Vrystaatse gemeentes hou ook geld terug

Kyk ook:

Vrystaatse gemeentes hou ook geld terug | Netwerk24

Deur: Johan Eybers

15 Maart 2020

Sommige NG gemeentes in die Vrystaat gaan nou ook hul finansiële bydraes aan die streeksinode weerhou uit protes teen die kerk se besluit oor gays.

Vier van die 154 gemeentes in die Vrystaat weerhou honderdduisende rande. Verskeie ander kerkrade oorweeg soortgelyke stappe.

Die moderamen van die Vrystaatse sinode het Donderdag besluit om nie ’n buitengewone sinodesitting oor selfdegeslagverhoudings te hou nie ondanks die 15 verslae van gemeentes en individuele lidmate wat gekant is teen die besluit dat gemeentes self oor die erkenning van sulke verhoudings kan besluit.

In November het die Goudland-sinode ’n buitengewone sitting gehou oor die moontlikheid om van die kerk te skeur weens sy ontevredenheid. Hy het toe ’n leergeskil met die algemene sinode verklaar en in Februarie gesê hy gaan sy sinodale bydrae weerhou.

Die Oostelike sinode, wat uit 84 gemeentes in Pretoria en Mpumalanga bestaan, gaan na verwagting Goudland se voorbeeld volg op ’n buitengewone sitting in April.

Die Vrystaatse sinode wil nie sê hoeveel gemeentes of ringe vir ’n buitengewone sitting gevra het nie.

Ds. Pieter van Jaarsveld, moderator van die Vrystaatse sinode, het nie gereageer op navrae oor die bedrag wat weerhou word nie.

Volgens dominees van gemeentes in Petrus Steyn, Reitz, Tuinedal (Sasolburg) en Leeuwberg (Bloemfontein) weerhou hulle hul bydraes van tussen R100 000 en R175 000 per gemeente. Dié gemeentes sê die algemene sinode maak hom skuldig aan dwaalleer deur gemeentes die keuse te gee om te glo soos hulle wil oor die saak.

Ds. Steve Heyns van die Petrus Steyn-gemeente sê hul aanslag aan die Vrystaatse sinode is R175 000. “Ons weerhou ons geld omdat hulle stilbly oor die kwessie. As jy stilbly, is jy vír die algemene sinode se besluit.”

Hy sê daar is wantroue oor die Vrystaatse sinode se hantering van die kwessie. “Gemeentes is nie formeel ingelig oor die moderamen se besluit nie. Die kerk is nie die Broederbond wat dinge in die geheim hou nie.”

Volgens Heyns lyk dit of daar agteraf gekonkel word om die moontlikheid van ’n buitengewone sinodesitting te onderdruk. “Pro-gay gemeentes is onder meer spesiaal gevra om briewe te skryf om beswaar te maak teen ’n buitengewone sinodesitting.”

Ds. Tiaan Victor van die Heilbron-Suid-gemeente sê hulle het op die uitslag van die moderamen se vergadering gewag en sal soos ander gemeentes op ’n kerkvergadering besluit of hulle hul bydraes gaan weerhou.

Rapport is in besit van die verslae wat ingedien is. Hiervolgens het die gemeentes van Leeuwberg, Kestell, Bethlehem-Noord, Dealesville, Hoopstad, Bultfontein, Villiers, Reitz, Kroonstad, Kroonstad-Wes, Kroonstad-Suid, Kroonheuwel-Noord en Wilgehof aangedui hulle is teen die 2019-besluit.

Die Leeuwberg-gemeente sê in sy verslag hulle voel sterk daaroor dat die NG Kerk een belydenis moet hê. “Daarom is ons nou in ’n staat van dolering teen die Vrystaatse sinode en die algemene sinode met die oog om weg te breek van die NG Kerk, tensy daar besin word oor die plek en die rol van die Skrif in ons kerk en ons weer by een Protestantse belydenis kan terugkom.”

Die Hoopstad-gemeente sê hulle wil weet hoe die Vrystaatse sinode oor die saak voel en ’n spesiale sinodesitting kan hulle lei met die besluit oor waar hulle staan.

In ’n WhatsApp-boodskap aan sekere predikante sê Van Jaarsveld afsprake word gereël met gemeentes en ringe wat vir ’n buitengewone sinode gevra en kennis van dolering gegee het. Dit word gedoen “met die doel om te luister na hul besware en hartseer oor die besluit van die algemene sinode, asook om hul kerkordelike posisie te kommunikeer”.

Dit lui verder: “Daar sal in 2021 ’n gewone sinode gehou word. Die moderamen besluit om die gewone sinode met een dag te verleng om sodoende genoeg tyd af te staan aan die hantering van beskrywingspunte insake die 2019- Algemene Sinode-besluite.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui