Wanneer God ’n gay Christen roep, durf niemand in weg daarvan staan nie – teologiedosent

Kyk ook:

Van Gerrit Brand se blog gekopieer.

**************

Wanneer God ’n gay Christen roep, durf niemand in die weg daarvan staan nie

Woen 30 Nov 2011, 20:28

Die Burger berig vanoggend dat ’n gay afgestudeerde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie nie saam met van haar klasmaats as proponent in die NG Kerk gelegitimeer kon word nie. Die besluit is deur die kuratorium van die NG Kerk geneem en berus op ’n besluit deur ’n vroeër sinode (nie die mees onlangse een nie) dat lidmate in ’n gay verhouding nie in die amp bevestig kan word nie. Aangesien ek ’n dosent aan die fakulteit teologie is en dit hier dus om een van my studente gaan, is dit ’n aangeleentheid wat my diep raak. Dit is vir my dan ook belangrik om duidelik te maak dat die besluit om die betrokke student legitimasie te weier nie deur die fakulteit geneem is, of geneem sou kon word, nie. Laat ek dit toelig.

Die fakulteit teologie is ’n universitêre instansie en dus gebonde aan universiteitsreëls en riglyne. Dit is nie ’n instelling van die NG Kerk nie. Geen kerk het enige seggenskap oor wie aan die fakulteit mag studeer nie. Dit beteken ook dat enige student wat aan die vereiste akademiese standaarde voldoen dieselfde kwalifikasies kan verwerf wat die NG Kerk van potensiële ampsdraers vereis. Die kuratorium wat legitimasie tot die amp kan weier, is ’n kerklike instansie en het as sodanig geen gesag om die aanstelling van dosente, die toelating van studente of die inhoud van modules in die fakulteit te bepaal nie.

Die verhouding met die NG Kerk is dié tussen ’n burgerlike instansie en ’n universiteitsfakulteit. Teologiese studie is in verskeie universiteite, seminaries, Bybelskole en derglike strukture beskikbaar. Uit daardie moontlikhede kies die NG Kerk dan sekeres wat sy reken vir haar potensiële ampsdraers geskik is – tans die teologiefakulteite aan die US, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Nie net die NG Kerk nie, maar ook die VGK en die Uniting Presbyterian Church, erken die teologiese opleiding aan die US vir ampsdoeleindes, en ’n soortgelyke verhouding met die Anglikaanse Kerk is ook tans in wording. Verder studeer ’n groot aantal studente wat aan geen van hierdie kerke behoort nie ook aan die fakulteit. Ook dosente aan die fakulteit behoort aan verskillende denominasies en nie almal is in ’n amp bevestig nie.

Net soos die kerk nie besluite oor die fakulteit kan neem nie, kan die fakulteit ook nie besluite vir die kerklike vennote neem nie – ook nie oor die legitimasie van ampsdraers nie. Nietemin is dit vir dosente aan die fakulteit ’n hartseer saak dat een van hul afgestudeerdes nie haar teologiese opleiding met haar persoonlike roepingsbewustheid kan verenig om as ampsdraer in die kerk te dien nie. Ek kan nie amptelik namens die fakulteit praat nie, aangesien slegs die dekaan dit kan doen, maar ek kan wel noem dat dosente in die fakulteit al by meer as een geleentheid oor hierdie saak met die kuratorium in gesprek was, sy besorgdheid laat blyk het en herbesinning oor die betrokke kerklike besluite bepleit het.

Hoekom het die NG Kerk-kuratorium legitimasie van ’n gay student geweier? Die rede is dat dié student, wat in ’n vaste langtermynverhouding is, nie bereid is om ’n dokument te onderteken waarin sy onderneem om selibaat te bly nie. Die NG Kerk se sinodale beleid op hierdie stadium is dat lidmate in ’n gay verhouding nie in die amp bevestig kan word nie. As NG Kerk-lidmaat vind ek daardie beleid teologies ondeurdag. Sterker nog: ek vind dit skreiend dat medelidmate op so ’n hardvogtige, gevoellose en onmenslike manier behandel word, en dat hul waardigheid as mense wat in die beeld en gelykenis van God geskape is só gruwelik vertrap word.

Ek besef dat die NG Kerk en ander denominasies in die Calvinisties-Presbiteriaanse tradisie se wiele soms stadig draai omdat hierdie kerkverbande nie deur gesaghebbers van bo bestuur word nie, maar deur die gemeentes waaruit die kerk bestaan. Verder is die NG Kerk, wanneer dit by die kwessie van homoseksualiteit kom, nie onder die mees konserwatiewe denominasies nie, en neem talle kerke met ’n minder “demokratiese” bestuurstyl nog onbuigsamer besluite oor homoseksuales.

Dit verander egter nie die feit dat wat in hierdie geval met ’n geroepene tot die kerklike amp gebeur het op sonde neerkom en die Here hartseer maak nie. Elke lidmaat van die NG Kerk, en elke Christen, wat na die koms van God se nuwe skepping smag, behoort bewustelik die smart van God te deel. By die blydskap oor ’n groep afgestudeerdes wat so pas as proponente gelegitimeer is, moet daar ook pyn beleef word oor ’n klasmaat met ’n roeping wat ook daar moes gewees het. Sy moet weet en ervaar dat baie lidmate haar pyn deel en nooit vrede daarmee kan hê nie. Sensitiwiteit, spanninge en versigtigheid durf nie in die pad hiervan kom nie.

Mag die Here deur sy Gees die NG Kerk en ander Christene oor hul dikwels wrede behandeling van homoseksueles tot inkeer bring.

*************

“exiperfexi” het die volgende gevra onder “Kommentaar”: Teken heteroseksuele teologiese studente aan die US , en ander unversiteite, ook so ’n NG kerk -selibaatsertifikaat/dokument om as ongetroudes gelegimiteer te kan word ?

Hier volg Gerrit Brand se antwoord:

My kommentaar op bruggie hieronder betref ’n belangrike aspek van die debat waaraan ek in my oorspronklike skrywe hierbo nog nie aandag gegee het nie. Ek kopieer dit dus ook hier vir kennisname:

Ek kon gepraat het oor die onlogiese dimensies van die proses …

Byvoorbeeld: Indien aangeneem word dat gay verhoudings verkeerd is (‘n gedagte wat ek totaal absurd vind), en as daarby besluit word dat gay mense moet onderneem om selibaat te bly (‘n besluit wat ek afkeurwekkend vind), dan sal konsekwentheid vereis dat ook heteroseksuele studente so ’n verklaring onderteken.

Immers, die amptelike sinodale se posisie is dat seks slegs in die huwelik hoort, en dat seks in enige ander verband, ook in saamwoonverhoudings, dus onaanvaarbaar is. As ’n mens hierdie oordeel aanvaar (wat myns insiens in simplistiese terme verwoord is), dan moet ’n mens in ag neem dat heteroseksueles in die “versoeking” sal wees om buite die huwelik seks te he (hoe maak ’n mens kappies en deeltekens in hierdie kommentaarblokkies?), net soos wat homoseksueles in die “versoeking” is om hul seksuele orientasie fisiek uit te leef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui