Evolusie se feite en Bybel nie strydig

Die volgende drie briewe het op 23 Augustus 2020 in Rapport verskyn wat deel was van ’n debat. Kyk Debat oor evolusie in Rapport 2020 vir ’n volledige lys van artikels wat deel gevorm het van hierdie debat.

Ek het nie kommentaar gelewer op hierdie artikels nie omdat daar reeds soveel kommentaar gelewer is in die vorige artikels.

Jan Venter het egter ’n nuwe argument na die gesprek gebring: Hy noem dat die idees van Kopernikus (en Galileo) problematies was vir die kerk van die tyd. Aanvanklik het die kerk daarteen geskop, maar moes noodgedwonge die aftog blaas omdat die wetenskaplike feite te duidelik was. Dus wil Jan Venter sê dat die kerk van vandag nie dieselfde fout moet maak as die kerk van daardie tyd nie en daarom moet die kerk van vandag evolusie aanvaar.

Hierdie is egter eintlik baie ironies: Die rede hoekom Kopernikus en Galileo se idees moontlik problematies was vir die kerk is omdat dit teenstrydig was met wat die hoofstroom wetenskaplikes geglo het. Die Bybel dwing nêrens die leser om te glo dat die aarde stilstaan en alles om die aarde draai nie. Evolusie is egter baie duidelik teenstrydig met die Bybel. Kyk:

  1. Evolusie en Bybel onversoenbaar
  2. Het die kerk vir Galileo vervolg oor sy siening dat die aarde om die son draai en nie anders om nie?

*********

Evolusie se feite en Bybel nie strydig | Netwerk24

23 Augustus 2020

Dr. Jan van der Merwe, Welgemoed, skryf: (168 woorde)

Ek kan as (kern-) wetenskaplike en ook gelowige Christen hoegenaamd nie verstaan wat mense se probleem met evolusie is nie. Evolusie word ’n teorie genoem, maar dis ’n feit en staan soos ’n paal bo water. Om te beweer dis onbewysbaar is die grootse snert wat ek al in my dag des bestaan gehoor het.

Die Bybel se skeppingsverhaal is ’n mooi storie in ’n besondere genre. Dit kan egter nie letterlik geglo word nie, want dit het oor miljarde jare gebeur en gaan vandag steeds voort. Dit het nie opgehou nie. Die tektoniese plate skuif steeds ’n paar millimeter elke jaar.

Ek was deel van die span wat vir die sinode van die NG Kerk se afdeling Leer en Aktuele Sake ’n werkstuk gedoen het oor “Geloof en wetenskap”. Dit is baie goed ontvang en is beskikbaar vir enigeen wat belangstel.

Die groot filosoof Maimonides (1138–1204) het gesê: “Bestudeer sterrekunde en fisika indien jy die verband tussen die wêreld en God se bestuur daarvan wil begryp.”

Jan Venter, Bloemfontein, skryf: (176 woorde)

As ek deur die koerante van die afgelope paar weke blaai, staan ek verstom oor hoe ernstig daar gedebatteer word oor evolusie.

In een brief vind ene E. Engelbrecht selfs bewyse van die oerknal in die Bybel waar “Job” in pragtige, poëtiese taal oor die “singende sterre” skryf. Dr. Jurie van den Heever gaan ’n baie lang artikel nodig hê om dit te weerlê!

Anders as wat baie kreasioniste vrees, is dit nie die taak van die wetenskap om die Bybel verkeerd te bewys nie. Hulle probeer bloot vasstel wat die (vaste) natuurwette is en hoe alles in die heelal daarvolgens fungeer.

Destyds toe die Katolieke priester (nogal!) Copernicus vorendag gekom het met die heliosentriese planetêre stelsel het dit groter konsternasie veroorsaak as die huidige evolusiedebat. Ten spyte daarvan staan die Bybel en kerk steeds, soos die aarde, op stewige fondamente.

Ek stel dus voor dat kreasioniste, veral die fundamentaliste onder hulle, ontspan. Laat die wetenskaplikes toe om hul werk te doen en die onderwysers om die jongste wetenskaplike kennis aan die kinders oor te dra.

Hannes Coetzee, Centurion, skryf: (87 woorde)

Ek wil graag Rapport versoek om nie die debat kort te knip nie. Nou raak dit interessant.

Evolusie is ’n teorie wat universeel aanvaar word, nie omdat dit waar bewys kan word nie, maar omdat dit die enigste alternatief tot kreasionisme is.

As jy die Skepper verwerp, probeer dan evolusie.

Evolusie het niks met biologie te doen nie, dis ’n godsdiens. Jy moet ’n groter geloof hê om in evolusie as in die Bybel te glo.

Evolusie word in ’n wit jas toegedraai en as wetenskap aangebied.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui