Goudland sinode breek nie weg nie en doleer ook nie

Kyk ook:

Op 20 November 2019 het Goudland sinode besluit om nie weg te breek van die NG Kerk se algemene sinode nie. Hulle wou ook nie doleer nie. Hulle het ’n verklaring afgelê en amptelik ’n besluit oor ’n leergeskil geneem.

Dit is uiters teleurstellend, om die minste te sê. Ek glo baie gemeentes het opgekyk na Goudland om die weg te baan vir ’n nuwe begin, maar dit gaan nou nie gebeur nie. Dit is ook maar baie onseker wat die waarde van Goudland se verklaring gaan wees in die toekoms. Praatjies help niks. As kerkleiers nie bereid is om aksie te neem nie, moet hulle nie verwag dat iets gaan verander nie.

Sou Jesus nie aksie geneem het nie? (kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade) Ek vra maar net.

Ten minste word die lys van dolerende gemeentes meer (kyk NG gemeentes se verklarings ná 2019 besluit oor SGV).

********

‘Algemene Sinode dwaal in besluit oor gays’ | Netwerk24

Deur Jana Marx

20 November 2019

Die Sinode Goudland (die ou Sinode Wes-Transvaal) het Woensdag ’n leergeskil teen die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk verklaar.

Volgens ds. Johan Brink, die streeksinode se moderator, beteken dit as’t ware “Goudland sê die Algemene Sinode dwaal” in sy besluit oor homoseksualiteit wat in Oktober geneem is.

Die Sinode Goudland, wat uit 148 gemeentes bestaan, is een van tien streeksinodes wat die AS uitmaak.

Die besluit oor ’n leergeskil is Woensdag op ’n buitengewone sinodesitting by die NG kerk Tetelestai in Randfontein geneem, waarby 242 afgevaardigdes was.

Die amptelike besluit lui: “Die sinode van Goudland verklaar ’n geskil met die Algemene Sinode insake die totaliteit van die besluit rakende SGV (selfdegeslagverhoudings), asook seksuele oriëntasie en identiteit, aangesien dit strydig is met sinode van Goudland se 2015 besluite (sic) rakende die huwelik en seksualiteit.”

Die voorstel vir ’n leergeskil het gedien nadat die vergadering ’n voorstel om uit die AS weg te skeur, asook ’n voorstel om te doleer (te treur), afgestem het.

Hoewel die besluit om weg te skeur met ’n meerderheidstem verwerp is, het die Sinode Goudland bevestig sy beleid oor selfdegeslagverbintenisse (’n besluit wat in 2015 geneem is) staan steeds. Luidens hierdie besluit “aanvaar” die Sinode Goudland die “menswaardigheid en gelykwaardigheid van alle mense” en veroordeel hy alle seksuele verhoudings buite die eg. Dié besluit verklaar ook die huwelik as ’n verbintenis tussen man en vrou.

Die AS het in Oktober by sy algemene sinodesitting in Benoni ’n besluit geneem wat voorsiening maak vir ’n verskeidenheid van menings oor homoseksualiteit in kerkampte en selfdegeslagverhoudings, met die doel om kerkeenheid te behou. Dit beteken kerkrade kan self besluit of hulle gay predikante wil beroep en selfdegeslagverbintenisse wil bevestig.

Maar verskeie gemeentes in Sinode Goudland het beswaar hierteen aangeteken en gevolglik het die streeksinode ’n buitengewone sinodesitting saamgeroep.

Die voorstel vir wegskeuring is deur ds. Norma Rossouw gebring. Die voorstel het gevra dat die Sinode Goudland in ooreenstemming met art. 37 van die Kerkorde uit die AS tree – ’n artikel waarvolgens ’n streeksinode glo volledig kan wegbreek én sy status as NG Kerk, voorregte, regte, besittings en naam behou. Die vergadering het weens prosedurele foute vier keer oor gestem en die voorstel uiteindelik afgestem.

Netwerk24 se joernalis is met ’n meerderheidstem by die buitengewone sinodesitting toegelaat op voorwaarde dat afgevaardigdes wat spreekbeurte kry, nie geïdentifiseer word nie.

Tydens die vergadering was daar twee duidelike kampe onder die afgevaardigdes oor die voorstel om weg te skeur.

Diegene wat daarvoor was, het veral deeglik navorsing gedoen en regsmenings en hulp van voormalige aktuarisse ingewin om punte te staaf. Sprekers het onder meer benadruk dat die gesprek veel verder strek as selfdegeslagverhoudings en eintlik oor Skrifgesag handel. ’n Voorsteller wou weet of die AS se 2019-besluit werklik net ’n beleidsraamwerk is en of dit as’t ware ’n dwingende besluit op die Sinode Goudland se gemeentes is.

Afgevaardigdes wat nie van die AS wou skeur nie, het onder meer gepraat oor hoe die getuienis van die Sinode Goudland na só ’n wegskeuring sou lyk. Die verbreking van kerkeenheid het groot kommer gewek.

Sommige sprekers was ook van mening dat verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudings eintlik net verskillende interpretasies van die Bybel is en dat die AS se besluit juis ruimte maak vir mense wat van mekaar verskil.

Strydige regsmenings oor die implikasie van so ’n wegskeuring het vir groot verwarring in die vergadering gesorg.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die AS, sê die moderamen wag op amptelike korrespondensie van die Sinode Goudland voor enige kommentaar gelewer word.

4 thoughts on “Goudland sinode breek nie weg nie en doleer ook nie”

    1. Ek stem – Baie dankie Daniel & kie.!

      Dis wel met ’n swaar gemoed dat ek die nuus lees, die “NG-Nie-Evangelie”.

  1. “Die verbreking van kerkeenheid het groot kommer gewek”

    Weereens word kerkeenheid bo skrifgesag geplaas. ‘Kerk’ is die liggaam van Christus. Hoe kan dwalendes as die kerk beskou word? Ek sou eerder bekommerd wees oor hoe die getuienis van die Goudland Sinode sou lyk omdat hulle nie die moed het om op te staan vir die waarheid nie…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui