NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant

Kyk ook:

Die artikel hieronder is van Die Burger gekopieer. Dit is die eerste artikel wat oor hierdie kwessie berig het. Na hierdie artikel het die volgende artikels gevolg:

‘n Mens moet baie dankbaar wees dat die NGK hierdie keer die regte ding gedoen het en ’n besluit geneem het in lyn met die amptelike Sinodebesluit van 2007. Hulle het dit egter uiters swak hanteer. As die fakulteit al in Lulani se eerste jaar met haar in gesprek daaroor was, hoekom het hulle haar nie toe al gesê dat dit nie sal werk nie. Het die fakulteit gehoop dat homoseksuele persone teen hierdie tyd al as predikante toegelaat sou word?

‘n Mens is baie teleurgesteld oor prof Hendrik Bosman en dr Braam Hanekom se kommentare. Dit gaan nie vir hulle wat die Bybel (en daarom God) sê oor mense wat homoseksualiteit beoefen nie, maar dit is belangriker wat die wêreld te sê het. Ek wonder wat bedoel Hanekom met “…die gesprek is nie afgesluit nie”? Beteken dit dat daar moontlik ’n tyd sal kom in die NGK waar mense wat homoseksualiteit beoefen wel as predikante toegelaat sal word om in gemeentes diens te doen?

**************

NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant | Die Burger

30 November 2011

Ilse Krige

STELLENBOSCH. – ’n Gay teologiestudent wat nie ’n dokument wou onderteken dat sy selibaat sal bly nie, is nie toegelaat om verlede week saam met haar agt klasmaats vir die NG Kerk gelegitimeer te word nie.

Lulani Vermeulen, wat reeds haar BTh-graad (2009) en MDiv (2010) behaal het, ontvang aanstaande week die Lisensiaat by die Universiteit Stellenbosch se gradeplegtigheid.

Sy het bevestig dat sy reeds vroeg in haar akademiese loopbaan – “vier maande nadat ek begin het” – oop kaarte gespeel het. In Julie van haar eerste jaar is sy al vir gesprekke ingeroep, het Vermeulen gesê.

“Verlede jaar moes gay proponente iets teken dat hulle selibaat sal lewe. Ek is al vier jaar lank in ’n verhouding en wou dit nie ontken nie. Toe moes hulle die keuring hersien,” het sy verduidelik.

Sy het vanjaar, in haar lisen­siaatjaar, wel prakties gedoen, maar kon dit nie deur die NG Kerk doen nie. Sy het dit toe deur die Presbiteriaanse Kerk gedoen.

Intussen wil sy gemeenskapsontwikkeling doen vir Inclusive and Affirming Ministries, van wie sy finansiële hulp gekry en vir wie sy navorsing gedoen het.

“Ek wil steeds bitter graag in ’n gemeente staan – ek glo dit is ’n roeping waaraan ek getrou wil wees.”

Prof. Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die teologie-fakulteit, het bevestig dat Vermeulen aan al die vereistes vir die drie programme voldoen het en dat die lisensiaat dienooreenkomstig toegeken sal word.

“Ons is ook in vennootskap met die kerk en is besig met ’n sensitiewe gesprek tussen akademie en kerk.

“Ons probeer die proses só voer dat die groter geheel gedien word.”

Dr. Coenie Burger, wat voorsitter was van die kuratorium wat die besluit oor Vermeulen moes neem, het gesê hulle het probeer keer dat sy nie die nuus op die einde hoor nie en was heeltyd in gesprek met haar.

“Daar is binne die kerk al hoe meer ruimte vir nie-gelegitimeerdes, maar vir predikante is daar spesifieke vereistes, soos vasgestel deur die vorige algemene sinode.”

Dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in die Wes-Kaap, het gesê: “Ek het wel kennis geneem van Lulani se geval.”

Hy het gesê hulle verstaan daar is sentimente na alle kante toe.

“Ek wil volstaan met die kuratorium se besluit. Kommissies kan nie lukraak besluite verander nie. Maar mense moet verstaan dit is nie die NG Kerk wat moedswillig wil wees nie. Ons is in lyn met feitlik alle hoofstroom-kerke. Dit beteken nie die gesprek is afgesluit nie. Soos in alle kerke moet korrekte sinodale prosesse gevolg word om moontlike verandering te bewerkstellig.”

– Die Burger

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui