‘Geen vrees vir skeuring,’ sê NGK

Kyk ook:

‘Geen vrees vir skeuring,’ sê NGK | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

19 Februarie 2020

Dit is verstommend hoe gou en maklik kerkskeuring as ’n opsie op die tafel kom.

“Kom ons sê dit reguit: ’n Kerk behoort die opsie van kerkskeuring in die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings nie eers te oorweeg nie.”

So sê emeritus-dekaan prof. Fanie Snyman oor die voortslepende debat oor selfdegeslagverhoudings.

“ ’n Kerk mag die opsie van kerkskeuring oorweeg as die belydenis van die Kerk onder verdenking of in gedrang kom. Selfdegeslagverhoudings is nie ’n belydenis-aangeleentheid nie,” sê Snyman, afgetrede dekaan van die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit teologie en tans navorsingsgenoot aan dié fakulteit.

[Kommentaar: Homoseksualiteit is ’n wesenlike kwessie. Dit sê baie oor Skrifgesag. Dit gaan oor wat God beveel. Volgens ’n eenvoudige lees van die Bybel is dit iets wat God haat. Ware liefde vir God is gehoorsaamheid. Om te ignoreer wat die Bybel duidelik sê is om vir jouself ’n eie god te skep.]

Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk het juis sy 2019-standpunt oor homoseksualiteit ingeneem sodat dit nie die Kerk sal verdeel nie.

Ingevolge daardie besluit het elke gemeente die ruimte om self te besluit of hy onder meer gay huwelike gaan bevestig en gay predikante wil beroep.

Intussen het die Vrystaatse sinode Dinsdag ’n buitengewone moderamen-vergadering aangekondig wat op 11 Maart sal plaasvind.

Op dié vergadering sal die bestuur van die streeksinode (moderamen) besluit of ’n buitengewone streeksinodesitting nodig sal wees vir gesprekke oor die 2019-besluit.

Dr. Pieter van Jaarsveld, moderator van die Vrystaatse Sinode, sê ondanks die buitengewone vergadering, sal hulle nie bande met die NG Kerk breek of doleer (kerklike taal vir die inbring van besware) nie.

“As moderamen het ons gehoor daar is vrae van gemeentes. Ons wil daaroor praat en oor ’n proses vorentoe besluit,” sê Van Jaarsveld.

[Kommentaar: Dus lei ’n mens af die doel van die sinode sal wees om vure dood te slaan. Dit is nie net die algemene sinode wat gekaap is nie, maar lyk my ook die Vrystaatse sinode. In 2017 het die Vrystaatse sinode die laaste keer gesit. Tydens hierdie sinode het Jan Louw ’n uitgebreide beskrywingspunt aan die sinode voorgelê, maar niks het daarvan gekom nie. ’n Mens het meer van die Vrystaatse sinode verwag.]

Dit kom nadat Goudland verlede Maandag besluit het om sy sinodale betalings aan die AS te staak weens ’n geskil oor selfdegeslaghuwelike.

Goudland se besluit om gelde te weerhou, het opnuut kommer laat opvlam dat die NG Kerk kan skeur.

Die Oostelike Sinode, waarvan die makro-gemeente Moreletapark deel is, het Maandag gesê hulle sal op 2 April ’n buitengewone sinodesitting hou om te bepaal of hulle in Goudland se spore sal volg.

Goudland het in November verlede jaar ’n soortgelyke sinodesitting gehou. Albei streke voer die Kerk se 2019-besluit oor homoseksualiteit as die rede hiervoor aan.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die AS, sê egter hy “glo nie die Kerk sal in twee skeur nie”.

[Kommentaar: Hy hoop nie so nie.]

“Tydens die AS het mense oor die spektrum heen die besluite ondersteun juis omdat dit ruimte bied vir mense om hul eie besluite te neem. Die standpunt uit Goudland is dat daar geen ruimte geskep moet word nie,” sê Janse van Rensburg.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die AS, sê hy dink ook nie die Kerk sal oor die besluit skeur nie.

“Daar is ’n behoefte om oor die saak te gesels en dit is nie gelyk aan kerkskeuring nie. Ongelukkig word wilde, sensasionele opmerkings deur sommige individue oor kerkskeuring gemaak wat nie naastenby die heersende algemene gevoel verteenwoordig nie,” sê Claassen.

2 thoughts on “‘Geen vrees vir skeuring,’ sê NGK”

  1. Ek self wil liewer niks sê nie, maar Jesus het die volgende gesê:

    Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en ’n huis wat teen homself is, val. (LUKAS 11:17 AFR53)

    en as ’n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie; (MARKUS 3:25 AFR53)

    Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. (MATTHÉÜS 12:25 AFR53)

    1. Baie dankie vir hierdie tekste. Dit lyk nie of die AS hiervan bewus is nie, of besef dat dit die realiteit van die saak is. Jammer om te sê, maar soms wonder ek of ons leiers God se Woord waarlik ken, asook die bonatuurlike krag wat daarin opgesluit lê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui