Laat ons mekaar aanvaar, nes in Romeine gesê word

Kyk kommentaar tussen die teks.

*********

Laat ons mekaar aanvaar, nes in Romeine gesê word | Kerkbode

19 September 2022

Hierdie is ’n lesersbrief. Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Leon M Foot van Welkom skryf: Ek is lid van die NG Sinode VS waar die afkorting VS staan vir Vrystaat, hierdie sentrale streek van uitgestrekte vlaktes en mynhope, van pragtige wolkformasies en sonsondergange. Dit lyk egter of sommige die VS sien as die afkorting vir “versus”, om teen iemand of iets te wees, soos in Cheetahs vs Stormers. Sommige wil blykbaar altyd teen iets wees – al is dit teen onsself.

Die VS Sinode ervaar druk van binne en buite om weg te breek van die Algemene Sinode, om ons bande met die res van die kerk te verbreek. [Kommentaar: Kyk Al hoe meer besef: NG Kerk móét nou herskik (Pieter Prinsloo, 14 Aug 2022)] In die middel van die vorige eeu is baie moeite gedoen om kerke van die vier destydse provinsies byeen te bring om uitdrukking te gee aan ons eenheid wat ons elke Sondag bely. So ernstig was ons voorouers hieroor dat hulle dit laat inskryf het dat uittrede uit die verband net kan geskied as “so ’n stap voor God in die lig van sy Woord” regverdig kan word. [Kommentaar: Dit is deel van artikel 37 van die kerkorde.]

Natuurlik het ons kerk haar eie uitdagings – ons is immers nog nie in die hemel nie! Van die begin af was dit so: Toe Paulus en Petrus verskil het, het hulle mekaar in Jerusalem ontmoet en uiteindelik vir mekaar ruimte gelaat. [Kommentaar: Kyk Handelinge 15 gebruik om homoseksualiteit in die kerk te normaliseer.] In Romeine word gesê dat ons mekaar moet aanvaar, selfs diegene wat net groente eet! Die sake waaroor gelowiges in die kerk verskil, is nie sake wat die hart van die evangelie aantas nie; die genadige verlossingdaad van Jesus was nooit in die gedrang nie. [Kommentaar: Wil Leon die eet van groente werklik vergelyk met die sonde van homoseksualiteit, saamwoon en die bestaan van die duiwel?] Ongelukkig word sommige besluite so verdraai aan die wêreld voorgehou asof die AS die spoor byster geraak het. [Kommentaar: Kyk en besluit vir jouself of hierdie besluite verdraai voorgehou word: Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite.]

Toe slawerny in 1833 deur Brittanje afgeskaf is, het ’n klomp van ons voorouers die pad gevat en weggetrek onder die mag van die Engelse uit, want, het hulle onder andere gesê, die Bybel keur slawerny goed. [Kommentaar: Kyk Die Bybel oor slawe.] Vandag dink die kerk nie meer so nie. Ook oor ander sake het die kerk met tyd beter insig gekry. Ons vroue se hoofde is nie meer bedek met ’n hoed as hulle kerk toe gaan nie, en van hulle word selfs toegelaat om te preek.

Die kerk is weer by so ’n oomblik in die geskiedenis. Dit is tyd dat die VS hande vat en saam die uitdagende pad loop, eerder as om versus mekaar te staan en baklei.

[Kommentaar: ’n Mens sou vir Leon wou vra of daar geloofskwessies is wat so belangrik is dat paaie moet skei.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui