‘Sendingbeweging, nié kultus’

Kyk ook:

‘Sendingbeweging, nié kultus’

Neels Jackson –  2012-04-29 22:41

(Van Beeld gekopieer.)

Die ontluikende kerke, oftewel emerging churches, is nie ’n kerkgenootskap met ’n beleid om Jesus Christus af te breek nie.

Dis ’n sendingbeweging wat die evangelie aan postmoderne mense wil bring.

Só sê prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, na aanleiding van die kritiek waaronder hy die afgelope tyd moes deurloop.

Niemandt was onder meer verlede week in Beeld se brieweblad in die spervuur omdat hy die ontluikende kerke verdedig.

Kritici van dié kerke meen hulle verkondig dwalinge.

Leiers in die ontluikende kerkbeweging sluit figure in soos die skrywers Leonard Sweet, Tony Jones en Brian McLaren.

Die evangelie wat hy by die ontluikende kerke hoor, sê Niemandt, is dat Jesus Christus versoening bring tussen God en mens, tussen mense onderling en tussen mense en die natuur.

Daarby staan die uniekheid van Jesus Christus baie sterk in die ontluikende kerke.

Niemandt sê dat daar wel verskillende sieninge oor sommige kwessies in die ontluikende kerke is, maar hy identifiseer sterk met dié sentrale fokus en met die klem wat daarop gelê word dat dit moet neerslag vind in die praktiese lewe.

Hierby hou hy van die absolute ywer en passie om die evangelie te bring aan mense wat die kerk verlaat het, wat hy ook by die ontluikende kerke kry.

Hy verwerp die siening dat die ontluikende kerke ’n kultus is, en wys daarop dat ’n ontluikende beweging soos Fresh Expressions in Brittanje deur die Anglikaanse kerk gesteun word.

In Nederland, sê Niemandt, doen hoofstroomkerke ontluikende kerkplantings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui