‘n Getuienis van Vrystaatse predikante

Kyk ook:

Die volgende skrywe is in Januarie 2024 versprei

*************

ʼn Getuienis van Vrystaatse predikante

Hierdie is nie ʼn amptelike dokument van die NG Kerk Vrystaat nie.

Ons, die ondergetekendes, is almal gelegitimeerde predikante in die NG Kerk Vrystaat. Ons is baie lief vir ons Here en sy kerk. Dit is daarom met groot hartseer dat ons die afgelope paar jaar gereeld in verklarings, briewe en ander dokumente, verdagmakery en beskuldigingsteen ons en die kerk waarvan ons lidmate is, moes aanhoor.

Daarom getuig ons hiermee in die openbaar waar ons staan.

(1) Ons bely die Woord van God as God se openbaring aan ons. Alles wat die mens vir sy/haar saligheid moet glo, word voldoende daarin geleer. In die Bybel vind ons God se wil vir ons lewe; ons strewe daarna om in elke aspek van ons bestaan hiervolgens te lewe. Om hierdie rede doen ons alles in ons vermoë om die teks so akkuraat as moontlik in die lig van die historiese en die literêre aard van die betrokke gedeelte te interpreteer.

Daarom verwerp ons die bewering dat daar net sekeres is wat “Skrifgetrou” is en “wat nie die waarheid van die Skrif ondermyn nie”; dat ons “die gesag van die Woord van God ondermyn” en ons standpunte “nie eers meer toets aan die Woord” nie. Ons verwerp alle beweringe van ʼn “geringskatting van Skrifgesag” en “eksegetiese inlegkunde” wat so maklik gemaak word. Dit is misleidend om te sê: “Ek glo onvoorwaardelik in die Woord van God” – so asof ander wat van ʼn bepaalde interpretasie verskil, dit nie ook doen nie.

(2) Ons bely dat die leer van die Bybel soos dit in die artikels van die Christelike geloof (die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Geloofsbelydenisse) vervat is, die ware en volkome leer van die saligheid is, omdat dit ooreenstem met die Woord van God. Ons glo dit, leef dit en verkondig dit.

Daarom verwerp ons die aanklag dat ons “nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie.”

(3) Ons bely dat die Here Jesus Christus die enigste Verlosser en Saligmaker is. Ons het Hom aangeneem en ons het Hom lief; Hy is die Hoof van sy Kerk en ons volg Hom gehoorsaam. Ons is bewus van ons menslike swakhede en beperkings, maar deur die krag van die Heilige Gees stry ons daagliks daarteen. Dit is ons strewe om in ons eie tyd en omgewing sigbaar gestalte aan sy Koninkryk in ons lewens en in die groter samelewing te gee.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat “ʼn meerderheid predikante met hul gemeentes … nie-Gereformeerde, inklusiewe, wêreldsgesinde navolgers of goedkeurders van die leuens volgens die tydsgees geword het” en dat “Jesus Christus van Nasaret nie die Hoof van die Kerk is nie” of dat “menseregte of wêreldagendas die Kerk wil regeer.” Ons verwerp die aanklag dat ons ʼn “vals kerk” sou wees en “ten onregte die naam ‘kerk’” sou toe-eien.

(4) Ons bely dat die NG Kerk steeds deel van die liggaam van Christus op aarde is. Ons besef dat ons as lidmate sondig is en daarom stry ons daarteen. Ons streef daarna om onder die leiding van die Heilige Gees die bes moontlike kerk te wees.

Daarom verwerp ons aanklagte soos dat die kerk “die plot verloor” het en “baie lankal nie meer ʼn Christelike kerk/organisasie” is nie. Ons verwerp die bewering dat ons “wêreldgelykvormig geword het”, in “totale afvalligheid” beland het en dat ons “huigelaars” is.

(5) Ons bely dat elke nuwe tydperk nuwe vrae aan die kerk stel. Daarom soek onsin gehoorsaamheid aan die Woord na antwoorde op hierdie nuwe vrae. Soos die gelowiges in die eerste eeu moes worstel met die vraag oor die besnydenis, soos ons voorouers sowat twee eeue gelede geworstel het met die vraag oor slawerny en soos ons onlangse voorgangers geworstel het met die vrae oor apartheid en oor die vrou in die amp, so soek ons na Skrifgefundeerde antwoorde en besluite aangaande die huidige uitdagings op ons tafel.

Daarom verwerp ons alle aantygings dat ons “toelaat dat kultuur of tydsgees die Skrif namens ons interpreteer” en dat ons “fokus primêr op mense se humanistiese agendas en drome van sosiale geregtigheid” is, as oneerlik. Moeilike vrae het nie altyd maklike antwoorde nie. Daar is geen sprake van sonde wat ons “gerieflik goedkeur” nie.

(6) Ons bely dat God sy kerk deur gelowige en betroubare mense lei wat deur God hiervoor geroep word. Hierdie mense word deur wettige kerkvergaderings verkies en aangestel om sorg te dra dat die ware godsdiens onderhou word; die ware leer oral versprei word; die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou word; en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. So verloop sake in die kerk behoorlik en ordelik. Die kerk het ook meerdere vergaderings waar hierdie selfde mense die kerk dien met hulle leierskap.

Daarom verwerp ons die beskuldiging dat “die leierskap van die Nederduits [sic] Gereformeerde Kerk waaronder die AS, ASM, AK, ATR, ATLAS en meeste streeksinodes se leierskap meer gesag aan hulleself toeken as wat die sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel toelaat en sodoende ʼn magsorgaan geword het wat nie die Nederduitse Gereformeerde kerk se gemeentes dien nie.” Ons verwerp ook die aantyging dat die leierskap “nie die eer van God ten doel het nie, maar die kerk weglei van haar oorspronklike doel as instrument tot God se heiligheid en draer van die waarheid.” Ook ontken ons dat die kerk “argaïese strukture” het wat “in kerklike wanorde verval het.”

(7) Ons bely dat daar binne die NG Kerk meningsverskille oor bepaalde sake is en dat ons mekaar hierin moeilik vind. Uiteraard is besluite nie volmaak nie en sou sekere besluite dalk beter geformuleer kon word. Dalk oortuig die Heilige Gees ons later anders hieroor. Daar is ook sekere sake waaroor ons dit eensis dat dit aandag moet geniet en dit word ook sodanig hanteer. Ons het deeglik kennis geneem van ander se standpunte en ons het by verskeie geleenthede gesprek gevoer met gemeentes en lidmate wat van ons verskil. Hierdie gesprekke het ons nie oortuig dat die huidige standpunte van die kerk verkeerd is nie.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat besware “oor jare heen geïgnoreer” is of dat die kerk “onwillig” was om daaroor te praat, dat daar nie daarvoor “ ʼn Bybelse oplossing gesoek” is nie. Dit is ook onwaar dat besware “blatant geïgnoreer” is. Ons verwerp ook die bewering dat die kerk “voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard” asof ons nie saam met ander gelowiges worstel oor God se wil nie.

(8) Ons bely dat die huidige situasie in die kerk vir ons ʼn saak van groot hartseer is. Die etikette wat aan mense gegee word, help ons nie om meer helderheid oor moeilike vrae te kry nie. Die valse voorstellings van en halwe waarhede oor die besluite van die kerk wat aan lidmate en kerkrade voorgehou word, bemoeilik ʼn eerlike gesprek. Hiermee domineer ʼn klein groepie die gesprek. Die tevrede en stille meerderheid laat nie van hulle hoor nie.

Daarom vra ons diegene wat van die kerk verskil om dit in liefde te doen, om ons geloofwaardigheid te aanvaar, nes ons die geloofwaardigheid aanvaar van dié wat van ons verskil. Ons is almal ewe lief vir die Here en virsy kerk. Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake. Die Bybel laat ruimte vir hulle wat vleis eet en vir hulle wat dit nie doen nie; vir hulle wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou en vir ander wat dit nie doen nie. Kom ons hou op om mekaar as ʼn “valse kerk” uit te maak net omdat ons van mekaar verskil. Kom ons bid eerder vir die kerk en vir mekaar: “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.

Onderteken deur die volgende leraars:

  1. André Barlow
  2. Domonic Basson
  3. Lunette Basson
  4. Gerhard Botha
  5. Dries Cronjé
  6. Jan de Man
  7. Nico Dicks
  8. Hannes du Plessis
  9. Leon M Foot (samesteller)
  10. Cobus Hamman
  11. Rikus Hattingh
  12. Stoffel Hellmuth
  13. Gretha Heymans
  14. Charles James
  15. Ian Jonker
  16. Danie Kleinhans
  17. Friedrich Kotzé
  18. Johan Kruger
  19. Gideon Lamprecht
  20. De la Harpe le Roux
  21. Gerhard Meyer
  22. Charles Mitchell
  23. Nico Mostert
  24. Laurie Naudé
  25. Christo Nel
  26. Hannetjie Nel
  27. Lood Oliver
  28. Roelf Pienaar
  29. Jors Reynders
  30. Kobus Schoeman
  31. Deon Serfontein
  32. Fanie Spamer
  33. Riaan Stander
  34. Juppi Steurer
  35. Attie Steyn
  36. Barnard Steyn
  37. Waldemar Stumpfe
  38. Fanie Snyman
  39. Horace van Coller
  40. Suzanne van der Merwe
  41. Gideon van der Watt
  42. Pieter van Jaarsveld
  43. André van Staden
  44. Danie van Tonder
  45. Rikus van Zyl
  46. Christo Weideman

***********

Die Vrystaatse moderamen het soos volg hierop gereageer:

VERKLARING TEN OPSIGTE VAN “’n GETUIENIS VAN VRYSTAATSE PREDIKANTE”

Vrydag, 12 Januarie 2024

Die Moderamen het nie-amptelik kennisgeneem van ‘n “Getuienis van Vrystaatse Predikante” wat vroeër vandag deur die amptelike kommunikasiekanale van die NG Kerk Vrystaat uitgestuur is.

Ons wys daarop dat dit die persoonlike siening van ‘n aantal predikante in die NG Kerk Vrystaat is en daar nie ‘n besluit van die Interimkomitee of Moderamen was om dit via enige kommunikasiekanale van die NG Kerk Vrystaat te versprei of op mediaplatforms van die NG Kerk Vrystaat te plaas nie. Dit is daarom ook nou van daardie groepe en platforms verwyder. Ons vra nietemin om verskoning vir enige ongerief of verwarring daardeur meegebring.

Die aangeleentheid sal volgende Vrydag, 19 Januarie 2024, amptelik deur die Interimkomitee hanteer word, met verslag aan die Moderamen by sy vergadering aan die einde van die maand.

Ons doen intussen opnuut ‘n beroep op alle predikante en lidmate om in hierdie tye en veral ten opsigte van sake waaroor ons van mekaar mag verskil, te let op die wyse waarop ons met mekaar daaroor kommunikeer. Laat die voorbeeld van Christus en die apostels ons te alle tye in ons gedagtes, woorde en handelinge lei, in belang van ons kerkverband en roeping hier in die Vrystaat. Ons is Sýne.

Met agting, Ds Jan Lubbe

VOORSITTER: MODERAMEN VAN DIE NG KERK VRYSTAAT

Tel: +27 (0) 51 406 6700 | E-posadres: daf@ngkvs.co.za | Posbus 11412 | Universitas 9321 Lig in die duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld

2 thoughts on “‘n Getuienis van Vrystaatse predikante”

  1. Dit is vrek interessant dat die 46 verklaar dat ten spyte van gemeentes en lidmate se ernstige besware oor klomp sake hulle steeds nie oortuig kan word dat die kerk se huidige standpunte verkeerd is nie, hulle erken daardeur dat die verskillende onbybelse sienings wat tans geld basies onoplosbaar is en klaar op ń breekspul uitgeloop het!

  2. Nou gaan lees maar, Godsdiensverraad wat ons en ons land vernietig, deur Ds. BEN MAREE. Jy is die een wat die waarheid praat en nie lieg soos die mense van die kweekskole in Suid-Afrika nie. Openbaring 20:10 … Openbaring 22:14 salig is die een wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Hier kan en mag hulle nie meer lieg vir die mens nie. Hulle moet mooi dink wat hulle sê of hulle sal na die poel van vuur en swawel gewerp word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui