2017 Vrystaat Sinode besin oor duiwel, gays

Kyk ook:

NGK-sinode in VS besin oor duiwel, gays

’n Emerituspredikant van Reitz, ds. Jan Louw, het twee besprekingspunte oor gays en die bestaan van die duiwel op vanjaar se agenda van die NG Kerk se sinode in die Vrystaat laat plaas.

Die Vrystaatse sinode sit sedert gister op Nampopark by Bothaville en sal ook vandag dié kwessies bespreek.

Sinodegangers van die onderskeie ringe in die Vrystaat bespreek die beoogde vermindering van die aantal ringe in die provinsie tot net sewe.

Louw sê hy voel die kerk bevind hom in ’n “teologiese wildernis” en die kwessies is “te omvangryk” om op die sitting te bespreek en af te handel.

Dit moet na die ringe verwys word om daar bespreek te word. Louw sê ook leiers in die kerk “sê net wat hulle wil” en praat nie meer uit een mond nie.

Van die besware wat op Louw se versoek op die agenda geplaas is, is die manier waarop dosente van die kerk selfdegeslagverhoudings Bybels probeer begrond. Dít weerspieël ’n “onderliggende teologiese onderbou” en uitleg van die Skrif by die teologiese fakulteite wat vreemd aan die geloof van die kerk is, sê Louw in sy besprekingspunt op die agenda.

Van die ander punte wat Louw op die besprekingslys geplaas het, is die ontkenning van die bestaan van die duiwel as ’n persoonlike wese deur sekere teoloë, asook die opstanding en maagdelike geboorte van Christus wat nou net as simbolies beskou word.

Louw sê ook in die besprekingspunt dit is nie van belang of homoseksuele oriëntasie aangebore of aangeleer is nie. “Selfbeheersing as vrug van die gees” is op almal van toepassing en daar moet “opregte” empatie met homoseksuele oriëntasie wees. Dit is egter in niemand se belang om “gedrag wat in die oë van die Here verkeerd is” goed te praat nie.

Louw se besware sou gisteraand en vandag bespreek word.

’n Nuwe moderamen vir die Vrystaatse sinode is ook gister verkies. Hulle is dr. Pieter van Jaarsveld (voorsitter), dr. Riaan van Zyl (ondervoorsitter) en dr. Carin van Schalkwyk (skriba), wat herkies is.

Van Jaarsveld sê die laaste paar jaar het baie goed gebeur wat gemeentes en predikante uitmekaar gedryf het. Hy wil weer groter eenheid in die kerk bring omdat heelwat verdeeldheid heers.

Een van die ander besluite wat op die huidige sinodesitting geneem sal word, is of die ringe in die Vrystaat tot sewe verminder moet word. Die sewe ringe sal moontlik ooreenstem met die distriksmunisipaliteite in die Vrystaat.

Van die besware hierteen is dat van die gemeentes op die platteland baie ver van mekaar geleë is en dit reiskoste kan verhoog.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui