GOUDLAND: Sal hulle ‘band losmaak’ van NGK?

Kyk ook:

Opdatering: Op 20 November 2019 het Goudland sinode besluit om nie weg te breek nie (kyk Goudland sinode breek nie weg nie en doleer ook nie)

************

GOUDLAND: Sal hulle ‘band losmaak’ van NGK? | Kerkbode

8 Noveber 2019

Een van die NG Kerk se tien streeksinodes het byna-byna tydens ’n eendagvergadering in Randfontein besluit oor ’n voorstel dat hulle “die band losmaak van die Algemene Sinode …”

Na ’n dag vol uiteenlopende opinies het die buitengewone sitting van Goudland Sinode egter tot ’n onverwagte einde gekom en die 240 afgevaardigdes is nie gevra om vir of teen die voorstel te stem nie.

LEES OOK: Groot besluite wag op Goudland

Die voorstel, deur dr. Pierre (Poena) van der Merwe, het in die vooruitsig gestel dat die streeksinode uit verband tree met die Algemene Sinode van die NG Kerk, soos Artikel 37 dit beskryf.

Die rede hiervoor is verskille in Skrifhantering en Skrifuitleg, luidens die voorstel. Dit volg ’n maand nadat die Algemene Sinode vir ’n week lank in Benoni vergader het en onder meer ’n besluit oor selfdegeslagverbintenisse geneem het waarvan leraars soos ds Norma Rossouw (sien videogreep hieronder) verskil.

’n Stemmery oor die voorstel is uitgestel omdat ’n orde-mosie ingestem is wat bepaal het dat daar later oor die saak besluit sal word, by ’n tweede buitengewone sinode-sitting op 20 November. Dié streeksinode, die vierde grootste in die NG Kerk gemeet aan belydende lidmate, strek oor Gauteng- en Noordwes-provinsies en bestaan uit 130 gemeentes.

Die sinode het laatmiddag tot ’n einde gekom toe daardie orde-mosie deur ds Sumari Redelinghuys goedgekeur is. Redelinghuys het aangevoer dat die besluit (om bande los te maak met die kerkverband) “’n reusagtige besluit is” wat nie sommer lukraak gemaak kan word nie. Sy het gevra dat almal eers tyd kry om daaroor te dink en dan weer terug te kom en dan dalk te besluit.

Op sosiale media het lesers ywerig ingeweeg oor die onderwerp. Carin Van Schalkwyk het op Kerkbode se Facebookblad gevra: “Ek wonder net of die predikante besef dat so ’n stap beteken dat hulle status sal verloor, want die Algemene Sinode gee bevoegdheid en dat as hulle in ’n ander sinode beroep aanneem dat hulle weer deur n colloqium sal moet gaan.”

Freddie De Lange wou weer weet: “As hierdie besluit deur gaan, beteken dit ek moet my aansoeke by ten minste 2 gemeentes onttrek?”

’n Opvolgvoorstel is intussen in Randfontein ter tafel gelê dat daar eers met die Algemene Sinode Moderamen (ASM) gepraat word. Vyf Goudlandlede is afgevaardig hiervoor, met ruimte vir nominasies van die vloer vir nog mense om hierdie vergadering met die moderatuur by te woon. Die ASM vergader volgende week in Benoni. [Kyk die ASM se reaksie na hierdie vergadering: Reaksie op vrae uit Goudland.]

Die voorsitter van Goudland Sinode, ds. Johan Brink, het aan die einde van dié dag verduidelik dat hy die Algemene Sinode na die 2015 besluit gewaarsku het dat die besluit groot finansiële implikasies sal hê. Hy het ook gesê dat al tien streeksinodes in die moeilikheid is en daarom moet daar ’n middeweg gevind word vir Goudland Sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui