Goudland wys NGK het ‘reeds geskeur’

Kyk ook:

Goudland wys NGK het ‘reeds geskeur’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

15 Februarie 2020

Rapport

Die twis in die NG Kerk oor gay-huwelike het ’n dramatiese wending geneem nadat die Goudland-sinode (wat uit 159 gemeentes in Noordwes en dele van Gauteng bestaan) besluit het om hul finan­siële bydrae aan die algemene sinode te weerhou.

’n Rebellie dreig ook in die res van die kerk. Behoudende gemeentes oor die land heen plaas druk op hul streeksinodes om buitengewone sinodesittings te hou om te besin “oor die pad vorentoe”.

Die jongste ontwikkeling dui daarop dat die kerk reeds geskeur het, het ds. Theo Danzfuss, voormalige aktuarius van die Hoë­veld-sinode en ’n leidende figuur onder die behoudendes, die afgelope week aan Rapport gesê.

“ ’n Vals beeld van eenheid word tans voorgehou terwyl die werklikheid is dat die kerk klaar geskeur het.

“Die enigste vraag is nou op watter manier gaan ons die skeuring op die beste manier hanteer om die minste skade te bewerkstellig en by die Woord te hou.”

Die oostelike sinode, wat uit 84 gemeentes in Pretoria en Mpumalanga bestaan, gaan na verwagting Goudland se voorbeeld volg by ’n buitengewone sitting wat in April gehou word. Die sitting sal ook die moontlikheid ondersoek om bande met die NG Kerk te verbreek.

Ook gemeentes in die Vrystaat en die Noord-Kaap wat ongelukkig is oor die algemene sinode se hantering van homoseksualiteit het ’n beroep op hul streeksinodes gedoen om buitengewone sittings te hou. Die Vrystaatse sinode bestaan uit 154 gemeentes en die Noord-Kaap uit 81. Die kwessie is ook op die agenda van Namibië se sinode wat in Mei vergader.

Elf gemeentes van oor die land heen het reeds in Oktober en November gedoleer (hul ontevredendheid uitgespreek) waarvan enkeles sover gegaan het om hul finansiële bydraes aan hul streeksinodes te weerhou.

Sommige predikante en gemeentes is egter baie ongelukkig oor Goudland se besluit en sê hulle is nie geken in dié drastiese besluit van verset nie.

Ds. Eon Coetzee van die NG gemeente Vanderbijlpark-Suid, sê: “Ek voel nie gemaklik hiermee nie, want predikante is glad nie geken nie. Die regte ding is tog om gemeentes te ken en nie vír hulle te besluit nie. Dit voel vir my soos afpersing – totdat julle nie soos ons voel nie, gaan ons julle nie betaal nie.”

Die gebruik is dat individuele gemeentes hul bydraes aan die streeksinode betaal, wat dit dan aan die algemene sinode oorbetaal. Die totale bydrae van Goudland aan die algemene sinode beloop R490 000 per jaar.

Ds. Anje Zeeman van die NG kerk Driehoek in Vanderbijlpark, sê die terughou van geld was nooit by die buitengewone sitting ter sprake nie.

“Ek weet nie wat ons opsies is en of ons ons bydraes direk aan die algemene sinode kan betaal nie. Dit is iets waaroor ons kerkraad sal moet besluit,” sê sy.

Intussen is gemeentes landwyd uitgenooi na ’n spesiale beraad op Dinsdag 25 Februarie by die Moreletapark-gemeente in Pretoria – die grootste NG gemeente in die land – waar hulle saam kan besin oor moontlike opsies.

Goudland het Maandag sy gemeentes in ’n brief ingelig dat sy sinodale bestuurskommissie besluit het om al sy gemeentes se bydraes aan die algemene sinode te weerhou. Dit volg op ’n buitengewone sitting in November waartydens die moontlikheid om bande met die NG Kerk te verbreek, bespreek is.

Goudland het toe besluit dat hulle nie uit die kerk gaan tree nie, maar wel om ’n geskil met die algemene sinode te verklaar oor sy besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Ds. Johan Brink, voorsitter van die Goudland-sinode, het aan Rapport gesê die besluit is Maandag geneem toe die sinodale bestuurs­kommissie sy begroting moes goedkeur sodat hulle gemeentes kan kennis gee wat hul eweredige bydrae vir die werk in Goudland is.

Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinode, sê hy gaan homself nie uitlaat oor die jongste verwikkelinge en of dit ’n aanduiding is dat die kerk gaan skeur nie.

Hy sê daar bestaan geen voorgeskrewe reëls oor streeksinodes wat gemeentes se bydraes aan die algemene sinode terughou nie.

“Dit is ’n saak tussen die streeksinodes en gemeentes. Dit het niks met die algemene sinode te doen nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui