Skrifgetroue NG-gemeentes en -lidmate se pad vorentoe

Kyk ook:

Op 17 Februarie 2024 het die Koinonia Sinode die volgende skrywe uitgereik.

Op Sondag, 18 Februarie 2024 is hiervan in Rapport berig.

*******

Skrifgetroue NG-gemeentes en -lidmate se pad vorentoe

(ná afloop van die Algemene Sinode 2023)

“Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”. Joh 8:36

Uitgangspunt en motivering:

Alle belydende lidmate van die NG Kerk se Openbare Geloofsbelydenis asook alle leraars se Plegtige Legitimasie Verklaring bevestig ons ware vryheid in Christus. Daarom weier ons om weer slawe te word van dwaalleer en kerklike hiërargie.

1. Deur geloof in Jesus Christus is ons waarlik vry gemaak

Joh. 8:31-36 “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ‘n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie; ‘n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”.

2. Ons Geloofsbelydenis en Lidmaatbeloftes bind ons tot ware vryheid!

Om belydende lidmate van ‘n gemeente van die NG Kerk te word, moes ons ná deeglike kategese in die Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte, eers openbare geloofsbelydenis aflê. Dit was ook ‘n gelofte voor God en sy gemeente. Daarmee het ons bely en beloof dat

  • ons glo in Jesus Christus as ons enigste Verlosser en Saligmaker en dat ons Hom sal liefhê en dien solank ons lewe,
  • en dat ons die leer van die Bybel soos dit in die artikels van die Christelike geloof (nl. die gereformeerde belydenisskrifte) vervat is en in hierdie kerk geleer word, aanvaar as die ware en volkome leer van die saligheid.
  • Ons het ook belowe om in hierdie leer te volhard tot die einde van ons lewe en om alle leringe wat daarvan afwyk te verwerp.

Uit bogenoemde belydenis en beloftes geld die volgende belangrike feite:

  • Slegs op grond van hierdie belydenis en beloftes was ons toegelaat as belydende lidmate van daardie gemeente en op grond van die belydenis is ons lidmaatbewyse erken in alle ander NG gemeentes.
  • Hierdie beloftes het ons meermale herbevestig, bv. by die doop van ons kinders en bevestiging in die besondere ampte as bedienaar van die Woord, ouderling of diaken.
  • Die oomblik wanneer ons daardie beloftes verbreek, word ons tugwaardig en kom ons lidmaatsvoorregte en selfs lidmaatskap van die NG Kerk in die gedrang.
  • Om toegelaat te word tot die bediening, moes die leraars onder ons ook nog verder ’n plegtige legitimasie-verklaring (eed) onderteken waarin ons belowe: “…dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef; dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die kerk te weer;…”
  • Ons lidmaatbeloftes en legitimasie-eed verbind ons dus nie om alle besluite van sinodes en ander kerkvergaderings te aanvaar nie, maar wel om getrou te bly aan die Woord en die gereformeerde belydenisse wat ons tydens geloofsbelydenis en legitimasie aanvaar het omdat dit met die Woord ooreenstem. Dit het ons toegang gegee tot lidmaatskap van die NG Kerk en tot die amp van bedienaars van die Woord in die NG Kerk.
  • Die eerste en belangrikste kriterium vir lidmaatskap van enige NG gemeente is nie by watter gemeente, ring of sinode jy inskakel, of watter band jy met die Algemene Sinode het nie, en watter besluite van sinodes jy aanvaar of verwerp nie, maar wel of jy in leer en lewe nog staan by jou lidmaatbelofte en legitimasie-eed.

Op grond van bogenoemde

  • erken ons slegs die bevoegdheid van ampsdraers en teologiese dosente wat getrou bly aan bogenoemde beloftes;
  • verwerp ons die aanspraak op ampsbevoegdheid van almal wat openlik en volhardend bogenoemde beloftes minag;
  • verwerp ons alle kerkvergaderings wat volhardend besluite neem wat onuitvoerbaar is omdat dit in stryd met die Woord van God is, en waarin steeds volhard word ten spyte daarvan dat ons herhaaldelik gravamina en beswaarskifte daarteen ingedien het én oproepe tot bekering én versoeke tot mediasie gerig het;
  • adviseer ons lidmate om openlik te getuig teen alle dwalinge wat in stryd is met die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, en om seker te maak dat hulle hierdie dwalinge op geen wyse ondersteun of hulle daarmee vereenselwig nie; en
  • roep ons alle lidmate op om, in hierdie krisisuur wat nou vir die christelike kerk en in besonder vir die NG Kerk aangebreek het, ’n duidelike geloofskeuse te maak. Elke lidmaat sal, soos ons belydenis sê, die identiteit van die ware en valse kerk moet onderskei en dan besluit waar hulle die Here wil dien. (Sien NGB art 28-29).

3. Ons belydenis van die NGB Artikel 28 bind ons tot ware vryheid – die vryheid wat op ons die verpligting lê om ons as lidmate by die ware kerk te voeg

Ons glo en bely daarin dat

  • elke gelowige verplig is om by die ware kerk aan te sluit en as meelewende lidmaat die Here daar te dien;
  • niemand uit selftevredenheid homself afsydig mag hou of mag afskei van die ware kerk nie; en
  • almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei, of nie daarby aansluit nie, handel in stryd met die bevel van God.

4. Ons belydenis van NGB Artikel 29 bind ons tot ware vryheid – die vryheid wat ons die merktekens van die ware kerk laat dra

Ons glo en bely daarin dat

  • elke gelowige sorgvuldig volgens die Woord moet onderskei tussen die ware en die valse kerk aangesien baie hulself vandag ten onregte die naam kerk toe-eien;
  • daar wel in elke kerk ook huigelaars is wat met die kerk vermeng is wat nie deel van die ware kerk is nie, alhoewel hulle uiterlik daarin is;
  • daar nogtans merktekens is waaraan die ware kerk duidelik geken kan word;
  • die ware kerk aan die volgende kenmerke geken kan word nl.:
    • die suiwer prediking van die evangelie;
    • die suiwer bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het; en
    • die handhawing van kerklike opsig en tug (tot heil van die sondaar, welsyn van die gemeente en eer van God) niemand die reg het om hom van die ware kerk af te skei nie.

5. Ons belydenis van die NGB Artikel 29 leer die merktekens van die ware lidmate van die ware kerk

Ons glo en bely daarin verder dat ware lidmate van die ware kerk uitgeken word daaraan dat hulle

  • glo in die Here Jesus Christus, en Hom as enigste Verlosser en Saligmaker aangeneem het;
  • nou die sonde ontvlug en die geregtigheid najaag;
  • die ware God en hul naaste lief het;
  • steeds streef om nie links of regs van die Woord af te wyk nie;
  • steeds hul sondige natuur met sy werke kruisig;
  • ten spyte van groot swakhede deur die Gees daarteen stry;
  • altyd weer hul toevlug neem tot die bloed, dood en lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus; en
  • deur geloof, uit genade, vergewing van sondes in Christus ontvang het.

6. Ons belydenis van die NGB Artikel 29 leer die merktekens van die valse kerk

Ons glo en bely daarin ook verder dat die valse kerk

  • skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;
  • wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;
  • bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke;
  • vertrou meer op mense as op Christus; en
  • vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.

Hierdie twee – die ware kerk en die valse kerk – kan en moet uitgeken en van mekaar onderskei word

7. Die groot vraag wat geen NG lidmaat wat erns maak met die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, vandag kan ontduik nie

As ons ons nog gebonde aan die belydenis wat ons voor God en Sy gemeente bely en beloof het? Wat is ons eie en ons gemeentes se geloofsidentiteit? Vertoon ons kerk nog voldoende die merktekens van ware kerk? Indien nie, wat gaan ons daaraan doen?

8. Praktiese Implikasies: In die lig van bogenoemde verklaar ons…..

8.1 Ons kan nie langer stilbly en ook nie stilsit nie, want Christus het ons vrygemaak!

Hand 4:19-20 “Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (vgl. 4:1-20)

In gehoorsaamheid aan God kies ons:

  • vryheid bo slawerny;
  • getrouheid aan die Woord bo sinodale besluite;
  • reformasie bo vrees vir vervolging;
  • eenheid in waarheid alleen bo eenheid in ‘n ruim huis van diversiteit waar waarheid én dwaalleer/leuen “omarm” word;
  • om te breek met ontroue kerkvergaderings eerder as om te breek met die gesonde leer (1 Tim 6:3; Titus 2:1).

8.2 Ons is klaar met die huidige funksionering van die Algemene Sinode (AS), sy taakspanne en strukture

In diepe afhanklikheid van die Here streef ons om getrou aan ons lidmaat-, legitimasie- en ampsbelydenis en -beloftes te bly deur ons in leer en lewe te hou by die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God en die leer in ooreenstemming met die Woord soos uitgedruk in die Formuliere van Eenheid (soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618 – 1619). Die AS is reeds geruime tyd besig om in hul optrede en besluite al hoe verder hiervan af te wyk en daardeur al meer die merktekens van die ware kerk te verloor. Behoudendes het al lank vóór AS 2015 en daarná, asook wéér by AS 2023, deur alle beskikbare kerkordelike kanale asook versoeke tot onpartydige mediasie, gepoog om die AS en sy Taakspanne terug te roep na die Woord.

Aangesien bykans al ons pogings op dowe ore geval het, en hulle steeds alle versoeke vir onpartydige mediasie of gesprek met behoudende lidmate verwerp, word ons nou deur die liefde van Christus en getrouheid aan Sy Woord gedring om alle direkte en indirekte kerkverbande[1] wat die Algemene Sinode se dwaling ondersteun op te skort[2] met die oog daarop om hulle terug te roep na gehoorsaamheid aan die Here se Woord.

Wat is die verband wat ons opskort?

Ons skort alle direkte en indirekte verbande met die Algemene Sinode[3] op, asook met ander kerkvergaderings wat in woord en daad dieselfde dwaalweg kies.[4]

Die beginsel daaragter? KO Artikel 37 handel oor die samestellende[5] kerke van die AS en bevestig die Bybelse beginsel dat kerkverband ‘n persoonlike gewetensaak is wat op geen manier afgedwing kan word nie. Die reg tot vrye keuse van kerkverband kan ’n sinode (of gemeente) wat getrou bly aan die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, dus nie beroof van sy naam, regte, voorregte of enige bates en eiendom nie. Die godsdienstige reg tot vrye assosiasie word ook bevestig deur Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en –Vryhede wat in ons Kerkorde-boek opgeneem is.

Die Algemene Sinode het in verskeie opsigte toenemend ‘n pad gekies wat in stryd is met die kerk se belydenisse en ons gereformeerde verstaan van die Bybel. Hulle ignoreer die oproep tot bekering van lidmate en mindere vergaderings[6]. Hulle het gekies om voort te gaan met hul geringskatting van die Skrifgesag, eksegetiese inlegkunde i.p.v. uitlegkunde[7], hul soeke na vrysinnige teologiese diversiteit wat ruimte skep vir dwaling. Nog ‘n voorbeeld van hul gebrek aan respek vir die stem van gemeentes, is hul hardnekkige pogings om onder leiding van die Sinode van Wes-Kaapland die Belydenis van Belhar as ‘n vierde belydenisskrif in te sluit by ons belydenisgrondslag. Die Algemene Sinode asook die res van die NG Kerke het die afgelope paar jaar rééds miljoene rande spandeer om daaroor te debatteer. Nadat daar uiteindelik tussen AS 2013 en AS 2015 ‘n baie duur en tydsame kerkordelike proses gevolg is waar elke kerkraad en elke lidmaat kon stem, was die Algemene Sinode gedwing om finaal duidelik daarteen te besluit[8].

Indien ons onbepaald sou voortgaan om ons verband met die Algemene Sinode in sy huidige strukture te handhaaf, loop ons gevaar om self ontrou te word aan die Woord en gereformeerde belydenisse en dus ook skuldig aan die verbreking van ons lidmaatbeloftes, legitimasie-eed en ampsbeloftes (as diakens, ouderlinge en bedienaars van die Woord) asook dit wat Kerkorde artikel 23.1-2 van alle NG lidmate verwag.

Na analogie van dieselfde kerkregtelike beginsels wat ook by Art 37 geld, word die opskorting gedoen met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts. Hierdie stap moet dus gesien word as ‘n baie dringende en laaste oproep tot bekering.

8.3 Ons bly NG Kerk

Ons as lidmate, ampsdraers en wettig gekonstitueerde kerkvergaderings distansieer ons in woord en daad van die AS en ander kerkvergaderings[9] wat nie meer die merktekens van die ware kerk van Christus voldoende vertoon nie, wat die gesag van die Woord van God ondermyn, wat afwyk van die gereformeerde leer, besig is om in kerklike wanorde te verval, en toenemend wêreldgelykvormig word.

Ons distansieer ons verder ook van die sogenaamde middelgrond kerk wat sy profetiese stem verruil vir ’n houding van toenemende toleransie teenoor afwykende leringe soos die ontkenning van die uniekheid van die Evangelieboodskap, die relativering van Bybel se boodskap oor die huwelik, Jesus se maagdelike geboorte, plaasvervangende kruisiging, werklike opstanding en Sy laaste opdrag om uit te gaan en dissipels te maak van alle nasies. Daarom verwerp ons al die dubbelslagtige middelgrond uitsprake, besluite en standpunte wat die kerk se profetiese getuienis oor sulke sake smoor. Verskeie leraars, lidmate en kerkvergaderings se Skrifgefundeerde besware na die Algemene Sinode daarteen, is met minagting hanteer.

Ons kan nie langer ‘n kerkverband koester wat poog om waarheid en leuen onder een dak te huisves nie. Ons skort nie ons verband met NG Kerk op nie, maar wel met die AS asook ander kerkvergaderings wat nog wil voorgee dat hulle die NG Kerk verteenwoordig, maar wat nie meer die merktekens van die ware kerk dra nie, nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie, en ook nie aan die beloftes wat toegang gee tot ons kerklidmaatskap en diens in die besondere ampte nie. Ons erken ook nie meer die Teologiese fakulteite wat voorloop op hierdie pad van dwaling nie.

Let Wel: Ons is egter nie klaar met die NG Kerk en kerkverbande (soos ringe en sinodes) wat ten spyte van vele swakheid en gebreke, tog nog opreg strewe om getrou te bly aan die merktekens van die ware kerk nie. Soos wat daar vóór die ontstaan van die AS in 1962, volkome selfstandige NG Kerke en kerkvergaderings was, so behou ons ook nou ná en tydens die opskorting steeds ons identiteit as NG Kerk.

8.4 Ons onderskei ons in ons naam

Ons amptelike naam bly dus onveranderd steeds gekoppel aan die NG Kerk of NG Gemeentes. Waar dit egter nodig is om ons te onderskei van ander wat hulself nog NG gemeentes noem, maar wat in hul kerkregering, liturgie, belydenis, leer en wandel nie meer die ooreengekome karakter en identiteit van die NG Kerk vertoon nie, sal ons verkieslik praat van die “NG gemeente …………… (Vrygemaak[10])”.

8.5 Ons verhoudinge met ander NG kerkrade, ringe en sinodes

Ons behou ons kerkverband met die NG gemeentes en meerdere kerkvergaderings wat hulle distansieer van die dwalinge van die AS en wat opreg poog om getrou te bly aan ons ooreengekome lidmaat-, legitimasie- en ampsbeloftes. Ons distansieer[11] ons egter van samewerking met gemeentes en meerdere vergaderings wat die AS se dwaling in woord en daad ondersteun. Ons respekteer ook elke lidmaat en gemeente se reg tot vrye assosiasie, soos bevestig in die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en –Vryhede wat in ons Kerkorde-boek opgeneem is.

8.6 Ons verhoudinge met lidmate, ampsdraers en teologiese dosente

Ons erken en bewaar sovêr moontlik ’n goeie verhouding met alle lidmate, ampsdraers en teologiese dosente van die NG Kerk wat ten spyte van eie swakheid en sonde, steeds getrou bly aan die Here se Woord in ooreenstemming met ons gereformeerde belydenis. Dit is hulle wat ag slaan op vermanings en nie voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard nie.

8.7 Die implementering

Aangesien elke gemeente volledig kerk is (ecclesia completa), respekteer ons elke gemeente se reg om selfstandig op ‘n ordelike wyse te besluit oor hul keuse van kerkverband. Dit sluit in die wyse, datum en omvang van die opskorting asook die finansiële implikasies en praktiese reëlings wat dit mag inhou. Aangesien elke gemeente uniek is in o.a. samestelling, grootte, diensverhoudinge, finansiële vermoëns en verpligtinge, ens., is dit die verantwoordelikheid van elke kerkraad om vóór en tydens die opskorting toe te sien dat alle tersaaklike bates en belange beskerm word, waar nodig (alternatiewe) maatreëls getref word en kontraktuele verpligtinge nagekom en bestuur word [bv. t.o.v. werknemers se diensooreenkomste, gemeentelike projekte, ens.]

8.8 Termyn van opskorting

Opskorting is per definisie tydelik van aard. Opskorting veronderstel altyd ’n tussentydse maatreël wat noodwendig moet uitloop op versoening en herstel van die gebroke verhouding, of anders op ‘n onafwendbare breuk en finale skeiding. Aangesien eersgenoemde slegs moontlik is as ons een is in die waarheid van die Woord en belydenis, sal die eindpunt van hierdie opskorting bepaal word deur die partye se gewilligheid of onwilligheid om te buig voor die gesag van die Woord. Elke kerkraad besluit soos hulle gelei word, self biddend oor die termyn en uitkoms van hul opskorting.

8.9 Die herstrukturering van kerkverband

Ons glo dat kerkverband belangrik is, daarom beywer ons ons steeds vir die herwaardering van die gereformeerde sinodaal-presbiteriale kerkregering en nuwe geografiese[12] en kategoriale[13] kerkverbande met behoudende gemeentes en kerkvergaderings. Ons reik ook uit na wyer kerkverbande met ander Skrifgetroue gereformeerde kerke binne- en buitelands.

Aangesien die kerk van Christus ook nog wyer strek as die gereformeerde kerke, maar almal nie ewe veel die merktekens van die ware kerk dra nie, is ons ook oop vir gesprek en verskillende grade van verhoudinge[14] met ander christelike kerkgroepe, maar sonder om enige beginsel van ons gereformeerde geloof daardeur te verloën.

8.10 Die Koinonia Sinode (KS)

Op 4 Mei 2023 het 56 gemeentes reeds gekonstitueer as Koinonia Sinode wat kategoriaal saamgestel is. Alle behoudende gemeentes van die NG Kerk is welkom om deel te word van hierdie kategoriale sinode. Ons voorsien dat daar ook spoedig in alle streke sinodes tot stand sal kom wat moontlik verkies om geografies saamgestel te wees en dat strukture gevind sal moet word om verder uitdrukking te gee aan kerkeenheid en ons evangeliese identiteit, met die voorbehoud dat gewaak sal word teen hiërargiese strukture waar een vergadering oor ‘n ander vergadering(s) heers. KS is gewillig om gemeentes wat eie sinodes wil vorm, daarin met raad en daad te begelei.

8.11 ‘n Koinonia Ring

Die Ring van Standerton met sy ses gemeentes is erken as die heel eerste Koinonia Ring. Gemeentes wat ook by ‘n Koinonia ring wil inskakel of ’n Koinonia ring wil vorm/konstitueer, is welkom om Standerton te skakel vir meer inligting en ondersteuning.

8.12 Lidmate wat tans in gemeentes is wat nog die dwalinge van die AS ondersteun

Duisende behoudende lidmate voel baie magteloos, ontuis en selfs baie gefrustreerd in vrysinnige gemeentes wat weier om hulle van die AS se dwaling te bekeer. Vir sulke lidmate sal daar ruimte geskep word om, ongeag hul geografiese domicilium, hul lidmaatskap oor te plaas na vrygemaakte gemeentes.

8.13 Voorsiening vir lidmate vêr buite die gemeentegrense

KSDG onderneem om dringende aandag te gee aan die geestelike bearbeiding en die pastorale versorging van sulke lidmate. Alle deelnemende gemeentes sal aangemoedig word om hul eredienste direk aanlyn uit te saai en ook elektronies beskikbaar te stel sodat lidmate van enige omgewing af daarin kan deel.

8.14 Kerklike opsig en tug

Ons wil saamwerk aan die herstel van kerklike opsig en tug as een van die merktekens van die ware kerk soos bely in die NGB. Dit moet egter altyd in liefde en waarheid geskied tot behoud van die sondaar, die heil van die kerk en die eer van God. Ons onderwerp ons self daarom ook aan kerklike opsig en tug van die kerkrade en meerdere vergaderings wat in leer en lewe getrou is aan Artikel 1 van die Kerkorde[15], asook aan ons gemeenskaplike ooreengekome beloftes as lidmate en ampsdraers in die NG Kerk (Sien punt 1-7 van hierdie dokument).

8.15 Huidige en toekomstige kerklike strukture

Ons glo dat ter wille van ’n meer gesonde sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel en die eer van die Here, die Algemene Sinode in sy huidige strukture moet ontbind en vervang word met ’n federale vergadering[16] van onafhanklike volkome selfstandige kerke. Die eenheid van die ware kerk is volgens die Bybel ‘n baie belangrike saak en daarom vir ons steeds hoë prioriteit. Hierdie eenheid is egter nie gelyk aan die skyn van strukturele eenheid of groot getalle nie. Kerkeenheid volgens die Woord is altyd eenheid in liefde en waarheid. Ware eenheid kan dus nie bestaan waar, ter wille van getalle, so na diversiteit gestreef word dat die waarheid en die leuen onder een dak gehuisves word nie. Hoewel die merktekens van ‘n ware en ‘n valse kerk duidelik is, verander geen kerk oornag van ’n ware na ’n valse kerk nie. Soos ons in die Skrif en die kerkgeskiedenis leer, is dit gewoonlik ‘n geleidelike proses met genoeg tyd om te bekeer en te reformeer. Wanneer die proses egter so vêr gevorder het dat kerkvergaderings nie meer wil luister na opregte vermanings vanuit die Woord nie en dit nie eers meer toets aan die Woord en hulle antwoord kan motiveer vanuit die Woord nie, dan is dit tyd om afskeid te neem – nie afskeid van die ware kerk nie, maar van on-Skriftuurlike strukture en die onregmatige indringers in die kerk sodat jy nie verder deel word van die afvallige proses nie. Vir meer as 8 jaar het behoudendes tevergeefs probeer om die AS in liefde terug te roep na die waarheid van die Woord. Ons getuig dus nou onbevrees dat die AS met al sy taakspanne en werkgroepe soos die ASM, ATR, ATLAS, AK en die Teologiese Fakulteite, die vernaamste oorsaak is waarom daar tans so ’n groot gebrek aan ware eenheid in die NG Kerk is terwyl die AS en ASM en sommige kerklike leiers steeds probeer om ‘n skyn van eenheid voor te hou.

Tog geld die afvalligheid nie vir alle NG lidmate, -gemeentes en -kerkvergaderings nie

In Elia se tyd was daar nog 7000 gelowiges wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie. So het daar ook in die sterwende gemeente van Sardis ‘n paar oorgebly wat getrou was aan die evangelie wat hulle ontvang het en nie hul klere met dwaalleer besoedel het nie. Die geskiedenis leer ons ook hoe die verval van die Rooms Katolieke Kerk oor ‘n tydperk ontwikkel het. Daarom glo ons dat daar vandag ook nog baie getroue lidmate is wat nie verblind is deur die Algemene Sinode se proses van afvalligheid nie.

Ons bly dus oop vir gesprek met almal wat bereid is om te praat op grond van die Woord, ons gereformeerde belydenisskrifte, ons lidmaatbelofte, ons legitimasie-eed en ons Kerkorde Artikels 1 en 23.1-2.

Ons is bewus daarvan dat daar behoudende gemeentes, ringe en sinodes is wat in hul unieke omstandighede tans ander opsies oorweeg om los te kom van die verband met die Algemene Sinode. Namibië oorweeg dit om as sinode ‘n artikel 37 proses te volg en Vrystaat volg ook tans ’n eie proses. Indien enige sinode suksesvol die bande met die AS kan losmaak en vir ons die ruimte bied, sal ons oop wees vir gesprek om moontlik by so ’n onafhanklike sinode in te skakel. Ons glo immers dat gelowiges wat dieselfde geloof en belydenis handhaaf, geroep is om hierdie eenheid konkreet in liefde en waarheid uit te leef.

Ons respekteer die selfstandigheid van elke gemeente as volledig kerk. Hierdie is dus nie voorskriftelik vir enige gemeente nie. Ons respekteer ook elke lidmaat en gemeente se reg om eie besluite te neem en onderneem om sovêr moontlik ons kerkverband met alle Skrifgetroue NG lidmate, gemeentes en kerkvergaderings te bewaar. Ons verkies daarom om in noue kontak met alle Skrifgetroue NG kerke en kerkvergaderings te bly. Ons nooi ook behoudende gemeentes en Ringe om met ons te kontak, selfs al volg hulle tans ander opsies.

8.16 Teologiese opleiding

Weens verskeie faktore soos die rol van die staat, die nalatigheid en oënskynlike versuim van die kuratoria om behoorlike toesig te hou, die insypeling van liberale teologie ens. is ons teologiese opleidingsentra gekaap deur voorstanders van ’n vrysinnige teologie. Geen wonder dat die getal studente wat NG leraars wil word, ook drasties afgeneem het nie. Dit vorm deel van die proses van totale afvalligheid wat reeds op byna alle terreine die kerk se werk deursuur het. Die behoudende NG Gemeentes staan voor ’n groot uitdaging om so gou moontlik toe te sien dat alternatiewe opleidingsentra gevind word waar ons studente deeglike gereformeerde Skriftuurlike opleiding kan ontvang. Ons is dankbaar om te rapporteer dat daar reeds heelwat navorsing in dié verband gedoen is. Verder voorsien ons die benoeming van ’n nuwe of alternatiewe begeleidingskommissie (of kuratorium) wat vanuit ons belydenisgrondslag en ons unieke NG-identiteit as gereformeerde kerk kan toesig hou oor die toekomstige teologiese opleiding.

9. Moontlike implementering van hierdie konsep plan

  • Alle tersaaklike kommentaar wat sedert 1 November 2023 uit verskeie oorde ontvang was, is op 15 Februarie 2024 bygewerk en eenparig deur die KSDG aanvaar as konsep riglyn vir ons pad vorentoe. KSDG gee dit deur aan behoudende gemeentes as ons huidige siening vir die pad vorentoe. Dit moet nie gesien word as voorskriftelike dokument nie. Elke kerkraad besluit self wat vir hul gemeente die beste sal wees. Aangesien ons benadering is om deurgaans openlik en deursigtig op te tree, is ‘n afskrif van die eerste voorlopige konsep dokument ook reeds in November 2023 vir kennisname aan die nuutverkose ASM gestuur. Geen antwoord of kommentaar is van die ASM af ontvang nie. Ons bly steeds oop vir sinvolle opbouende kommentaar.

10. Welwillende weg

  • Ons is steeds oortuig dat die beste Skriftuurlike pad om ernstige verskille binne die kerk van Christus aan te spreek, is om ons nie tot die wêreldse hof te wend nie (1 Kor. 6:1)
  • Ons is en was nog altyd bereid om benewens die kerkordelike middele[17] tot ons beskikking, ook toe te tree tot mediasie.
  • Juis daarom het KN en KS asook 56 selfstandige NG gemeentes reeds herhaaldelik skriftelike versoeke gerig aan beide die ASM en die AS vir ‘n proses van eerbare onpartydige mediasie. Ongelukkig was al die versoeke summier geweier.
  • Deur hul hardnekkige weiering van mediasie het hulle die kerk reeds groot skade berokken en plaas hulle die Skriftuurlik-behoudende gemeentes nou in die onbenydenswaardige situasie om ons kerkverband met hulle op te skort.
  • Die besluit tot opskorting word dus geneem om ’n duidelike getuienis uit te dra en met die bede dat dit die Algemene Sinode sal oortuig om terug te keer na gehoorsaamheid aan die Here se Woord. Aangesien die Algemene Sinode reeds herhaaldelik getoon het dat hulle nie daartoe bereid is nie, bied die opskorting die moontlikheid dat behoudendes en vrysinniges se paaie vorentoe – in die gees van Kerkorde Artikel 37 – op ’n welwillende wyse uiteen kan gaan.

11. Aard en inhoud van hierdie konsep

KSDG bied hierdie konsep biddend aan met die verstaan en voorbehoud dat:

  • elke gemeente uit eie reg ecclesia completa is, en
  • elke gemeente ’n eie regspersoon is.

Hierdie is dus slegs ’n konsep en enige besluite en verantwoordelikhede wat hieruit voortvloei berus by die betrokke besluitnemende kerkvergadering.

Stuur kommentaar asb. na ons sentrale epos adres by: norma@vrg.org.za

Vir meer inligting kan ook gekyk word na Koinonia Sinodale Diensgroep se Hervormingsverklaring wat op 29 Oktober 2023 uitgereik is asook die Geloofsverklaring van die Familie van gereformeerde kerke. Albei dokumente is beskikbaar op Koinonia Sinode se webwerf.

Voetnotas

[1] Kerkverband: dui op kerke wat op grond van hulle gemeenskaplike geloof en belydenis met mekaar in ’n verhouding staan – ringe, sinodes en die Algemene Sinode gee amptelik uitdrukking aan die verhoudinge.

[2] Opskort: om voorlopig te onttrek uit alle verhoudinge en samewerking.

[3] Geen gemeente word direk by ’n AS verteenwoordig nie want die AS is ’n sinode van sinodes en nie van gemeentes nie. Die argument dat gemeentes en lidmate nie in verband met die AS staan nie, is egter foutief. Elke gemeente is ecclesia completa en kan dus oor eie verband besluit. Wat leer- en beleidsake betref staan die AS wel in ‘n noue verband met mindere vergaderinge, ampsdraers en lidmate.

  • Daarom kan die Algemene Sinode besluite oor leer en beleid neem wat ook bindend is vir kerkrade en lidmate/ampsdraers (Kerkorde 2019, Artikels 43.1.1; 43.1.4).
  • Daarom bepaal Reglement 4, punt 11.1 “Indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem, is hy bevoeg om die kerk in geheel aan te spreek, dit wil sê mindere kerkvergaderings, ampsdraers en lidmate.”

As daar geen noue verband met mindere vergaderings, ampsdraers en lidmate was nie sou bogenoemde nie moontlik wees nie.

[4] Lidmate en gemeentes het ook ‘n indirekte verband met die AS via ons Streeksinodes. Die implikasie is dat ons dus ook ons verband met die Streeksinodes opskort solank hulle nog in verband met die AS staan.

[5] Samestellende kerke: Dit is die bewoording wat in Kerkorde Artikel 37 gebruik word om te verwys na die selfstandige kerke wat in 1962 saamgekom het om die Algemene Sinode te vorm. Dit word deur die Algemene Taakspan Regte vertolk as die tien sinodes wat tans afgevaardigdes stuur na die Algemene Sinode (vergelyk Kerkorde 2019, p 12, voetnota 20).

[6] Meerdere en mindere vergaderings: Die woord MEERDERE beteken eenvoudig net meer in getal en MINDERE beteken eenvoudig net min in getal. Meerdere vergaderings beteken dus dat ten opsigte van getalle meer kerke as in mindere vergaderings byeenkom. Meer en minder dui slegs op getalverskil. ’n Sinode het geen hoër gesag as ’n ring of kerkraad nie. In ’n kerkraadsvergadering kom die ampsdraers van een plaaslike kerk bymekaar. In ’n ring of ’n sinode kan om baie redes nie alle kerkraadslede van al die plaaslike kerke bymekaarkom nie en daarom word verteenwoordigers afgevaardig. ’n Ring en ’n sinode is dus ’n vergadering waar ’n groter aantal kerke byeenkom, meer as die een plaaslike kerk (Dr. P. Rossouw: Kerkvergaderings, p15).

[7] Eksegetiese inlegkunde i.p.v. uitlegkunde: Eksegese is om die betekenis van die teks te bepaal. Inlegkunde is wanneer mense se eie vooropgestelde idees in ’n bepaalde teks ingelees word terwyl dit ’n nie die betekenis en bedoeling van die teks is nie. Uitlegkunde is om eksegeties te probeer vasstel wat die ware betekenis van die teks self is.

[8] Kerkorde 2015, p 132 en 133, punte 4.9 – 4.11.

[9] Ander kerkvergaderings: In die NG kerk is daar volgens kerkorde vier kerkvergaderings naamlik kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode (vergelyk Kerkorde 2019, p 7, Artikel 18). Verder is daar natuurlik ook oor kerkgrense heen ekumeniese vergaderings.

[10] Gemeentes kan self besluit oor hoe hulle hulself wil onderskei, bv. “Vrygemaak, Reformerend, Skrifgetrou”, ens.

[11] Vergelyk punt 8.8.

[12] “Geografiese” – waar nabyliggende gemeentes met mekaar in verband tree.

[13] “Kategoriale” – waar gemeentes wat dieselfde belydenis, oortuigings, waardes,identiteit, ens. met mekaar in verband tree sonder dat hulle noodwendig nabygeleë gemeentes is.

[14] Die betrokke kerke/christelike kerkgroepe se belydenisgrondslag sal bepalend wees vir die aard van die bilaterale verhoudinge, soos bv.: volle verhoudinge/gedeeltelike verhoudinge/dialoogverhoudinge/insidentele verhoudinge of bloot samewerkingsverhoudinge

[15] In die geval waar kerklike opsig, tug en dissipline toegepas word, het partye die reg op ’n regverdige en billike ondersoek. Indien geoordeel word dat dit nie kan plaasvind met die samestelling van die tugliggaam nie, kan met opgaaf van redes aansoek gedoen word dat ’n ander tugliggaam saamgestel word (Kerkorde 2019, p 111, Reglement vir Tug en Vermaning, punt 1.7).

[16] Federale vergadering: Dit is ’n vergadering van volkome onafhanklike en selfstandige kerke waar geen afdwingbare bindende besluite geneem kan word nie. Daar word dus nie soos tans by die Algemene Sinode, beleid bepaal en besluite geneem waaraan al die selfstandige kerke hulle moet onderwerp nie.

[17] Verskeie Skrifgefundeerde besware by wyse van beswaarskrifte, gravamina en beskrywingspunte gerig aan die Algemene Sinode, is met minagting hanteer (vergelyk punte 2, 8.2 en 8.3).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui