Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig

Frits Gaum reageer hieronder op hierdie artikel:

**********

Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig | Kerkbode

19 September 2022
Frits Gaum van Durbanville skryf: Dit was met ’n gevoel van absolute verslaenheid – eintlik verbystering – dat ek in Kerkbode (Sien berig) gelees het dat die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) besluit het dat nié uitvoering gegee gaan word aan die Algemene Sinode 2019 se besluit dat die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake opdrag kry om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag nie.

Nee, het die ASM besluit, dit was nie ’n “prinsipiële” besluit ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie, maar ’n “proses-besluit” en proses-besluite hoef blykbaar nie uitgevoer te word nie. ’n Wonderlike nuwe onderskeiding wat die ASM na drie jaar uitgedink het (terwyl intussen blykbaar niks gedoen is om so ’n formulier te skryf nie)! So word van ’n – vir sommige – lastige besluit van die Algemene Sinode ontslae geraak. Amper nes ná die positiewe besluit oor selfdegeslagverbintenisse van 2015 wat deur die ASM op ys geplaas is. Dit het op die ou end ’n hofsaak gekos om dié besluit uit die yskas te kry.

Ek glo nie die onderskeid tussen “prinsipiële” en “proses”-besluite is geldig nie. Dit was tog ’n prinsipiële besluit van die sinode om in hierdie stadium oor dié saak “ruimte vir amal te skep om volgens hulle oortuiging op te tree”, om vir predikante wat hulle weg oopsien, toestemming te gee om gay-pare in burgerlike (of liefs trou-) verbintenisse te bevestig, en om ’n formulier te ontwikkel om sulke verbintenisse kerklik en dus in die naam van die Here te laat gebeur. Die ASM loop myns insiens op baie dun ys met hulle onderskeiding tussen soorte besluite en die nie-uitvoering van duidelike opdragte. En hulle help op dié manier om die gesag van die beleërde Algemene Sinode verder te ondermyn.

1 thought on “Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig”

  1. Stem saam met Frits oor hierdie saak. Vind die onderskeid wat die AS nou maak tussen proses en prinsipiële besluite merkwaardig. Ten spyte van die klaarblyklike proses besluit, is tog ook besluit om ’n huwelik formulier te ontwikkel. Dankbaar dat die opstel van die formulier intussen gekelder is, maar hoe dit ook al sy, het die 2019 groot verdeeldheid in die kerk gebring. Ek hoop en vertrou dat ons geliefde kerk die pad terug sal vind na die waarheid en getrouheid aan die Woord belangriker sal ag as politiese en sosiale konformasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui