Kuratorium was verantwoordelik

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn (skakel).

****************

Kuratorium was verantwoordelik

2012-03-15

Ds Smuts van Rensburg, Hartenbos

Ek verwys na die gesprek oor die nie-toelating van me Lulani Vermeulen tot legitimasie – spesifiek na die “Monitor”-gesprekke (RSG) op 5 en 6 Maart waaraan mnr Hennie Pienaar, dr Chris Jones en mnr Jean Oosthuizen deelgeneem het. Met hierdie skrywe wil ek my geensins uitlaat oor die moreel-etiese aspek of die Skriftuurlike hantering van die saak nie, maar wel oor die kerkordelike hantering daarvan.

Op 5 Maart maak dr Jones die opmerking dat die kuratorium ’n geleentheid laat verbygaan het om ten spyte van sinodebesluite ’n “dapper besluit” te neem. Op 6 Maart sê mnr Oosthuizen dat die kuratorium die baanbrekers moes wees om met ’n “dapper besluit” die sinodebesluite in die wind te slaan.

Die NG Kerk het as ’n gereformeerde kerk nog altyd met die lig waaroor hy beskik erns probeer maak met verantwoordelike Skrifgebruik, die uitbreiding van die koninkryk, goeie Christelike orde in die kerk asook die bewaring en uitbreiding van die kerkverband. Om hierdie doelwitte te bereik, was kerkordelike reëlings en besluite van kerklike vergaderings nog altyd baie belangrik. Minagting van die kerkorde en besluite van die Algemene Sinode deur enige liggaam in die kerk, sou die orde in die kerk en dus ook die kerkverband ’n gevoelige slag toedien. Sodanige minagting sal beslis ook nie die heil van die kerk van Christus dien nie. ’n “Dapper” besluit deur die kuratorium, in weerwil van duidelike besluite van die Algemene Sinode, sou neerkom op blatante minagting en ongehoorsaamheid. So ’n uitdagende besluit hoort nie tuis by ’n mindere vergadering of kommissie van die kerk nie.

Daar is egter nóg ’n baie belangrike saak wat altyd in gedagte gehou moet word, en dit is dat die kerk ook uit ’n suiwer regsoogpunt die spel volgens sy eie reëls moet speel. Kerksake word dikwels in ’n burgerlike hof getoets, wat nie noodwendig nie maar wel ook in hierdie geval sou kon gebeur. Kerksake wat in die hof getoets word, bring ’n regter telkens voor die een groot vraag, en dit is of die kerk by sy eie reëls gehou het. Indien die kuratorium ’n besluit teenoor die besluite van die Algemene Sinode sou neem en so ’n saak in die hof getoets sou word, is daar geen twyfel nie dat die kuratorium die toets sou dop.

Sou dié wat pleit vir ’n “dapper besluit” van ongehoorsaamheid teenoor besluite van die sinode vir die koste daarvan instaan, of sou die koste (weereens) uit kosbare koninkryksgeld verhaal moes word?

Die kuratorium het geen ander keuse gehad nie as om met liefde en deernis in ooreenstemming met die besluite van die Algemene Sinode op te tree. Besluite van die sinode is immers bindend. Daar­mee word die deur vir verdere gesprek op ’n ordelike manier binne die kerk egter nie gesluit nie. Dit staan individuele lidmate en vergaderings van die kerk vry om die weg van ’n beswaarskrif of appèl teen besluite te volg. ’n “Dapper besluit” sou wees om hierdie ordelike weg te volg en so jou mening in ’n meerdere vergadering te toets. Dit is ook die weg waarlangs die heil van die kerk gedien word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui