan gemeentes wat ander besluite hieroor wil neem, terwyl die besluit van die legitimasie van leraars nie by die gemeentes le nie en die besluit van die AS nie deur die besluite van gemeentes omgekeer kan word nie. Dit gee aanleiding tot wantroue in die AS.
  3. NG Gemeente Hoopstad – ds Johan Koen:

2.1. VERSOEK AAN RING: NOOD SINODESITTING

Beste Ringskommissielede,

Hoopstad NG Gemeente se Kerkraad het op 13 November 2019 vergader. In die vergadering is daar ’n oorheersende gevoel dat die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudinge onenigheid en onsekerheid kweek by lidmate. Die gemeente se lidmate en Kerkraad is ontsteld oor die besluit van die Algemene Sinode. Hulle is bewus daarvan dat daar ’n taakspan saamgestel is wat gemeentes kan help om te dink en antwoorde te vind oor die besluit van die Algemene Sinode in die verband. Ons Kerkraad sowel as lidmate in die gemeente voel dat die besluit baie duidelik is en dat hulle juis nie ’n Algemene Sinode span (wat die besluit geneem het) wil ontvang om vir ons gemeente te vertel hoe ons verkeerd is nie.

Die gemeente het ’n besluit geneem vir ons eie gemeente, maar hulle wil graag hoor hoe voel die hele Vrystaat Sinode oor hierdie saak. Die nuus wat ons van tyd tot tyd van ons moderator af kry, is net petrol op die vuur in ons gemeente; dit help ons nie. Ons Kerkraad voel dat ’n Spesiale Sinodesitting ons rerig kan help om net raak te sien hoe voel ander gemeentes en dat ons daardeur gelei kan word om te besluit waar ons staan en hoe ons droom vir die kerk dalk moet groei. So ’n geleentheid kan ons help om rustigheid nie net in ons gemeente en gemeenskap te kweek nie, maar ook in ander Vrystaatgemeenskappe. Die Sinodesitting van 2021 lê vir ons gemeente te ver in die toekoms en die skade wat oor tyd in gemeentes mag kom, is nie die moeite werd om te wag nie.

As gemeente kan ons nie vra vir ’n Spesiale Sinodesitting nie, daardie mag lê by die Ring of Ringskommissie of Sinodale Moderamen.

Met hierdie skrywe rig Hoopstad NG Gemeente ’n versoek aan die Ring van Bultfontein om ’n versoek in te stuur aan die Vrystaat Moderamen om ’n Spesiale Sinodesitting te hou. Hierdie Sinodesitting kan ’n volle Sinodesitting wees, of selfs net ’n eendag Sinodesitting, waar daar eksklusief gepraat word oor die standpunt van Vrystaat Sinode ten opsigte van die besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Mag dit alles in die liefde en geregtigheid van Christus geskied.

2.2. Kollega/Ringskriba ds Petri Coetzee se reaksie aan voorsitter, NG Gemeente Hoopstad:

Beste Johan, ek skryf omdat ek bekommerd is oor my gemeente waar ek tans nog is en omdat ek bekommerd is oor gay-lidmate. Ek het by Michael die kerkraad van Hoopstad se versoek na die ring/sinode gelees en wil tog die volgende vra:

Eerstens ons gemeente is die afgelope ses maande deur moeilike gesprekke en baie seer aan weerskante van die gay-gesprek. Ons het egter by ’n punt gekom waar mense genesing en heling tussen mekaar gevind het. Op die oomblik is die meeste lidmate nader aan mekaar, het gegroei in die proses as ooit vantevore. Ons is op ’n baie goeie plek waar ons mekaar se standpunte akkomodeer en mekaar se integriteit aanvaar. Die kerkraad werk daarheen om in elk geval rondom die saak geen standpunt amptelik in te neem nie. Hulle wil vir elke lidmaat ruimte gee om self standpunt in te neem en in ’n liefdevolle gesindheid wat Paulus aanmoedig in Rom 13-14 mekaar te respekteer. Ons en ek wil pleit by julle kerkraad om asseblief nie die ring of sinode te forseer in ’n rigting waar die sinode of ring ’n standpunt moet inneem nie.

Eerstens is ons bang dat ou wonde wat maar nog baie broos is in ons gemeente, deur hierdie proses weer oopgemaak word. Ons is bang dat die mooi eenheid wat op die oomblik daar is en waaraan ons gemeente baie hard gewerk het, deur hierdie hele sinlose oefening verwoes sal word. Vertrou my asseblief as ek dit sê. Tweedens wil ons gemeente nie deur die ring of sinode in besluite of standpunte in geboelie word, waarin ons nie wil wees nie. Hier is meer as net ons gemeente in die ring en sinode wat so voel en heelwat predikante wat vra dat ons nie deur ’n sinode of ring in besluite in geboelie word nie. Julle gaan dit bitter moeilik maak vir ’n klomp gemeentes en predikante. Die AS het ruimte gegee vir alle gemeentes om hulle eie besluite/standpunte te formuleer as hulle wil. Julle is mos nou vry om te kies en te besluit soos julle goed dink. Asseblief gun predikante en gemeentes ook daardie vryheid wat julle tans het. Moenie dit ontneem deur die ring en sinode te probeer druk om ’n standpunt in te neem nie. Daar is al oneindig baie seer wat lidmate in hierdie proses van meer as 25 jaar moes deurmaak beide kante toe. Ons pleit by julle gemeente, hou nou op om met hierdie proses van seermaak en verdeeldheid. Moenie net aan julle eie gemeente dink nie, dink ook aan ans, ander gemeentes en ander predikante .

Tweedens is sommer net my eie opmerking en pleidooi aan julle. Dis baie maklik om te sit en standpunte in te neem, Bybeltekste rond te gooi en verklarings uit te reik. Die krisis met dit is, dat die kerk haar eintlike taak mis en versaak, naamlik die lidmaat wat gay is. Ek wil vir julle vra om geloofwaardigheid aan julle standpunt en verklaring te heg en regtig iets goeds en positief te doen. Formuleer ook by die verklaring, hoe gaan julle gay lidmate van julle gemeente (ek glo daar is seker ook by julle sulke lidmate, dalk kruip hulle net weg) en in die algemeen, help om reg te kom? Watter pastorale tegniek of program gaan julle gebruik? Die moeilike ding is dat die sielkundigevereniging beide in die RSA en Amerika ’n beleid uitgevaardig het dat sielkundiges nie meer gay mense moet probeer regkry nie. Hulle kan tronk toe gaan as hulle dit doen. So wat is julle gemeente se plan om hulle heteroseksueel te kry? Wat gaan julle vir ’n lidmaat sê wat al jare bid en smeek, worstel, vas, bekeer, demone laat uitdryf, selfmoord probeer het, ensovoorts en steeds nie verander het nie? Hoe gaan julle hul help? Want my voorbeeld is nie net fiktief nie, ek kry met sulke mense werklik te doen in my pastoraat. Hulle kom van jou gemeente af na my toe vir raad .

Verder is my vraag ook indien julle nou vrede gemaak het iemand is nou maar so en kan nie verander nie, hoe gaan julle die las van nie mag trou nie, vir hulle ligter maak? So ’n pad is ’n helse bitter moeilike eensame pad, tot so mate dat Luther die praktyk van selibaat beskryf het as uit die hel self. Hoe gaan julle hulle help? ’n Ondersteuningsgroep stig, hulle elke aand by julle kom laat eet en bietj ie te kuier? Want eensaamheid dryf jou tot raserny. Ek kan jou vertel van mense wat dood is van eensaamheid. Dis “cruel” om standpunte uit te vaardig en dan die subjekte van die standpunt net so aan hulle eie lot oor te laat. Dis presies wat Jesus bedoel het toe hy vir die fariseers gesê het julle le ondraaglike laste op mense, maar verroer self nie ’n vinger om daardie laste te help dra nie. Heg net ook by julle verklaring ’n plan hoe julle hulle laste gaan help dra. God se heiligheid is juis gesetel reg deur die Bybel nie in wette, simbole, ensovoorts nie, maar in die omgee en versorging van mense. Dit sou vir my baie interessant wees om te sien hoe kry julle hulle reg.

Derdens is ook my eie pleidooi. Wil julle nie by julle besluit en verklaring vir ons ander ook julle eksegese en hermeneutiek aanheg nie? Daarmee bedoel ek dat julle nie ’n versie aanhaal nie, maar dat julle duidelik wetenskaplik sal aantoon waar dwaal eksegete soos Malina, Von Rad, Westerman, du Toit, Gert Steyn, Tolmey, ensovoorts wat al so duidelik aangetoon het dat hierdie tekste nie praat van homoseksualiteit per se nie. Ek het nog nêrens ’n goeie artikel gesien waar hulle die eksegetiese arbeid se foute uitgewys het nie. Waar het hulle foute gemaak, byvoorbeeld in hulle taalstudie, in hulle struktuuranalise, in hulle historiese en kultuuragtergrond se studie? Miskien is daar ander geskrifte wat hulle nie van weet nie wat dalk aandui dat hulle verstaan van sodomie en seksualiteit in die antieke wêreld verkeerd is. Miskien is daar geskrifte wat julle van weet wat aandui dat daar nie kinderverkragers was nie, nie ongasvrye praktyke soos by Gibea en Sodom nie, die Bybelse wêreld nie anders gedink het oor oor die begrip “onnatuurlik” as wat Malina duidelik uitgewys het nie. Rom 1 nie praat van mans wat se eie vrouens homoseksueel by onsedelike afgodspraktyke optree nie, soos al tot vervelens toe deur goeie eksegete aangetoon nie.

Ek vra dit asseblief van julle kerkraad om ook die eksegetiese en hermeneutiese arbeid van die besluit te toon. Die rede hoekom ek dit vra is omdat ek dink dis uiters onverantwoordelik om nie eers baie baie deeglik alle kante te bestudeer en duidelik wetenskaplik te kan aantoon waar die ander ouens dwaal. Die kerkraad vra dat niemand eens met hulle moet kom gesels oor die ander kant nie. Dis mos duidelik ’n teken dat hulle nie regtig soek na die waarheid nie, maar net hulle eie standpunt wil beskerm. Sê nou net die ander kant is wel reg? Hoe gaan julle dit weet as julle dit nie gehoor het nie? ’n Soeke na die waarheid is niks anders as wat dit sê nie – ’n soeke. Ek hoor egter in julle brief julle kerkraad het klaar gesoek en julle is reg en al die ander is verkeerd.

Julle speel met mense se lewens, mense wat diep seerkry, julle gay lidmate wat al diep seergekry het. As die gay mense belangrik is, salons moes soek en verantwoordelik by antwoorde uitkom nadat ons alles gehoor en na alle kante geluister het. As dit so is dat julle reeds al die antwoorde het, help ons ander en toon vir ons aan waar dwaal die Bybelwetenskaplikes op ’n wetenskaplike verantwoordbare wyse. Help dan die gay mense en doen wat die sielkundiges en ekself nie kan reg kry nie, vertel dan vir ons hoe gaan julle vir hulle reg kry.

My pleidooi is, dink asseblief aan ons gemeente, ander gemeentes en ook baie leraars in ons ring en sinode voordat julle hierdie versoek wil deurvoer. Tweedens is my pleidooi, dink aan gay mense en vertel ons hoe julle hulle gaan regkry, of hoe gaan julle hulle laste ligter maak wat julle op hulle (julle lê dit op hulle, nie die Bybel nie, daar is genoeg eksegetiese arbeid gedoen om dit aan te toon). Derdens, help die res van die kerk deur duidelik aan te toon uit die Bybel waar is die Bybelwetenskaplikes verkeerd in hulle kultuurhistoriese ondersoeke, struktuuranalises, woordverklaring en hermeneutiek.

Dit is totaal onverantwoordelik om ’n besluit te neem sonder dat al die bogenoemde werk gedoen is. Trouens ek gaan nou nie hier wees nie, maar ek kan jou belowe dat Wesselsbron-Noord vir julle in die vergaderings gaan vra, sit julle eksegese op die tafel en sit julle rehabilitasieprogram vir gays op die tafel voordat enige verdere gesprek gaan plaasvind. Ons mense is moeg om in die lug en in die algemeen te praat en te luister na emosionele verdagmakery dat die ander nie die Bybel meer liefhet en dit as die Woord van God sien nie. Ek pleit dat jy met jou kerkraad sal praat om hierdie versoek na die ring terug te trek en elke gemeente sy eie reg te gee om self hieroor te besluit. Ons smeek julle om nie verder die brose eenheid in ons gemeente te skaad nie.

2.3. Ringskommissie (ds Michael Rautenbach, voorsitter) se antwoord aan NG Gemeente Hoopstad:

20 November 2019

Geagte Voorsitter

VERSOEK AAN RING: NOOD SINODESITTING

Aangesien ds Johan Koen die Skriba van die Ring is, het ek as voorsitter met ds Andre Smit wat die ander lid van die kommissie is, julle versoek hanteer en ons reageer dan as volg daarop:

Ons is van mening dat dit nie sinvol is om ’n spesiale Sinodesitting saam te roep in terme van die Algemene Sinode se besluit oor Selfdegeslagverhoudings nie.

Ons is daarvan bewus dat die sinodes reeds ’n baie lang pad gestap het tot by hierdie besluit en dat daar steeds verdeeldheid oor die saak bestaan. Nóg ’n sinodesitting gaan hoogswaarskynlik nie die verdeeldheid oplos nie en eerder verdere verdeeldheid meebring.

Soos wat die besluit tans staan, gee dit immers aan elke gemeente en kerkraad geleentheid om hulle eie standpunt in te neem en daarvolgens te handel.

Ons sit met erge droogte en ekonomiese krisis en ander dringende sake wat nou moet aandag geniet. ’n Spesiale sinode gaan ook enorme geld kos.

Ten spyte daarvan dat die gemeente en kerkraad sterk voel om nie gebruik te maak van die gesprekspan van die sinode nie, kan dit dalk juis sinvol wees.

Ons vertrou dat die Kerkraad ons besluit respekteer.

  1. NG Gemeentes Wesselsbron en Wesselsbron-Noord

3.1 Beide Kerkrade het besluit om geen besluit vir of teen die besluit van die Algemene Sinode te neem nie.

3.2 Beide Kerkrade het besluit om in 2020 ’n paar meer ingeligte persone te nader om ’n gesprek in die gemeente te kom hou waarin ons die pad vorentoe sal besin.

Januarie 2020

Bylaag 14B: NG gemeente Bultfontein

KERKRAADSBESLUIT IVM SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

Vergadering neem kennis van die volgende uittreksel uit die Notule van die Kerkraadsvergadering gehou op 26.11.2015:

3.3.3.10 Selfdegeslagverhoudings: Die volgende word voorgelê aan die twee NG-Kerkrade vir kommentaar, om uiteindelik ’n eenvormige en eensgesinde getuienis te lewer in Bultfontein.

KONSEPSTANDPUNT VAN DIE LERAARS EN KERKRADE VAN NG GEMEENTES BULTFONTEIN (MOEDER) EN BULTFONTEIN-OOS RAKENDE DIE BESLUIT VAN DIE 16DE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK (09/10/2015) OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

  1. Ons besef dat die hele aangeleentheid rondom selfdegeslagverhoudings baie kompleks is – die oorsake daarvan word nog wyd gedebatteer (Punt 8).
  2. Voortspruitend uit ’n Christelike lewenshouding, staan die twee gemeentes se deure oop vir alle mense wat vir die Here liefhet en Hom wil dien saam met die res van die lidmate (Punt 2).
  3. Ons stem saam dat die saak in die verlede nie altyd met die nodige takt en liefde hanteer is nie, en dat baie mense se waardigheid aangetas is en dat hulle seergekry het agv diskriminerende taal, gedrag en gesindheid – ook deur kerkmense.
  4. Ons stem ook saam met Punt 3, nl dat die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kom, die is tussen een man en een vrou, met Christus as die middelpunt. God het mense mans en vrouens gemaak – dus geslagtelik verskillend. Man en vrou is bestem om in die omvattendste sin van die woord vir mekaar ’n hulp te wees. Man en vrou moet mekaar tot bestemmingsbereiking lei – dit kan twee mans nie doen nie en twee vrouens ook nie.
  5. Homoseksuele mense wat volhardend optree teen God se ideaal vir man en vrou, kan nie in ’n leiersposisie in ons gemeentes dien nie.
  6. Ons glo dat die Algemene Sinode te ver gegaan het met Punt 4, nl om ’n amptelike verbintenis tussen persone van dieselfde geslag goed te keur. Daar is ook te veel onsekerheid, nl of dit ’n seremonie in ’n kerkgebou kan behels, asook watter verskil daar presies is tussen so ’n amptelike verbintenis en ’n tradisionele huweliksluiting? Ons stel dit duidelik dat ons leraars se huidige huwelikslisensies by Binnelandse Sake, slegs voorsiening maak vir die bevestiging van ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou en ons wil dit so hou.
  7. Punte 6 en 7 is ook problematies, want ’n beleidsinode (die Algemene Sinode) skuif nie sommer net sy verantwoordelikheid af op Kerkrade en gee dit prys nie – dan word die Algemene Sinode ’n werktuig vir veelvormigheid en dit maak ook die deur oop vir independentisme (ongebondenheid, vrysinnigheid, onafhanklik van die res van die verband) en kerklike chaos. Watter bevoegdhede bly dan oor om die Algemene Sinode se bestaan te regverdig?
  8. Hierdie dokument word verwys na Boshof se Ringskommissie, vir voorlegging aan die Moderamen, as redes ter aansoek om ’n buitengewone sinodesitting (Art 34) in Bloemfontein.

Laat ons steeds vashou aan mekaar – en bo alles aan Christus.

BESLUIT: Die Kerkraad identifiseer hom met die standpunte oor selfdegeslagverhoudings in die verslag: Tussengemeentelike kommissie, soos aanvaar/ gewysig by sy vergadering gedurende November 2016.

 

Bylaag 14C: Gesin Van Biljons

Ek, Chantall van Biljon asook my kinders, Chantalle Hailey en Helena van Biljon kanselleer ons lidmaatskap by alle NG Kerke wat die verbond van God nie onderhou nie. Ek, asook my kinders keur geensins die nuwe kerksbeleid goed nie. Ek en my kinders sal nie geken word as mense wat dié weë goedkeur nie.

Die oud, asook nuwe testament se baie duidelik hoe God voel oor diegene wat hulself skuldig maak asook diegene wat goedkeuring gee aan die beleid.

Gen 19:5 En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.

Hierop het God die manne van die stad wat Lot se vriende wou skade doen, met blindheid bestraf

Lev 18:22 Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie, Dit is ’n gruwel.

Dis baie duidelik dat God selfde geslagshuwelike haat. Dit is ’n gruwel! Lees tot by vers 30 “Daarom moet julle my ordening onderhou om niks te doen van die gruwelike insettinge wat voor julle gedoen is nie, dat julle jul nie daardeur verontreining nie. Ek is die HERE iulle God.

Lev 20: 13 En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Bulle bloedskuld is om hulle.

Rigters 19:22 Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte manne, meteens die huis en klop hard aan die deur, en hulle spreek met die ou man, die eienaar van die huis, en sê; Bring die man uit wat in joui huis ingekom het, dat ons hom kan beken.

Weereens die besoekers aan Lot, dit is duidelik ’n gruwel waarvan ons as opregte Christene niks mag te doen hê nie. Orals in Levitikus staan so mens moet doodgeslaan word. Ons mag dit nie eers goedkeur of ander pad kyk nie, ons sal ook gestraf word.

Rom 1:24-25 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die speksel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen

Rom 1:28-32 en omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie,· hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog,kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;

Onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig.

Mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – die dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Op 22: 18-20 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.

En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Hy wat dit getuig, sê; Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!

Nie ek of my kinders sal gestraf word, vir sondes wat by die kerkbeleid gevoeg is en goedgepraat word nie. God se woord mag nie verander nie, ek sit eerder sonder ’n kerk, as wat ek sonder ’n lewe in die paradys van God sit.

Bylaag 14D: Ring van Harrismith

REAKSIE OP SELFDEGESLAGVERHOUDINGE-BESLUIT

Elke leraar in die Ring is gekontak om te hoor hoe gemeentes, kerkrade en die betrokke leraars reageer op die afgelope besluite van 2019. Hiermee word die woordelikse terugvoer wat ontvang is aangehaal en weergegee. In die kommentaar aan die einde van die verslag word gepoog om ’n kort opsomming en persoonlike waarneming weer te gee.

Gemeente A: “Daar is hoofsaaklik drie reaksies op die sinodebesluit:

Eerstens is daar mense wat ten gunste van die besluit is. Hulle is in die minderheid. Gewoonlik is dit mense wat self gay is of ’n naby band het met iemand wat gay is.

Tweedens is daar mense wat berus in die besluit omdat hulle net nie meer lus is vir die gekarring oor gays nie. Dis nie dat hulle die besluit aanvaar nie, maar aanvaar hoe die kerkraad dit hanteer. Die kerkraad het al ná 2015 se sinode besluit dat enigeen welkom in die erediens is, maar dat hier geen gayhuwelike in die kerkgebou sal plaasvind nie en dat geen openlike gay leraars hier sal preek nie.

Derdens is daar ’n beduidende groep wat selfs nie eens ten gunste is van die 2019 besluit nie. Daar word gevoel dat die NG Kerk die Bybel versaak en dat die kerk meer begaan is oor wat die grondwet en menseregte se.

Kommer bestaan dat die kerk geleidelik al hoe meer dinge goedpraat wat indruis teen die Skrif. So word mense al hoe meer gebreinspoel vir die aanvaarding van dit wat vir ons mense oneties is. Die opmerking is gemaak: “Sonde is nie meer sonde nie”. Die teenstand van hierdie groep kom nie net van heethoofde nie, maar ook van diepgelowige meelewende lidmate.

Laasgenoemde standpunt word natuurlik aktief bevorder deur lidmate van ander kerke en charismatiese groepe wat ons lidmate verbaal aanval en verkleineer, veral in die openbaar soos by braaivleisvure! Selfs die leraar word deur sulke mense tydig en ontydig gekonfronteer en daar word smalend verwys na die NG Kerk wat self wit besluit wat reg en verkeerd is en hulle nie deur die Skrif laat lei nie.

Ons het nie enige bedankings tot op hede gehad nie, maar daar is wel mense wat apaties teenoor die kerk geword het. Hulle bly net weg en verstrek geen redes nie, selfs al is jy in gesprek met hulle. Persoonlik weet ek egter dat daar onmin by van hulle broei oor die gay-aangeleentheid, maar daar word net gesê dat niks pla nie.

Wat wel waar is oor die hele spektrum van lidmate is dat daar ’n geweldige vertrouensbreuk met die Algemene Sinode is wat blykbaar onherstelbaar is. Mense steur hulle nie meer aan die Algemene Sinode nie – solank alles op plaaslike vlak ordelik goon. Volgens kommentaar wat ek hoor, oorskrei die Algemene Sinode sy perke deurdat ’n paar honderd mense wil besluit vir al die ander. Daar word ook beweer dat die besluite van die Algemene Sinode oor gays op die ou end meer skade gedoen het as goed. Bestaande goeie verhoudings het skipbreuk gely. Die vertrouensverhouding wat oor jare opgebou is tussen leraar en lidmate, dink ek het gehelp om gemoedere te kalmeer.”

Gemeente B: “Ons het in die gemeente nie veel reaksie gekry nie. Dis asof dit nie meer relevant was nie. Ek het ’n gesprek met ’n oubaas gehad wat sleg afgeloop het. Hy het ’n kleinseun in Kanada wat gay is en is absoluut hondsdol oor hierdie onderwerp. Dit is sonde voor God. Verder kom hy nie in sy denke nie. Ek en hy is tans nie op spreekterme nie. Mense wat daarteen is, is steeds daarteen. Niks het verander nie. Mense wat daarvoor is, is steeds daarvoor.”

Gemeente C: “Ons het op ons laaste kerkraadsvergadering die besluit oor selfdegeslagverhoudings wat Moreletapark geneem het, presies net so aan die kerkraad oorgedra. Hulle het eenparig besluit dat ons die besluit net so aanvaar. Maar gay mense is nog steeds welkom in die kerk en sal met liefde en respek behandel word, maar hier sal nie sulke huwelike voltrek word nie.”

Gemeente D: “Ons het uiteenlopende opinies in ons gemeente, waarskynlik soos in alle gemeentes en ook op die sinode self beleef Sekere lidmate is baie ontsteld oor die besluit, terwyl ander juig en sommiges nie werklik omgee nie.

Ontstelde lidmate se grootste wroeging is as gevolg van ’n skokkende reaksie op ’n besluit wat op die oog af in kontras met God se Woord ervaar word. Dit is duidelik uit bykans alle gesprekke dat lidmate nog nie die nodige kennis en insig rakende verskillende Bybelse interpretasies het nie. Daarom voel hulle die sinode neem ’n besluit teen die manier waarop hulleself die Bybel lees en verstaan (meestal ’n letterlike interpretasie). Volgens my sal gemeentes, predikante, ringe en sinodes op ’n manier gemeentelede eers moet help om die kompleksiteit van die lees van die Bybel te verstaan, voor daar werklik oor enige teologiese saak verder gesprek, bespreking en besluite kan wees. Lidmate moet eers gehelp word om te verstaan hoekom daar verskillende opinies is, voor daar aandag gegee kan word oor wat die opinies is. Die Sinodale besluit is dus verwyderd van waar lidmate leef in hulle verstaan van die Bybel. Hiermee wil ek self egter geen uitspraak maak oor reg en verkeerd nie, maar bloot my ervaring oor wat ek by lidmate hoor deel. Die wat wel gemaklik is met die besluit doen dit meestal vanuit ’n eenvoudige lees en interpretasie van die Bybel in terme van ’n kom ons wees lief vir alle mense. Die wat nie omgee nie, is lidmate wat meestal soos baie ander voel die kerk het waarskynlik baie belangriker dinge om aan aandag te gee, maar doen dit nie.

Soos bykans alle ander sinodale besluite en werkinge stel die besluit rakende homoseksualiteit weereens nie teleur in hoe swak dit geformuleer en geneem is nie. Die sinode leer duidelik nie uit haar foute in die verlede nie!’ (leraar se persoonlike opinie). Ek as leraar kon self ten spyte van my verstaan van die verskillende teologiese perspektiewe, nie die besluit ondersteun nie. Ek dink dit is ’n swak besluit in vele opsigte en ek lys kortliks van my eie besware:

  1. Lidmate se verstaan en opinies word nie in ag geneem nie.
  2. ‘n President word deur die taal van die besluit geskep om ruimte te maak vir bykans enige seksuele oriëntasie, nie net homoseksualiteit nie. Dit is vir my kommerwekkend.
  3. ‘n President word geskep vir toekomstige teologiese verskille om ook op hierdie manier opgelos te word, beide is aanvaarbaar. Gaan dit toegelaat word in terme van die doop, verlossingsleer, ens? As daar vir ’n groep ruimte gemaak word in terme van een teologiese saak, moet dit vir ander sake ook gedoen word.”

Gemeente E: “Ons het nie veel reaksie gekry met betrekking tot die sinodale besluit nie. Die standpunt wat ek en baie van ons kerkraad en lidmate reflekteer, is die standpunt dat gay persone in lewensverbintenisse kan staan, maar dit is nie dieselfde as ’n huwelik soos beskryf in die Bybel nie.

Ruimte moet daarvoor gemaak word in die konteks van die standpunt. Pastorale ondersteuning van persone in dieselfde geslagsverbintenisse moet voorkeur geniet en daar moet nie gediskrimineer word teen persone in sodanige verbintenisse nie. Omgee en aanvoording van persone as kinders van die Here moet voorkeur geniet. Daar is ’n algemene rustigheid in die verband, omdat ons nie veel aandag skenk aan verdelende sake en kwessies nie.”

Gemeente F: “Die kerkraad het met ontsteltenis kennis geneem van hoe die Algemene Sinode sedert 2015 gehandel het met onder andere dieselfde geslagverhoudinge en die Skrif se standpunt daaroor.

Die kerkraad neem ’n afwagtende houding in oor wat die toekoms vir ons inhou en verneem graag van u hoe u sien die besluit in die Vrystaat Sinode hanteer gaan word. Gaan daar byvoorbeeld ’n dringende Vrystaatse Sinodesitting plaasvind om hierdie beleidstandpunt van die AS in oorweging te neem ?”

Opsommende Kommentaar:

  1. Daar is uiteenlopende reaksie op die besluit en dit lyk nie of lidmate se persoonlike opinie die afgelope paar jaar noodwendig (as gevolg van be·invloeding deur die kerk} verander het nie.
  2. Diegene wat daarteen is, is meer uitgesproke en driftig as diegene wat die besluit steun. Die optrede van Moreletapark-gemeente beïnvloed wel heelwat lidmate.
  3. Die oorgrote meerderheid lidmate en gemeentes maak vrymoedig ruimte vir gay persone, aanvaar hulle as lidmate en wil graag ’n pastorale pad stap. Mense in selfdegeslagverhoudinge word aanvaar, maar die verhouding word nie noodwendig goedgekeur nie. Die meerderheid kerkrade handhaaf besluite wat gay persone die ampte verbied en dat sodanige verbintenisse “nie as huwelike bevestig sal word nie”.
  4. Ons is nie in die Ring van Harrismith bewus van enige kerkraad of leraar wat ernstig dreig om die kerk oor hierdie saak te verlaat nie. Daar is wel heelwat lidmate wat ’n “afwagtende houding” inneem en moontlik kan reageer wanneer ander besluit om dit wel te doen.
  5. Dit wil ook voorkom dat kommer oor ander kwessies soos die landbou, grondonteiening, die ekonomie, beurtkrag, swak dienslewering en ander sosio-politieke onsekerhede die “gay kwessie” die afgelope paar maande oorskadu het.
  6. Dit wil ook voorkom dat ’n toenemende meerderheid lidmate (oud en jonk) nie vertroue het in die kerkleiding op Sinodale vlak nie en dat die “gaping” tussen “gewone lidmate” en die kerkleiding groter word.
  7. ‘n Belangrike vraag is ook wat die werklike regsimplikasie (oor ’n langer termyn) gaan wees indien kerkrade en leraars byvoorbeeld weier om selfdegeslaghuwelike te bevestig, of weier om gay persone as lidmate en/of ampsdraers toe te laat.

(lewers maak iemand onlangs die opmerking dat die TV-reeks “Boer Soek ’n Vrou”, in ’n paar weke meer kon regkry om mense anders te laat dink as wat die kerk in 50 jaar kon doen. lemand reageer toe ook dat dit die kompleksiteit en sensitiwiteit van die saak juis uitgelig het sodat ’n mens nou besef dit is glad nie so eenvoudig nie).

Ds Gert Victor (NG Harrismith)

Ringsvoorsitter

19/01/2020

Bylaag 14E: NG gemeente Villiers

16 Januarie 2020

Die Skriba

Moderamen van die Vrystaat Sinode

Bloemfontein

Geagte Skriba

Besluit van Algemene Sinode 2019 het betrekking.

Dis met ontsteltenis dat die Kerkraad van die NG Kerk Villiers kennis geneem het van hoe die Algemene Sinode sedert 2015 gehandel het met onder andere dieselfde geslagverhoudings en die Skrif se standpunt daaroor.

Die Kerkraad neem afwagtende houding in oor wat die toekoms vir ons inhou en verneem graag van u hoedat u sien die besluit in die Vrystaatse Sinode hanteer gaan word.

Gaan daar byvoorbeeld ’n dringende Vrystaatse Sinodesitting plaasvind om hierdie beleidstandpunt van die Algemene Sinode in oorweging te neem?

Die uwe

(Geteken)

Skriba van die Kerkraad

E van Niekerk

Bylaag 14F: Ring van Reitz

25 Oktober 2019

Die Moderatuur van die Sinode OVS en

Die Ringskommissie van die Ring van Reitz

Dag Broers en susters

Ons as Reitz Gemeente het tydens ons kerkraadsvergadering gehou op 24 Oktober 2019 ons posisie rondom Dolering herbevestig en herbevestig ook dat ons nie hierdie posisie inneem om ons van die kerk in breër verband te onttrek nie, maar as poging om ’n pad van tug met die kerk in breër verband te loop.

Ons doelwit dus is dat die NGK-verband en by name die Algemene Sinode:

  1. sal erken dat die “vasgeloopte Situasie” getuig van eiewilligheid en wegstap van ons gereformeerde grondslag.
  2. sal vra na die standpunt en sienswyse van die Gereformeerde Kerke wêreldwyd rondom Skrifbeskouing en Skrifgesag (ook en onder andere ten opsigte van ons “vasgeloopte situasies”)
  3. sal terugkeer na die gesonde bril vir Skrifbeskouing en Skrifinterpretasie soos deur sowel die Gereformeerde geskiedenis as kerkgeskiedenis vir ons duidelik geleer.
  4. sal optree teen leraars en leiers wat weier om die gesonde bril ten opsigte van Skrifbeskouing en Skrifgesag (soos hierbo vasgestel) ten einde hulle tot die gesonde leer te laat terugkeer.

Ons as Reitz Gemeente erken en waardeer die feit dat die Sinode NGK OVS op die vorige Sinodesitting hulle volkome en amptelik herverbind het tot die Woord as onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte onder die Quia standpunt (ons onderskryf die belydenisskrifte omdat dit ooreenstem met die Skrif).

Ons kyk met verwagting en hoop na die komende sinodesitting van die sinode NGK OVS einde volgende jaar vir hulle toepassing en uitvoer van hierdie besluit.

Ons gemeente het op grond hiervan die volgende besluite geneem:

  1. Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente ons posisie ten opsigte van Sinodale werksaamhede en aktiwiteite leeg sal laat wees, en versoek om die Sinodesitting van NGK OVS as waarnemers einde volgende jaar byte woon. Ons hoop om daar die standpunt van die Sinode NGK OVS te hoor en ons besluit te heroorweeg.
  2. Die kerkraad besluit dat ons as gemeente ons plek ook leeg sal laat ten opsigte van Sinodale Bydraes (Pro-rata betalings, sowel as alle verpligte deurkollektes) tot ons tyd van dolering afgehandel is.
  3. Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente steeds sal deel neem aan Ringsaktiwiteite totdat Ring duidelike uitspraak lewer rondom hulle posisie oor gesonde Skrifbeskouing en Skrifgesag.

Ons vertrou dat die sinode NGK OVS en Ring van Heilbron ons tuiste sal bly en aktief sal werk om ons diepe verskeurdheid van hart te genees.

Die uwe

(Geteken)

Gerrit Strydom

Leraar: Reitz Gemeente

Bylaag 14G: Ring van Smithfield

Reaksie, Algemene Sinode 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings

By die jaareindfunksie van die Ring van Smithfield op 1 November 2019, is spontane gesprek gevoer oor die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings. Al die ringsgemeentes was nie verteenwoordig nie. Daar was wel ’n versoek gerig dat die saak op die volgende Ringsitting in 2020 sal dien. Die Ringskommissie besluit tydens hul samekoms op 17 Januarie 2020 dat dit wel so gedoen sal word sodat verdere gesprekvoering hieroor kan plaasvind.

Reaksie op die besluite oor selfdegeslagverhoudings wat tydens die jaareindfunksie duidelik na vore gekom het, was die volgende:

  1. Dis duidelik dat baie lidmate nog nie die volle impak wat die besluit behels, verstaan of deurdink het nie. ’n Mens hoor die volgende: “Ag wat, dit raak nie regtig die bediening hier by ons nie. Ons gaan maar net so voort soos altyd.”
  2. Daar is ook lidmate wat met sterk en vaste oortuiging teen die besluite gekant is en dit oorweeg om uit die NG Kerk te bedank.
  3. Daar is ook lidmate wat dit in orde vind.

Van die gemeentes het besluit om die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings op die agenda van hul eerste kerkraadsvergadering van 2020 te plaas, in behandeling te neem en te bespreek. Elke gemeente sal dan tydens die Ringsitting van 2020 deeglik verslag kan doen oor die stand van sake.

Dit sal onverantwoordelik en voortydig van die Ringskommissie wees om verslag te probeer doen oor die reaksie van die gemeentes van ons Ring, omdat ons werklik nie oorhoofs oor inligting beskik nie.

Ons waardeer dit dat die lnterimkomitee van die Moderamen die versoek aan die Ringskommissies gerig het om verslag te doen van die ringsgemeentes se reaksie op die besluite oor selfdegeslagverhoudings. Ons besef dat hierdie besluit ons kerkwees in elke gemeente ten diepste raak. Daarom het die Ring juis hierdie pad geloop en loop dit steeds, om verantwoordelike terugvoer te kan gee. Die tyd wat die lnterimkomitee vir die Ring gegee het om inligting te bekom, is net heeltemal te kort.

Met dank.

Ringskommissie, Smithfield Ring

17 Januarie 2020

Bylaag 14H: NG gemeente Bloemvallei

Standpunt van die kerkraad van NG Gemeente Bloemvallei oor homoseksualiteit

  1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Die Christelike gesin is die hoeksteen van die samelewing en die gebrek aan ’n gesonde gesinslewe speel juis ’n groot rol om ons samelewing disfunksioneel te maak en dat ons ’n gewelddadige en misdadige samelewing is. (Ef 5:21-33, Kol. 3: 18-19 en 1 Pet. 3:1-7).
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele omgang buite die huwelik teen God se wil en plan is.
  3. Ons glo dat elke mens ’n vrye wil het en dus keuses uitoefen en dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Dit is egter nie ’n groter sonde as ander sondes nie. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus. (Teksverwysings: Lev. 18:22 en 20:13; Rom. 1:18-32; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim. 1:9-10; 1 Tess.4:3-8; Gen. 1:27-28; Jes. 1:18 en Joh. 3:16.)
  4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Homoseksuele mense is (net soos heteroseksuele mense) ons naaste wat ons moet liefhê soos onsself Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ’n leiersposisie in ons gemeente dien nie.
  5. Met hierdie standpunt oefen ons die reg uit om self hieroor te besluit en distansieer ons ons van sekere aspekte van die besluit van die Algemene Sinode van 2015.

20 Januarie 2020

Bylaag 14J: Ring van Valsrivier

Verslag van Valsrivier Ring oor AS se besluit tov selfdegeslagverhoudings

Kan ons as leraars van Kroonstad hiermee ons uiterste frustrasie oor die Moderamen se manier waarop hierdie saak hanteer is, uitspreek?

Volgens die skrywe soos op 14 Januarie 2020 ontvang, word genoem dat die Moderamen (lnterimkomitee) tydens sy laaste vergadering in 2019 reeds hierdie besluit geneem het. Hoe op aarde word so ’n versoek die week wat die skool begin, waarin geeneen van enige Ringe tog bymekaar sou kom, ’n week waarin talle gemeentes met Week van Gebed en net om alles van die jaar wat afskop te hanteer, deur die Moderamen gestuur met ’n tyd van presies een week grasie om al die dokumente deur te stuur. Dis gewoon swak en ons is werklik nie gemaklik daarmee nie. Met reg is die vraag geopper of daar nie dalk ’n verskuilde agenda agter die “laat-slaap-nou-spoedige-verslag-doening” sit nie?

Kroonstad se leraars het op ’n informele kuier oor die AS se besluit gesels tydens ’n vroeër ontmoeting en dit was baie duidelik dat dalk met die uitsondering van een gemeente, die res van die gemeentes dit eens is dat die AS hier ’n verkeerde besluit geneem het. Sogenaamde menseregte (en nie die eerlike soek na wat die Woord van God se), is as maatstaf gebruik om ’n besluit te formuleer wat lynreg staan met wat die Woord sê – maak nie saak hoe jy die Woord probeer draai en buig nie!

Die RK het egter Donderdag 16 Januarie 2020 vergader en besluit om die volgende deur te gee, asook elke gemeente te vra of hulle as kerkraad ’n amptelike besluit in die verband geneem het en indien wel, dit net so hier te plaas:

Die Ringskommissie is van mening dat:

  • Die versoek van die Moderamen kom op te kart kennisgewing.
  • Die Ring het nog nie vergader om ’n verklaring oor die besluit uit te reik nie.
  • Daar heers groot ontsteltenis by sommige lidmate en sommige leraars oor die besluit. Dis egter onbekend hoe die leraars en lidmate buite Kroonstad oor die besluit voel.
  • Enkele Kerkrade het reeds vergader en die besluit verwerp omdat hulle oortuig is dat die besluit bots met die Skrif, belydenis en Kerkorde.

NG Kroonstad: Ons as Kerkraad van die NG Moedergemeente Kroonstad besluit as volg:

  1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. Ons aanvaar die lielde van Christus as die enigste geldige grond waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alie mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  4. Ons besluit dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  5. Ons besluit dat heteroseksuele, biseksuele en homoseksuele verbintenisse, lewenswyses en verhoudings ten sterkste veroordeel word.
  6. Ons besluit dat selfdegeslagverhoudings, verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die monogame huwelik tussen een man en een vrou aanvaar kan word nie.
  7. Ons besluit dat homoseksuele gelegitimeerde leraars, wat selfdegeslagverhoudings, verbintenisse en huwelike nie goedkeur nie, tot die predikantsamp toegelaat mag word.

NG Kroonstad-Noord: Geen besluit

NG Kroonstad-Wes: Verklaring van leraars van Namibie is net so oorgeneem, met ’n eie besluit op die einde:

Verklaring deur besorgde leraars van die NG Kerk in Namibie en Suid-Afrika

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG Kerk in Namibie en Suid-Afrika, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019), wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ’n besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulere humanistiese tydgees.

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiers 6: 9-10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiers 6:11).

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons kan red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomendheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus:

  • Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek.
  • Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom.
  • Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel.
  • Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus.
  • Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiers 6: 9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God.
  • Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus.

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG Kerk, ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en salons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees.

** Daar is op die afgelope kerkraadsvergadering besluit dat daar ’n vertrouensbreuk met die Algemene Sinode plaasgevind het. Daar sal in die toekoms oor die pad vorentoe besluit word.

NG Kroonstad-Suid: Verklaring van die kerkraad oor Sinodebesluit aangaande selfdegeslagverhoudings

  1. Die Woord van God bevat die voorskrifte vir ware lewe en in ons gemeente neem ons die Woord van God as rigsnoer vir ons bestaan. (2 Tim 3:16).
  2. Die huwelik is ’n verbond tussen ’n man en vrou wat voor God en mense gesluit word (Gen 2:24; Joh 4:17-18). Daarom vereenselwig ons ons NIE met die Algemene Sinode se besluit dat selfdegeslagverhoudings by wyse van ’n huwelikverbintenis goedgekeur word nie (Gen 19:5; Rigt 19:22; Lev 18:22; 20:13; Matt 19:12; Rom 1:24-28; 1 Kor 6:9; 1 Tim 1:10).
  3. Die beoefening van selfdegeslagverhoudings is nie ’n saak wat apart van ander sonde gesien word nie en daarom word geen persoon veroordeel nie. Alie mense is sondig en stry teen hulle sondige natuur om beeld van God te word (Rom 3:23-24; 12:1-2; Kol 3:4-10).
  4. AlmaI is welkom in ons gemeente omdat ons saam street na die lewe – soos in die Bybel as riglyn beskryf – wat vir Vader tot lof en eer is (Fil 1:9-11; Kol 3:1-3).

NG Kroonstad-Oos: Neem hulle besluit tydens die Februarie 2020-vergadering.

NG Kroonheuwel-Noord: Geen amptelike besluit, alhoewel die algehele gevoel die van ’n verwerping van die sinodebesluit is, aangesien dit lynreg teen die Woord is om twee persone van dieselfde geslag, in die huwelik met mekaar te wil bevestig. Die meerderheid kerkraadslede het reeds kennis gegee dat hulle nie hul leraar se diensooreenkoms sal verander nie.

Bothaville se drie gemeentes: ’n Tussengemeentelike Komitee (TGK) wat sewe verteenwoordigers uit elkeen van die drie gemeentes (Bothaville, Bothaville-Noord en Meyerhof) het, het die saak bespreek en verslag aan die Kerkrade met hulle vergaderings op 6 November 2019 gedoen. Die Kerkrade het die saak bespreek, die aanbevelings van die TGK goedgekeur en ek (Pieter van Jaarsveld) kan getuig dat hier ’n rustigheid in die gemeentes is. Die verklaring oor Selfdegeslagverhoudings lui soos volg:

“6.1 Die TGK herbevestig die besluit wat die drie gemeentes in November 2015 na aanleiding van Selfdegeslagverhoudings geneem het.

6.2 Die gemeentes bevestig dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is.

6.3 Die gemeentes verklaar dat die liefde van Christus en sy verlossingsboodskap vir alle mense is en dat ons gemeentes se deure vir almaI oop is.

6.4 Die gemeentes gee aan elke mens ruimte om die besluite van die Algemene Sinode vanuit ’n persoonlike geloofsverhouding met die Here te leef.

6.5 Die gemeentes erken dat daar meningsverskil oor die aangeeentheid is en laat ruimte vir mekaar in die verstaan daarvan.”

Geen terugvoer van NG Viljoenskroon en NG Vierfontein is ontvang nie.

Vrede.

Christo Weideman

Skriba: Valsrivier Ring

Januarie 2020

Bylaag 14K: NG Gemeente Wilgehof

Geagte Moderamen NG Kerk Vrystaat

lvm: Selfdegeslagverbintenisse

Ek rig hierdie skrywe namens die kerkaad van NG Wilgehof.

Die skrywe word nie gerig in haat of enige homophobia nie, maar in liefde vir God, Sy Woord en teenoor ons medemens (ons het ook erkende homoseksuele persone in die gemeente wat silibaat leef en streef na heiligheid). Ons veroordeel ook geen homoseksueel tot die hel nie en glo redding is deur ’n geloofsverhouding met Christus alleen, deur genade en nie deur eie verdienste of werke nie. Dit geld vir ons almal : hetero- of homoseksueel.

Die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse is egter vir die gemeente problematies. Ons moet net vure doodslaan en lidmate poog rustig hou, terwyl ander reeds besluit het om die NG Kerk te verlaat. Die besluit van die Algemene Sinode veroorsaak skade.

Ons besef die Algemene Sinode se uitgangspunt is om in liefde almaI te akkomodeer en te verdra, maar is bekommerd dat die implikasies van die besluit miskien nie goed deurdink is nie.

Hier volg ’n paar krisispunte vir ons:

  1. Skrifinterpretasie:

Ons glo die Bybel is die Woord van God, geïnspireer deur die Heilige Gees en geskryf deur mense hande (1 Tim 3: 14-17).

Ons staan op Sola Scriptura en glo dat die Skrif het finale gesag in die kerk, bo mensllike wette, besluite of tradisies.

Hierby dat die Skrif duidelik en bevestigbaar is. Die Skrif is sy eie interpreteerder en gee self bevestigende uitleg.

Die Skrif bevestig dat homoseksualiteit sonde is (Gen 19, Lev 18: 22, Lev 20: 13, Rom 1: 26-32, 1 Kor 6: 9-10 en 1 Tim 1: 8-11) en dat goedkeuring van selfdegeslagverhoudings teen Skrif is.

Nêrens word dit goedgekeur in Skrif nie. Die tekste teen is oorweldigend in vergelyking met tekste vir homoseksualiteit. [Kommentaar: Daar is geen tekste vir homoseksualiteit nie.]

Ons werk verantwoordelik met Skrif deur konteks in ag te neem, maar verstaan ook dat mens die tekste kan verdraai deur konteks te verander. Ons aanvaar die konteks van die tekste as teen heidense gebruike, ander godsdienste en wetteloosheid – soos die tekste self bevestig, maar aanvaar nie die nuwe idee dat die kontekste net oor tempelprostitusie gaan nie.

Ons staan op die skouers van reuse van die verlede en dit pla ons dat amper 2000 jaar se interpretasie van teks en konteks nou verlaat word vir moderne teologiese interpretasies van die afgelope paar jaar. En dat ons wat op Skrif staan (in verantwoordelikheid) nou bestempel word as fundamentalisties.

  1. Die verlossingsleer:

Ons werk met siele van mense. lndien ons sê sonde is nie meer sonde nie, verhoed ons verlossing en ’n lewe van dankbaarheid. (Sonde, verlossing, dankbaarheid – HK Vraag 2). As iets nie meer sonde is nie, dan is vergifnis en verlossing daarvoor nie nodig in Christus nie. So verhoed ons verlossing en speel ons met mense se siele. Die wet as spieelbeeld, tugmeester en riglyn word ook dan ontken en die gevolg is wetteloosheid en duisternis.

Daar is oorweldigende getuienis van sogenaamde ex-gays wat getuig van die besef van homoseksualiteit as sonde, die verlossing daarvan en ’n lewe van dankbaarheid uit homoseksualiteit. Hierdie getuienisse bevestig Skrifwaarhede.

  1. Trots op sonde?

Ons erken dat almaI is sondaars, maar ons is nie trots op sonde nie en streef teen sonde in ’n proses van heiigmaking (Ef 5: 6-17, 1 Pet 14-16, ens).

Die wêreld leer dat mense trots moet wees oor hul homoseksuele oriëntasie en dis nie nodig om daarteen te stry nie. Is ons van die wêreld?

lndien predikante met homoseksuele oriëntasie toegelaat word, sê ons homoseksualiteit is reg, mens kan trots wees daarop en heiligmaking is nie nodig nie (dan moet alle sondes toegelaat word en wat gaan die uiteinde daarvan wees?).

Verskoon die voorbeeld, maar dan kan ’n pedofiel ook voortgaan, want sy seksuele oriëntasie is vir kinders. So as daar nie onderskeid mag wees tov seksuele oriëntasie nie, waar gaan ons opeindig? Waar word die streep getrek?

Ons as leraars het groter verantwoordelikheid om ’n voorbeeld te wees om na te volg en gaan ernstiger geoordeel word (Heb 13: 7 en 17, 1 Tess 5: 12-13, 1 Pet 4: 17-18, ens).

  1. So gebore of so gemaak?

Ons aanvaar nie die sielkundige standpunt dat iemand homoseksueel gebore word nie. Die genepoel van die mens is al volledig gekaart en ’n geen vir homoseksualiteit is nie gevind nie. Ons erken wel die geestelike beginsel van erfsonde (Eks 20:5, ens) en dat in sekere familielyne die geneigdheid vir homoseksualiteit kan voorkom. Dit is vir ons egter ’n geestelike saak en nie ’n genetiese saak nie.

Al is die geneigdheid teenwoordig, is ’n persoon nie outomaties homoseksueel gebore nie.

Ons aanvaar die sielkundige standpunt dat homoseksualiteit verworwe is, soos bewys deur verskeie sielkundige toetse. Met ander woorde dat eksterne faktore ’n persoon homoseksueel maak. Die faktore sluit in: molestering, verkragting, omgekeerde rolmodelle, gebroke gesinne, okulte, substansmisbruik, wellus, ens. Die getuienisse van ex-gays bevestig dié uitgangspunt en dat daar verlossing daarvan is.

Met ander woorde ons glo nie God maak mense homoseksueel nie, want dan gaan God teen Sy eie wil en Woord, maar glo die wêreld maak mense homoseksueel deur eksterne faktore.

  1. Verbintenisse

Ons glo in die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou, soos Skrif dit bevestig (Gen 2: 18-25, Eff 5:22-33, 1 Pet 3: 1-7, ens). Nêrens in Skrif word verbintenis tussen dieselfde geslag bevestig of goed gepraat nie. Dit word eerder veroordeel.

Ons besef die landswette keer dieselfde geslagverbintenisse goed en ons moet die staat gehoorsaam wees, maar ons glo in so ver dit ooreenstem met die Woord. God se Woord is bo menslike wette en die kerk is nie sekuler nie. Ons is geroep om anders te wees.

  1. Formulier vir selfdegeslagverbintenis:

Ons verstaan nie hoe die kerk ’n formulier wil opstel uit die Skrif vir selfdegeslagverbintenisse nie? Dit terwyl Skrif nêrens dit goedkeur of beginsels daarvoor gee nie.

Die enigste manier is om tekste uit konteks te gebruik en te verdraai om by sieninge te pas. Of die gebruik van algemene beginsels soos liefde vir mekaar, ens. Dit is ’n onverantwoordelike gebruik van Skrif en dinge waarteen die kerk juis waarsku. Hoe kan ons as kerk dit goedkeur?

  1. Kunsmatige eenheid:

Ons besef die Algemene Sinode het met sy besluit ’n eenheid tussen gemeentes poog behou. Maar hierdie tipe eenheid is ’n kunsmatige eenheid wat nie staande kan bly nie. Die besluit het eerder onenigheid bewerk, vervreemding en partyskappe, waarteen Skrif waarsku (Rom 16: 17-18, 1 Kor 5: 7 en 13, 2 Tess 3: 6 en 14, Titus 3: 10-11). Die Skrif sê ons moet ons onttrek van persone wat partyskap verwek, want hul dwaal. So wat nou?

Eenheid in die kerk word bewerk in God en op die waarhede van Skrif. Christus is ons eenheid, maar wat glo ons oor Christus en oor Sy Woord. Daar is baie kerke en almal glo in Christus, maar glo nie dieselfde waarhede van Skrif nie. Geestelik is ons een, maar in praktyk is eenheid nie sigbaar tussen kerke nie, want ons glo anders.

Hoe kan dit werk in dieselfde kerkverband? Ons is ’n kerkverband wantons glo dieselfde volgens Skrif. In die kerkverband is daar nou so baie sieninge en interpretasies, dat baie wonder of ons nog ’n verband is. Die verband word kunsmatig behou, maar in Gees en waarheid verbrokkel die eenheid al meer.

8 . Los waarheid twv akkommodering:

Kernwaarhede van God se Woord word verlaat om mense te akkommodeer. Laat mens dink aan Paulus se waarskuwing in 2 Tim 4: 1-5: Dat die gesonde leer verlaat gaan word om mense se gehoor te streel; dat leraars versameI sal word volgens mens se begeertes; dat hul die oor afkeer van die waarheid en wend tot fabels.

Is ons as kerk hier om mense tevrede te stel, of vir God? Is ons hier twv die wil van mens, of die wil van God? Humanisme maak mens belangriker as God.

  1. Algemene Sinode se bestaansreg?

Die Algemene Sinode is oa gestig om saam in eenheid en verteenwoordiging van almal, te besin oor leerstellige sake. Die tendens deesdae is dat die Algemene Sinode sê: Gemeentes moet/kan self besluit.

Daarmee ondermyn die Algemene Sinode sy eie bestaansreg. Wat is die doel dan nog van die Algemene Sinode? Daarby word almal nie verteenwoordig by die Algemene Sinode nie. Asof sekere opinies en agendas voorrang het. Daar is al meer ’n vervreemding tussen baie gemeentes en die Algemene Sinode. Baie beskou die Algemene Sinode as ’n klug.

Natuurlik is dit prakties onmoontlik om alle gemeentes te kry vir ’n Algemene Sinode. Maar ten minste moet alle opinies verteenwoordig word en nie net sekere opinies om ’n agenda te dryf nie.

Slot en versoek:

Verskoon asb die lang skrywe, maar ons voel dis nodig dat ons al die bekommernisse op skrif stel.

Ons as gemeente versoek asseblief dat die Vrystaat Sinode ’n spesiale sitting belê waar hierdie tipe vrae, soos in ons skrywe, hanteer kan word en alle opinies verteenwoordig kan word?

Ons versoek ook asseblief by so sitting dat daar dringend aandag gegee word aan die bestaansreg van die Algemene Sinode en of die Vrystaat Sinode nie eerder saam moet wegbreek van die Algemene Sinode nie?

Ons besef u het ’n uitdagende pad om nou te loop en wil u graag ondersteun. Ons bid die Here se seen en wysheid toe vir u.

Seenbede.

Ds WB Muller (Namens die kerkraad van NG Wilgehof)

Bylaag 14L: Ring van Welkom

Verslag Welkom Ring

Selfdegeslagverhoudings AS 2019

Graag lewer ek namens die Welkom Ring verslag rakende bogenoemde aspek soos aan my opgedra in die skrywe van 13 Januarie 2020.

Eerstens word daar gemeld dat al die gemeentes binne die Welkom Ring genader is om voorleggings ter tafel te lê. Ongelukkig het slegs drie gemeentes aan die versoek voldoen en as gevolg van die beperkte tyd, was ek genoodsaak om die verslag voor te berei met inligting tot my beskikking.

Alhoewel die besluite van die Algemene Sinode van 2019 met alle gemeentes gekommunikeer is, wil dit tog voorkom of bittermin van die leraars die inligting met hul kerkraad en gemeentelede bespreek het. Die rede mag wees dat daar nog nie voorsiening op die kerkraadagendas was om dit te bespreek nie en dat dit vroeg in 2020 gedoen sal word.

Tweedens kan leraars ook voel dat die aspek stil gehou moet word om onnodige reaksies uit te lok. Kommunikasie is egter ten alle tye belangrik, sodat leraars, kerkraadslede en gemeentelede ingeligte besluite kan neem. lnligting wat deur die drie gemeentes voorsien is, word kortliks in die verslag voorgehou en dit wil weereens voorkom dat daar wel by almaI ’n groot onsekerheid heers.

In informele gesprekke met kerkraadslede en lidmate is daar diepe kommer en ongelukkigheid. Die gevoel is dat die besluite die kerkraad weereens soos vele kere, in die spervuur plaas met ongekende gevolge. Bogenoemde persone is dan ook van mening dat die Bybel as die Woord van God duidelike riglyne gee. Daar heers kommer oor die interpretering van die Skrif en twyfel ontstaan of daar steeds gehou word by die beginsel van die gereformeerde teologie naamlik DIE SKRIF ALLEEN (Sola Scriptura).

‘n Volgende siening is dat baie NG lidmate asook predikante, ’n baie konserwatiewe Skrifverstaan het. Sommige verwys hierna as fundametalisties, Biblisties en selfs onwetenskaplik. Hiermee is lidmate ook baie selektief in hoe hulle die Skrif gebruik. Hier speel ander faktore soos persoonlike voorkeur, ’n groot rol. Dit sien ons in rassiste en seksiste se gebruik van die Bybel om hulle standpunte te regverdig – alle dele wat nie met hulle voorgestelde siening strook nie, word geïgnoreer of weg verklaar.

Die kerk het deur die eeue geleer dat God sonde haat, maar die sondaar liefhet. Ons lidmate se gesindheid moet daarop uit wees om met sulke lidmate die gewone gemeentepad van liefde te loop. Almal moet ingesluit word in die geloofsgemeenskap en omarm word, want hoe kan ons die splinter in iemand anders se oog sien en ons almaI worstel met die balk in eie oog.

Een van die gemeentes berus haar steeds by die besluit van die Algemene Sinode gedurende 2015. Hiermee word daar ’n dringende versoek tot die Vrystaatse Sinode gerig dat ’n buitengewone sinodesitting belê moet word, waar herbesin word oor die besluit wat geneem is. Die gevoel is dat die NG Kerk uit twee monde praat. ’n Verdere versoek is dat daar baie moeite gedoen sal word om hierdie posisie aan lidmate te verduidelik en al manier is soos reeds genoem om met belanghebbendes te kommunikeer. Vir baie mense in die NG Kerk, kan die aangeleentheid min steurnis veroorsaak, totdat hulle self daarmee gekonfronteer word.

Samevattend wil dit voorkom dat baie twyfel en ongelukkigheid aan die orde van die dag is. Daar is kommer dat hierdie aspek afstand bring tussen die sinode en gemeentes, maar ons dank God dat dit regtig Kerk van Christus Jesus is, waar plaaslke gemeentes kan funksioneer.

Hannes van Vuuren

Ringsverteenwoordiger: Welkom Ring

20 Januarie 2020

Bylaag 11: Gideon van der Watt

21 Januarie 2020

Dagbestuur: Vennote in Getuienis

Moderamen: NG Kerk Vrystaat

Liewe Susters en Broeders

BAIE DANKIE!

Ek is versoek om met die oog op my emeritaat ’n kort bedieningsoorsig voor te berei. Ek doen dit graag as meer persoonlike brief, met ’n opregte dankbetuiging tot God ons Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees, en ’n gebed vir ons geliefde kerk, die spesifieke ruimte waarbinne ons saam geroep is, ons tuiste, ons moeder.

***

My 40-jaar bedieningstyd in die NG Kerkfamilie was ’n groot geskenk, vol ryke ervarings en momente om jou aan te verwonder, maar dikwels ook pyn, skaamte en ontnugtering. Sedert my legitimasie in 1980 het die wêreld verander, al hoe vinniger. Die kerk waarin ek my bediening begin het, was invloedryk, patriargaal insluitend, bewaker van die “uitverkore volk” se vaste sekerhede teen die donker vrese in. By die Stellenbosch Kweekskool was ons teologiese klasse nog groot, tussen 60 en 120 studente per jaargroep: Afrikaans, spierwit, manlik, met vaste sekerhede as sjibbolet wat met ’n handtekening (quia) bevestig is. Ons handboeke was Nederlands ((H en JH Bavinck, Bouwman, Berkouwer, Hoekendijk, Kraemer, Noordmans, Van Ruler en Verkuyl). Jonk, naïf, optimisties en afgerig vir die bediening in ’n Afrikaanse, landelike of voorstedelike gemeente het ons die bediening betree. In die gemeenskap en gemeentes was leraars nog magtige manne (mighty men) – in die hete Vrystaatse somers, selfs ook by rings- en sinodevergaderings, met togas en wit dasse as simbool van die statusbewustheid.

Maar in die tyd het die roetwolke in die lokasies al hoe meer na rubber begin ruik … die gewaande sekerhede en mag het begin verkrummel. Reeds op Stellenbosch het profete ons gehelp om vrae te begin vra en ons oë vir sistemiese onreg oop te maak; hulle het ons geleer om met onsekerhede te leef – mense soos proff. Willie Jonker, Jaap Durand, Nico Smith, Willie Esterhuizen, Johannes Degenaar, die jonger Dirkie Smit, Russel Botman en ander. “Onwettige” gesprekke met teologiese studente van die UWK het verder gehelp aan ’n ongemaklike afskeid van die onskuld (oom Koot Vorster het as voorsitter van die Kuratorium “ontplof” toe die Sunday Times daaroor berig – my naam was op die lys wat hy van die Kweekskool wou skors oor ons grense probeer oorgesteek het).

Na ’n tyd as weermag-kapelaan (‘n tyd waaroor ons geslag wit mans nou nog, veertig jaar later, sukkel om te praat en heel te word) was ek sendeling in Lesotho – die oord van waar MK en APLA terreur Vrystaat toe uitgevoer het (ek moes in die klein Vanstadensrus-gemeente in die vroeë tagtigerjare vier vermoorde boere begrawe). Dit was spanningsvolle tye: sonder selfoon het ek dae lank op ’n keer in Lesotho gewerk, op koue konsitorievloere geslaap terwyl my liewe vrou met ons twee dogtertjies alleen moes bly, aan die rand van Vanstandensrus (Mook) se township, in ’n huis sonder diefwering. Maar op ’n manier was ons nie bang nie; die plaaslike swart mense en comrades in Lesotho het van die moruti geweet, en oog gehou in ’n tyd toe alles begin brand het. Jong vigilante het dikwels by ons aan huis kom tee drink en praat, my selfs ere-president van hulle sokkerspan gemaak (eintlik ter wille van die “transport” wat ek Saterdagmiddae moes verskaf, het ek gou uitgevind!), tot ontsteltenis van die kerkraad en die veiligheidspolisie. Ek moes meer kere beëdigde verklarings aflê. Weerloosheid en diensbaarheid was ook ’n beskerming, het ons geleer.

In die tyd het ek my D.Th.-tesis oor prof. GBA Gerdener en die wording van die NG Kerk se sendingbeleid voltooi. Ek het dit nog met potlode, wat ek as troosryke ritueel met ’n knipmes skerp gehou het, oor en oor geskryf. Dit was die tyd voor rekenaars. Maar die teologiese wete het gegroei: die kerk is die liggaam van Christus, die gemeenskap van begenadigdes; dit moet die merktekens (stigmata) van Christus in die wêreld dra. “Heil” is om deel van die gemeenskap te kan wees en ander binne te kan nooi. Alleen as vreemdelinge in en priesters vir die wêreld sou die kerk se getuienis geloofwaardig kon wees. Magtig, selfversekerd en uitsluitend was die kerk nooit bedoel om te wees nie. Daar was baie gewaande sekerhede waarvan ons eers bevry moes word voordat die kerk soos ’n deernisvolle moeder kon word, priesterlik bewoe en profeties dapper.

***

Ek was dankbaar to Kerk en Samelewing in 1986 jammer sê: apartheid was sonde, ’n dwaling. Saam met geesgenote het ons Belhar toe al entoesiasties onderteken. Dit was bevrydend! Ons kon hard begin werk aan die hereniging van die NG Kerkfamilie, teen weerstand (van die APK en beswaardes binne die gemeente) in. Ons moes telkens verduidelik dat die kerk nou “oop” is, dat almal wat glo welkom is. In die proses het ons baie lidmate verloor (in Paul Roux amper 50%); dit was hartseer, maar dit kon nie anders nie. En dit was ook wonderlik dat vroue – al het dit stadig gegaan – ook hul regmatige plek in die kerk begin inneem het. Ek was bevoorreg om onlangs vir die liewe tannie Elsie Pienaar te kon gaan begrawe. In die vroeë negentigerjare het ek mooi vir die Paul Roux kerkraad gevra en sy is toe na die Vrystaatse Sinode afgevaardig, as eerste vroulike ouderling! Nie oor sy vrou was nie, maar inderdaad die beste wat die gemeente kon stuur. Ook dit was ’n mylpaal! En dit was net so ’n voorreg toe ek destyds vir Dr Carin van Schalkwyk in Philippolis as leraar kon gaan bevestig – al het ’n stuk van haar hart in die bruin-gemeenskap agtergebly, en al was sy ’n dominee wat teen die grensmure sou bly druk. Dit was ’n aandoenlike moment om rondom die eeu-wenteling, toe sovele landuit wou vlug, saam met ander in die Algemene Sinode te kon opstaan en letterlik in trane te kon bely: “ons is hier, ons het ’n Here, ons is sy kerk!” Die roepingsverklaring het kort daarna neerslag gevind in die verruiming van die Vrystaatse kerk se leuse met: “hier, vir God, mekaar en die wêreld”. Ek was verheug oor die besluite van 2013 oor missionaliteit en verras oor 2015 se gaybesluite. ’n Besonderse hoogtepunt was verledejaar toe verteenwoordigers van die 15 kerke in die breer NG Kerkfamilie elk ’n Kaapse Geelhoutboom by die Andrew Murray Sentrum vir spiritualiteit in Wellington kon plant, as tasbare simbool van die groot dade wat God deur ons kerk gedoen het, tot diep in Afrika in. Daar was vele sulke momente – die NG Kerk het die laaste klompie jare inderdaad baie verander, teologies en in die praktyk van die bediening, beslis ook ten goede. Selfs die kerk kan verander, het Jonker mos geskryf!

***

Maar, daar is baie waaroor my geslag leraars skaam en teleurgesteld is (of dan behoort te wees), dinge waaroor ons, ook ekself, mea culpa moet uitroep. In die dralende proses om die Ander in liefde te leer omhels het ons soveel mense diep seergemaak! Ons sukkel vandag-steeds-om-regtig inklusief, eg gasvry te wees, om veilige ruimtes vir diverse mense te skep. Ons bly ten diepste maar nog Afrikaner volkskerk, wit, vol vooroordele en vrese. Ons kon nie keer dat die Belhar Belydenis in 2015 verbete verwerp word nie, en dat daarmee saam ook die ou gereformeerde beginsel van sola gratia (as begenadigde sondaars is ons rondom die nagmaalstafel gelyk en een) weer, soos in 1857, laat val word nie. Die herenigingsproses het van toe af onder ons oë tot ’n aller laagtepunt gesak, soos water in die sand verdwyn. Ons mooi praatjies oor missionale transformasie vervlak meer dikwels in niks anders as verbloemde selfgerigtheid nie (blote Amerikaanse “purpose driven churchgrowth” van die plaaslike gemeente as doel). Ons kon nie van die ou bagasie ontslae raak nie, trouens, ons laai telkens weer nuwes op wat ons moeë, mank moeder al hoe meer blootstel aan die spot en afkeur van baie. Ons geslag het nie genoeg gedoen om onsself en die kerk voor te berei om relevant (gehoorsaam) kerk te wees in, aan die een kant die modernistiese, globale, sekulere en digitale wêreld wat tans soos ’n tsoenami oor ons spoel nie, maar aan die ander kant ook te laat tuiskom in die Afrika-bodem en -landskap, tussen medebroeders en -susters van hierdie wye kontinent nie. Ons bly vasgevang (kerk-kaping?) in ’n landelike of voorstedelike, materialistiese kultuur van ontvlugting, binne verbeelde, veilige ruimtes agter devils fork. Hoor ons werklik die gesug van die aarde wat al hoe harder en onrusbarender onder ons voete opklink en weerklank in die lugruim vind, of is ons te onlosmaaklik deel van die droom van verbruik, vooruitgang en voortdurende groei? Ek waag dit om te vra: het ons nie dalk Jesus Christus uit die oog verloor in diens van eie oorlewing, van eie kerklike institute, van godsdienstige gewoontes, van sinodale en gemeentelike strukture, van ons eie koninkrykies en die handhawing van ons (veral ook leraars) se hoëklas lewenspeil nie? Hoor ons agter die groeiende woede in ons land die dreigende getik van die tydbom van armoede, werkloosheid, die versugting na leefruimtes, die vasgevang-wees in kriminaliteit en geweld, en die voortslepende onreg? Verstaan ons regtig wat die herontdekte teologiese begrippe inkarnasie en kenosis beteken? Doen ons ooit genoeg om ons land te help heel? Of probeer ons liewer om net nog bietjie langer in ontkenning te oorleef? Ons profetiese stem het inderdaad stil geraak. Oral sien ons al hoe meer ouerwordende, kwynende gemeentes, wat toemaak. Ons het ons jongmense verloor! lntussen veg ons voort om elkeen ons eie teologiese “sekerhede” ten alle koste te bevestig, sonder ruimte vir die paradokse in die Skrif of verwondering oor die misterie van God. Vir al die kommerwekkende tendense neem ekself medeverantwoordelikheid. Hartseer bely ek dit, teenoor die Here van die kerk, en teenoor ’n nuwe geslag.

***

Om oor die kerkgeskiedenis (ook my eie bedieningsgeskiedenis) te reflekteer, bring my egter ook by die troosvolle wete: die troue Here van die kerk was en is met ons op weg, ondanks ons feilbaarheid, ten spyte van ons ontrou. Dit het ek kennelik beleef in die meer as twintig jaar in die kantoor van Vennote in Getuienis. Dit was ’n reuse voorreg om juis hier in die bediening te staan. Ek was heeltyd bewus van die buitengewoon groot bydrae wat die NG Kerk Vrystaat oor die jare op die terrein van sending en diens van barmhartigheid gedoen het. Die vrug op hierdie arbeid kan nie eers by benadering bereken word nie! Die ou sendingkommissie het metterd ’n bediening genaamd Vennote in Getuienis geword, wat veel meer as net ’n naamsverandering behels. Nou werk Vennote in Getuienis/Partners in Mission al hoe meer saam met vele ander vennote in ’n gesamentlike roeping binne ’n gedeelde konteks. Verhoudinge en wedersydse vertroue het hierin sleutelkonsepte geword, so ook wederkerigheid en onderlinge hulp. Ons kerk se oorblywende “sendelinge” doen oraloor steeds ongelooflike mooi werk!

In die toekoms sal daar nog weer ingrypende skuiwe in die benadering van Vennote in Getuienis gemaak moet word; die uitdagings word net al hoe groter en die middele al hoe skaarser. Maar nooit sou ons van hierdie historiese roeping kon wegstap sonder die tragiese inboet van geloofwaardigheid nie. Ek is daarom opreg dankbaar dat die Here juis vir Dr Nico Mostert geroep het om nou met hierdie heerlike werk voort te gaan. Ek bid hom alle wysheid en krag toe. ’n Opregte dankie aan die vele lojale kollegas wat my bediening verryk en my dikwels emosioneel ondersteun het. ’n Spesiale dankie aan Karisma en die ander dames voor haar. Dankie aan kollega Barnard.

Om saam met ander van hierdie bediening deel te kon wees, en ’n bydrae te probeer lewer om dit in veranderende tye vol nuwe uitdagings op ’n vars manier voort te sit, was ’n genade-geskenk wat my verwonderd, ontroerd en nederig laat. My bede is dat iets van tannie Kwikkie van Mook se “profesie” tydens my afskeid van die gemeente tog waar geword het: “Priestertjie” het sy vir my gesê, “ek gaan nie oor jou ’n halleluja sing nie; wat ek wel kan sê is: jy’t getraai”. Dankie vir die ruimte wat my daarvoor gegun is.

***

My bede is dat die Here Jesus, Hy wat tussen die kandelare beweeg en hulle op hul plek vashou, ons geliefde kerk “haar’s ondanks” (JH Bavinck) sal vorm tot groter gehoorsaamheid, ryklik sal seën en sal bly gebruik, hier, in hierdie gebroke provinsie, in ons stukkende land en tot diep ons droewe kontinent in. Hy wat ons roep, bly getrou!

Ek bid vir ’n kerk wat:

  • te midde van veranderende tye, met die oë gerig op die Drie-enige God, telkens weer haar identiteit as imago Dei en liggaam van Christus sal ontdek en leef, en met haar roeping tot geloofwaardige getuienis (marturia) oor die evangelie van die ge”inkarneerde Woord getrou sal volhard;
  • altyd weer missionaal sal transformeer (ecclesia semper reformanda est) en meegeneem word in God se sending na die wêreld;
  • gekenmerk word deur opregte aanbidding (leitourgia), die gemeenskap van gelowiges wat rondom die een tafel die brood en wyn uit Christus se hand ontvang en vir mekaar aangee (koinonia), met dienende liefde in die samelewing leef {diakonia) en met ’n profetiese en tegelyk troostende Woord – waarheid in liefde gespreek – hoop bring (kerugma);
  • en wat gedring word deur die roeping tot ’n lewende eenheid, helende versoening en herstellende geregtigheid.

Here, wees ons genadig! Kom, o Skepper-Gees!

***

Ek is diep dankbaar teenoor die NG Kerkfamilie wat, geknak en gekneus tot inniger kleur, immer my geliefde moeder bly.

Vrede en vreugde.

(Geteken)

Gideon van der Watt

1 thought on “Sinode Vrystaat gaan nie spesiale sinodesitting hou nie”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui