Is NG Kerk dan twee-kerke-in-een?

Kyk ook Nelis Janse van Rensburg se argumente ongeldig waarin ds Jan Louw kommentaar lewer oor die moderator se video.

********

Is NG Kerk dan twee-kerke-in-een? | Kerkbode

Deur Henrietta Klaasing

1 Februarie 2021

Op 20 Januarie is ’n videoboodskap van ds Nelis Janse van Rensburg geplaas onder die opskrif: “Ons aandag hoort nou by sorg, nie stryd”.

Die hoofboodskap van hierdie video gaan oor eenheid in die NG Kerk. In verskillende berigte in die media, ook hier in Kerkbode word dit duidelik gestel dat die algemene sinode reeds die kerk geskeur het.

Daar is ook herhaaldelik berig dat eenheid vir baie mense en ook vir MKN (wat pertinent deur ds Janse van Rensburg genoem word) belangrik is. Ds Theo Danzfuss word aangehaal in bogenoemde berig: “Ware kerkeenheid is vir ons baie belangrik maar die Bybel ken geen eenheid ten koste van die waarheid nie. Dit is slegs moontlik waar gelowiges ooreenkom om saam in liefde by die waarheid te bly. Die Bybel ken geen kunsmatige eenheid ten koste van die waarheid nie.” Daarmee kan ek my heelhartig vereenselwig.

Om sy punt te stel, word diversiteit en verskille verskeie kere genoem deur ds Janse van Rensburg en word aan die hand van voorbeelde bespreek. Soos die verskeidenheid mense wat betrokke was by die uitstorting van die Heilige Gees en arm en ryk wat daarna ruimte maak vir mekaar. Dan praat hy oor die verskille aangaande die eet van offervleis. Die sinode in Jerusalem oor onder andere die eet van offervleis in Handelinge 15 was nie bloot ’n vergadering om mekaar se opinies aan te hoor en ’n kompromie te vind oor verskillende standpunte nie. Dit is swak eksegese om daardie Skrifdeel te gebruik om lidmate te probeer oortuig om ’n gesindheid van verdraagsaamheid te openbaar oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk.

Volgens ds Janse van Rensburg kan daar ’n gemeente wees wat sê ons sal homoseksuele verhoudings akkommodeer, maar nooit kondoneer nie. Ander sê nee, ons sluit hulle in. Die kerk wil ruimte maak vir albei standpunte. Altwee is bona fide. Daar is twee ruimtes. Hiermee verklaar hy dat die NG Kerk eintlik “twee-kerke-in-een” kan wees. Dit is tog onhoudbaar! Jesus self as die Woord verklaar in Markus 3:24: “As ’n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie”.

Teen die einde vra hy dat ons mekaar moet versorg, met mekaar moet praat en ons hande uitsteek na mekaar en meld ook dat dit ’n tyd is om saam te bid en om getroos te word deur die Trooster. Daarmee kan ek myself ook heelhartig vereenselwig. Voordat dit alles kan gebeur, sal daar ernstig besin moet word oor wanneer ware kerkeenheid bewerkstellig kan word, wat is waarlik kernsake in God se Woord en wat is randsake en die onhoudbaarheid van ruimtes wat so wyd is dat dit God se koninkryk onderling verdeel. DAAR hoort ons aandag.

Ek skryf hierdie in my eie hoedanigheid as gewone besorgde lidmaat.

1 thought on “Is NG Kerk dan twee-kerke-in-een?”

  1. gemeentes wat onheilige regulasies implementeer en so doen verlei dit elkeen (meederheid onwetend) wat bywoon.. Sien e-pos van NG kerk leraar Bothaville Dr. Pieter na my

    From: Pieter van Jaarsveld
    Date: Thu, Dec 5, 2019 at 4:24 PM
    To: Mark
    Cc:

    Beste Mark

    Die NG Kerk het met die sitting van die Algemene Sinode in 2007 besluit dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is. Die besluit is op 8 Oktober 2019 herbevestig.

    Die besluite oor selfdegeslagverbintenisse wat met die sinodesittings in 2015 en 2016 geneem is, is herroep.

    Die Algemene Sitting het op 8 Oktober 2019 die besluit geneem dat die publieke verbintenisse (lw nie huwelik nie) tussen persone van dieselfde geslag erken word.

    Die Algemene Sinode het ook besluit dat die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk nie namens die leraars van die kerk by die Departement van Binnelandse Sake aansoek gaan doen vir lisensies dat hulle publieke verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag kan bevestig nie. Hierdie verantwoordelikheid is afgewentel na kerkrade as die werkgewers van leraars. Kerkrade (gemeentes) kan dus nou self besluit of hulle vir hulle leraar gaan aansoek doen om publieke verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te voltrek.

    Groete

    Dr PJ van Jaarsveld (Pieter)

    Leraar: NG Kerk Bothaville

    Posbus 67, Bothaville, 9660 / Gardenstraat 89, Bothaville

    Tel: +27 (0) 56 515 2209

    Sel: +27 (0) 82 852 5702

    Faks: +27 (0) 86 590 0216

    E-pos: pjvanjaarsveld@telkomsa.net

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui