Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring

Kyk Ek was daar, Neels: Só is griewe van tafel gevee (Helgard Janse van Rensburg, 24 Mrt 2024) wat hierop reageer.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring | Rapport

Neels Jackson

Sondag, 25 Februarie 2024

Dis ironies dat Koinonia die onderlinge Christelike verbondenheid verbreek, skryf Neels Jackson.

Die pad wat die beswaardes in die NG Kerk stap, volg dieselfde patroon as die paaie wat soveel kerkskeurings in die verlede al geloop het. Dit begin gewoonlik by een geskilpunt waaroor die gemoedere hoog opvlam.

  • In die 1850’s was dit die sing van vrye gesange wat die Doppers laat wegbreek het.
  • In 1986 het die NG Kerk se algemene sinode besluit: “Die NG Kerk is oop” – en ’n jaar later het beswaardes die Afrikaanse Protestantse Kerk gestig.
  • Toe die Hervormde Kerk net meer as ’n dekade gelede ’n besluit neem wat hulle afskeid van apartheid bo alle twyfel gestel het, het ’n protes losgebars wat daartoe gelei het dat ’n klomp gemeentes hul eie koers gekies het.
  • Die huidige ontsteltenis in die NG Kerk het begin toe daar ruimte geskep is vir liefdevolle en getroue gay-verhoudings in die kerk.

Baie gou besef die beswaardes gewoonlik dat dié enkele geskilpunt nie genoeg is om ’n kerkskeuring te regverdig nie. Dan begin ’n proses van rasionalisering om ’n saak uit te maak dat die kerk waarvan hulle wil wegbreek, eintlik die spoor byster is. In die geval van die beswaarde Hervormers het dit sowat tien dae vandat die besluit geneem is wat hulle ontstel het, totdat hulle met “teologiese” argumente begin het oor waarom die kerk op ’n dwaalspoor sou wees.

Gewoonlik word die besware teruggevoer na kwessies van Skrifgesag. En omdat daar verskil word oor die interpretasie van sommige tekste, word die kerk beskuldig dat hy die gesag van die Woord van God ondermyn. In die proses om die “klagstaat” te versterk, word daar aangedik, vereenvoudig, veralgemeen en op verskillende maniere wanvoorstellings gemaak.

In die huidige diskoers verklaar die beswaardes byvoorbeeld gemaklik dat die huwelik volgens die Bybel ’n verbintenis tussen een man en een vrou is en dat alle seksuele verbintenisse buite die huwelik sonde is. Dit word ’n sjibbolet waaraan hulle regsinnigheid meet. Dít terwyl die Bybel, as ’n mens dit inderdaad lees en ernstig opneem, glad nie so duidelik oor die huwelik is nie. In Bybelverhale kom verskeie soorte huwelike voor. Daar is veelwywery met vroue en byvroue. Daar is die reëling dat ’n man wat kinderloos sterf, se broer met die weduwee moet trou om vir die gestorwene ’n nageslag te verwek. En ’n huwelik in Bybelse tye was meer van ’n transaksie tussen twee families as wat dit ’n liefdevolle verbintenis tussen een man en een vrou was. Van die huwelik af word die aanklagte teen die NG Kerk wyd en algemeen. Dikwels kom dit in die vorm van vae veralgemeende beskuldigings, maar in die Koinonia Sinode (KS) vir beswaardes se dokument word vele “afwykende leringe” tog genoem:

  • Die ontkenning van die uniekheid van die evangelieboodskap;
  • Die relativering van die Bybelse boodskap oor die huwelik;
  • Jesus se maagdelike geboorte;
  • Die plaasvervangende kruisiging;
  • Die werklike opstanding; en
  • Jesus se opdrag om te gaan volgelinge maak.

So érg word die verskille deur die beswaardes dat die leiers van die KS vir beswaardes verklaar dat elke lidmaat nou ’n geloofskeuse moet maak oor wat hulle as die “ware en valse kerk” bestempel. Terwyl kerkleiers en kerkvergaderings rustig en geduldig met die beswaardes in gesprek probeer bly, het ’n groot groep NG predikante se geduld met dié soort wanvoorstellings opgeraak, en het hulle in ’n gesamentlike verklaring puntsgewys op die verdagmakery gereageer.

  • Hulle bely saam dat hulle die Bybel as die Woord van God aanvaar en verwerp bewerings dat hulle die Woord van God ondermyn.
  • Hulle bely Jesus Christus as enigste Verlosser en verwerp bewerings dat Jesus nie vir hulle die hoof van die kerk is nie.
  • Hulle bely dat die NG Kerk deel van die liggaam van Christus op aarde is en verwerp bewerings van afvalligheid of wêreld­gelyk­vorm­igheid.
  • Hulle bely dat hulle antwoorde op nuwe vrae soek in gehoorsaamheid aan die Woord en verwerp bewerings dat die Skrif hulle toelaat om die tydsgees namens hulle te interpreteer.
  • Hulle bely dat die NG Kerk gelei word deur gelowige en betroubare mense, en verwerp bewerings dat die kerk­leierskorps die kerk weglei van sy oorspronklike doel.

Terwyl beswaardes die NG Kerk beswadder, maak hulle gewoonlik ook aanspraak daarop dat hulle die egte voortsetting van die ware kerk is. ’n Mens het dit gesien in die manier waarop die wegbrekers uit die Hervormde Kerk hulle die “steedsHervormers” genoem het. Dieselfde ding gebeur nou. Die Koinonia-groep verklaar hulle bly by die NG Kerk. Wat hulle betref is diegene met ander standpunte as hulle “inbrekers”. In ’n sin is hulle reg. Hul afwysende standpunt oor gay-verhoudings ís die standpunt wat die NG Kerk jare lank gehuldig het. Maar hulle is verkeerd as hulle meen kerklike standpunte mag nie verander nie. Dit is immers ’n diepgewortelde oortuiging in die gereformeerde tradisie dat die NG Kerk gedurig moet bly reformeer. Die NG Kerk moet ou standpunte in die lig van die Skrif ondersoek en aanpas indien nodig, soos die kerk gedoen het met kwessies soos slawerny, apartheid, vrouepredikante en in die afgelope dekade gay-verbintenisse.

Daarom is die mense met nuwe standpunte nie “inbrekers” nie. Hulle is die mense wat die kerklike weg gevolg het. En hoe die beswaardes hul standpunt ook al wil plooi, bly die afsny van verbintenisse, soos die Koinonia-groep met die algemene sinode en ander kerkvergaderings wil doen, ’n vorm van kerkskeuring. Tipies van kerkskeurings is dat die skeurders aanvoer hulle het alle kerklike weë uitgeput, maar dat hul besware geïgnoreer word. Daarom het hulle nie meer ’n keuse as om ou bande te verbreek nie. Ook dié beskuldiging word deur die verklaring van predikante verwerp. Hulle het kennis geneem van die beswaardes se standpunte, verklaar die dominees. Hulle het gesprekke met gemeentes en lidmate daaroor gevoer. Hulle is nie deur die gesprekke oortuig dat die kerk verkeerd is nie. Net so kon die beswaardes ondanks stortvloede van besware en dokumente, nie die algemene sinode oortuig nie. Hul besware is geweeg en te lig bevind. Terwyl kerkleiers met eindelose geduld probeer paai en probeer om die gesprekke voort te sit, is daar by sommige in die NG Kerk ’n groeiende ongeduld met die verdagmakery van die NG Kerk en almal in die NG Kerk. Laat die beswaardes nou net loop, voel sommige, sodat die res van die NG Kerk kan aangaan om kerk te wees, om God se liefde op verskillende maniere na ’n gebroke samelewing uit te dra. Die punt is bereik waar die leiers van die KS gemeentes en lidmate aanraai om bande met die algemene sinode op te skort.

Kerkskeuring.

Eindelik het die Koinonia-groep hul, soos vorige groepe kerkskeurders, aangestel as aanklaer én regter oor die kerk, nadat die normale kerklike kanale hulle nie gelyk gegee het nie. Daar is tot dusver ’n handvol gemeentes, minder as 1% van die NG Kerk, wat aangedui het dat hulle hul bande met die algemene sinode opskort. Hulle sal seker meer word, maar die kanse is goed dat die wegbrekers, soos ander skeurgroepe, ’n klein selfregverdigende minderheid sal bly wat hul eie vooroordele in hul eie klein kring vertroetel. Die ironie is dat hulle die naam “Koinonia” gekies het. Dit is ’n Griekse woord wat op onderlinge Christelike verbondenheid dui. En dan verbreek hulle dit.

• Neels Jackson is ’n afgetrede joer­nalis wat hom op kerksake toespits en nog ’n bietjie vryskutwerk doen.

Kommentaar

Daniel Louw

Neels Jackson was nog nooit die behoudendes in die NG Kerk goedgesind nie. Daar is egter heelwat waaroor ‘n mens kan saamstem. Hier volg ‘n paar opmerkings:

Hy is een honderd persent korrek as hy sê dat behoudendes al die amptelike kanale uitgeput het, maar dat niks gewerk het nie.

Hy beweer dat behoudendes eintlik slegs wil skeur oor homoseksualiteit, maar hulle besef dat dit opsigself te min is en nou soek behoudendes ook ander redes om hulleself te regverdig.

Sou iemand anders met minder kennis dit gesê het sou ‘n mens die persoon in ‘n mate nie kwalik kon neem nie: Voor 2015, toe die NG Kerk die eerste keer sy deure vir homoseksualiteit oopgegooi het, was daar maar ‘n handjievol behoudendes wat hard teen die teologiese strominge in die NG Kerk geveg het. Na 2015 het heelwat lidmate wakker geskrik, maar ek was self verbaas hoeveel behoudendes vir die eerste keer wakker geskrik het eers na die 2019-besluit. Daarom kan dit lyk of behoudendes slegs wil wegbreek oor die homoseksuele besluit. Ek is egter in kontak met vele behoudendes en ek kan getuig daarvan dat almal dit eens is dat die homoseksuele kwessie slegs maar een van die dwalings in die NG Kerk is (die oortjies van die seekoei). Neels Jackson is baie bewus van al die ander kwessies wat reeds voor 2015 in die NG Kerk ingevoer is. Hy het homself egter nog altyd by die vrysinniges geskaar, selfs by mense soos Julian Müller, wat baie duidelik die letterlike opstanding van Jesus, en ander belangrike teologiese dogmas, verwerp het.

Die kwessie van Skrifgesag is ‘n uiters belangrike kwessie, want dit is juis die 2002 en 2004-besluit oor Skrifgesag wat tot Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human se redding gekom het oor hulle siening oor Jesus se opstanding.

Jackson verwys na die verskillende huwelikstransaksies in die Ou Testament. Hy is absoluut reg: die huwelik was wel in sommige opsigte anders in die Ou Testament as hoe ons vandag na die huwelik kyk, maar hierdie argument help hoegenaamd niks om homoseksualiteit te regverdig nie. Homoseksualiteit word op minstens vyf plekke in die Bybel baie duidelik veroordeel en daar is geen aanduiding dat die Bybel se opinie daaroor verander nie.

Jackson beskuldig die Koinonia Sinode daarvan dat hulle vae veralgemeende beskuldigings maak, maar dit is ver van die waarheid. Kyk onder andere:

Hy neem behoudendes kwalik dat hulle van die “ware en valse kerk” praat. Volgens NGB, art 29 word die ware kerk gekenmerk aan drie dinge:

  1. Suiwer prediking van die Woord
  2. Suiwer bediening van die sakramente
  3. Die kerklike tug

Dit is baie duidelik dat die NG Kerk haarself skuldig maak aan ten minste punt 1 en 3, wat die NG Kerk dus ‘n vals kerk maak. Die onlangse geval van Peter Nagel is die nuutste voorbeeld waar daar geen tug toegepas is op ‘n NG predikant en teologiese dosent, wat Jesus se Godheid verwerp het nie.

1 thought on “Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui