Briewe oor homoseksualiteit September 2016

Kyk ook:

Die volgende briewe het op 18 September in die koerante verskyn:

*******

Wil gay gelowiges NGK laat skeur?

18 September 2016
Ds. Dirk Myburgh (emeritus), Pretoria, skryf:
Dr. Chris Jones het in verlede week se koerant veel te sê oor swak morele leierskap in die NG Kerk, maar rep nie ’n woord oor die leiers as diensknegte van God in die eerste plek nie. Dit gaan in die gay-debat tog nie oor moraliteit nie, maar oor die evangelie van Jesus Christus wat vir sondaars kom sterf het. Ek kry die indruk dat hy die Bybel liefs opsy skuif ter wille van moraliteit.
Ons het inderdaad uiters bekwame en toegewyde leiers in die NG Kerk wat in die eerste plek as dienaars van God sy Woord suiwer verkondig en toepas.
God het man en vrou geskape om vrugbaar te wees. Daar word nie voorsiening in die Woord gemaak vir gays om te trou nie. Die liefdesgebod laat egter nie toe dat hulle as gelowiges verwerp of verhinder word om lidmate te wees nie, maar dit sluit nie die huwelik tussen man en man of vrou en vrou in nie. God se gebod kan tog nie deur ’n mens verander word nie.
Daar rus ook op die gay gelowige ’n onus om bedag te wees daarop dat hulle nie medegelowiges laat struikel nie. Paulus het gesê as iets so nietigs soos om vleis van afgodsoffers te eet die swakkes in die geloof laat struikel, hy nooit vleis sal eet nie. Die gay gelowige moet welkom in die kerk voel en om die gemeentesang te begelei.
’n Lidmaat wat daardeur struikel, het nog nie die liefde van Christus in sy hart nie. Maar vir gays om in die kerk te trou en te aspireer vir die prediking, sal soveel gelowiges laat struikel dat die kerk, die liggaam van Christus, sal skeur.
Wil gay gelowiges dit regtig hê?

Dis God se kerk – Hý moet sê oor gays

18 September 2016 00:00

Dr. Etienne Liversage, Ladysmith, skryf:
Dit is verstommend hoe die siening van die minderheid met betrekking tot gay-huwelike in die NG Kerk in die media dominerend en eensydig verkondig word sonder gebalanseerde verwysing na wat die Heilige Gees se standpunt oor die saak is.

Die allesoorkoepelende vraag vir die media wat ’n kerkaangeleentheid hanteer, moet tog sekerlik wees wat God self hieroor sê, aangesien Hy die huwelik tussen man en vrou ingestel het.
Talle tekste (1 Kor. 7:2-4; 1 Kor. 6: 18-19; 1 Thess. 4:3-4 en 7- 8) beklemtoon dat die Heilige Gees ’n huwelik tussen twee persone van dieselfde geslag en dan spesifiek voor ’n kansel van die NG Kerk, ongeag die huidige tydsgees, ten sterkste verbied.

NG lidmaat, Uitenhage, skryf:
Is dit nie arrogant van gays om ten koste van die NG Kerk en dreigende skeuring hul wil af te dwing nie? Waarom dan juis die NG Kerk? Kan of wil ander kerke hulle dan nie akkommodeer nie? Wat daarvan om hul eie kerk te stig?

Ria Theron skryf:
Dit sal inderdaad hartseer en jammer wees as die NG Kerk skeur oor menslike interpretasies ten opsigte van Skriftuurlike en Goddelike aangeleenthede.
Ek is nie ’n teoloog nie, maar ek staan verwonderd oor hoe die Skrif verdraai kan word om by die mens en sy omstandighede aan te pas.
As ons mense in die kerk met geforseerde glimlagte verwelkom, hetsy of hulle homoseksueel, arm, gebreklik of selfs anderskleurig as onsself is, dan lê die probleem by ons harte en ons verhouding met God. Jesus het ons immers geleer en die voorbeeld gestel dat ons moet liefhê “ten spyte van”; “ondanks” en nie “omdat” nie. Nie een van ons het die reg om te oordeel of te veroordeel nie, maar dit maak ook nie reg wat verkeerd is nie. Elke mens het die reg op aanvaarding en liefde, maar dan binne die raamwerk en riglyne van die Skrif.

John Ackermann, Kaapstad, skryf:
Toe ek jonger was, het ek altyd gedink NG staan vir “Nie Gered”, maar nou kom ek tot die slotsom dit staan vir “Net Gay”.

Dries Boshoff skryf per e-pos:
Laurie Gaum en sy tien andersdenkendes probeer nou regtig om die kerk te skaak.
Dat hulle (soos berig) voor November in die kerk wil trou om die kerk in ’n hoek te dryf is nie net onchristelik nie, maar gemeen [kyk NGK: ‘Vra gay lidmate om verskoning’]. Dit is soos ’n man wat ’n dame in die ander tyd wil plaas net dat sy met hom moet trou. Agterbaks.

Julle siening dat ander lidmate leiding moet kry om die Skrif reg te verstaan, grens aan arrogansie en verwerping van die Bybel. Verder eis julle ’n verskoning. Vir wat? Julle dwaal en daarom moet julle nou wegbeweeg van die Kerk en iewers anders ’n heenkome soek.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui