Die Hemel is werklik

Kyk ook:

Ek het pas die boek “Die Hemel is werklik” gelees (Kyk Heaven is for real. Ook op youtube (Fox News) (12MB)). Ek kan dit baie, baie sterk aanbeveel. Dit gaan oor Colton Burpo, ’n 4-jarige seuntjie, wat in die hemel was en wat ’n baie Bybelgetroue weergawe van Jesus en die hemel skets (volgens openbaringe in die Bybelboeke Daniël en Openbaring). Op 4-jarige ouderdom sal hy nie hiervan weet in die Bybel nie.

Hy sê onder andere dat Jesus lyk soos hoe Akiane Kramarik Hom geskilder het (Ook ’n aangrypende storie! Hierdie twee gevalle vul mekaar ongelooflik goed aan. Kyk Drawing Heaven).

Hy het ook geweet van sy ma se miskraam, sonder dat sy ouers dit aan hom vertel het, en gesê dat sy ongebore sussie ook in die hemel is (nog ’n saak teen aborsie!).

Hy het oor en oor gesê hoe lief God vir kinders is. Dit laat mens weer besef hoe belangrik kinderbedieninge in die kerk is.

Hierdie boek bevat ook baie interessante waarhede oor redding: Tydens die eerste begrafnis wat Colton bygewoon het na die insident wou hy met mag, mening en ontsteltenis weet of die oorledende Jesus geken het, want indien hy nie Jesus geken het nie, sou hy nie hemel toe gaan nie.

Ook oor die bose: Hy beweer dat daar wel swaarde in die hemel is omdat Satan nog nie in die hel is nie – die swaarde word gebruik om Satan uit die hemel te hou. Hy vertel ook van die laaste oorlog (Armageddon) wat Jesus sal wen (en waarin sy pa sal veg). Sy pa het hom herhaaldelik uitgevra oor Satan, maar elke keer het hy stil en somber geword en wou nie daaroor praat nie.

Ons teoloë kan gerus maar hierdie boek lees en dit ’n voorgeskrewe boek maak vir teologiese studente.

Die vraag is: kan jy hierdie glo? Daar sal natuurlik skeptici wees wat hierdie nie sal glo nie (Bv, die titel van eersgenoemde youtube video van Fox News is “2010’s Best Hoax”. Kyk ook Heaven Is For Real: The Book Isn’t.). Ek is oortuig ons moet dit glo: Die enigste manier dat hierdie nie waar kan wees nie is as die hele gesin saamgesweer het en hierdie gefabriseer het en dat familie en kennisse saamspeel, wat baie baie onwaarskynlik sal wees. Eerder om die vraag te vra of hierdie werklik is, sien hierdie as deel van God se groot genade om keer op keer die mensdom te herinner dat dit nie gaan oor die nou nie, maar oor wat hierna gebeur.

Die boek is tans te koop by onder andere Leserskring.

Nog artikels

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui