Wat is ou-aarde skeppingsleer?

Ou-aarde skeppingsleer staan teenoor jongaarde skeppingsleer.

Mense wat ou-aarde skeppingsleer aanhang, word ook soms megakronofiele genoem.

Jongaarde skeppingsleer behels ’n letterlike interpretasie van Genesis 1 in die Bybel. Met ander woorde, dit is die idee dat God in ses 24-uur dae geskep het deur te praat (kyk Skeppingsvolgorde volgens Genesis 1).

Ou-aarde skeppingsleer wyk van hierdie siening af. Die sluit die volgende onderafdelings in:

Raamwerk hipotese

Die raamwerk hipotese is in wese ’n poging om die genre van Genesis 1 te herklassifiseer as iets anders as historiese verhaal. Voorstanders probeer om figuurlike of semi-poëtiese taal in die teks te identifiseer. Omdat hulle dink dat hulle suksesvol getoon het dat die eerste hoofstuk van die Bybel nie in die eenvoudige sin gelees moet word nie, maak hulle die aanspraak dat Genesis 1 eenvoudig wys dat God alles geskape het en dat Hy die mens gemaak het na sy beeld, maar dat dit ons geen inligting gee oor hoe of wanneer Hy dit gedoen het nie.

Gapingsteorie

Voorstaanders van die gapingsteorie glo dat die geologiese- en fossielrekord miljoene jare oud is. Hulle glo egter ook in ’n letterlike interpretasie van Genesis 1.

Om hierdie sienings te versoen, glo hulle dat daar ’n pre-adamitiese tydperk was tussen Genesis 1:1 and 1:2. Dus glo hulle dat God die aarde miljoene jare gelede geskep het. In daardie tyd het Satan tot ’n val gekom. God se oordeel het in die vorm van ’n Lucifer se vloed plaasgevind wat die wêreld van daardie tyd vernietig het. Van Genesis 1:2 en verder word vertel van ’n herskepping van die verwoeste aarde.

Oor die sondvloed glo hulle gewoonlik dat dit ’n lokale vloed was of dat die vloed geen noemenswaardige invloed op die geologie van die aarde gehad het nie.

Kyk ook Gapingsteorie.

Dag-ouderdom en Progressiewe Skepping

Die dag-ouderdom teorie glo dat die dae in Genesis 1 nie na 24-uur dae verwys nie, maar na langer periodes. 2 Petrus 3:8 word algemeen gebruik om hierdie siening te regverdig:

(8)Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Progressiewe skepping neem hierdie ’n tree verder en maak meer spesifieke korrelasies met elke dag in Genesis en geologiese ouderdomme.

Voorstanders van hierdie teorie glo die volgende:

  • Die oerknal was God se manier om sterre en planete te skep.
  • Die aarde en heelal is miljarde jare oud.
  • Die dae in Genesis 1 is oorvleuelende tydperke, nie opeenvolgende 24-uur dae nie.
  • Dood en swaarkry was teenwoordig van die begin van die skepping, dus was dit nie ’n resultaat van Adam se sonde nie. Die mens is geskep lank na die begin van die aarde.
  • Noag se vloed was lokaal, nie wêreldwyd nie.
  • ‘n Bekende voorstaander van progressiewe skepping is Hugh Ross van www.reasons.org.

Teïstiese evolusie

Evolusie = materie + evolusionêre faktore (waarskynlikheid en nodigheid + mutasie + natuurlike seleksie + isolasie + dood) + baie lang tydsperiodes

Teïstiese evolusie = Evolusie + God

Voorstaanders hiervan probeer nie eens om hulle siening met Genesis 1-11 te versoen nie. Hulle glo dat dit mites is deur gebruik te maak van die raamwerk hipotese wat hierbo genoem word. Indien die sondvloed (Noag) plaasgevind het, was dit lokale vloed.

Kyk ook Teïstiese evolusie.

Probleme

Afgesien van die wetenskaplike probleme waarmee hierdie teorieë sit, is daar veral twee probleme waarmee bogenoemde ou-aarde skeppingsteorieë te make het:

1. Dood voor die sondeval

Al hierdie teorieë aanvaar dat daar dood voor die sondeval was. Dit beteken dat God se “…dit was baie goed” (Genesis 1:31) ook dood en swaarkry ingesluit het.

2. Noag se vloed lokaal

Omdat al bogenoemde teorieë glo dat die geologiese- en fossielrekord miljoene jare oud is, kon Noag se vloed nie wêreldwyd wees nie, want anders sou die geologiese- en fossielrekord deur die sondvloed bepaal gewees het, wat 2348 vC plaasgevind het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui