Ja vir homoseksualiteit mits jy selibaat bly?

Argument: ja vir homoseksualiteit mits jy selibaat bly

Die NG Kerk se Algemene Sinode van 2007 het besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat kan word.

Op die oog af lyk dit na ‘n goeie besluit: om homoseksueel te wees is opsigself nie sonde nie, mits jy selibaat bly. Met ander woorde, jy kan nie help as jy homoseksuele gedagtes het nie, maar dit raak eers ‘n probleem as jy daarop reageer.

Hierdie selfde argument word nou ook vir pedofilie gebruik. Allyn Walker skryf in sy boek “A Long, Dark Shadow: Minor-Attracted People and Their Pursuit of Dignity,” die volgende:

“From my perspective, there is no morality or immorality attached to attraction to anyone because no one can control who they’re attracted to at all,”

“In other words, it’s not who we’re attracted to that’s either OK or not OK. It’s our behaviors in responding to that attraction that are either OK or not OK.”

(kyk The Left’s Appalling Efforts to ‘Normalize’ Pedophilia (18 Nov 2021))

As jy ongemaklik voel hiermee dan het jy goeie rede, want hierdie benadering plaas jou op ‘n baie gladde glybaan: hoe lank voordat die daad nie ook genormaliseer word nie?

Dit dwing mens om weer na die benadering in die 2007-besluit te kyk.

Hierdie argument aanvaar dat homoseksueles nie kan verander nie – jy is so gebore en so sal jy doodgaan. In Word jy gay gebore? word gewys dat dit nie so is nie.

Verder, as hierdie ‘n geldige argument is, dan mag Christene ook soos volg redeneer:

  • ek is ‘n egbreker, maar ek besluit om getrou te bly aan my vrou, of
  • ek is ‘n dief, maar besluit om nie te steel nie, of
  • ek is ‘n moordenaar, maar besluit om nie mense dood te maak nie, of
  • ek is ‘n kwaadprater, maar besluit om nie kwaad te praat nie, of
  • ek is ‘n dronkaard, maar ek besluit om nie te veel te drink nie.

Geen Christen redeneer so nie. Alhoewel alle Christene natuurlik versoekings beleef identifiseer Christene nie met hierdie sondige leefstyle nie.

2 Korintiërs 10:5 sê: Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Dit beteken dat jy die verantwoordelikheid het om elke versoeking onmiddelik te smoor sodat dit nie verder geneem word en deel van jou lewe word nie, soos Spreuke 4 sê: (23)Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Oor egbreek het Jesus gesê: Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. (Mat 5:28)

Hierdie beginsel geld natuurlik vir alle sondes, ook vir homoseksualiteit en pedofilie – as jy hierdie gedagtes toelaat is dit reeds sonde, ten spyte daarvan dat jy selibaat leef.

Daarom is dit nie geldig om jou homoseksualiteit te aanvaar mits jy selibaat bly nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui