Al hoe meer besef: NG Kerk móét nou herskik

Kyk ook kommentaar onderaan.

*******

BRIEWE | Al hoe meer besef: NG Kerk móét nou herskik | Netwerk24

Sondag, 14 Augustus 2022

Ds. Pieter Prinsloo, Kroonstad, skryf:

Dink jou die volgende scenario in: ’n Man daag eendag by sy vrou op en sê hy het besluit daar is “ruimte” vir nog ’n vrou in hul huwelik.

Wanneer die koekrollers en panne begin vlieg, roep hy beangs uit: “Maar skat, ek is nog steeds vir jou óók lief!” En wonder dan hoekom sy nie die nuwe reëling net gelate wil aanvaar nie.

Bisar, nè?

Dit is presies die soort kontrakbreuk wat die algemene sinode van die NG Kerk in 2019 goedgekeur het onder die dekmantel van ’n ruimhuisbenadering.

Die leiers van die sinode behoort te begryp dat hierdie ruim huis vir baie gemeentes onaanvaarbaar is, want hulle het nie daartoe ingestem toe die gesamentlike Belydenis en kerkorde in 1962 ooreengekom is nie.

Daarom vra gemeentes bloot dat dieselfde leiers wat die ruim huis geskep het, ruimte sal gee dat gemeentes kan uittree uit die bedeling waarvoor hulle nie gevra het nie.

Om ’n oplossing vir dié probleem te kry, bespreek die Vrystaatse Sinode van die NGK tans die volgende plan:

  • NG gevolmagtigdes deel gemeentes wat wil uittree, saam binne ’n bepaalde streeksinode;
  • Gemeentes van die bepaalde streeksinode wat binne die verband met die algemene sinode wil bly, kry gevolmagtigde goedkeuring om ingedeel te word by ander streeksinodes; en
  • Die heringedeelde streeksinode tree dan bloot met behoud van eiendom uit die verband.

Sedertdien het die Oostelike Sinode vergader en ’n alternatiewe plan op die tafel geplaas. Hoewel dit problematies is dat verskillende streeksinodes terselfdertyd besig is met afsonderlike prosesse om uit die verband met die algemene sinode te tree, is daar wel een aspek wat verblydend is: Al hoe meer kerkleiers op streekvlak begin besef dat hierdie herindelingsprosesse onafwendbaar is.

Dit is daarom noodsaaklik dat leiers binne spesifiek die algemene sinode sterker na vore sal tree om al die streeksinodes op een bladsy te kry. Gaan hierdie leiers opstaan of gaan hulle skuilplek soek agter aanvegbare interpretasies van prosedures en reglemente?

Daar is bemoedigende tekens dat sommige leiers se aanvanklike skeptisisme jeens dié prosesse tot ’n einde begin kom. Indien hierdie leiers met wysheid betrokke raak in gesprekke met streek­sinodes, kan die welwillende skeidingsproses sinvol afgehandel word.

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Met verwysing na die Russies-Ortodokse Kerk (ROK) vra Amie van Wyk hoe “die kerk van Christus” Poetin se oorlog kan steun. Nou wat laat hom dink die ROK is die kerk van Christus? Dis ’n staatskerk.Onthou: Nie elke kerk is die kerk van Christus nie. Die meeste is so vol dwaalleer dat hulle dit nie meer kán wees nie. Dit geld ook die NG Kerk – as gevolg van die dwaalleer wat die algemene sinode en liberale teoloë ingebring het.

Kommentaar

Pieter se voorstel is om ‘n grasieuse skeuring in die NG Kerk te bewerkstellig. Om dit meer prakties te verduidelik word die volgende scenario as voorbeeld gebruik:

  1. ‘n Bepaalde streeksinode (veronderstel die Vrystaatse sinode) maak ‘n beginselbesluit om uit die verband te tree (om van die NG Kerk te skeur).
  2. Gemeentes in die Vrystaatse sinode wat nie uit die verband wil tree nie, kry geleentheid om by ander streeksinodes ingedeel te word wat nie uit die verband wil tree nie. Gemeentes aan die noordekant van Vrystaat sal tipies by Hoëveld of Goudland aansluit, gemeentes aan die westekant by Noord-Kaapland en gemeentes aan die suidekant by Oos-Kaapland.
  3. (Dolerende) gemeentes in ander streeksinodes wat ook uit die verband wil tree, kry geleentheid om by Vrystaat aan te sluit.
  4. Al hierdie skuiwe moet goedgekeur word deur “NG gevolmagtigdes” sodat gemeentes wat skuif hulle bates behou en om toekomstige hofsake oor gemeentebates te verhoed.
  5. Nadat al bogenoemde skuiwe gemaak is, tree Vrystaat uit die verband (skeur met die NG Kerk) en skep ‘n nuwe denominasie. Nou is daar slegs nege streeksinodes in die NG Kerk.

Kyk ook ’n Plan vir verdeelde NG Kerk (17 Julie 2022).

Artikel 32 van die kerkorde moet in ag geneem word in die proses:

Artikel 32

Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/sinodale kommissie(s).Voetnota

Voetnota

Die onderskeie sinodes het verskillende benaminge (bv. moderamen, diensraad, sinodale dienskommissie) vir die liggaam wat die funksies van die sinodale kommissie verrig.

Alhoewel die kerkorde bepaal dat streeksinode saamgestel word uit gemeentes wat ’n geografiese eenheid vorm, kan die Algemene Sinode of selfs Algemene Sinodale Moderamen dit wysig. Dit sal streeksinodes toelaat om te groepeer volgens teologiese siening en nie bloot op geografiese ligging nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui