NG Kerk ‘gaan skeur’

In die berig hieronder word gesê dat dit as ‘n skok vir kerkleiers kom dat MKN wil wegbreek van die NG Kerk. Hulle wil die MKN selfs beskuldig van “skeurmakery”.

Die vraag is hoekom dit kwansuis so ’n skok is?

Miskien moet hierdie kerkleiers hulleself in MKN se skoene sit: Wat moet jy doen as jy aan ’n kerk behoort waar die volgende geld:

  1. Die Bybel as die gesag van God word nie aanvaar nie (kyk HIER).
  2. Ruimte word gemaak vir lidmate om af te wyk van die basiese geloofswaarhede (bestaan van die duiwel – hiermee verbreek predikante hulle legitimasie-eed).
  3. Ruimte word gemaak vir sonde (saamwoon en homoseksualiteit). Onthou dat behoudendes hierdie sondes in presies dieselfde lig sien as pornografie, hoerery, afgodsdiens, egbreek, owerspel, diefstal, dwelmmisbruik en moord (1 Korintiërs 6:9-11).
  4. Kerkleiers kan openlik twyfel saai dat daar ook ander paaie na die hemel lei. Hierdie kerkleiers word nooit daaroor aangespreek nie (kyk HIER). Na regte moet hulle eintlik onthef word van hulle poste.
  5. Ten spyte van die feit dat die NG Kerk verteenwoordig word op die kuratoriums, is daar teologiese studente wat hulle geloof verloor by die drie teologiese fakulteite. Die behoudende teologiese studente wat wel staande bly voel dat hulle nie vryheid van spraak het nie – hulle vrees dat hulle nie gelegitimeer sal word nie (NGK teologiese fakulteite laat ’n slagveld agter).

Ben du Toit het op 15 November (al ’n hele maand gelede) ’n bom laat bars toe hy erken het dat hy nie meer in God glo nie. Intussen was daar al vele reaksies daarop, maar die NG Kerk se leierskap swyg steeds soos die graf.

Hierdie teologiese strominge kom al ’n baie lang pad en etlike pogings is al aangewend om dit om te draai, maar dit was te vergeefs (kyk Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000 en Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap).

Dit is daarom dat behoudendes nie net kan sit en toekyk nie. Dit help nie om met edele gedagtes te kom dat ons vir mekaar ruimte moet maak oor verskillende sieninge nie. Een van die partye gaan moet verander of ons paaie sal moet skei. Daar is nie ander opsies nie.

Daar het reeds baie lidmate die NG Kerk verlaat oor hierdie rede. Is hierdie lidmate wat die NG Kerk verlaat het ook skeurmakers?

Kyk ook Artikels voortspruitend onderaan hierdie artikel.

**********

NG Kerk ‘gaan skeur’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

13 Desember 2020

’n Skeuring in die NG Kerk oor die kwessie van gay-huwelike lyk onafwendbaar, met leraars en lidmate van verskeie gemeentes wat openlik daarvoor begin voorbrand maak.

Die twee teologiese stromings in die kerk oor selfdegeslagverhoudings “is soos ’n huwelik wat op die rotse is. Die oplossing is maar eintlik soos daardie huwelik waar die pad van hierdie twee… op die een of ander manier gaan skei,” het Pieter Breytenbach, bedryfshoof van die NG Kerk se grootste gemeente, Moreletapark, verlede Donderdag op ’n vertroulike vergadering aan lidmate en predikante van beswaarde gemeentes gesê. Rapport is in besit van ’n opname van die vergadering wat op Zoom gehou is.

Die vergadering was tussen lede van die Moreleta Kairos Netwerk (MKN), waar Breytenbach terugrapporteer het oor gesprekke tussen ’n werkgroep van die MKN en die kerk se algemene sinodale moderamen (ASM) oor die gay-kwessie op 19 November.

Die MKN is in Februarie van stapel gestuur en bestaan uit sowat 60 dolerende gemeentes wat almal sterk gekant is teen ’n vroeëre kerkbesluit om gay-huwelike te voltrek, omdat hulle glo dit in stryd is met wat die Bybel sê.

Die openlike wyse waarop die beswaardes oor kerkskeuring op dié vergadering gepraat het, het as ’n groot skok vir kerkleiers gekom.

“Ons gaan terug na ’n tyd van sensuur vir dié ouens.”

“Dit is baie ernstig. Dit is duidelike skeurmakery,” het een senior kerkleier aan Rapport gesê nadat die koerant die opname vir hom gespeel het.

“Dit is mense wat aan die een kant (vir kerkleiers) sê hulle soek oplossings, maar hulle beplan terselfdertyd ’n strategie om die kerk te skeur.”

Hy meen onder dié omstandighede kan die gesprekke tussen die beswaardes en die ASM om ’n oplossing vir hul geskille te vind nie meer voortgaan nie. Hy het met Rapport gepraat op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie.

Destyds, ná hul vergadering met die ASM, het die MKN-werkgroep die gesprekke in ’n verklaring as “positief” en “ ’n tree in die regte rigting” beskryf. Uit die opname in Rapport se besit blyk dit nou dat die behoudendes dié gesprekke allermins as “positief” beskou.

Breytenbach sê onder meer dat hulle (die MKN) nie daarin belangstel om hulle met die “ander stroming” te vereenselwig nie. Hy sê alhoewel hulle by die ASM aangedring het op ’n spesiale sinodesitting om weer gay-huwelike ongeldig te laat verklaar, meen hulle heimlik dat so ’n sitting geen oplossing gaan bring nie.

“Dit gaan maar net weer die bal aan die rol sit. Daar gaan net weer ’n geveg wees.” Hy sê dit gaan nie help om hande te vat met die ASM “en mekaar te omhels nie. Dit sal miskien gebeur as hulle tot bekering kom. Dan sal ons dit oorweeg.”

Daniel Louw, ’n voormalige lidmaat van die kerk, wou by Breytenbach weet “waarom ons nie meer eerlik en openlik is dat ons wil wegbreek nie”.

Breytenbach se antwoord daarop was dat hulle moet verseker dat “die koninkryk nie te veel skade kry nie”.

“Die regte roete is om dit deur die algemene sinode te doen. Die eerste wegspring is om dit op ’n vreedsame wyse te doen sonder om in ’n bal van bakleiery betrokke te raak.”

Hy sê die uitdaging is om kerkskeuring te bewerkstellig sonder om “goed soos beroepbaarheid, geboue, pensioenfondse en al daardie goed” in gedrang te bring.

Ná Breytenbach se spreekbeurt het ds. Willem Badenhorst, ’n leraar by Moreletapark, verduidelik hoe ver die groep al is met hul planne vir kerkskeuring.

“Moet asseblief nie dink ons trap water nie. Daar word reeds navorsing gedoen oor die aspekte waarvan Pieter gepraat het. Die prosesse is aan die gang. Ons het nodig dat julle agter ons inklim en saam met ons sal skrum.”

Badenhorst sê die werkgroep praat reeds met die Noordwes-Universiteit se teologiese fakulteit oor opleiding vir behoudende predikante.

Breytenbach sê dit gaan nie help om bestaande dosente met liberale neigings sover te kry om “terug te draai nie. Dit is waarom ons kyk om in terme van opleiding totaal iets nuuts te begin.”

Ds. Theo Danzfuss, nog ’n lid van die werkgroep, het gesê hulle moet druk plaas op diegene wat gay-huwelike ondersteun om die kerk te verlaat.

“Iemand moet van die wa afklim en ons wil hê húlle moet afklim. Dis miskien idealisties, maar dit is die feit van die saak.”

Henriëtta Klaasing, ’n afgetrede onderwyskundige, het gesê hulle moet soveel as moontlik lidmate met hulle saamvat.

“Daar is ’n massa mense wat glad nie bewus is wat aangaan nie. Ek noem hulle die oom Jannies en tannie Mollies, wat nie koerante lees nie en nie internet-geletterd is nie. Ons moet soveel as moontlik van hierdie mense saamvat.”

Ds. Stephen Heyns van die Petrus Steyn-gemeente in die Vrystaat het gesê hy berei reeds sy gemeente voor “dat die kerk vir seker uitmekaar gaan spat”.

Heyns het gesê hy praat nie meer met diegene wat selfdegeslagverhoudings steun nie.

“Van hulle was van my nabye vriende gewees. Ek moet hulle wegjaag, want hulle stap nie in die voetspore van Jesus Christus nie.”

Breytenbach het gewaarsku die ASM is bekend daarvoor dat hulle vertragingstegnieke gebruik.

“Ons gaan van ons kant baie druk op hulle plaas om ’n oplossing te vind. Ons wil nie oor en oor hierdie gesprekke hê nie. Dit skep onstuimigheid in jou eie gemeente wat gedoleer het. Jy wil so gou as moontlik stabiliteit skep sodat daar gefokus kan word op die uitdra van die evangelie.”

Lede van die werkgroep het ook op die vergadering ’n beroep op behoudendes gedoen om lektore by universiteite te teiken wat “dwaalleer in hul klasse verkondig”.

“Ons het almal van julle se hulp nodig om vir die groter kerk te vra om teen sulke dosente op te tree,” het ds. Norma Rossouw van die Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark gesê.

“Julle gaan vir ons moet help om die ouens verantwoordelik te hou oor wat hulle vir studente sê. Ons gaan terugbeweeg na ’n tyd waar die ouens onder sensuur geplaas gaan word.”

Dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is duidelik dat die twee teologiese stromings mekaar nie meer tegemoet kan kom nie en hul paaie gevolglik skei.

“Hoe jammer ook, ek dink dit is die voorland van die NG Kerk. Die noodmaatreëls wat ons tot hier gebring het, werk eenvoudig nie meer nie.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, sê hy wil hom nie uitlaat oor die opname nie. “Ek gaan niks sê wat ons gesprekke kan kompromitteer nie.

“Amptelik is ons by praat oor die pad vorentoe. Ek glo daar is ’n klomp misverstande wat uit die weg geruim kan word.”

Artikels voorspruitend

3 thoughts on “NG Kerk ‘gaan skeur’”

  1. Toe open Hy (Jesus) hulle verstand om die skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle. So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly (Kruisiging) en op die derde dag uit die dode opstaan, (Oorwinnaar) en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. Lukas24,45-49.
    En Petrus(van wie Jesus sê; jy is Petrus en op hierdie rots sal ek my gemeente (die liggaam, van Christus) bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie, Matthéüs16,18 gevul met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, en die moed van sy oortuiging, geloof en kennis sê vir hulle, en vir ons vandag nog 2000 jaar later) Bekeer julle; (kom tot geloof en kennis in Christus wat die Weg en die waarheid en die lewe is Johannes14,6 draai weg van sonde wat die dood tot gevolg het Romeine 6,23,) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand2,38
    Dit is die enigste weg.

    1. Christus en sy ondersteuners se haat vir sonde is (of behoort) gebasseer te wees op hul liefde vir Hom, hulself en naaste.
      SALUTE!

  2. Korreksie: Petrus is NIE die rots waarop God se Gemeente Gebou word nie!

    Yahshua Messiah is die rots waarop Sy Gemeente gebou word! Hy se nie vir Petrus: “Jy is die Rots nie, Hy se vir Petrus JY is Petrus en op HIERDIE ROTS (Hyself) wat na Messiah verwys sal Ek My gemeente bou.

    Daardie hele gesprek in Mat 16:13-18 draai dan juis om Messiah, Wie se die mense is Ek, en julle apostels, Wie se julle is Ek? En dan antwoord Petrus: U is die Messiah!

    En direk daarna op Petrus se belydenis dat Hy die Messiah is, dan se Messiah: Hierop sal Ek my gemeente bou, op die belydenis wat Petrus nou net gemaak het!

    Messiah is die Rots wat sou kom, nie Petrus nie:

    1Kor 10:4  en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die Rots was Christus. 

    En wie is ’n Rots behalwe onse God?

    Psa 18:32  Want wie is God buiten die HERE, en wie is ’n rots behalwe onse God? 

    En wat beteken dit dat Messiah vir Petrus se: “Op hiedie Rots (d.w.s. Messiah) sal Ek my gemeente bou?” Dit beteken dat op hierdie vastigheid (Rots) dat God Vlees en Bloed deelagtig geword het (Joh 1:1-14; Jes 9:5-5; Mat 1:23; 1Tim 3:16; 1Tim 6:3-5), daarop en daarop alleen kan Sy (d.i. God se) gemeente gebou word en op niks anders nie!

    Indien Petrus die ‘rots’ gemaak word dan het dit absoluut geen blywende betekenis nie!!

    Mens kan net nie verstaan dat na sovele jare die ‘kerk’ in sulke wanbegrippe vasgevang is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui