Verslag ATR: Regsmening insake opskorting van kerkverband

Hier volg die moderator, Jan Lubbe se opinie hieroor.

‘Neem tyd en wees versigtig’ | Jan Lubbe oor kerkverband en kerkskeuring (Youtube)

*******

VERSLAG ATR: REGSMENINGS INSAKE OPSKORTING VAN KERKVERBAND1. INLEIDING

Die ASM het die ATR in 2023 versoek om twee onafhanklike regsmenings van twee senior advokate in te win, ten einde die Algemene Sinode/ASM met advies te bedien oor gemeentes wat besluit op ‘n “Akte van Opskorting van Kerkverband”, waarmee die band met die ring, sinode en Algemene Sinode opgeskort word. (Die begrip “Akte van Opskorting van Kerkverband” is vreemd aan die Kerkorde.)

2. REGSMENINGS

Die dagbestuur van die ATR het die opdrag gekry om twee advokate (een in die noorde en een in die suide) te identifiseer en regsadvies in te win. Die dagbestuur van die ATR het ‘n memorandum saamgestel wat bestaan het uit ‘n kort historiese oorsig oor die ontwikkeling van die algemene sinodale kerkverband, asook ‘n aantal kerkordelike- en gemeenregtelike vrae aan die regslui. Dit is aan albei die advokate besorg.

Die volgende twee advokate is betrek:

  • Paul Farlam SC in Kaapstad
  • (dr.) Ben Stoop SC in Pretoria

Beide advokate het goed deurdagte regsadvies verskaf. Op grond hiervan gee die ATR die volgende advies aan die ASM.

3. DIE LOCUS STANDI (POSISIE) VAN GEMEENTES

Die volgende is van wesenlike belang vir die verstaan van die locus standi van ‘n gemeente.

The concept of an universitas was described in Webb & Co Ltd as follows:

“An universitas personarum in Roman-Dutch law is a legal fiction, an aggregation of individuals forming a persona or entity, having the capacity of acquiring rights and incurring obligations to a great extent as a human being. An universitas is distinguished from a mere association of individuals by the fact that it is an entity distinct from the individuals forming it, that its capacity to acquire rights or incur obligations is distinct from that of its members, which are acquired or incurred for the body as a whole, and not for the individual members.”4

In Wilken, it was explained that in the case of an universitas – specifically in the context of inter alia, a church – “the intention is that the association shall continue for ever and that it shall carry out the purpose of its founder or founders.”5 Our courts have consistently recognised that churches can constitute a(n) universitas.6

3.1 Die Kerkorde

In 1962 het die samestellende kerke/sinodes (Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Natal, Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat, Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suidwes-Afrika) toegetree tot ‘n algemeen sinodale verband en is die Kerkorde aanvaar.

Daar is duidelikheid dat wanneer daar in Artikel 36 en 37 na “samestellende kerk of sinodes” verwys word, dit verwys na die tien sinodes te wete:

  1. Wes-Kaapland
  2. Oos-Kaapland
  3. Noord-Kaapland
  4. Vrystaat
  5. KwaZulu-Natal
  6. Noordelike Sinode
  7. Oostelike Sinode
  8. Goudland Sinode
  9. Hoëveld Sinode
  10. Namibië Sinode

Volgens Artikel 37 is dit dus slegs vir sinodes/samestellende kerke moontlik om uit algemene sinodale verband te tree. Daardie moontlikheid bestaan nie vir ringe en/of gemeentes nie (vergelyk voetnota by Kerkorde Artikel 37).

Aangesien daar nou wel gemeentes is wat kies/besluit om hulle verband met die Algemene Sinode (kerkverband/sinode/ring) op te skort, word dit onder die volgende punte hanteer:

  • Die mandaat/moontlikheid om die verband met die Algemene Sinode (asook die kerkverband/sinode/ring) op te skort.
  • Die mandaat/moontlikheid om uit die verband met die Algemene Sinode (asook die kerkverband/sinode/ring) te tree.
  • Die wyse waarop uittrede uit die kerkverband wel kan geskied.
  • Die gevolge van uittrede uit die kerkverband.

3.1.1 Bevoegdheid/reg/mandaat om die kerkverband op te skort

Die vraag is: het ‘n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om die verband met die kerk op te skort?

Opskort is per definisie ‘n uitgestelde/tydelik maatreël. Opskorting van die kerkverband (as ‘n uitgestelde/tydelike maatreël waar sekere dele van die Kerkorde geag nie van toepassing te wees nie vir die duur van die opskorting nie) is nie kerkordelik of gemeenregtelik moontlik is nie. Die kerkorde maak nie voorsiening vir so ‘n moontlikheid nie, en ‘n kerkraad (of enige ander kerkvergadering, buiten die Algemene Sinode) het geen bevoegdheid om enige artikel van die Kerkorde te verander of op te skort nie. Dit hoort slegs tot die bevoegdheid van die Algemene Sinode ter vergadering.

In die gemene reg is dit geyk dat partye nie ʼn kontrak eensydig kan opskort nie. ‘n Gemeente kan dus vanuit ‘n gemeenregtelike hoek nie eensydig besluit om die verband met die kerkverband (ring, sinode, Algemene Sinode) op te skort nie. Dit word geag as ‘n eensydige kansellasie/verbreking van die kontrak wat nie die kontrak opskort of nietig verklaar nie.

Gevolgtrekking

‘n Kerkraad het nie die bevoegdheid om die Kerkorde te verander/ignoreer nie en handel onregmatig wanneer die verband met die kerk opgeskort word. Opskorting van die kerkverband kom neer op kontrakbreuk, aangesien die Kerkorde die onderlinge ooreenkoms tussen kerkvergaderings is wat hulle interne funksionering en verhoudings met mekaar reël. Opskorting van die kerkverband het dus geen regskrag nie en hef nie verantwoordelikhede teenoor die kerkverband op nie.

3.1.2 Bevoegdheid/reg/mandaat om uit die kerkverband te tree

Die vraag is: het ‘n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om uit algemene sinodale verband te tree?

Die vraag word beantwoord vanuit:

  • Die Kerkorde
  • Gemene reg

3.1.2.1 Die Kerkorde

Daar is ‘n volledige beredenering gedoen deur die advokate wat onder ander verwys na artikels 31.4; 36 en 37, asook na reglement 27. Die beredenering is gegrond op regspraak in onder andere die De Deur-saak en die De Lange-saak.

Gevolgtrekking

Die Kerkorde maak geensins voorsiening – uitdruklik of geïmpliseer – vir ‘n individuele gemeente om uit die kerkverband te tree of die kerkverband op te skort nie.

3.1.2.2 Gemene reg

In die beredenering van die moontlikheid om uit die kerkverband te tree het die regslui verwys na onder andere die volgende regspraak: Kerkraad van Standerton; Ex Parte Gill; NGK in Afrika; Die Koppies-saak; Twelve Apostles-saak en Pinkster Protestante kerk.

Uit hierdie regspraak is dit duidelik dat:

3.1.2.2.1 Die algemene reël wat deur die howe aanvaar is, is dat ‘n gemeente slegs uit die kerkverband kan tree indien dit ‘n eenparige besluit van AL die lidmate van daardie gemeente is.

3.1.2.2.2 Indien ‘n groep lidmate wel sou wegbreek van ‘n gemeente of die kerkverband – sonder eenparige instemming van al die lidmate – sal die oorblywende lidmate steeds as die oorspronklike gemeente bly voortbestaan, onderhewig daaraan dat hulle wel in staat is om as gemeente voort te gaan (bv. minimum wat voorgeskryf word om ‘n kerkraad te vorm).

Gevolgtrekking

Uit ‘n gemeenregtelike perspektief kan ‘n groepering van ‘n gemeente nie verhoed word om ‘n nuwe denominasie te stig of aan te sluit by ‘n ander reeds bestaande denominasie nie. Die oorblywende lidmate (wat dus nie saam met hierdie groepering gaan nie) behou dus die reg om te bly voortbestaan (as Universitas) as die bestaande gemeente.

3.1.3 Wyse van uittrede

Die vraag is: op watter wyse kan uittrede uit die kerkverband geskied?

3.1.3.1 Sinodes

Artikel 37 gee aan sinodes die reg om uit algemene sinodale verband te tree. Dus word die situasie van sinodes nie hier verder bespreek nie, aangesien dit hier gaan oor gemeentes wat die kerkverband opgeskort het en daar ‘n persepsie bestaan of kan ontstaan dat gemeentes uit die kerkverband getree het of uit die kerkverband kan tree.

3.1.3.2 Gemeentes

Terwyl uittrede uit die kerkverband eweneens nie kerkordelik moontlik is nie, is dit wel gemeenregtelik moontlik. Uit die gemene reg is dit duidelik dat ‘n besluit van ‘n gemeente om uit kerkverband te tree onderhewig is daaraan dat so ‘n besluit nie deur ’n kerkraad alleen geneem kan word nie, maar ‘n eenparige besluit van al die lidmate van ‘n gemeente moet wees.

3.1.4 Die gevolge van uittrede uit die kerkverband

Die vraag is: wat is die gevolge vir ‘n gemeente wat uittrede uit die kerkverband?

Die gevolge van so ‘n uittrede, wat nie binne die beginsels van die gemene reg, geskied het nie, word voorlopig slegs ten opsigte van die volgende aspekte bespreek:

  • Eiendom
  • Naam
  • Pensioenfonds
  • Tug en dissipline

3.1.4.1 Eiendom

Indien ‘n groepering se besluit om uit die kerkverband te tree nie eenparig deur al die lidmate van die gemeente geneem is nie, en die Universitas (die oorblywende lede van die oorspronklike gemeente) dus bly voortbestaan, behoort alle eiendom (roerend en onroerend) aan die oorspronklike gemeente (m.a.w. die wat agterbly en nie saam uittree nie).

3.1.4.2 Naam

Uit hofuitsprake is dit baie duidelik dat die groep wat wegbreek, nie die naam van die NG Kerk kan gebruik nie en dat daar regsgevolge kan wees vir enige groepering wat die naam van die NG Kerk gebruik. ‘n Naam van ‘n instansie wat die indruk skep van voortgesette affiliasie met die liggaam uit wie se affiliasie uitgetree is, is onregmatig.

3.1.4.3 Pensioen voordele

Die NG Kerk beskik tans oor drie pensioenfondse naamlik die PPF Predikante Pensioenfonds (Wes-Kaap), die Pensioenfonds van Transvaal en die Pensioenfonds van Namibië. Die PPF Predikante Pensioenfonds (Wes- Kaap), die Pensioenfonds van Transvaal se reëls is bestudeer en dit is duidelik dat ‘n gemeente wat wettig (met eenparige stem) uit verband tree nie meer ”n deelhebber kan wees van die kerk se pensioenfondse nie. Die predikante van sodanige gemeentes is wel geregtig op hulle fondswaarde, maar hulle deelname van die fonds termineer en is hulle geregtig en verplig om die fondswaarde op te neem.

3.1.4.4 Tug en dissipline

Wanneer ‘n gemeente op ‘n regmatige wyse uit die verband met die NG Kerk tree, sal die predikant (wat voortgaan om lidmaat en predikant van sodanige gemeente te wees) outomaties sy/haar NG Kerk predikantsbevoegdheid verloor en ophou om ‘n predikant van die NG Kerk te wees en dus nie verder beroepbaar in die NG Kerk wees nie. In so ‘n geval sal die Kerkorde en die kerklike tug nie meer op hom/haar van toepassing wees nie.

Sou die gemeente se uittrede uit die kerkverband onuitvoerbaar en dus onwettig wees, is die predikant steeds in diens van ‘n gemeente (NG Kerk) en is die kerkordelike bepalings soos bv. tug en dissipline steeds op hom/haar van toepassing. Dieselfde geld in die geval van opskorting, wat per sé onwettig is.

Gevolgtrekking:

Indien die gemeente nie eenparig besluit om uit die verband te tree nie, word die lidmate wat nie wegbreek nie, beskou as die voortsetting van die Universitas (oorspronklike gemeente) en verlaat die groep wat wel wegbreek die gemeente sonder enige bates (roerend en onroerend) en kan hulle ook nie die naam NG Kerk enigsins gebruik nie. Indien die predikant saam met die groepering wegbreek, geskied dit met verlies van predikantsbevoegdheid (en beroepbaarheid), sowel as lidmaatskap van die kerk se pensioenfonds(e).

4. ADVIES VAN DIE ATR

Uit bovermelde opsomming van die twee regsmenings, bevestig die ATR aan die ASM dat gemeentes (kerkrade) geen kerkregtelike en/of gemeenregtelike reg/bevoegdheid/mandaat het om die verband met die NG Kerk (ring, sinode, Algemene Sinode) op te skort nie.

4.1 Implikasies

4.1.1 Die “Akte van Opskorting” het geen regskrag en kan beskou word as ‘n nulliteit of kerkordelike/juridiese kortsluiting wat gewoon onwettig en misleidend is.

4.1.2 Sou ‘n gemeente volhard met die narratief dat hulle die kerkverband opskort, doen hulle dit met die wete

4.1.2.1 dat hulle steeds verantwoordelik bly vir al die verantwoordelikhede en verpligting wat hulle (kontraktueel) as deel van die kerkverband het.

4.1.2.2 dat hulle steeds onder die opsig van die ring val.

4.1.2.3 dat al die artikels van die Kerkorde, reglemente en besluite van die Algemene Sinode, sinode en ring steeds op hulle van toepassing is.

4.1.3 Sou so ‘n wegbreekgroep volhard met die narratief dat hulle die kerkverband opskort en terselfdertyd hulleself beskou as ‘n onafhanklike gemeente (vgl. minstens sommige bestaande “Aktes van Opskorting”), beteken dit dat hulle dit doen met die wete dat hulle

4.1.3.1 hulleself buite die NG Kerkverband plaas en dus die NG Kerkverband verlaat.

4.1.3.2 nie verder die naam van NG Kerk kan gebruik nie.

4.1.3.3 geen aanspraak het op die eiendom (roerend en onroerend) wat aan die oorblywende/oorspronklike gemeente (Universitas) behoort nie.

4.1.3.4 ‘n nuwe denominasie tot stand bring of by ‘n ander bestaande denominasie aansluit wat die gevolge het dat:

4.1.3.4.1 die predikant sy bevoegdheid in die NG Kerk verloor.

4.1.3.4.2 nie meer beroepbaar is in die NG Kerk nie.

4.1.3.4.3 die predikant nie meer deel kan wees van die pensioenfonds nie.

4.1.3.4.4 lidmaatskap van die NG Kerk verbeur word.

4.2 Posisie en hantering van groepe wat met die “opskorting” van die kerkverband volhard

4.2.1 Aangesien so “Akte van Opskorting” geen regskrag het nie, bly die groep (predikant ingesluit) deel van die gemeente en is hulle onderworpe aan die Kerkorde en sinodale besluite.

4.2.2 Die gemeente is steeds verplig om al sy kerkordelike verantwoordelikhede en kontraktuele verpligtinge teenoor die verband na te kom.

4.2.3 Indien die kontraktuele verpligtinge nie nagekom word nie, word dit nie opgehef en afgeskryf nie. Die gemeente is dit steeds verskuldig en die nageslag sal dit moet nakom.

4.2.4 Die ampsdraers in sodanige groep behoort deur die betrokke ring/sinode tot orde geroep te word om binne die kerkordelike bepalings op te tree.

4.2.5 Sou die predikant en/of die “kerkraad” wat so ‘n wegbreek/opskorting orkestreer, nie gehoor gee aan die oproep om binne die kerkordelike bepalings op te tree nie, stel hy/sy/hulle, hulle bloot aan optredes soos beskryf in die Kerkorde en reglemente. Diesulkes kan hulle skuldig maak aan onder andere: verbreking van legitimasie eed; oortreding van die gedragskode vir predikante; skeurmakery; haatspraak; laster ens. (vgl. reglement 22:5.1)

4.2.6 In geval waar ‘n kerkraad ‘n onvermoë toon om binne die kerkordelike bepalings te funksioneer, behoort die ring die toepassing van artikel 22.3 te oorweeg.

4.2.7 In geval waar ‘n ring ‘n onvermoë toon om binne die kerkordelike bepalings te funksioneer, behoort die sinode die toepassing van artikel 22.3 te oorweeg.

4.3 Posisie van – en implikasies vir ‘n gemeente wat die verband met die NG Kerk op ‘n regmatige wyse (in geheel eenparig) verbreek

4.3.1 ‘n Nuwe gemeente (of denominasie) word gevorm of daar word by ‘n ander denominasie aangesluit.

4.3.2 Die eiendom (roerend en onroerend) word oorgedra in die naam van die nuwe gemeente.

4.3.3 Die nuwe gemeente/denominasie kan nie verder die naam NG Kerk gebruik nie.

4.3.4 Die predikant verloor sy/haar bevoegdheid en beroepbaarheid in die NG Kerk.

4.3.5 Die gemeente is nie meer ‘n deelhebber van die NG Kerk se pensioenfonds nie en die predikant geniet nie meer die voordele van lidmaatskap van die pensioenfonds nie.

4.3.6 Alle lidmate wat deel is van hierdie wegbreekgemeente verloor hulle lidmaatskap van die NG Kerk.

4.4 Kommunikasie en advies van die ASM aan die kerkverband en kerklike publiek.

4.4.1 Die wanvoorstelling dat die opskorting van die kerkverband enige regskrag het, moet helder besweer word en wyd deeglik gekommunikeer word.

4.4.2 Lidmate wat deel is van gemeentes waar kerkrade sodanige besluite oor die opskorting van die kerkverband geneem het, moet verwittig word dat hierdie hele beweging gebaseer is op ‘n vals narratief en dat hulle status as lidmate van daardie gemeentes en van die NG Kerk nie verander het nie.

4.4.3 Ringe moet aangemoedig (en sinodaal ondersteun) word om die orde te herstel in gemeentes waar hierdie onregmatige opskorting van die kerkverband deur ‘n misleidende kerkraad geskied het – al beteken dit dat artikel 22.3 toegepas moet word.

4.4.4 Waar ʼn ring besluit om as ring kerkverband op te skort kan ʼn sinode oorweeg om artikel 22.3 op die ring toe te pas.

Artikel 22.3 van die kerkorde

‘n Meerdere vergadering kan in die geval van wanbestuur of onvermoë ‘n mindere vergadering ontbind en hersaamstel en/of onder die meerdere vergadering se bestuur plaas.

1 thought on “Verslag ATR: Regsmening insake opskorting van kerkverband”

  1. Die 2 advokate het net na bg artikels gekyk en nie na Art 1 wat die ontstaan/bestaan vd NG Kerk-gemeentes/Ring/Sinode en AS definieer nie; die besluite van die AS is nie inlyn met Art 1 nie!
    Per implikasie is die AS die liggaam wat afgewyk het van hulle ontstaan-bestaansreg en daarom Dolering/Akte opskorting n opsie geword het, verder het gemeentes bestaan lank voor die AS se totstandkoming(vgl Raad van Kerke-Sinodes) Die regsmening vd advokate is suiwer n sekulere mening en vertolk nie etos van die Ned Geref Kerk nie! Jy kannie Skrif afdwaling met n sekulerereg, reg skroef nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui