Dominees praat by Moreletapark oor die NG kerk se toekoms

Kyk ook:

 

Dominees praat by Moreletapark oor die NG kerk se toekoms | Netwerk24

(Oorspronklike titel = “NG Rebelle teiken ‘liberale strooipop’”)

Deur Johan Eybers

9 Februarie 2020

Rapport

Die twis tussen behoudende lidmate in die NG Kerk en senior kerkleiers is besig om te verdiep. Die behoudendes beplan ’n “spesiale beraad” vir volgende maand, waar hulle “wil besin oor die toekoms”.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode.

Die geleentheid, waarheen eendersdenkende lidmate en gemeentes van oor die land heen genooi word, word deur die NG kerk Moreletapark in Pretoria, die kerkverband se grootste gemeente, gereël.

Moreletapark het reeds verlede jaar in Mei aangekondig hy tree uit sinodale verband en ondersoek die moontlikheid om bande met die NG Kerk te verbreek.

Volgens die uitnodiging na die geleentheid wat op die kerk se webblad geplaas is, beleef die gemeente ’n magteloosheid binne die strukture van die NG Kerk.

“As ’n Evangelies-behoudende gemeente ervaar ons dat die meerderheidstem binne die NG Kerk deur die minderheidstem oorheers word, gegewe die uitkoms van die 2019-algemene sinodebesluite, vergeleke met die 2016-stem, wat van die breër kerk (gemeentes) gekom het.”

In die uitnodiging word die kerk verder daarvan beskuldig dat die liberale teologiese agenda “die sterkste voorgehou word, dat Skrifgesag en -interpretasie deur liberale denke gekaap word en dat die relevansie van die Bybel vir die tyd waarin ons leef bevraagteken word deur liberale en humanistiese denke”.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, meen egter die Moreletapark-gemeente is besig om ’n wanvoorstelling van die kerk se leierskorps en hul verbintenis tot liberale teologie te skep.

“Hulle skep ’n bepaalde wanopvatting oor wie die NG Kerk se leiers is, wat hulle verteenwoordig en wat hulle glo,” het Van Rensburg die afgelope week gesê.

Moreletapark sê in ’n verklaring aan Rapport die beraad gaan nie ’n teologiese debat oor selfdegeslagverhoudings wees nie, maar gaan handel oor gemeentes se “kerkregtelike opsies om die pad vorentoe te bepaal”.

“Die grootste gedeelte van die beraad gaan deur ’n paneel kerkregskundiges en teoloë hanteer word, wat al die moontlike opsies gaan verduidelik.”

“Leraars, leiers en gemeentelede” word uitgenooi na die tweedagberaad wat op Dinsdag 25 Februarie begin.

Die uitnodiging sê ook ’n “vals beeld” van eenheid in die NG Kerk word tans voorgehou. Teenstrydighede “binne die algemene sinodebesluit” veroorsaak ook verwarring onder lidmate.

Die uitnodiging maak geen direkte melding van die NG Kerk se besluit om kerke toe te laat om gay lidmate in die huwelik te bevestig nie, maar dis duidelik uit die verwysing na die “2019- algemene sinodebesluite” dat dit die grootste rede vir die ongelukkigheid is. Die algemene sinode het verlede jaar besluit gemeentes kan self besluit of hulle selfdegeslagverhoudings wil erken of nie.

Janse van Rensburg sê hy het nie ’n probleem daarmee as mense wat ontevrede is oor ’n saak met mekaar wil praat nie.

“Wat my wel bekommer, is die wyse waarop die beraad aangekondig is en geadverteer word. Die suggestie is dat dit opgestel is teen liberale teologie en dat kerkleiers liberaal is. Liberale teologie behels ’n ontkenning van God se teenwoordigheid, van die opstanding van die dode en van wonderwerke. Dit het niks te make met beskouings oor selfdegeslagverhoudings nie.

“Ek weet van geen kerkleier wat liberale teologie onderskryf nie. ’n Wanvoorstelling word dus geskep wanneer daar beweer word dat die kerk liberale teologie ondersteun,” sê hy.

[Kommentaar: Ek dink Nelis is hier besig om te bluf. Daar is geen amptelike definisie van liberalisme nie. Sy definisie is “ontkenning van God se teenwoordigheid, van die opstanding van die dode en van wonderwerke.” Eerstens glo ek dit strek baie wyer en sluit wel selfgeslagverhoudings in. Tweedens, daar is heelwat kerkleiers wat byvoorbeeld nie Jesus se liggaamlike opstanding erken nie en Jesus se wonderwerke bevraagteken. Verder is daar ’n string kerkleiers wat universaliste is. Ek verwys lesers graag na Fanie Snyman moeg vir verdagmakery.]

’n Kerkleier wat verkies om anoniem te bly weens sy posisie in die kerk, sê hy verstaan Moreletapark besef wegbreek is nie vir hulle ’n keuse nie, behalwe as hulle ’n nuwe kerk begin.

“Hulle probeer nou om ’n drukgroep binne die kerk te stig. Dit kan egter nie as ’n formele struktuur bedryf word nie, omdat die kerk dit nie sal erken nie. Dit kan daarom slegs soos ’n vereniging bedryf word.”

Volgens hom oorweeg Moreletapark en sy ondersteuners ook die idee om te doleer (om te treur) en om hul finansiële bydrae aan die algemene sinode en sinodale bydraes aan streeksinodes te weerhou. Hy sê doleansie word nie in hul kerkreg erken nie en gemeentes het daarom nie ’n keuse as om hul sinodale bydraes te lewer nie.

[Kommentaar: Dus kan die algemene sinode gemeentes dagvaar om wel hulle sinodale bydraes te lewer. Daar wag inderdaad interessante tye voor vir die NG Kerk…]

2 thoughts on “Dominees praat by Moreletapark oor die NG kerk se toekoms”

  1. Die titel dominees verskyn nie in die Bybel nie. Dominees word NIE gelei deur die Heilige Gees van God nie. Die susterskerke is ’n cult en ’n sekte. Dit is ’n mensingestelde organisasie. Dis glad nie ’n kerk eers nie. Hulle doen nooit ‘altar calls’ nie, want hulle is self nie gered nie. Hulle verstaan glad nie wat dit beteken nie. Hulle verwerp die Heilige Gees en preek glad nie oor Hom nie. Daar is NIE ‘signs, wonders and miracles’ nie. Hulle is geestelik dood. Dead leaders produces dead church members. Die power van God is glad nie teenwoordig nie. Hulle beredeneer alles met hulle verstand. Hulle is fariseers en oppad hel toe. Hulle mislei die liggaam van Christus. Kyk na Efesiers 4:11-13. Maar JESUS kom terug as The Lion of Judah. Hy is nie meer die Lam wat hulle gekruisig het nie.

    1. Eldere, jy oordeel hopeloos te vinnig. Natuurlik is daar geestelike dooie leiers en lidmate in die susterskerke. Net soos in enige ander kerkdenominasie. En daar is soveel verskillende grade van heiligmaking, waar trek ’n mens die streep tussen geestelike dooies en die res? Daar is baie sterk geestelike mense in die susterskerke. Moenie ’n fout maak nie. “Signs, wonders and miracles” is hoegenaamd nie ’n aanduiding van enigiets nie. Soveel daarvan is in elkgeval vals. Ja, die susterskerke beredeneer hoofsaaklik met die verstand, juis omdat emosies so onbetroubaar is. Matteus 22 sê nie verniet: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”
      Vrede vir jou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui