Genesis skipperaar

‘n Genesis skipperaar (of kompromitterende Christen) is ’n Christen wat Genesis 1 tot 11 nie letterlik wil interpreteer nie, maar figuurlik. Dit sluit die volgende in:

  1. Beskrywing van skepping in ses, 24-uur dae (Gen 1)
  2. Sondeval (Gen 3)
  3. Adam se geslagsregister tot Noag (Gen 5)
  4. Sondvloed en Noag (Gen 6-9)
  5. Nog geslagsregisters (Gen 10-11)
  6. Toring van Babel (Gen 11)

Hulle glo gewoonlik dat Genesis 1 tot 11 vir die eerste keer opgeskryf is in ballingskap deur inligting van eeue lange mondelinge oordrag en dat Genesis 1 ’n gedig is oor die skepping en daarom nie gesien moet word as geskiedenis nie.

Die hoofrede vir so ’n siening is gewoonlik om die Bybel met miljoene jare en/of evolusie te versoen. Dus, in plaas daarvan om die “wetenskap” agter ’n ou aarde en evolusie te bevraagteken, verlaat Genesis skipperaars die voor die handliggende verstaan van Genesis 1 tot 11, wat duidelik bedoel is om as geskiedenis geïnterpreteer te word.

Die volgende is gewoonlik ononderhandelbaar vir Genesis skipperaars:

  1. Bestaan van die duiwel en die hel
  2. Redding slegs moontlik deur Jesus Christus
  3. Jesus se godheid, maagdelike geboorte, opstanding, wonderwerke en hemelvaart
  4. Homoseksualiteit as sonde
  5. Profesieë in die Bybel
  6. Jona was vir drie dae in ’n vis se maag
  7. Die uittog uit Egipte en al die gepaardgaande wonderwerke
  8. Abraham as historiese figuur

Wat Genesis skipperaars blykbaar nie besef nie is dat hulle presies dieselfde doen met Genesis 1 tot 11 as wat liberaliste doen met hierdie dele.

Oorsprong van woord

Die Engelse woord wat gebruik word is “compromising Christians”. Hierdie woord word egter in die algemeen gebruik wanneer Christene iets van hulle geloof opoffer om aanvaar te word in die samelewing. “Compromise” kan vertaal word as skik, (tot ‘n) vergelyk (kom), kompromis/kompromitteer, toegee, middeweg, tegemoetkom. ’n “Compromiser” word vertaal as skipperaar.

Die woord “versoen” word in Engels vertaal as reconcile, conciliate, accommodate, expiate.

Volgens die HAT is die definisie van skipper die volgende:

Na omstandighede handel en nie aan jou beginsels vashou nie; moeilikhede ontwyk: probeer om deur al die standpunte te skipper. | Ek vertrou haar nie; sy skipper te maklik rond.  ⇒ skipperaar.

3 thoughts on “Genesis skipperaar”

  1. Val diegene wat die moderne fabel, die onSkriftuurlike leuen, aanvaar dat Esra die outeur of samesteller van die Pentateug is, en nie Moses nie, ook onder Skipperaars?

    1. Ja beslis. Daar is net een rede hoekom beweer word dat Genesis tydens ballingskap geskryf is en dit is om die integriteit/akkuraatheid daarvan aan te val sodat jy dit nie letterlik hoef te glo nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui