Die Bybel oor seks voor die huwelik

Kyk ook:

Die Bybel oor…

Is die Bybel duidelik oor seks voor die huwelik?

Dit is interessant dat die Bybel baie minder duidelik is oor seks voor die huwelik as oor homoseksualiteit. As ’n mens egter die Bybel as ’n geheel lees, kan ’n mens tog duidelik aflei dat God seks slegs vir die huwelik bedoel het en dat die huwelik bedoel was “tot die dood ons skei” (kyk Matteus 19:3-12).

‘n Paartjie wat saamwoon beteken gewoonlik dat so ’n paartjie ’n seksuele verhouding het. En selfs indien hulle werklik nie ’n seksuele verhouding het nie, sal daar nie baie mense wees wat hulle sal glo nie en sal hulle ’n verleentheid vir God wees – hulle sal nie tot opbou van God se koninkryk wees nie. (Kyk ook 1 Korintiërs 10:23-33.) As jy hiermee besig is, stop daarmee, want dit dra nie God se goedkeuring weg nie. Die gevolge mag dalk baie erger wees as wat jy dink (1 Korintiërs 6:9-10). Net soos mense in homoseksuele verhoudinge hulle sonde moet stop (kyk Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?), so moet mense hulle weerhou van seks voor die huwelik.

Wanneer paartjies saamwoon, gebeur dit soms dat die man baie traag is om tot trou oor te gaan wat tot groot frustrasie en onsekerheid vir die vrou/meisie lei. Die rede is omdat dit baie makliker is om so ’n verhouding te beëindig as wat dit sou wees indien hulle getroud was. Wie sal immers die koei koop as jy die melk verniet kry?

Daar is mense wat beweer dat hulle wil saamwoon omdat dit te duur is om apart te woon. Die vraag is wat belangriker is: om gehoorsaam te wees aan God, of om geld te spaar? Moontlike voorstelle vir so ’n geval is dat die man en vrou by vriende of ouers kan woon totdat hulle gereed is om te trou of hulle kan dadelik trou. Ek ken persoonlik paartjies wat getrou het as studente: beide hulle ouers het hulle steeds finansieel gedra totdat hulle begin werk het, net soos hulle in elkgeval hulle kinders finansieel sou dra indien hulle nie getrou het nie.

Sommige redeneer dat paartjies slegs kerklik (voor God) kan trou en dat dit nie nodig is om juridies (wetlik) te trou nie. Dit is reg, mits die rede nie is om in die toekoms die verhouding makliker te verbreek nie. Per slot van rekening is ’n belofte voor God baie meer bindend as ’n belofte voor ’n regter.

Ek dink ’n mens moet dit sien dat ’n seksuele verhouding gelykstaande is aan ’n belofte voor God tussen ’n man en vrou om lewenslank aan mekaar verbind te wees “tot die dood ons skei”. As ’n mens die saak so sien, dan is daar werklik GEEN rede hoekom enige paartjie seks voor die huwelik hoef te hê nie. As ’n paartjie seks het, en daarmee effektiewelik ’n belofte aan God gemaak het om lewenslank aan mekaar getrou te bly, dan kan ’n mens net sowel hierdie belofte in die openbaar maak. ’n Mens moet onder geen omstandighede dink dat ’n belofte aan God ligtelik gesien kan word nie.

Daar is dus werklik geen verskoning om saam te woon nie.

Hier volg ’n paar gedeeltes uit die Bybel met besprekings wat bevestig dat God seks voor die huwelik verbied.

God het die huwelik ingestel

Sommige mense redeneer dat God nooit die huwelik instel het en dat dit deur die staat/regering gedoen het. Maar reeds baie vroeg in die Bybel, nog voor enige regerings, word gepraat van die huwelik.

Genesis 2:24

(24) Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Alhoewel die woord “huwelik” nie gebruik word nie, is dit duidelik dat God hier na ’n huwelik verwys. Kyk ook Matteus 19:4-5.

Matteus 19:3-12

(3)Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag ’n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?” (4)Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? (5)Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ (6)Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” (7)Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou ’n skeibrief gee, hy van haar kan skei?” (* Kyk nota hieronder) (8)Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. (9)Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk.” (10)Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.” (11)Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. (12)Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. “Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”

In die gedeelte hierbo is dit duidelik hoe God oor die huwelik voel wat reeds baie vroeg ingestel is. En dit was al so in Moses se tyd ook.

* Nota vir Matteus 19:7 hierbo:

  • Levitikus 22:13 : “As so ’n dogter egter ’n weduwee word of van haar man skei en sy geen kinders het nie, mag sy weer by haar pa gaan inwoon soos toe sy ’n jongmeisie was en kan sy ook van die kos eet wat hy ontvang.”
  • Deuternomium 24:1 : “Wanneer ’n man met ’n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ’n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.”

Oor seks voor die huwelik

Die volgende gedeeltes in die Bybel wys dat seks nie bedoel is voor die huwelik nie:

Genesis 16:2-5

(2)Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ’n kind in die wêreld wat my eie kan word.” En Abram het saamgestem met sy vrou. (3)Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het. (4)Hy het by Hagar gaan slaap, en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag. (5)Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.”

Dit lyk nie of Abraham amptelik met Hagar getrou het voor hulle gemeenskap gehad het nie, maar Hagar was daarna Abraham se vrou en sou nie met ’n ander man kon trou nie. Net soos die vroue van Dawid en Salomo: Salomo het 700 vroue en 300 byvroue gehad. Hy kon onmoontlik aan almal aandag gee, maar hulle was die koning se vrouens en kon nie met ander mans trou of gemeenskap hê nie. Vir die kwessie of mans meer as een vrou mag hê, kyk:

Genesis 19:8 en 14

(8)Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met ’n man gehad nie.
(14)Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê:

Hiervolgens was Lot se twee dogters verloof, maar hulle het nog nie gemeenskap gehad nie.

Genesis 20:3-4

(3)Een nag het God in ’n droom aan Abimelek verskyn en vir hom gesê: “Jy gaan sterf omdat jy met hierdie vrou wil trou. Sy is al getroud.” (4)Abimelek het nog nie met haar geslagsgemeenskap gehad nie…

Abimelek wou al met Sara trou, maar het nog nie gemeenskap met haar gehad nie. Dus was dit in daardie tyd glad nie soos in die flieks waar ’n paartjie eers saam in die bed spring en daarna besluit of hulle sal trou nie.

Genesis 29:21-30

(21)Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.” (22)Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, (23)maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. (24)Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee. (25)Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?” (26)Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat ’n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. (27)Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.” (28)Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. (29)Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee. (30)Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

’n Mens kan hier duidelik aflei dat Jakob eers gemeenskap met Lea en Ragel gehad het nadat hy met hulle getrou het.

Genesis 30:4 en 9

(4)Ragel het vir Bilha aan Jakob gegee as vrou en hy het met haar gemeenskap gehad.

(9)Toe Lea besef sy bring nie meer kinders in die wêreld nie, het sy haar slavin Silpa gevat en vir Jakob gegee as vrou.

Jakob het dus 4 vroue gehad. Hy het nie kinders by sy slawe gehad nie, maar by sy vier vroue.

Eksodus 22:16

(16)”Wanneer ’n man ’n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou.

Levitikus 18

(5)Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.
(6)”Niemand van julle mag met ’n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.
(7)”Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.
(8)”Jy mag ook nie met ’n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.
(9)”Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met ’n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.
(10)”Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.
(11)”Jy mag nie met ’n halfsuster aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou suster.
(12)”Jy mag nie met jou tante aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou pa se bloedverwant.
(13)”Jy mag nie met jou tante aan moederskant gemeenskap hê nie, want sy is jou ma se bloedverwant.
(14)”Jy mag nie jou oom die skande aandoen dat jy met sy vrou gemeenskap het nie. Sy is immers jou tante.
(15)”Jy mag nie met jou skoondogter gemeenskap hê nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.
(16)”Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring.
(17)”Jy mag nie gemeenskap hê met ’n vrou en met haar dogter nie. Jy mag die vrou nie die skande aandoen dat jy met ’n kleindogter van haar trou nie. Hulle is haar nageslag en dit sal ’n afstootlike daad wees.
(18)”Solank jou vrou lewe, mag jy nie met haar suster trou nie. Daar sal vyandskap tussen hulle ontstaan as jy met albei gemeenskap het.
(19)”Jy mag nie met ’n vrou gemeenskap hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.
(20)”Jy mag nie met jou naaste se vrou gemeenskap hê en jouself só verontreinig nie.
(21)”Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.
(22)”Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
(23)”Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. ’n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.
(24)”Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf.
(25)Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het.
(26)Julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge by julle, moet my voorskrifte en bepalings gehoorsaam. Julle mag geen van dié afstootlike dinge doen nie.
(27)Omdat die vorige inwoners hierdie afstootlike dinge gedoen het, is die land verontreinig.
(28)As julle die land verontreinig, sal hy júlle ook uitspoeg soos hy die heidene vóór julle uitgespoeg het.
(29)Elkeen wat enige van hierdie afstootlike dinge doen, sal van sy volksgenote afgesny word!
(30)Wees gehoorsaam aan wat Ek julle beveel. Vermy die afstootlike gebruike van die vorige inwoners en hou julleself rein. Ek is die Here julle God.”

Hier word duidelik gesê met wie jy nie geslagsgemeenskap mag hê nie. ’n Hele lys van mense word genoem behalwe ongetroude meisies. Kyk ook Levitikus 20. Skeptici kan hierdie gebruik om te wys dat seks voor die huwelik toelaatbaar is, maar ek dink dat dit maar is omdat hulle so vroeg getrou het. Nog voor seksdrange ’n kwessie was, het “kinders” getrou. Of dit was so vanselfsprekend dat dit nie saam met al die ander dinge genoem word nie.

Numeri 5

(11)Die Here het aan Moses opdrag gegee
(12)(5:12-5:15) om vir die Israeliete te sê: “As ’n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir ’n geval van agterdog, ’n offer wat moet aantoon of daar oortree is.

(16)Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan. (17)Die priester moet ’n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi. (18)Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat ’n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en ’n vloek oor haar kan bring, self vashou. (19)Hy moet die vrou onder eed plaas en vir haar sê: As iemand anders nie met jou gemeenskap gehad het nie en jy as getroude vrou jouself nie met ’n ander man verontreinig het nie, mag jou onskuld dan bewys word deur hierdie water wat bittere smart en ’n vloek oor jou kan bring. (20)Maar as jy, as getroude vrou, ontrou was en jouself verontreinig het deurdat jy met iemand anders behalwe jou eie man gemeenskap gehad het, (21)(5:21-5:22) mag die Here dan gee dat jou eie mense jou sal vervloek en verwens. Mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Mag hierdie water wat die vloek veroorsaak, in jou maag kom om jou buik te laat opswel en jou vrugbaarheid te laat vergaan. “Dit alles moet die priester sê vir die vrou wat staan onder ’n eed dat ’n vloek haar kan tref as sy skuldig is. Dan moet sy sê: ‘Amen, amen.’ (23)”Die priester moet hierdie vervloekinge neerskrywe en die letters uitwis in die water wat bittere smart sou kan veroorsaak. (24)Hy moet die vrou van die water laat drink wat bittere smart en ’n vloek oor haar kan bring, sodat die water wat ’n vloek van bittere smart veroorsaak, in haar kan ingaan. (25)Daarna moet die priester uit haar hand die offer vat wat vir die agterdog bedoel is, dit in teenwoordigheid van die Here beweeg en dit na die altaar toe bring. (26)Die priester moet ook ’n handjievol van die graanoffer as simbool van haar hele offer vat en op die altaar verbrand, en daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink. (27)Die water wat hy haar laat drink, sal, as sy haar verontreinig en troubreuk teenoor haar man gepleeg het, in haar ingaan en die vloek meebring wat bittere smart sal veroorsaak, en dit sal haar buik laat opswel. Haar vrugbaarheid sal vergaan en haar mense sal haar vervloek. (28)Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie en getrou was, sal haar onskuld bewys word en sal sy kinders kan kry. (29)”Dit is dan die voorskrif vir gevalle van agterdog. As ’n vrou ontrou word aan haar man en haarself verontreinig, (30)of as ’n man agterdogtig begin raak en sy vrou verdink, moet die priester die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan en met haar handel presies volgens al die bepalings van hierdie voorskrif. (31)Die man sal onskuldig wees, maar die vrou sal vir haar oortreding moet boet.”

Hierdie gedeelte gaan meer oor vrouens wat onttrou aan hulle mans is binne die huwelik, maar dit wys hoe ernstig God is oor hierdie kwessie.

Deuternomium 21:13

(13)en haar klere wat sy as krygsgevangene gedra het, uittrek. Sy moet in jou huis woon en ’n maand lank oor haar ouers treur. Daarna kan jy met haar gemeenskap hê, en is jy haar man en sy jou vrou.

Gemeenskap/seks word hier geassosieer met ’n huwelik.

Deuternomium 22:13-30

(13)”Wanneer ’n man ’n vrou trou, kan dit gebeur dat hy ’n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het (14)en haar van slegte gedrag beskuldig en haar ’n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy ’n maagd was, by haar gevind nie.’ (15)Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy ’n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort (16)en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar. (17)Hy beskuldig haar van slegte gedrag deurdat hy sê hy het nie enige tekens dat sy ’n maagd was, by haar gevind nie. Maar hier is die tekens dat my dogter ’n maagd was.’ Dan moet haar pa haar nagklere vir die leiers van die stad wys. (18)Hulle moet die man dan met ’n sweep slaan (19)en hom met elf honderd en veertig gram silwer beboet. Hulle moet die geld vir haar pa gee omdat die man haar, ’n maagd van Israel, ’n slegte naam laat kry het. Sy sal ook die man se vrou bly. Hy mag nooit van haar skei nie. (20)Maar as die man die waarheid gepraat het, en daar nie enige tekens dat sy ’n maagd was by haar gevind is nie, (21)moet hulle haar by die deur van haar pa se huis laat uitkom en die mans van die stad moet haar daar met klippe doodgooi. Sy moet sterf omdat sy ’n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met ’n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei. (22)”Wanneer ’n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ’n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei. (23)”Wanneer ’n man ’n verloofde meisie in die stad raakloop en met haar gemeenskap het, (24)moet jy altwee na die stadspoort toe uitbring en met klippe doodgooi. Hulle moet sterf: die meisie omdat sy nie in die stad om hulp geroep het nie en die man omdat hy die verloofde van sy volksgenoot onteer het. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei. (25)Maar as ’n man ’n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. (26)Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer ’n man iemand gryp en vermoor. (27)Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie. (28)”Wanneer ’n man ’n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, (29)moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie. (30)”‘n Seun mag nie met sy pa se vrou trou nie. ’n Seun mag nie gemeenskap hê met ’n vrou wat aan sy pa behoort nie.”

Vers 13 is duidelik daaroor dat seks eers na die troue toegelaat is.

Vers 20 en 21 wys hoe ernstig seks voor die huwelik was.

Vers 28-29 verwys nie na verkragting nie, maar wedersydse toestemming tot seks. Vers 25 dui op verkragting.

Hooglied 2:7 en 3:5

Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.

Dit is nie heeltemal duidelik wat hierdie gedeelte bedoel nie, maar sê die vrou dit nie om seks voor die huwelik te verhoed nie?

Esegiël 23

(2)”Mens, daar was twee vrouens, dogters van dieselfde ma. (3)Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies was, is daar al aan hulle borste gevat. (4)Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s’n was Jerusalem.
(8)Sy het haar onsedelikheid waarmee sy in Egipte begin het, nie laat vaar nie. Hulle het toe sy nog jonk was, by haar geslaap, aan haar borste gevat toe sy nog ’n jongmeisie was. Hulle het hulle luste laat botvier met haar.

Die Bybel gee selfs riglyne oor fisieke grense vir verhoudings voor die huwelik.

Hosea 5:7a,b

(7)Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig.

Seks voor die huwelik beteken ook die moontlikheid van buite-egtelike kinders.

Matteus 1

(18)Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. (19)Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. (20)Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

Dit was vir Josef ’n groot skande dat Maria swanger geraak het nog voor hulle getroud was, daarom wou hy die verlowing verbreek. God het egter vir hom laat weet om dit nie te doen nie omdat sy wel nog ’n maagd was.

1 Korintiërs 6:15-20

(15)Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ’n deel van Christus neem en dit ’n deel van ’n ontugtige vrou maak? Beslis nie! (16)Of weet julle nie dat iemand wat met ’n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” (17)Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. (18)Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. (19)Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: (20)julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

1 Korintiërs 7:1-2, 8-9, 36

(1)Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, (2)maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

(8)Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. (9)Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

(36)As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde (ou vertaling: maagd) onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie.

Hierdie gedeelte is duidelik oor seks voor/buite die huwelik.

Efesiërs 5:3

(King James) (3)But fornication, and all uncleanness, or covetousness, let it not be once named among you, as becometh saints;

Volgens die tweetalige woordeboek en google translate beteken “fornication”: hoerery, ontug of owerspel. Dit kan ook verwys na seks voor die huwelik soos volgens die Mirriam-Webster woordeboek se definisie vir “fornification”: “Consensual sexual intercourse between two persons not married to each other — compare adultery“.

Volgens Does the Bible Really Condone Premarital Sex? het die Bybel laasgenoemde bedoel met “fornification”:

“…I pointed out that the Bible repeatedly instructs God’s people to “flee fornication.” For 2000 years, the word translated “fornication” in Scripture has been understood to include the prohibition of sex prior to marriage. Webster’s dictionary definition is clear: ‘consensual sexual intercourse between two persons not married to each other.’ ”

1 Tessalonisense 4 (NLV)

(3)Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes. (4)Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle ’n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. (5)Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie. (6)Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê en julle ernstig gewaarsku. (7)God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy. (8)Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

Hierdie gedeelte sluit duidelik aan by 1 Korintiërs 7:36 (kyk hierbo): As jy ’n vrou soek mag jy nie met haar seks hê voor julle getroud is nie (“Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek…nie“)

Hebreërs 13:4

(4)Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

Hierdie vers dui spesifiek op seks buite die huwelik, nie noodwendig seks voor die huwelik nie.

———-

Kyk ook na die volgende aanhaling:

“Scientists jumped on Darwin’s “Origin of Species” because the idea of God was too restrictive to their sexual morals.” – Julian Huxley, ’n ateïs en evolusionis.

Dus weet hierdie mense dat God nie seks voor die huwelik toelaat nie en daarom verkies hulle om eerder in evolusie te glo ipv God.

Ek dink nie dat mense dit ooit betwyfel het dat seks buite die huwelike sonde was nie. Die samelewing het egter verander en wil nou probeer om die Bybel te verander.

‘n Mens moenie die rol van voorbehoedmiddels en aborsie onderskat nie. Hierdie twee dinge het voorhuwelikse seks baie makliker gemaak, omdat buite-egtelike kinders feitlik heeltemal uitgeskakel kan word (kyk weer Hosea 5:7a,b hierbo). Aborsie is natuurlik nog ’n verdere sonde (kyk Storie oor aborsie).

Verdere leeswerk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui