Lewenslank selibaat al opsie vir gay Matie

Kyk ook:

Van Rapport gekopieer.

**************

Lewenslank selibaat al opsie vir gay Matie | Rapport

4 Desember 2011

Marlene Malan

Seks buite die huwelik druis in teen die Woord van God soos dit deur die NG Kerk verstaan word.

Dit is vir dié kerk “onaanvaarbaar” dat hetero- én homoseksuele ongetroudes buitehuwelikse seks beoefen en dis op grond van dié beskouing dat ’n gay Matie-teologiestudent in haar laaste jaar nie as predikant in dié kerk toegelaat sal word tensy sy instem om selibaat te leef nie.

So sê prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk, en dr. Braam Hanekom, moderator van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode.

Me. Lulani Vermeulen (28) was verlede jaar al deeglik bewus van die NG Kerk se beleid oor buitehuwelikse seks en gay predikante, sê hulle.

Volgens Niemandt “is me. Vermeulen se keuring reeds verlede jaar, in haar M.Div.-jaar, deur die NG Kerk se kurato­rium op Stellenbosch opgehef omdat sy haar nie by die besluit van die algemene sinode (AS) oor homoseksuele gelegitimeerdes (dat hulle selibaat moet wees) wil hou nie”.

“Ek vermoed die kwessie van die ondertekening van ’n dokument (dat sy selibaat sou bly om vir legitimasie toegelaat te word) was ’n praktiese reëling wat die kuratorium getref het om seker te maak sy is bewus van die implikasies van haar besluit.”

Dis ook nie ’n unieke situasie nie, sê Hanekom. “Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het drie jaar gelede ook ’n gay student, mnr. Abé Peters, nie gelegitimeer nie. Toe het geen haan daarna gekraai nie.”

Volgens hom bestaan daar nie ’n vorm wat studente, gay of heteroseksueel, moet teken nie. “Me. Vermeulen het sowat ’n jaar gelede aan die kuratorium gesê sy’s gay en het ’n verhouding en gevra wat die pad vorentoe vir haar inhou. Sy was waarskynlik bewus van die AS-besluit.”

Vermeulen het ook kort ná die aanvang van haar studies in 2006 haar sek­suele oriëntasie teenoor die fakulteit verklaar.

Volgens Niemandt aanvaar die NG Kerk nie homoseksuele verbintenisse en huwelike as alternatief vir die huwelik nie en gay-verbintenisse is tans nie op die agenda van dié kerk nie.

Hy sê alle studente wat vir legitimasie aanmeld, word toegelaat op grond van akademiese vereistes en volgens “die getuienis van hul lewe”.

“Studente is al voorheen legitimasie geweier weens hul lewenswyse.”

Die kuratorium van Stellenbosch stap ’n lang pad met Vermeulen, sê hy, “soos heelwat studente wat ook met liefde be­gelei word waar hul lewenskeuses verskil van kerkbeleid”.

Volgens Hanekom “is dit vir ons ook onaanvaarbaar dat heteroseksuele studente ’n buite-egtelike seksuele verhouding het. Ons probeer met mekaar soos grootmense werk en ’n kerk wees wat bepaalde morele waardes verkondig.

“Die kuratorium het me. Vermeulen verlede jaar gevra om haar posisie op skrif te stel omdat hulle besef het die saak kan nie met informele gesprekke alleen hanteer word nie. Die AS se aktuaris, dr. Johan Ernst, het toe die sinodebesluite bevestig en die kuratorium het dit daarna aan haar gestel dat sy daarom nie gelegitimeer kan word nie.”

Vermeulen het deur ’n klasmaat gesê sy wil nie nou met die media praat nie.

******

Wat sê ander?

* Me. Carike Noeth, ’n klasmaat:

“Lulani is ’n formidabele teoloog, ’n formidabele prediker. Sy beoefen nie net ’n goeie Gereformeerde teologie nie, maar is ’n uitstekende akademikus. Daarby is sy ’n goeie mens, met ’n goeie hart.
“Dis hartseer dat sy nie saam met ons gelegitimeer is nie. Mense het nie geleer om die Bybel verantwoordelik te lees nie.
“Hulle haal soms onkundig daaruit aan. Wat my die seerste maak, is die haatspraak teen haar. Homoseksualiteit is nie ’n siekte nie. God het haar geskep.
“Ek bewonder Lulani oor hoe volwasse sy hierdie hele kwessie hanteer.”

* Universiteit van Stellenbosch

Prof. Nico Koopman, dekaan van Maties se fakulteit teologie, en prof. Hendrik Bosman, waarnemende dekaan, het ­Rapport na die US verwys. Volgens me. Susan van der Merwe van die skakelkantoor “sal die universiteit versoek dat die saak op die agenda van die kerklike skakelraad geplaas word. Die US is gekant teen énige diskriminasie. Dis strydig met die instelling se eie waardes. Die US sal, deur die fakulteit teologie, in gesprek bly met al ons vennote, die NG Kerk ingesluit, oor kwessies van openbare belang.”

* AGS

Dr. Isak Burger, hoof van die Apostoliese Geloofsending in Suid-Afrika, sê die kwessie van gay predikante het ook al in die AGS voorgekom.
Past. Philip Liebenberg, wat deesdae as skrywer en uitsaaier bekend is, “het besluit om nie selibaat te bly nie en het self uit die AGS bedank”.
“Daar is by ons groot deernis en verdraagsaamheid teenoor pastore wat êrens langs die bedieningspad tot die ontdekking of oortuiging kom dat hulle ’n gay-oriëntasie het, maar onderneem om selibaat te bly. Dit was destyds ons verstandhouding met past. Liebenberg.
“Ons sal egter nie iemand wat in ’n selfdegeslag-verhouding staan orden of toelaat om in die bediening te bly nie.
“Ons Skriftuurlike oortuiging, soos weerspieël in die pastorale kode wat deur pastore by ordening onderteken word, is duidelik hieroor. Ons standpunt oor gay-huwelike is ondubbelsinnig dat dit teen die natuur en teen die duidelike uitsprake van die Skrif indruis.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui