Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade

Inhoud: Jesus, Ander, Ten slotte

Daar is mense wat die indruk skep dat Jesus net sagmoedig is en daarom moet alle gelowiges ook alles met die grootste sagmoedigheid doen.

Daar is nie kwessies dat ons God ’n God van liefde en genade en sagmoedigheid is nie, maar om voor te gee dat dit Sy enigste karaktereienskap is, is oneerlik. Dit is definitief nie die Jesus wat ons in die vier evangelies leer ken nie. Jesus was meestal baie sagmoedig – dink maar aan:

  • Lukas 18:16 : Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.
  • Johannes 8:1-11 : Waar Jesus opgekom het vir die vrou wat op owerspel betrap is.
  • Matteus 20:29-34 : (34)Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

Daar is nog baie voorbeelde.

Maar Jesus het nie teruggehou teenoor skynheiliges en mense wat van beter moes geweet het nie.

Sommige van Jesus se uitsprake en optredes

Hier volg ’n paar uitsprake van Jesus in die vier evangelies wat baie mense as liefdeloos sal kan beskryf. Dit is duidelik dat Jesus nie terughou teenoor mense wat van beter moes geweet het nie.

Matteus 7:15

(15)”Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.

Matteus 7:13,14,21-23

(13)Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. (14)Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.

(21)Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (22)Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ (23)Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.

‘n Mens sou kon sê dat hierdie ongenaakbaar van Jesus was.

Dit is baie ironies dat hierdie volg net na Matteus 7:1-5 wat sommige mense gebruik om te sê dat ons nie mag oordeel nie.

Matteus 10:32-38

(32)“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. (33)Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.” (34)”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)”Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

Jesus is duidelik daaroor dat ’n mens swaarkry en konflik kan verwag.

Vers 38 is baie harde woorde: as jy nie bereid is om Jesus te volg ten spyte van swaarkry nie, kan jy nie aan Hom behoort nie. Jy gaan nie ’n verskoning hê as jy nie Jesus gevolg het nie.

In Lukas 12 staan: (49)“Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is! (50)“Maar daar is ’n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is!

Hier simboliseer vuur die suiwering van iets deur vernietiging van die onsuiwer.

Matteus 13:41-42

(41)Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, (42)en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

Matteus 17:17

(17)“Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier vir My!”

Hier praat Jesus met sy eie dissipels. Weereens, Hy hou nie terug teenoor hulle wat van beter moes geweet het nie.

Matteus 18:6-7

(6)“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. (7)Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.

Matteus 22:16

(16)Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ’n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.

Dit is duidelik dat Jesus altyd die waarheid verkondig het, selfs al het dit beteken dat hy op mense se tone getrap het. Jesus was nie polities korrek nie. Vir Hom was dit belangriker dat die waarheid duidelik verkondig word.

Matteus 22:29

(29)Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.

Hier kon Jesus maklik eerder vir hulle op sagmoedige manier probeer verduidelik het, maar Hy het nie. Hy gebruik harde woorde.

Lukas 10:10-16

(10)Maar as julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: (11)‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ (12)Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp. (13)“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. (14)Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. (15)En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal! (16)“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

Hoekom was Jesus se benadering teenoor die mense wat hulle nie wou ontvang, eerder gewees: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34)?

Lukas 12:8-10

(8)“Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. (9)Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. (10)“Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

‘n Mens wonder of Jesus hier nie te hard is nie. Moet Hy nie eerder die ander wang draai, soos Hy self verkondig nie? (Matteus 5:39)

Matteus 23:13-26

In Matteus 23 sê Jesus woorde soos:

  • Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” (‘n Volle sewe keer!)
  • Blinde dwase!
  • Julle blindes!
  • Blinde leiers!
  • Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.
  • Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?
  • Vers 36 sluit af met “Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.
  • In Lukas 13:32 sê Jesus van Herodes: “Gaan sê vir daardie jakkals: …

As iemand durf waag om vandag hierdie tipe taal te gebruik sal so ’n persoon behoortlik uitgekryt word as liefdeloos. Jesus was dus glad nie altyd hierdie sagte persoon wat altyd simpatie en empatie met almal gehad het nie. Soms het Hy mense reguit en selfs aggressief aangevat en geen doekies omgedraai nie.

Johannes 2:14-16

(14)Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. (15)Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. (16)Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.”

Let daarop dat Jesus eers ’n sweep gaan vleg het, dus was dit nie ’n geval dat Jesus in ’n oomblik van swakheid Sy humeur verloor het en opgetree het sonder om behoorlik te dink nie – Hy het genoeg tyd gehad om te dink aan wat Hy gaan doen het. Dit was ’n fyn beplande aksie.

Johannes 8:43-47

(43)Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie! (44)Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen. (45)En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. (46)Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? (47)Wie ’n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”

Hier praat Jesus met die Jode wat nie tot bekering wou kom nie. Moes Jesus nie meer geduld met hulle gehad het nie?

Ander in die Nuwe Testament

Daar is baie voorbeelde in die Ou Testament waar God en/of ander manne van God ongenadig was. Dink maar aan die vernietiging van Sodom en Gomorra (Genesis 19:24)en die 42 kinders wat deur twee bere verskeur is nadat hulle Elisa gespot het (2 Konings 2:23-24). Party mense dink dat God tussen die Ou en Nuwe Testament ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Dit is natuurlik nie waar nie, want die Bybel sê dat God nooit verander nie (Hebreërs 1:12, Maleagi 3:6 en Jakobus 1:17).

Om te wys dat die gelowiges ná Jesus se koms nie anders gedink het nie as in die Ou Testament nie, word hier ’n paar voorbeelde gegee:

Handelinge 5:1-11

Ananias en Saffira sterf omdat hulle gelieg het oor die prys waarvoor hulle hul grond verkoop het.

Handelinge 8:20-23:

(20)Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? (21)In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. (22)Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. (23)Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”

Handelinge 13:9-12

(9)Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk(10)en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan!(11)Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.”Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei.(12)Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

Handelinge 18:5-6

(5)Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. (6)Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

Romeine 11:22

(22)Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.

1 Korintiërs 5:9-12

(9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

Galasiërs 1:9

(9)Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het — die vloek van God sal hom tref!

Efesiërs 5:6-7

(6)Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. (7)Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

2 Timoteus 3:5

(5)Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.

Titus 3:10-11

(10)Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, (11)omdat jy weet dat so ’n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Hebreërs 10:26-31

(26)Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (27)Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. (28)As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. (29)Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? (30)Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” (31)Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

2 Johannes 1:7-11

(7)Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”, “die antichris”, bedoel. (9)Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun. (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Ten slotte

Die idee dat ons slegs ’n sagte benadering tot alle mense en alle omstandighede moet hê en nie mag oordeel nie, is nie waar nie en is afkomstig van die humanistiese kultuur vandag. Dit is nie ’n benadering wat die Bybel (Jesus) ons leer nie.

As Jesus soms duidelik en ferm opgetree het, dan moet ons ook. Dit gee ons nie die reg om te oordeel en veroordeel soos ons wil nie of op kruistogte te gaan nie, maar daar moet ’n definitiewe balans gehandhaaf word.

Die doel van hierdie skrywe is nie om God of Jesus of die manne van God as liefdeloos uit te beeld nie, maar om balans te bring in ’n humanistiese kultuur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui