NG gemeente Petrus Steyn doleer

Kyk ook:

Voorsitter van die Moderamen
Sinode van die Vrystaat
Straat Bloemfontein

22 Augustus 2019

Geagte Broer,

In opdrag van die Kerkraad van die Ned geref Gemeente Petrus Steyn, rig ek die volgende skrywe in sake die Ned Geref Gemeente Petrus Steyn se stand ten opsigte van die Sinode van die Vrystaat/Algemene Sinode:

Dit is met spyt en hartseer dat hierdie Kerkraad en Gemeente ’n besluit moes neem op die Kerkraadsvergadering van 22 Augustus 2019, om onsself in ’n staat van Dolering te plaas teenoor die bogenoemde Sinodes. Die redes is die volgende:

  1. In die lig van besluite wat die Algemene Sinode gedurende die Sinodesitting van 2015 geneem het ten opsigte van selfdegeslagverhoudings en ons van oortuiging is dat dit reglynig teen die Bybel, die Heilige Gees geïnspireerde Woord van Jahweh, ons God en Vader in Jesus Christus, ingaan, treur ons oor die nuwe weg wat die kerk wil gaan. Na ons beskeie mening het die Sinode die stem van God, soos in Sy Woord neergepen, agtergelaat en na die gees van humanisme en rasionalisme geluister en dít ten spyte van duidelike uitsprake, veral deur Paulus onder leiding van die Heilige Gees, daarvolgens besluite geneem het oor die pad vorentoe ten op sigte van bogenoemde saak. Ons wil dit onomwonde verklaar dat ons persone van alle seksuele oriënterings met die liefde van Jesus Christus liefhet, en omdat ons hulle só liefhet, hulle sal bly vermaan om by die Woord te bly en die sonde af te sweer en nie daarmee voort te gaan nie en genesing in Jesus Christus deur Sy Heilige Gees sal soek en vind.
  2. Ons het ook ’n probleem met die feit dat die Sinode vir lidmate die keuse gee om te glo soos hulle wil en dus die bestaan van die duiwel/bose te ontken, terwyl die Skrif baie duidelik daaroor is.
  3. Dit is ook onaanvaarbaar dat die opstanding van Jesus Christus bevraagteken word, sowel as die feit dat Hy wonderwerke gedoen het en dat Hy die enigste Verlosser van die wêreld is en dat Jahweh, die enigste ware God en Skepper is. Daar is geen ander god wat redding bring nie.

U het ten minste die Gereformeerde beginsel van dat die plaaslike gemeente die hoogste gesag het gehandhaaf, sodat ons onder leiding van die Heilige Gees kan besluit hoe ons al bogenoemde sake sal hanteer, maar ons glo dat dit nie eers goedgekeur moes word nie. Waar gaan ons eindig?!

Omdat die Sinode van die Vrystaat rustig by hierdie saak inval en vir gemeentes die reg gee om self te besluit, in plaas van om die Algemene Sinode se standpunte radikaal te verwerp, treur ons oor hulle lamsakkigheid ook.

In die lig van al bogenoemde sake, distansieer ons as Ned Geref Gemeente Petrus Steyn ons dus van die twee Sinodes en weerhou ons alle finansies wat van ons gevra word deur beide en sal bly treur tot hierdie instansies tot inkeer kom en weer onvoorwaardelik buig voor die gesag van die Woord van God en die God van die Woord, Jahweh, die onvergelykbare God.

Vriendelike groete in Jesus Christus,

Stephen Heyns: Voorsitter van die kerkraad

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui