Skep Lewe

Een van die grootste probleme vir evolusioniste is hoe die eerste lewe op aarde tot stand gekom het. In die artikel Was life really created in a test tube? And does it disprove biblical creation?, word bespreek hoe wetenskaplikes DNS verander het en sukselsvol in ’n sel teruggeplant het. Maar beteken dit dat lewe vanself kon ontstaan het? Glad nie.

Die volgende voorbeeld uit die artikel illustreer hierdie probleem uitstekend:

Veronderstel iemand word op ’n afgeleë eiland uitgespoel en sien ’n draagbare battery-aangedrewe TV-stel. Hy het nog nooit ’n TV-stel gesien nie, maar kry dit aangeskakel en kyk daarna in verwondering. Hy wonder hoe hierdie toestel tot stand gekom het en besluit om dit uitmekaar te haal. Jare word bestee om dit te bestudeer en alles te leer oor hoe dit werk. Na duisende ure van breinkrag en moeite, leer die persoon hoe om ’n presiese kopie van elke komponent te maak, en hoe om die dele presies in dieselfde manier as die oorspronklike aanmekaar te sit. Uiteindelik het die oomblik aangebreek en die skakelaar word aangeskakel – Voila, dit werk! Indien so ’n ongelooflike briljante prestasie plaasgevind het, sou dit natuurlik die toppunt van dwaasheid wees vir so ’n persoon om opgewonde te sê: “Wow, nou weet ek vir seker dat die toestel wat ek gevind het self ontstaan het!”

Wetenskaplike in ’n laboratorium met baie ingewikkelde toerusting sê: 'As ek net hier lewe kan sintetiseer dan het ek bewys dat daar nie intelligensie nodig was om lewe aan die begin te skep nie.' Of in Engels: 'If I can just synthesize life here then I'll have proven that no intelligence was necessary to form life in the beginning.'

Let egter op na twee dinge:

  1. Die media is altyd reg met ’n nuwe storie en dit soms ten koste van die werklike waarheid. Hulle motief is om koerante/tydskrifte te verkoop en nie noodwendig om die objektiewe waarheid by mense uit te kry nie.
  2. Baie wetenskaplikes se oogmerk is om dinge te verklaar sonder God. Ongelukkig het selfs Christene hierop ingekoop, want die wetenskap en geloof moet kwansuis geskei word. Dit is bv Louw Alberts se siening – Die Bybel sê Wie geskep het en die wetenskap sê hoe. Hierdie benadering laat ’n mens ongelukkig nie toe om bv in ’n biologieklas te sê dat God geskep het nie, want dit is nie wetenskap nie. Om wetenskaplik te wees, moet ’n mens gaan soek na wetenskaplike verklarings oor hoe dinge ontstaan het sonder God. (Kyk Operasionele vs historiese wetenskap)

In Bylaag A hieronder noem dr Frits Gaum ook hierdie geval. Dit lyk darem egter of hy ook besef dat wetenskaplikes nie lewe geskep het nie. Wat hy wel probeer is om skeppingsleerders in ’n slegte lig te stel: Hy probeer voorgee dat as jy nie in evolusie glo nie, wat wetenskaplik bewys is, is jy soos iemand wat nog wil glo dat die aarde plat is (kyk egter The flat-earth myth and creationism). Verder wil hy voorgee dat skeppingsleerders sommer outomaties onverdraagsaam is (ek het al aanvaar dat ons ’n klomp fundamentaliste is, en ek is trots daarop :-)).

Dit is baie duidelik dat liberalisme en die aanvaarding van evolusie, hand aan hand loop.

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

In die artikel A Story of Two Professors word onder andere vertel hoe prof Provine onder andere evolusie gebruik om studente hulle geloof te laat verloor:

Professor of biological sciences at Cornell University, William B. Provine, first presents the theistic side in his class then, for the rest of the term, endeavors to demolish the arguments for theism. He noted that at the beginning of his course, about 75% of his students were either creationists or at least believed in purpose in evolution, i.e., were theists and believed that God directed evolution. Provine (p. 63), proudly notes that the percentage of theists dropped to 50% by the end of his course—this compares to about 90% in society as a whole (Shermer, p. 156). Obviously successful in influencing his students toward atheism, and very open about his success, the university and courts have not interfered.

Hierdie artikel wys ook weer duidelik die diskriminasie teen mense wat ’n god verkondig teenoor geen diskriminasie teen mense wat ateïsme verkondig nie.

 Bylaag A: Om ’n vlieg uit niks uit te maak

Kerkbode – 6 Augustus 2010

Kyk, die prestasies van die wetenskap slaan ’n mens se asem weg. ’n Man op die maan. ’n Atoombom op Hirosjima. Hartoorplantings. Internet. ’n Mens op Mars … oeps, nog nie. En nee, die wetenskap kon nog nie ’n mens of ’n vlieg uit niks uit maak nie. Maar wag maar …

In Mei vanjaar is aangekondig dat wetenskaplikes van die J Craig Venter-Instituut in Rockville, Maryland, vir die eerste keer kunsmatige genetiese stof in ’n leë bakteriesel geplaas het om ’n nuwe, lewende sel te vorm. Hulle het leë selle van die bakterie Mycoplasma mycoides van kunsmatige DNS voorsien en die bakteriesel het, danksy instruksies van die kunsmatige DNS, nes ’n normale lewende sel self begin dupliseer.

Die wetenskap het dus daarin geslaag om sélf en sélfs lewe te skep … Henk Huismans van die Universiteit van Pretoria se Departement Genetika het egter gewaarsku dat mense nie met hulle verbeelding op hol moet gaan nie. “Daar is nie skielik kunsmatige lewe uit niks geskep nie; lewe is bloot suksesvol gekopieer,” het Huismans gesê, en dr Craig Venter, wat die navorsing gelei het, het dit beaam: “Lewe is nie van nuuts geskep nie,” het hy verduidelik. “Die doel is om lewe te ontwikkkel uit dit wat reeds bestaan, deur sintetiese DNS te gebruik om selle te herprogrammeer om nuwe selle te vorm.”

Dit laat my dink aan die storie van wetenskaplikes wat gereken het hulle het God nie meer nodig nie en op die koop toe besluit het om dit vir Hom te gaan sê. God het geduldig na hulle betoog geluister – hulle het Hom nie meer nodig nie, want hulle kan alles op die aarde, bo die aarde en onder die aarde verklaar, en hulle kan alles doen wat Hy gedoen het … om die waarheid te sê, selfs ’n bietjie beter. Hy het toe voorgestel dat Hy en die wetenskaplikes, voordat Hy dan nou maar vredesonthalwe abdikeer, eers ’n vinnige mensmaak kompetisie hou. Nes in die Paradys, destyds. Goed so, het hulle opgewonde laat hoor. Nes in die Paradys. Hulle buk toe om stof op te tel, maar net daar keer God hulle. Nee, nee, nee, sê Hy. Julle moet eers die stof ook maak. Uit niks uit.

O ja, ek respekteer wetenskaplike bevindings. As die wetenskap sê die aarde is rond, dring ek nie daarop aan dat die aarde “fondamente” het (Spr 8:29) en plat moet wees nie. As die wetenskap met feite aandui dat lewe op aarde oor ’n baie lang tydperk deur ’n evolusionêre proses gevestig is, stry ek nie.

Ek neem wel aanstoot as die wetenskap sou sê daar is geen God nie omdat die wetenskap God se bestaan nie kan bewys nie (soos George Claassen in Geloof, bygeloof en ander wensdenkery). Of as die wetenskap nie erken dat daar iets onverklaarbaars “anders” en unieks aan die denkende mens is wat by geen ander spesie voorkom nie. Of as beweer word dat alles eintlik maar deur ’n hengse toevallige sameloop van omstandighede uit absoluut niks uit ontstaan het. As “kreasioniste” onverdraagsaam en fundamentalisties meen dat Genesis 1 – 3 ’n letterlike weergawe is van hoe alles ontstaan het, is ek nie een van hulle nie. Maar as kreasioniste daarop aandring dat God aan die begin van alles staan, dat Hy ge-”create” het, dat alles wat bestaan, hulle oorsprong by God het … ja, dan is ek een.

Die ouens wat in ’n wetenskapgod glo, het op stuk van sake groter probleme as ek wat in die Skeppergod glo. Want ek reken hulle sal nog lank sukkel om ’n vlieg uit niks uit te maak.

– Dr Frits Gaum is ’n vryskutskrywer vir die Kerkbode

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui