Moreletapark reageer op NGK se 2019-SGV-besluit

VERKLARING: Moreletapark Gemeente se reaksie op die Algemene Sinode se besluite rakende selfdegeslagverhoudinge

Oktober 2019

Die kerkraad het kennis geneem van die besluite rakende selfdegeslagverhoudinge by die pas afgelope Algemene Sinode (AS) van 6-11 Oktober 2019. Na afloop van ʼn gespreksgeleentheid van die kerkraad en leraars rakende hierdie saak, word die hieropvolgende verklaring voorgehou:

Die AS erken die huwelik tussen een man en een vrou maar besluite is ook geneem wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse. Teenoorstaande Skrifbeskouing word geakkommodeer ter wille van eenheid in die NG Kerk. Kerkrade word aangemoedig om hul eie standpunte aangaande hierdie saak te formuleer om sodoende die diverse uitgangspunte te akkommodeer. Opdrag is deur die AS gegee om ʼn huweliksformulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

In diepe afhanklikheid van die Here, wil ons ons bekommernis en onsteltenis ten sterkste uitspreek oor hierdie besluite en wil as volg verklaar:

  1. Die Woord van God staan sentraal in die uitleef van ons geloof. Primêr gaan dit oor die gesag en interpretasie van die Woord van God en die erkenning dat die Bybel deur God geïnspireer is. Die Woord van God, soos wat dit deur die eeue staan (Deut 4:2, Mat 5:18-20), is die enigste riglyn vir die onderskeiding van die waarheid. Die Woord is ʼn tweesnydende swaard wat skeiding bring tussen lig en duisternis, reg en verkeerd, heiligheid en sonde en beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Heb 4:12).
  2. Christelike eenheid kan nie ten koste van die waarheid voorgehou word nie. Eenheid binne die kerk vind hom juis binne die waarheid van die Skrif en akkommodeer nie sondige praktyke nie (2 Kor 6:14).
  3. Ons bevestig ons beleid aangaande die huwelik te wete dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word (Gen 2:22-24). Gevolglik sien ons nie ons weg oop om selfdegeslag verbintenisse te bevestig nie en sal dit daarom nie in die gemeente toelaat nie.
  4. Alle leiers in die gemeente sal volgens Bybelse riglyne gekeur word, en wel op grond van hulle roeping, belydenis, spiritualiteit en die getuienis van hulle leer en lewe (1 Tim 3:1-9).

Ons is geskape na die beeld van God en daarom moet ons mekaar met respek en deernis behandel. Ons deure en harte is oop om mense in selfdegeslagverhoudings in die gemeente te ontvang en te bedien met die evangelie van liefde in Christus Jesus.

Ons is bekommerd oor die stand van die NG Kerk denominasie. Die vrug van die Sinodebesluit is een van verwarring en onenigheid. Ons is van mening dat ʼn valse eenheid voorgehou word en dat daar reeds polarisering binne die denominasie bestaan rondom hierdie saak. Ons kan nie Bybelse outoriteit  ondermyn en verwag om ʼn lewendige geestelike basis in stand te hou nie. Sonder sondebesef, skuldbelydenis en verandering sal die Kerk die weg van wêreldse praktyke volg.

Dit word in die vooruitsig gestel dat die volgende punte vir goedkeuring sal dien by die kerkraadsvergadering van 31 Oktober 2019:

  1. Die kerkraad versoek die Oostelike Sinode om ʼn dringende buitengewone vergadering van die Oostelike Sinode byeen te roep waar hierdie saak op die agenda sal dien.
  2. Die kerkraad beplan ʼn konferensie/byeenkoms waarheen alle leraars/gemeentes wat dieselfde standpunt huldig uitgenooi word. Ons wil kontak maak, sodat gemeentes wat dieselfde belydenis het, saam kan besin oor die pad vorentoe.
  3. Die kerkraad ondersteun nie die ontwikkeling van ʼn formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag nie en versoek dat dit gestaak word.

Dit is met kommer dat ons kennis neem van behoudende lidmate wat reeds die NG Kerk verlaat het of wat op die punt is om dit te doen. Ons doen ʼn beroep op lidmate om nie oorhaastige besluite in hierdie verband te neem nie. As behoudende Christene wil ons vra dat ons hande sal vat en ons verantwoordelikheid opneem om uit te reik na alle mense met liefde, deernis en genade om Jesus Christus se verlossingsboodskap te verkondig. Mag God verheerlik word op hierdie herlewingspad.

Nota: Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente (MPG) het, in die proses van gesprek met die Oostelike sinode, twee dokumente na die Oostelike Sinode gestuur:

  1. ʼn Lys van ons bekommernisse, en
  2. ʼn Geloofsdokument waarin ons sê wat ons glo. Hierdie verklaring, wat ʼn spesifieke reaksie op die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings is, ondersteun en versterk genoemde twee dokumente.

Geloofsdokument van Moreletapark Gemeente

Augustus 2019

Moreletapark Gemeente is gegrond op die Bybel as die geïnspireerde, genoegsame en onfeilbare Woord van God en glo dat dit akkuraat is in die beginsels wat dit ons leer[1]. Ons leef ons identiteit in Christus uit in gehoorsaamheid, diensbaarheid en verhoudings deur afhanklike gebed en die leiding van die Heilige Gees. Ons visie is: “Jesus, alles in elkeen”, na aanleiding van Kol 3:11b.

Ons is oortuig dat dit ons roeping is om die Evangelie van Jesus Christus se genade en verlossing aan alle mense te verkondig en dissipels te maak (Matt 28:19-20, Hand 1:8, Mark 2:17).

Moreletapark Gemeente bely en verklaar die volgende:

  1. Ons glo dat daar net een lewende Drie-enige God is, Vader, Seun en Heilige Gees (2 Kor 3:17; Joh 4:24; Jes 40:14)[2].
  2. Ons glo dat God heilig en soewerein is (Lev 19:2, Hab 1:13) daarom wil ons heilig lewe tot Sy verheerliking.
  3. Ons glo dat God die Skepper is en dat Hy die mens geskep het na sy beeld, man en vrou het Hy hulle geskep (Gen 1:26). Daarom glo ons dat die huwelik ʼn Goddelike instelling en vaste, lewenslange verbintenis is tussen een man en een vrou (Gen 2:22-24)[3] en dat enige seksuele gemeenskap buite so ʼn vaste formele huweliksverbintenis nie binne God se wil is nie.
  4. Ons fondament is gebou op Christus, die Skrif, genade en geloof, sodat God alleen die eer en heerlikheid ontvang[4].
  5. Ons glo dat Jesus Christus ons Verlosser[5]:
  6. Gebore is uit die maagd Maria (Matt 1:23),
  7. Fisies gesterf en fisies opgestaan het uit die dood (Joh 11:25, Kol 1:18),
  8. Opgevaar het na die hemel (Hand 1:9-11), en
  9. Dat Hy weer terugkom om regverdig te oordeel (Kol 3:4, Matt 16:27).
  10. Ons glo in die Heilige Gees wat ons vandag nog aktief rig, lei, leer, troos en toerus met Sy gawes (Hand 2:33; 1 Kor 12, 13, 14, Ef 4:8)[6].
  11. Ons glo in die fisiese bestaan van die duiwel en dat sy strategie is om die kerk van Christus te mislei en te vernietig (1 Petr 5:8, Joh 8:44, 1 Joh 3:8, Rom 16:20, Rom 6:23, Rom 3:23)[7]. Ons glo egter dat die duiwel reeds deur Christus oorwin is (1 Kor 15:55-57).
  12. Ons glo dat sonde die verhouding tussen God en mens versteur, want God haat sonde, maar dat Jesus se kruisdood die verhouding herstel as daar opregte berou, skuldbelydenis en aanvaarding van Sy offergawe is (Joh 21:15-19, Rom 12:1-2, Ps 51:7, Gen 5:3, 1 Joh 1:9).
  13. Ons glo dat ons nie aan hierdie sondige wêreld gelyk moet word nie, maar dat ons deur God verander moet word om ’n heilige lewe te leef[8] (Lev 19:2, Hab 1:13, Rom 12:1-2, Ps 51:7, Gen 5:3, 1 Pet 1:16).
  14. Ons glo dat ons alleen deur geloof in Jesus Christus weergebore word as kinders van God en so die ewige lewe verkry. (1 Pet 3:18, Kol 1:21-22, Joh 10:28, Joh 3:3)[9].
  15. Ons glo in die bediening van die doop en die nagmaal as Sakramente wat deurJesus self ingestel is as sigbare, simboliese tekens om ons op die offer van Jesus Christus aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys en om daardeur ons geloof te versterk (Luk 3:21, Luk 22:14-20, 1 Kor 11:24, Hand 10:48, Matt 28:18-20)[10].

Soli Deo Gloria,

Moreletapark Gemeente Leierskap

Voetnotas

[1] Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Art 3, 5, 7

[2] NGB Art 1, 8, 9; Heidelbergse Kategismus (HK) Vr & Antw 53

[3] Algemene Sinode Besluite 2007, 2013, HK Vr & Antw 109

[4] HK Vr & Antw 23; NGB Art 21

[5] HK Vr & Antw 23, 35, 45, 46; NGB Art 10, 18

[6] HK Vr & Antw 53

[7] HK Vr & Antw 32, 34,123,127

[8] HK Vr & Antw 7, 32; NGB Art 24

[9] HK Vr & Antw 45; NGB Art 17, 21, 22

[10] HK Vr & Antw 66, 68, 69, 76; NGB Art 33, 34, 35

3 thoughts on “Moreletapark reageer op NGK se 2019-SGV-besluit”

  1. Ek beskou myself as ń Afrikaner en ek weet dat my mede Afrikaners en my mede NG kerk lidmate presies soos ek voel en daarom is ek doodseker dat wanneer daar ń stemming kom oor die gay saak dit met ń groot meerderheid verwerp sal word net soos ek voorspel het met Belhar. Ek en my mede NG lidmate is boos oor die AS besluit. ń Handjie vol mense besluit in Benoni oor my kerk se standpunt terwyl die lidmate geen sê daaroor het nie. Hulle verwerp die Bybel met ingewikkelde frases en woorde. Die Satan het hulle oorgeneem en hy is so slinks dat hulle nie agterkom dat hy hulle stembande en monde gebruik nie. Soos ek verwag het broei daar groot onmin oor die besluit. Dankie Moreletapark vir julle verklaring en vir al die predikante wat opstaan hierteen. Hoe moet ek weer kerk toe gaan Sondag met die wete dat my kerk waarvoor ek vir 42 jaar my alles gegee het nou die Bybel ondergeskik stel aan verkeerde menslike gedrag? As die kerk iets wil verander, begin by die lidmate, laat hulle eers daaroor stem! Die AS het geen volmag vir hierdie sogenaamde amptelike verklaring nie en is die papier waarop dit staan nie werd nie! Ons as NG lidmate verwerp dit met minagting en ons is bitter kwaad! Die van julle wat nie saamstem met my nie, gaan onmiddelik uit die NG kerk en hou op om my kerk te vernietig!!!!

  2. DIE NG KERK SE STANDPUNT OOR HOMOSEKSUALISME.
    Vir solank as wat die NG Kerk weier om LGBTQIA gedrag, soos die Bybel dit in verskeie skrifgedeeltes doen, as sonde te verklaar, sal die kerk hom van ’n massa getroue lidmate bly vervreem. Hierdie sonde word selfs in dieselfde asem as verskeie ander sondes genoem, waarvoor daar slegs by Jesus Christus vergifnis bestaan. Hoe kan die kerk besluit dat dit geen sonde is nie en gevolglik geen vergifnis benodig nie? Met die 2019 Sinodebesluit het die kerk duidelik weer voor menslike druk geswig, presies soos dit ook met die politieke beleid van Apartheid gedoen is.
    Wat is God se morele wette vir seksuele gedrag? Hy het tog die huwelik vir daardie doel ingestel. (Genesis 2 vers 18 en 24) Daarom skryf God reeds in Levitikus 18 omvattend aan sy Volk voor met wie hulle nie seksuele verhoudings mag hê nie en sê dan in vers 22: “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is iets afskuweliks.” Om die erns hiervan te beklemtoon, herhaal Hy dit weer in hoofstuk 20 vers 13: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde.” Die moontlikheid van ’n huwelik tussen twee mans is skynbaar so absurd, dat God nie in hierdie gedeelte of enige ander in Sy Woord, daarna verwys nie.

    In die Nuwe Testament, verduidelik Paulus ondermeer in 1 Korintiërs 6 vers 18 wat God se voorskrifte hieroor is: “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe vergryp hom aan sy eie liggaam…of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie”? In 1 Korintiërs 7 vanaf vers 2 verklaar Paulus weer die waarde van die huwelik: “…weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man …”. Hy beklemtoon weer in 1 Tessalonisense 4 van vers 3 tot 8: “Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe”. Vers 7 sê: “God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. (Vers 8) Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God…”

    Op grond hiervan en anders as wat die Sinode van 2019 reeds gedoen het, weier lidmate van die NG Kerk, om enige gay persoon om verskoning te vra vir die sonde wat hy of sy gepleeg of steeds pleeg nie. So ’n verskoning sal die kerk se standpunt onderskryf dat homoseksualisme tans, anders as voorheen, nie as sonde beskou word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui