Gay kwessie ook in die Presbiteriaanse kerk

Kyk ook:

Die volgende twee artikels is van Netwerk24 gekopieer wat wys dat die gay kwessie ook in die Presbiteriaanse kerk woed.

Volgens die artikel is daar 1500 gesinne wat progay is. Dit is ongelooflik om te verneem hoeveel mense in die kerk nie glo dat homoseks sonde is nie.

Die volgende stelling spreek boekdele: “Ds. Nelis van Rensburg, die NG Kerk se moderator, het gesê hy hoop die gesprek oor die saak sal in ’n “gees van liefde” geskied.”

Dit wys maar weereens Nelis Janse van Rensburg se progay siening.

********

Nog ’n kerk dreig om te skeur oor gays

Johan Eybers, 14 November 2015 23:55

Ds. Martin (Chunky) ­Young

Gemeentelede van die St. Columba’s-gemeente van die Presbiteriaanse Kerk in Parkview, Johannesburg, dreig nou om van die Presbiteriaanse Kerk weg te breek nadat die kerk se twee predikers voor ’n tugverhoor gedaag is omdat hulle gay paartjies in die eg verbind het.

“Ons is reg vir die kerk. As hulle ds. Martin (Chunky) ­Young en prof. Hansie Wolmarans wegjaag omdat hulle gay paartjies in die huwelik bevestig en hul huwelike geseën het, gaan ons beslis nie die saak daar laat nie. Daar word reeds in die gemeente daarvan gepraat om weg te breek,” sê Geoff van Heerden, kommunikasiehoof van die gemeente.

Hoewel die Presbiteriaanse Kerk se amptelike beleid predikers verbied om paartjies van dieselfde geslag in die eg te verbind en hul huwelike te seën, voel gemeentelede dat predikers toegelaat moet word om deur hul persoonlike oortuigings gelei te word en dat die kerk nie aan hulle of die gemeente hieroor mag voorskryf nie, sê Van Heerden.

“Die gay-kwessie en gay-huwelike is al lankal in ons gemeente uitgeklaar en aanvaar.

“Almal is bewus van ds. Young en prof. Wolmarans se standpunt van inklusiwiteit oor die aangeleentheid en albei van hulle is openlik daaroor dat hulle gay paartjies in die eg verbind en dit seën.

“Ons gemeente is trots op ons leraars se verligte en onbevooroordeelde standpunte rakende dié en ander kwessies,” sê hy.

“Sover ek weet, was daar net twee gesinne die afgelope klompie jaar wat die gemeente verlaat het omdat dit vir hulle ’n probleem was.

Die ander 1 500 gesinne in die gemeente steun ds. ­Young en prof. Wolmarans ten volle.

Volgens Van Heerden blyk dit dat die kerk teen Young en Wolmarans optree weens ’n persoonlike vendetta wat ’n leraar van KwaZulu-Natal teen hulle voer.

Dié leraar het vroeër vanjaar ’n klag teen Wolmarans by die kerk ingedien wat lui dat sy leerstellings oor die godheid van Jesus, sy opstanding en die wederkoms en ander kwessies glo teenstrydig is met die Bybel.

Die kerk het die klag verwerp.

Dieselfde leraar het toe glo ’n klag teen Wolmarans en Young ingedien oor die bevestiging van gay-huwelike.

Die klaer in die eerste saak, ds. Jeremy Smith, het by navraag gesê dit is “absoluut nonsens dat (hy) ’n persoonlike vendetta teen Wolmarans of Young het”.

“My enigste probleem is Wolmarans se beskouings oor Bybelse sienings wat niks anders is nie as kettery.

“Ek het nie die jongste klagte ingedien nie en ek het niks te doen met die ondersoek na bewerings dat hy en Young die kerk se reëls oortree het deur gay egpare in die eg te verbind nie,” sê hy.

***********

Presbiteriane kla predikante aan oor gay-huwelike

15 November 2015 23:17

Twee predikante van die Presbiteriaanse Kerk het verlede week voor ’n tribunaal in dié stad verskyn op aanklagte van wangedrag nadat hulle vier gay-huwelike voltrek het, het dieSunday Timesgister berig.

“Sover dit my aangaan, word die verkeerde mense aangekla,” het Hansie Wolmarans, ’n professor in teologie aan die Universiteit van Johannesburg, aan dié koerant gesê.

Wolmarans het verlede Maandag saam met ds. Martin (Chunky) Young in die kerk se kantore in Parktown voor die provinsiale regsliggaam, die eGoli-ringskommissie, verskyn.

’n Klagte is deur ’n dominee in Kaapstad teen Wolmarans en Young ingedien nadat hulle die vier gay-huwelike voltrek het.

Predikante van die Presbiteriaanse Kerk mag nie registreer om ’n lisensie vir die voltrekking van siviele verbintenisse te bekom nie. Maar Wolmarans, wat wel só ’n lisensie het, het die wetlike vereistes van die huwelik voltrek, terwyl Young die seën oor die huwelike uitgespreek het.

Die twee mans voer aan dat die kerk se huidige reëls die Suid-Afrikaanse wet oortree wat huwelike tussen dieselfde geslag toelaat.

Die Presbiteriaanse Kerk se streeks- en nasionale liggame wou nie aan die koerant kommentaar lewer nie omdat ’n beslissing in die twee se verhoor nog nie gefinaliseer is nie.

Intussen het Rapport gister berig die NG Kerk se besluit om gays toe te laat om in die kerk te trou en gay predikante te legitimeer sonder dat hulle selibaat hoef te wees, is op appèl uitgestel.

Volgens die koerant het sommige van die kerkleiers wat oorspronklik ten gunste van die veranderinge gestem het, nou van besluit verander.

Die kerk se leiers sal weer volgende week bymekaarkom om die saak te bespreek.

Ds. Nelis van Rensburg, die NG Kerk se moderator, het gesê hy hoop die gesprek oor die saak sal in ’n “gees van liefde” geskied.

Hy het verlede week aanDie Burgergesê die NG Kerk is ’n “beweging vir alle mense. Ons verskuif ons mure uit om plek te maak vir nóg mense”.

News24

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui