Almal het ’n balk in hulle oog

Kyk ook:

Daar is mense wat Matteus 7:1-5 gebruik om te sê dat jy nie ander mag oordeel nie, want ons almal het ’n balk in ons eie oog. Vers 3-4 lui soos volg:

(3)“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? (4)Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog?

Die vraag is: Het almal ’n balk in hulle oog?

Die antwoord is “nee”.

Dit is duidelik dat toe Jesus hierdie gesê het, het hy bedoel dat die Fariseërs vinnig was om klein sondetjies van mense uit te wys, maar hulle was blind vir hulle eie sondes wat baie groter was.

Niemand is sondeloos nie, maar daar is definitief mense wat al langer op die pad van heiligmaking is as ander mense. Daar is mense wie goeie gewetes het en wat daarop reageer teenoor ander mense wie se gewetes afgestomp is.

Jesus wil nie sê dat omdat almal sonde het, kan mens niemand teregwys nie. So ’n siening is duidelik teenstrydig met wat die Bybel op ander plekke sê (kyk Die Bybel oor oordeel).

Om ’n voorbeeld te noem: Persoon A is iemand wat op gereelde basis ’n pak sweisstafies en ’n sak boute en moere van sy werkgewer steel en vir persoonlike projekte by die huis gebruik. Persoon A vang sy sekretaresse uit waar sy ’n potlood steel vir haar kind en dreig om haar af te dank. Dit is baie duidelik dat Matheus 7 hier van toepassing is – die persoon met die balk in sy eie oog wil die splinter uit die ander persoon se oog haal. Een van die beste voorbeelde in die Bybel is 2 Samuel 12:1-12. Natan vertel vir Dawid van ’n ryk man wat ’n arm man se lammetjie vat en slag vir gaste. Dawid word bloedig kwaad, maar besef nie dat hy ’n erger oortreding gepleeg het deur Urija dood te maak om Batseba te kry nie. Dawid het egter darem dadelik sy skynheiligheid besef en berou daaroor gehad.

A person giving you advice isn't perfect and has their own shortcomings. But they may give hou the piece that you're missing. Iemand wat jou raad gee, is nie perfek nie en het sy eie tekortkominge, maar die persoon mag dalk vir jou die stukkie gee wat jy mis.Die prentjie aan die regterkant is vir my uiters treffend. Dit bevat ’n les vir beide die linkerkantste en regterkantste mannetjie:

  1. Links: Moet nooit dink dat persone benede jou nie vir jou goeie raad kan gee nie.
  2. Regs: Ongeag hoe minderwaardig jy is of voel, jy het altyd iets om te gee.

Alhoewel nie heeltemal van toepassing nie, het dit my tog laat dink aan die moenie-oordeel-nie-debat. ’n Mens sou kon sê die mannetjie aan die linkerkant het ’n splinter in sy oog en die mannetjie aan die regterkant ’n balk in sy oog. Dus:

  • As iemand met ’n balk in hulle oog jou wil help om die splinter uit jou oog te haal, laat hom toe.
  • As jy ’n balk in jou oog het kan jy steeds help om ’n splinter uit iemand anders se oog te haal. MAAR, moenie blind wees vir die balk in jou oog, soos die Fariseërs was, nie. Sien jou balk raak en besluit doelbewus om alles te doen om daarvan ontslae te raak (kyk Hebreërs 12:4 en Bekering).

2 thoughts on “Almal het ’n balk in hulle oog”

  1. Baie dankie, ek waardeer hierdie skrywe baie. Kommentare wemel van hierdie tipe kritiek, wat veroorsaak dat baie gelowiges nie altyd ’n mening wil uitspreek nie. Ons is beslis nie almal op dieselfde vlak van heiligmaking nie – sommige is reeds baie ver gevorderd op hierdie pad – maar ’n ware en opregte beoordeling deur enige gelowige, kan tot groot seën vir andere wees.

  2. Esegiël 33:8-9
    Johannes 7:24
    1 Korintiërs 2:15
    1 Korintiërs 6:2-3
    Fillipense 1:9-11
    Jakobus 5:19-20

    Dit word al lankal by ons ingeprent dat as jy ’n Christen is, mag jy nie oordeel nie. Dit is egter nie waar nie: kyk na die genoemde verse as afdoende bewys daarvan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui