Dit is nie goed genoeg nie, NG Kerk (Laurie Gaum)

Kyk ook:

Die volgende is van Die Burger gekopieer.

**************

Dit is nie goed genoeg nie, NG Kerk

1 Desember 2011

Dit is uiters teleurstellend dat die deure van die NG Kerk steeds toe vir sommige is.

Volgens beriggewing (“NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant”, DB, 30.11) is me. Lulani Vermeulen nie toegelaat om in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gelegitimeer te word nie omdat sy nie ’n dokument wou onderteken dat sy as lesbiese vrou selibaat sal bly nie.

Dit is blatante diskriminasie dat van gay studente verwag word om sulke ondernemings te onderteken terwyl dieselfde eis nie aan hul straight eweknieë gestel word nie.

En dat daar skielik na die selibaat (wat gewoonlik net op Katolieke priesters van toepassing is) teruggegryp word deur ’n kerk wat sigself op sy gereformeerdheid roem, slaan ’n mens dronk.

Dr. Coenie Burger sal erken dat die vereistes soos vasgestel deur die vorige algemene sinode wat toelating tot legitimasie (vir gay persone) verleen op grond van ’n selibaat-ondertekening, teologies onverdedigbaar is volgens gereformeerde beginsels wat nie die ampte hiërargies sien nie.

Tog kies die kerk in hierdie geval om aan te hou om mense met ’n gay oriëntasie uit te sluit.

Die NG Kerk word só wéér ’n simbool van uitsluiting.

Dr. Braam Hanekom: Behoort die NG Kerk deur die duur lesse wat ons geleer het as gevolg van die mense wat ons in die verlede (gedurende apartheid) uitgesluit het, nie méér te wil wees as net “in lyn” met (die meeste) ander hoofstroomkerke nie? Behoort ons nie ons eie verantwoordelikheid op te neem nie en te sê ons wil nie meer instrumente van uitsluiting wees nie?

Nie op grond van ras of geslag of seksuele oriëntasie nie.

Laurie Gaum

Kommentaar

Wynand Louw
2011-12-02

Laurie

Dit is tyd om die waarheid te praat.

God verwag van meer “straight” mense om selibaat te wees as van gay mense. Die Bybel leer baie duidelik dat geen seks buite die huwelik (tussen man en vrou) aanvaarbaar is nie. Daar is baie meer enkellopende straight mense in die kerk wat selibaat is omdat God en die Kerk dit van hulle verwag as wat daar gay mense is. Ek persoonlik ken meer as tien mense wat al lank, sommiges dekades lank, selibaat is omdat hulle nie getroud is nie. En ek belowe jou, hulle is nie uit eie keuse enkel nie.

Indien ’n straight leraar van die kerk owerspel pleeg sal hy in sy amp gestuit word of selfs geskors word. Daar word dus geensins teen gays diskrimineer nie.

Ek was nog nooit betrokke in die spesifieke sonde van gay seks nie, maar ek was al by feitlike elke ander sonde in die boek betrokke. En ek kan jou verseker: Daar is ’n rede hoekom God sonde verbied. Sonde is sonde omdat dit destruktief is en die sondaar en sy slagoffers vernietig. Miskien moet mens wonder hoekom so baie mense wat in homoseks betrokke raak selfmoord pleeg, selfs in ons huidige kultuur waar gay-wees opgehemel word, en gays bewonder word vir hulle seksuele orientasie.

Wat jy in effek bepleit, Laurie, is dat daar teen straight mense gediskrimineer word: Dat straight leraars wat saambly buite die huwelik steeds gestraf moet word maar dat gay leraars ’n vrypas moet hê om ’n sonde wat duidelik deur God verwerp word te pleeg.

Dit is ’n verfoeilike leuen dat die kerk teen gay mense diskrimineer. Die kerk het opdrag van God om teen sonde te diskrimineer. Jy is ’n teoloog. Jy ken die verskil.

Mag jy Jesus se genade ervaar.

Dr. Henrietta Klaasing, Groblersdal

Daar is vandag ’n kort uitreksel en ’n skakel na ’n berig oor Laurie Gaum wat die kerk wil verander (Die Burger, 2011/12/03) op ’n onderafdeling van die NG Kerk se Tuisblad.

So Laurie Gaum wil die kerk verander . Hy voeg sy stem by dié van sy pa , Frits Gaum (kyk Fluit-fluit, is die NG Kerk dalk uit, vra Frits Gaum) en ook dié van Nico Geldenhuys (kyk My brief teen die kerkdeur – Nico Geldenhuys).

Hierdie mense se wortels is in die NG Kerk. Ook op die NG Kerk se Diversiteitsforum sug mense blykbaar na verandering, maar hierdie Forum is nie sommer net “iemand se blog” nie. Hierdie forum is gekoppel aan die Tuisblad van die NG Kerk. Om by hierdie Diversiteitsforum uit te kom, moet mens dus eers klik op die Tuisblad van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Heel bo-aan is ’n keuse-lysie, onder andere “Belydenisgrondslag”. Wanneer mens daarop klik , kry mens ’n duidelike uiteensetting van wat die “visie en missie” van die NG Kerk.

Miskien moet die Gaums, Geldenhuyse en andere in die NG Kerk wat graag “die kerk” wil verander daarop gaan klik (hier: http://www.ngkerk.org.za/index.asp?bodyType=belydenis)

Daar word kortliks verklaar:

“Dit (dus dit wat alles op hierdie spesifieke blad aangedui word) vorm ook die belydenisgrondslag van die NG Kerk, omdat dit in ooreenstemming met die Bybel is. Daarin word ons gereformeerde verstaan van die Christelike geloof geformuleer.”

Mense WIL die kerk verander, maar MAG hulle, en indien wel, waarnatoe?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui