Versoek dat NGK gays sal aanvaar

Die volgende berig het in Beeld verskyn. Hierdie is heel waarskynlik nav die Lulani Vermeulen-debakel. Lulani was in 2011 ’n finalejaar teologie student by US (Universiteit Stellenbosch). Sy is egter legitimasie geweier omdat sy ’n uitgesproke gay was. Kyk NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant.

As ’n mens in ag neem wat die Bybel oor homoseksualiteit te sê het, is dit glad nie ’n billike versoek nie (kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit).

Die voorstel en wat die Algemene Sinode 2013 besluit is onderaan die artikel.

***************

Versoek dat NGK gays sal aanvaar

2013-02-13 23:24

Neels Jackson

Die NG Kerk se algemene sinode gaan gevra word om die groen lig vir permanente gay verhoudings en vir gay predikante te gee.

Die kerk se Wes-Kaapse moderatuur het besluit om so ’n voorstel van 26 lidmate deur te stuur met die versoek dat die algemene sinode duidelike leiding oor die saak moet gee.

Die moderamen sê hy besef dis ’n “erg verdelende kwessie in kerke oor die wêreld heen”, maar vra dat die algemene sinode dit “op ’n nugter Skrifgefundeerde wyse” sal hanteer.

In die voorstel vra die 26 lidmate, onder wie dr. Frits Gaum en sy seun, Laurie, dat ’n groot deel van die besluit wat die kerk in 2007 geneem het, net so behou word.

Dit sluit in die besluit dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

Die destydse besluit sê egter ook dat die kerk homoseksuele verbintenisse nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar nie.

Pleks daarvan lui die nuwe voorstel dat die algemene sinode aanvaar daar kan ’n permanente verhouding met ’n unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag wees.

Daar word gevra dat ’n kommissie ondersoek doen “hoe” (nie “of” nie) so ’n verhouding aan Christelik-etiese verwag- tinge kan voldoen.

In hul motivering verwys die groep na ’n “unieke liefdevolle verhouding wat in sommige opsigte aan die huwelik kan herinner en in ander nie”. Presies wat die kerk van so ’n verhouding kan verwag, moet in ’n ondersoek uitgepluis word.

Verder sê die 2007-besluit gays mag predikante word mits hulle selibaat bly.

Dit het later tot ’n herrie gelei toe ’n student wat haar teologiese studie voltooi het nie deur die kerk gelegitimeer is nie omdat sy nie wou beloof dat sy selibaat sou bly nie. In van die kritiek is gesê daar word nie van heteroseksuele studente verwag om ’n soortgelyke belofte af te lê nie.

Die nuwe voorstel hou in dat die voorwaarde van selibaatheid laat vaar word. Daar word in elk geval van alle gedoopte, gelowige lidmate verwag dat hul lewens ’n getuienis moet wees. “Dis ’n gewetensaak,” lui die motivering.

Voorstel soos aangebied by die Algemene Sinode 2013

Die Algemene Sinode word versoek om sy besluit oor Homoseksualiteit (Handelinge, 2007,12.2, bl 204) in hersiening te neem. Die bestaande besluit lui soos volg:

1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.

2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

3. Alle mense, ongeag hulle seksuele orientasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.”

Die hersieningsvoorstel lui soos volg:

Die Algemene Sinode (2013) besluit:

1. Die Algemene Sinode herbevestig punte 1, 2, 3, 4, 5 en 8 van die besluit van 2007.

2. Die Algemene Sinode vervang punt 6 van die besluit van 2007 met: “Die Algemene Sinode aanvaar dat daar ’n permanente verhouding met ’n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan, en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so ’n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen.”

3. Die Algemene Sinode vervang punt 7 van die besluit van 2007 met: “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word.”

MOTIVERING:

1. Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wel aan die huwelik herinner, en in ander nie. Die kerk moet ondersoek instel hoe dit kan gebeur sodat aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.

2. Punt 3 van die 2007-besluit verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar word. Dit beteken onder meer “toegang tot die ampte”. In punt 7 word wel gesê dat die Algemene Sinode homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toelaat, maar dan word bygevoeg dat hulle “‘n selibate lewenstyl (moet) beoefen”. As gedoopte, gelowige homoseksuele mense sonder meer toegelaat word tot al die ampte, kan daar egter nie bykomende eise aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Anders sou aan heteroseksuele predikante ook bykomende eise gestel kon word. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewens daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel. Dit is, op stuk van sake, ’n gewetensaak. Punt 7, ook in sy hersiene vorm, kan desnoods heeltemal weggelaat word, maar dit is in hierdie konteks waarskynlik tog goed as pertinent genoem word dat homoseksuele mense ook predikant kan word – maar dan sonder voorwaardes wat net vir hulle geld.

Besluit in Oktober 2013

Die besluit van 2007 is in sy geheel bevestig (sien 1.5.1 hieronder). Wat dan nou hier verder volg, is die prosesvoorstel ten opsigte van die voortgesette gesprek oor homoseksualiteit deur die moderamen wat deur die sinode aanvaar is, naamlik:

Die Algemene Sinode

1.5.1 bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ’n deeglike eksegetiese en teologiese studie.

1.5.2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ’n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings, in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.

1.5.3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.

1.5.4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui