Gló soos aan begin

Frits Gaum het die artikel hieronder geskryf na aanleiding van die debat oor evolusie in Rapport die afgelope tyd (kyk Debat oor evolusie in Rapport 2020).

Ek hoor al sekere gelowiges oor hierdie artikel sê: “Dít is nou ’n gebalanseerde opinie.” So asof “gebalanseerd” die regte opinie behoort te wees.

Omdat daar reeds soveel kommentaar gelewer is in hierdie debat het ek slegs enkele kommentare gelewer tussen die teks in rooi-bruin blokhakies.

**********

Gló soos aan begin | Netwerk24

Deur Frits Gaum (1349 woorde)

23 Augustus 2020

Die meeste gelowiges is dit eens dat kreasioniste die evolusie-debat van die verkeerde kant benader, skryf Frits Gaum.

Die Stellenbosse paleontoloog Jurie van den Heever se menings dra gewig. [Sommer met die intrapslag beroep Frits hom op outoriteit. In die res van sy artikel maak hy ook baie van die hoofstroomkerke teenoor die “randdenke” (kreasioniste en fundamentaliste).] Daarom is sy artikel in verlede Sondag se Weekliks (“Die gerief van net gló”) belangrik. Baie belangrik is sy stelling dat “die wetenskap, en by uitstek die evolusionêre biologie, vir werklik gelowige mense die wonder en grootsheid van God se skepping ontsluit”. Ek lei af dat Van den Heever hom by hierdie “werklik gelowige mense” wil skaar.

Van den Heever wys met reg die idees van “kreasioniste” af. Hy dui ook aan wie hy as kreasioniste beskou. Dit is onder meer Amerikaners wat die King James-vertaling van die Bybel as die absolute waarheid erken (hier by ons is dit seker Afrikaanse mense wat net die 1933-vertaling van die Bybel erken, of dalk die Statenvertaling). Hulle meen ook dat die kosmos in ses dae van 24 uur elk geskep is en dat die aarde hoogstens 10 000 jaar oud is. Van den Heever skryf dat genoemde kreasioniste reglynig met die hoofstroomkerke se interpretasie van die Bybel verskil en die hoofstroom- Christelike teologie ondermyn.

Hiermee sal die meeste denkende Christene saamstem. Om die Genesis-verhaal as ’n wetenskaplik korrekte weergawe van die skepping te wil beskou, is onhoudbaar. Genesis, en die Bybel, is ten ene maal nie ’n wetenskaplike handboek nie. Genesis vertel dát God geskep het; die wetenskap vertel hóé dit gebeur het – deur evolusie.

[Dus, wat Frits sê is dat Christene wat in ’n sesdagskepping glo, nie denkend is nie, maar eintlik baie naïef.]

Genesis – en die Bybel – probeer nie bewys dát daar ’n God is nie, maar gaan uit van die standpunt dat God ís. Die wetenskap kan baie dinge bewys, maar nié dat daar nie ’n God is nie.

Daar is die pragtige storie (nee, dit kom nie uit die King James- of die Statenvertaling nie . . .) dat ’n paar wetenskaplikes tot die slotsom gekom het dat hulle nou alles bewys het wat bewys kan word en dat hulle vir God moet gaan sê God kan maar abdikeer, daar is niks meer vir God om te doen nie. Hulle kom toe by God en stel voor dat God abdikeer. God stem in mits hulle eers ’n mensmaakkompetisie hou en die wetenskaplikes die beste daarvan afkom. Die enigste voorwaarde is dat dit soos heel aan die begin moet gebeur. Ja goed, stem die wetenskaplikes opgewonde in, en buk af om stof op te tel. Nee, keer God hulle. Soos heel aan die begin. Uit niks.

Wat die kreasioniste ook al verkeerd doen en sê – en daar is baie dinge wat hulle kwytraak waarmee g’n mens wat verstandig oor dié dinge dink, kan saamstem nie [Nogal geniepsig, né. En dit van ’n NG Kerkleier.] – hulle glo met reg dat net God iets uit niks kan skep. En dat die wetenskap – wat al wonderlike dinge reggekry het – ook nog nie lewe uit niks voortgebring het nie.

In Mei 2010 is aangekondig dat wetenskaplikes van die J. Craig Venter Institute in Rockville, Maryland, vir die eerste keer kunsmatige genetiese stof in ’n leë bakteriesel geplaas het om ’n nuwe, lewende sel te vorm. Hulle het leë selle van die bakterie Mycoplasma mycoides van kunsmatige DNS voorsien, en die bakteriesel het, danksy instruksies van die kunsmatige DNS, net soos ’n normale, lewende sel vanself begin dupliseer.

Die wetenskap het dus daarin geslaag om sélf en sélfs lewe te skep . . .

Henk Huismans, destyds van die Universiteit van Pretoria se departement genetika, het egter gewaarsku dat mense nie met hul verbeelding op hol moet gaan nie.

“Daar is nie skielik kunsmatige lewe uit niks geskep nie, lewe is bloot suksesvol gekopieer,” het Huismans gesê.

Dr. Craig Venter, wat die navorsing gelei het, het dit beaam. “Lewe is nie van nuuts geskep nie,” het hy verduidelik. “Die doel is om lewe te ontwikkel uit dit wat reeds bestaan, deur sintetiese DNS te gebruik om selle te herprogrammeer om nuwe selle te vorm.”

[Frits Gaum maak ook hierdie punt in sy artikel Om ’n vlieg uit niks uit te maak.]

Die probleem met Van den Heever se sieninge is dat hy, so blyk dit uit sy artikel, wél vir (’n) God as Skepper ruimte wil laat, maar tog ook moeite doen om die Bybel te diskrediteer (en, soos blyk uit sy ander geskrifte, ook vir Jesus Christus as Seun van God), en dat hy sodoende baie ver wegbeweeg van die hoofstroomkerke en hoofstroom- Christelike teologie waarna hy verwys.

Interessant genoeg, roep hy die hoofstroomkerke en -teoloë se hulp in om die kreasioniste by te kom. Hy skryf dat die kreasioniste “reglynig met die hoofstroomkerke oor die interpretasie van die Bybel verskil” en dat predikante en teoloë by herhaling daarop wys dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie. Wat natuurlik heeltemal waar is. Maar die vraag is: Wat beskou Van den Heever dan wel as die hoofstroomkerke en -teoloë se denke oor die Bybel?

Dit is verblydend dat Van den Heever nie reken dat kreasioniste en fundamentaliste se sienings die hoofstroomdenke onder Christene weerspieël nie. Sommige wetenskaplikes meen ongelukkig dat alle Christene fundamentaliste is wat die Bybel kritiekloos letterlik opneem.

Die Bybelboeke kan eenvoudig nie van voor tot agter op dieselfde manier – en dus fundamentalisties – verklaar word nie. Die Bybel bestaan uit ’n groot getal boeke uit verskillende tye en in verskillende genres (vertellings oor die voorgeskiedenis, profesieë, gedigte, reisbeskrywings, verhale, briewe) en elke Skrifdeel moet aan die hand van sy besondere aard en met inagneming van wie die eerste lesers daarvan waarskynlik was, en in die lig van die geheel, verklaar en verstaan word.

Die Bybelse “genetika” waarna Van den Heever tong in die kies verwys, is daarom ook nie 21ste-eeuse genetika nie, nes die Bybelse geskiedenisvertellings nie dieselfde is as hedendaagse historiografie nie.

Die kernboodskap van die Bybel is egter maklik genoeg vir ’n kind om te verstaan en daaroor stem hoofstroomkerke in die algemeen ook saam. Maar daar is ook dinge in die Bybel wat nie so maklik te verstaan en te verklaar is nie. Verder is daar steeds ’n ontwikkeling in die verstaan van die Bybel.

Hoofstroomkerke verstaan nie die Bybel in alle opsigte soos 100 jaar gelede nie. So is slawerny in ’n stadium as “Bybels” aanvaar – die Bybel praat nie uitdruklik daartéén nie – maar later is dit in die lig van die Groot Gebod en naasteliefde verwerp as onchristelik. So ook onbillike diskriminasie teen mense wat “anders” is as die res. Maar die kernboodskap – Jesus Christus is die Here! – word deur geen hoofstroomkerk ontken nie.

Dit is die plek, lyk dit vir my, waar Van den Heever se sieninge en dié van die hoofstroomkerke skei. In sy boek, Wat moet ons met ons kerk doen? (Naledi, 2017), skryf hy dat Mattheus, Markus en Lukas nie een gedink het dat Jesus Goddelik was nie (bl. 67). (Maar wat dan van Mattheus 28:16-20 en Markus 8:29 en Lukas 9:20?)

[Kyk ook Die Bybel oor Jesus se Godheid.]

Van den Heever praat ook saam met sommige Bybelnavorsers, wat nie in die hoofstroom is nie, dat Jesus se opstanding later bygeskryf is, dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, dat daar nie ’n hemelvaart was nie en dat Jesus gevolglik nie sal terugkeer aarde toe nie (bl. 70).

Wat my betref, word die hart hier uit die Christelike geloof geruk. As Jesus Christus nie die Here is nie, is daar min – niks – oor van dié geloof nie.

[Interessant dat Jesus se opstanding vir Gaum so belangrik is. Ek kan my egter nie in herinnering roep dat hy al ooit mense soos Julian Müller, Jurie le Roux of Nelus Niemandt gekritiseer het oor hulle sieninge oor Jesus se opstanding nie. Oor skeppingsleerders het hy egter baie te sê.]

Ja, daar is teoloë wat met Van den Heever sal saamstem. Maar dit is (soos kreasioniste se opvattings!) randdenke, nié dié van hoofstroomkerke en -teoloë nie. Hoofstroomkerke en -teoloë glo steeds dat die X-faktor – God – op die een of ander wyse betrokke was by die ontstaan en behoud van die Bybelboeke en dit tot vandag toe sin laat maak.

Hulle weet dat die opstanding van Jesus uit die dood vir postmoderne mense (nes vir voormoderne mense soos Thomas 2 000 jaar gelede) moeilik is om te sluk. Maar dan maak hulle ook plek vir die “wonder”. Die “wonder” wat iets uit niks te voorskyn laat kom, die “wonder” en grootsheid van God se skepping (soos Van den Heever dit self baie goed stel), die “wonder” van lewe, die “wonder” van ’n opstanding uit die dood.

Maar ja, dit is net God self wat ’n mens kan laat glo dat daar ’n God is. En ons aanbid nie die Bybel nie, maar vir God. En Jesus Christus is vir ons die gesig van God.

* Dr. Frits Gaum se jongste boek, Kerk oor die muur of oor die rubicon? Oor geloof, onreg en ’n hofsaak, het pas by Naledi verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui