Waarom is die NG Kerk so verskeurd?

Kyk ook:

Waarom is die NG Kerk so verskeurd?

deur Chris Saayman

26 Februarie 2020

Dit is nie verskillende sienings oor homoseksualiteit wat die NG Kerk in twee skeur nie. Dit is nie verskillende sienings oor énigiets wat die NG kerk in twee skeur nie. Dit is ook nie verskillende maniere van die Bybel lees & verstaan wat die NG Kerk in twee skeur nie.

Wat die NG Kerk in twee skeur is twee teenoorstaande en onversoenbare sienings van wát die Skrif in essensie is!

Vir GROEP A is die Skrif God se onfeilbare openbaring van absolute waarheid aan die mens (die klassiek-gereformeerde siening)

Vir GROEP B is die Skrif ’n nuttige geloofsdokument – die feilbare produk van antieke mense se vroom nadenke oor God – wat nie onfeilbaar absolute wáárheid leer nie, maar eerder onderlinge gesprek in die kerk wil stimuleer. En deur die gesprek kom die (relatiewe) “waarheid” uiteindelik hopelik na vore.

Gelyklopend hiermee is daar ook twee verskillende kragte en magte in die NG kerk aan’t werk.

KRAG NO 1 wil sien dat die mens aan God se openbaring onderwerp word en buig voor die absolute waarheid van die Skrif. So alleen kan die mens werklik MENS wees.

KRAG NO 2 wil sien dat kerk en Bybel die mens ter wille moet wees. Die begeerte is om relevant te wees ten opsigte van die kultuur, in pas met die eise van die wêreldsisteem en gerespekteer deur die intellektuele elite.

KRAG NO 1 werk in op GROEP A se Skrifbeskouing. KRAG NO 2 werk in op GROEP B se Skrifbeskouing.

Die een groep en krag hunker ten diepste na God se eer in alles (teonoom) en die ander groep & krag hunker ten diepste daarna om die mens ter wille te wees (outonoom).

Die gevolg hiervan is dat – wanneer daar volgens GROEP B se siening in gesprek gegaan word met die Bybel as nuttige geloofsdokument, die uitkomste van die gesprek in lyn moet wees met die aansprake van KRAG NO 2 – anders is dit onaanvaarbaar en moet die gesprek verder gevoer word. Indien die uitkoms van die gesprek enigsins sou uitkom by wat KRAG NO 1 wil, is die gesprek nog nie afgehandel nie. Die “geloofsonderskeidende proses van luister” MOET uitkom by dit wat GROEP B en KRAG NO 2 wil. Dit is hoe oneerlik en oneties hierdie proses in werklikheid is. Die “waarheid” waarby GROEP B wil uitkom moet ten alle koste in lyn wees met KRAG NO 2 en totaal weggekeer van GROEP A en KRAG NO 1.

Vir my is dit baie duidelik dat ons hier met twee totaal onversoenbare groothede te make het. Die kerklike “eenheid” wat huidiglik so naarstigtelik na buite gereflekteer word, is ’n kunsmatige en valse eenheid.

Ware Bybelse kerkeenheid kan slegs in die Waarheid bestaan. En Waarheid word slegs ontdek deur die Skrif te glo volgens sy selfgetuienis. Die Skrif se selfgetuienis is dit wat die Bybel oor homself te sê het. Dit tel ’n duisend keer meer punte as wat die mens oor die Bybel te sê het. En volgens dit wat die Bybel oor homself te sê het, is die Bybel in essensie God se onfeilbare openbaring aan die mens.

1 thought on “Waarom is die NG Kerk so verskeurd?”

  1. Baie dankie, ds Saayman. Na al die jare se openbaring, wil sommiges – onder wie teoloë – steeds nie aanvaar dat die Woord die absolute onfeilbare waarheid van God is nie. Dis vir my as verloste, onbegryplik dat hulle steeds poog om die mens ter wille te wees en die mens bo God en sy Woord verhef. Ek glo dat die intellektuele elite, soos u dit tereg noem, aan die spits van hierdie tweespalt staan en dat hulle eintlik onderling in kompetisie met mekaar is om hul intellektuele vermoëns ten toon te stel. Menslike wysheid dus. Hoe tragies.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui