Leon Foot: Dáár waar God van genade is

In die volgende artikel is dit duidelik dat Leon Foot glo dat ons afstammelinge van ’n soort oermens is: mense wat bloot bestaan het ter wille van hulle eie oorlewing. Later het hierdie mens meer menslik geword.

Die Bybel gee egter ’n heel ander prentjie: Adam en Eva en hulle kinders was van die begin af ontwikkelde mense. Hulle het nie bloot bestaan ter wille van hulle eie oorlewing nie.

*******

Leon Foot: Dáár waar God van genade is | Netwerk24

Leon Foot

13 September 2022

Een van die eerste tekens van medemenslikheid was te bespeur in die opgrawing van ’n geraamte met ’n gebreekte femur wat weer aangegroei het. As jou arm breek, sou jy nog kos kon versamel en jouself verdedig, maar jy kan nie op jou eie aangaan met ’n gebreekte bobeen nie. Jy sou moes stil lê en andere sou jou moes versorg. Só sou jy ontdek dat jy andere nodig het.

Vir ons voorouers was dit ’n belangrike les. Hulle het in die spreekwoordelike oerwoud gewoon waar die wet van die sterkere gegeld het. Elke oomblik moes jy waaksaam wees sodat niemand jou aanval, beroof of doodmaak nie.

Beperkte hulpbronne was waarskynlik ’n groot rede vir dié lewenswyse. Die mens se ingebore oorlewingsdrang (wat vanuit ’n ander perspektief baie na selfsug lyk) setel diep in ons DNS.

As my oorlewing ten koste van jou moet wees, is dit maar so. Dit kan nie anders nie, want ek wil oorleef.

Die besef het tog gegroei dat wat tot my voordeel is, ook tot voordeel van my bure is. Geleidelik ontstaan ooreenkomste tussen mense. Ek het kos nodig en jy het kos nodig; as ons saam jag, is ons meer suksesvol. Daar is argeologiese bewyse dat ons voorouers in groepe saamgewerk het om groot diere soos mammoete en olifante te jag. Dit gee meer kos en gemeenskappe ontstaan.

Binne die gemeenskappe ontwikkel onderlinge ooreenkomste. Geleidelik raak die gemeenskap net so belangrik soos die individu. Sekere waardes tree in: Ek vat nie jou goed nie en jy vat nie myne nie; ek sal jou nie doodmaak nie en jy maak my nie dood nie. Natuurlik was dit nie altyd so maklik nie: As die bronne min was en my oorlewing op die spel, moes die ooreenkoms maar plek maak vir my selfbehoud. Waar die gemeenskap gewerk het, was dit wedersyds voordelig. Beskawing lei tot medemenslikheid tot almal se voordeel.

In Afrika kry dit uiting in ubuntu, wat sê ’n mens is ’n mens deur ander mense. Ons het mekaar nodig. In die Christelike tradisie sou dit neerslag vind in Christus se lering: Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Filosofieë soos hierdie moet konkrete gestalte kry en daarom het vroeë beskawings riglyne begin formaliseer om dit uit te leef. In die 21ste eeu voor Christus is in die stad Ur, waar Abram vandaan kom, ’n regskodeks deur koning Hammoerabi saamgestel wat neerslag vind in moderne wetgewing. Hierdie kodeks was nie net oor ooreenkomste tussen mense nie, dit het ook voorskrifte gehad oor hoe om op te tree wanneer die riglyne oortree word – ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.

’n Beskawing kom tot stand. In die Joodse (Ou Testamentiese) tradisie vind dit neerslag in die Tien Gebooie en daaropvolgende riglyne.

[Kommentaar: Dit wil so al voorkom of Leon Foot impliseer dat die Tien Gebooie ’n menslike skepping is en nie deur God aan Moses gegee is nie.]

In ’n moderne beskawing is steeds reëls wat almal beskerm en bevoordeel, maar nie almal speel daarvolgens nie. As alle voertuie links hou, is dit tot almal se voordeel, maar ’n taxi wat verbyjaag om voor in te druk, is selfsugtig. As ’n politieke amptenaar sy posisie misbruik vir selfverryking, is dit nie medemenslik nie.

Daar is wel tekens van medemenslikheid, soos die droogtehulp aan boere, maar onlangse berigte oor die allerwreedste plaasaanvalle, huishoudelike geweld, verkragting, moord, aanranding en diefstal is ’n daaglikse herinnering dat ons as beskawing misluk. Ons verloor ons medemenslikheid.

Voeg hierby die moderne sosiale media, waar interaksie beperk word tot ’n skerm vir byna anonieme elektroniese kontak. Dan verstaan ons die desperate noodkreet van die 21ste eeu, anders as Martin Luther s’n: Waar vind ek ’n genadige medemens? Hopelik dáár waar ek ’n genadige God vind.

Dr. Foot is al 33 jaar leraar van die NG gemeente Welkom-Suid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui