Eers apartheid . . . nou gays wat dalk die laaste strooi is

Kyk ook:

Hier onder volg ’n brief deur Frits Gaum wat in die Rapport geplaas is.

Al wat ek kan sê is dat ons in totaal verskillende wêrelde leef. Hierdie huis (die NG Kerk) is beslis nie ruim genoeg vir almal onder een dak nie.

Mense soos Frits Gaum kan blykbaar nie verstaan hoe mense dan nou nie ruimte kan maak vir verskillende sieninge nie. Vroeër die week het Rapport ’n onderhoud met Theo Danzfuss gehad. Hy het dit baie mooi verduidelik met die volgende voorbeeld:

In 1 Korintiërs 6:9-10 staan die volgende: (9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Kyk ook 1 Timoteus 1:9-10.

In hierdie verse word homoseksualiteit in dieselfde asem genoem as ’n paar ander sonde, onder andere afgodediens. Dit is baie duidelik dat ’n kerk se algemene sinode nie kan besluit om ruimte vir mense te maak om afgode te dien nie, omdat dit direk teenstrydig is met wat die Bybel leer. Dieselfde geld vir homoseksualiteit.

Daarom gaan hierdie hele kwessie oor baie meer as homoseksualiteit. Dit gaan oor die gebruik van die skrif. Mense soos Gaum, Nelis en baie ander aanvaar nie meer die gesag van die Skrif nie. Die dinge in die Bybel waarmee hulle nie saamstem nie, “interpreteer” hulle bloot weg. ’n Mens kan nie so met die Bybel omgaan nie.

Dit is tyd dat ons ’n graaf ’n graaf noem. Die NG Kerk moet skeur. God sal aan elkeen verantwoording vra oor sy eie besluite. Dit gaan nie help om te sê: “Maar my predikant het dit en dat vir ons gesê. Hy is immers baie meer geleerd as ek. Ek het hom vertrou.”

********

Eers apartheid . . . nou gays wat dalk die laaste strooi is | Netwerk24

Deur Frits Gaum

23 Februarie 2020

Dalk is ’n ruimer en meer verdraagsame kerk met groter openheid op hande, skryf Frits Gaum.

Die kerk, by name die NG Kerk, was deur die jare dikwels op die rand van skeuring. In die vorige eeu was dit die Johannes du Plessis-saak (1932), die Cottesloe-kerkeberaad (1960), die beleidstuk “Kerk en Samelewing” (1986 en 1990) en die Rustenburgberaad (1990) en in die huidige eeu die algemene sinodes van 2015, 2016 en 2019 wat skeurdreigemente en soms skeurdade meegebring het.

In al die gevalle het dit gegaan oor hoe ’n mens die Bybel moet verstaan en meestal ook oor onreg teen mense – teen nie-witmense en teen nie-heteroseksuele mense.

Die algemene sinode van die NG Kerk het in 1962, kort ná die Cottesloe-beraad (en die besluite wat daar teen apartheid geneem is), onder ’n wolk van onenigheid en spanning tot stand gekom. Die algemene sinode bestaan uit tien samestellende streeksinodes, en sommige van hulle het destyds geweier om deel te word van die verenigde algemene sinode as die ander streeksinodes hulle nie onomwonde van die Cottesloe-besluite distansieer nie.

Wat toe ook gebeur het.

In 1986 het die kerk se beleidstuk “Kerk en Samelewing” die lig gesien en daarin is versigtig van apartheid afskeid geneem. Dit het tot ’n woeste opstand by ’n groot aantal lidmate gelei en nagenoeg 30 000 van hulle het, onder leiding van ’n vorige redakteur van Kerkbode en moderator van die Natalse streeksinode, dr. Willie Lubbe, weggebreek en ’n nuwe kerk gestig: die Afrikaanse Protestantse Kerk.

Vier jaar later, by die Rustenburgberaad (’n kerklike samekoms wat deur niemand minder nie as die destydse president, FW de Klerk, geïnisieer is – sodat die kerke van Suid-Afrika met één stem met die regering sou praat) was dit weer apartheid wat tot groot spanning gelei het. By daardie beraad het die NG Kerk vir die ander kerke en vir Suid-Afrikaners onomwonde om verskoning gevra vir die leed wat apartheid en die NG Kerk se betrokkenheid daarby mense aangedoen het. Aartsbiskop Desmond Tutu het die verskoning aanvaar (“Die Here Jesus het gesê jy moet 70 maal sewe keer vergewe as van jou vergifnis gevra word . . .”), maar die NG Kerk se Familiekerke wou die kerk nie sommer maklik vergewe nie. Aan die ander kant was baie lidmate (en ook die afgetrede pres. PW Botha) onthuts deur die gedurige verskoningvraery.

Die kerklike stryd rondom apartheid het, darem sonder verdere skeurings, algaande tot rus gekom en die NG Kerk se “getuienis en belydenis” oor die kerk se reis met apartheid het selfs op die tafel van die Waarheids-en-versoeningskommissie beland.

En toe kom die “gay-stryd”. ’n Lang storie, baie trane, baie verslae, baie sinodes. Die algemene sinode van 2015 het selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse goedgekeur, 2016 se buitengewone algemene sinode – byeengeroep net vir die één saak – het ’n regsomkeer gemaak, ’n hofsaak het gevolg wat die NG Kerk loshande verloor het, en die 2019-sinode het uiteindelik ruimte gegee vir selfdegeslagverbintenisse, hoewel bra binnesmonds.

Binnesmonds of te nie, dit was genoeg om die kerkwêreld opnuut in beroering te bring. Die Goudland-streeksinode en Moreletapark-gemeente het voor in die koor gaan staan en gedreig om die algemene sinodale verband te verlaat . . . en Goudland het blykbaar die daad by die woord gevoeg met ’n besluit dat hulle nie meer hul finansiële bydrae vir die algemene sinode gaan betaal nie (Rapport, 16/02). Landswyd is daar gemeentes wat doleer (treur) oor die 2019-besluit en dreig om hul goed te vat en te loop.

Later vanjaar vind ’n reeks streeksinodes plaas waarvan sommige dalk soortgelyke besluite sal wil neem. Dit is iets wat kerkregtelik gesproke nie so maklik is nie, maar die oortuiging loop by party dominees en lidmate diep dat die NG Kerk die spoor byster geraak het en dat daar nie meer salf daaraan te smeer is nie.

Destyds was dit apartheid en die kerk se oortuiging ná baie worsteling dat dit ’n onregverdige bestel was, wat sommige lidmate ’n nuwe kerk laat stig het. Nou is dit die kerk se bereidheid om gay-lidmate te gun wat al die ander lidmate vir hulself opeis, wat gemeentes en streeksinodes op loop het.

Niemand word deur die besluit oor gay-lidmate tot iets gedwing nie, daar word net ruimte gegee vir meer as een standpunt en optrede . . . maar vir sommige lidmate is dit eens te veel. Hulle duld geen alternatief vir hul sienings en hul verstaan van die Skrif nie.

Die Groot Gebod (liefde vir God, liefde vir jou naaste soos vir jouself) sluit volgens hul Skrifverstaan nie alle ander naastes in nie. Veral nie mense wat “anders” is as jy nie. Jy en jou sienings is die maatstaf.

Is die NG Kerk in sy huidige vorm op die punt om (weer) te skeur?

Laat ek eers sê: Ek dink nie daar is ’n kans dat die algemene sinode gaan terugkrabbel van die 2019-besluit nie. Dié besluit staan en sal nie verander word nie. Inteendeel: Daar word die afgelope tyd ernstige gesprekke met die kerkleiding gevoer oor hoe om die ruimte wat vir gay-mense gegee is, ten beste te gebruik om herstellende geregtigheid in die kerk te bevorder. LBGTQI+-lidmate (om die meer tegnies korrekte term te gebruik) moet, soos alle ander lidmate, volledig tot hul reg kom in die kerklike son.

Dit lyk egter tog of daar ’n herverdeling of heroriëntering in die NG Kerk op hande is. Moontlik nie ’n “skeuring” nie, maar ’n nuwe manier van inrig. Dalk gaan die algemene sinode as beleidmakende liggaam in sy huidige gedaante in die volgende paar jaar verdwyn en iets soos ’n federale raad met adviserende bevoegdheid in sy plek kom. Dalk gaan die streeksinodes ’n groter mate van vryheid kry om hul eie beleidsbesluite te neem.

Dalk kan ’n groter, maar losser “Federasie van Gereformeerde Kerke” tot stand kom waarin ’n verskeidenheid standpunte oor aktuele sake geduld word sonder om die grondliggende eenheid in Christus prys te gee.

Dalk sal ook die NG Familiekerke (die Verenigende Gereformeerde Kerk, die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa) as kerke met ’n eie identiteit in so ’n federasie hul plek wil inneem. En dalk, wie weet, ook die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk (die “Doppers”).

Dalk, droom ’n mens, kan uit die huidige kerklike twis iets anders gebore word: ’n ruimer, verdraagsamer kerk met groter openheid in sommige streke en in sommige gemeentes . . .

’n Soepeler kerk, dus, wat in die laaste instansie weet en bely dat ons gesamentlike geloof in Jesus Christus as ons Here belangriker is as alle ander geskilpunte.

Frits Gaum was skriba van die algemene sinode van die NG Kerk.

2 thoughts on “Eers apartheid . . . nou gays wat dalk die laaste strooi is”

  1. Dankie weereens Daniel. Dit is betreurenswaardig dat Rapport vir die soveelste keer “die ander kant” soveel “ruimte” gee: twee berigte op pagina 8 en die hele middelblad van Rapport weekliks – ’n totaal van 4 berigte met slegs ’n voetnota-verwysing na die potgooi van die halfuurlange onderhoud met Ds Theo Danzfuss. Ds Theo het deurentyd volgehou dat die kerk KLAAR geskeur het, en ’n goeie oorsig van die geskiedenis van die kerk van meer as 50 jaar. Hy het ook duidelik aangetoon dat die breuk al duideliker en kritieke afmetings aangeneem het in 2015 en daarna . Ek dink besorgde lidmate kan aandring daarop dat ’n geskrewe weergawe van Ds Theo se onderhoud in Rapport geplaas word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui