Kerkmense ‘het my teologies verkrag’, sê dominee

Kyk NG teologiese dosent bevraagteken die Godheid van Jesus vir Peter Nagel se artikel.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kerkmense ‘het my teologies verkrag’, sê dominee | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 8 Januarie 2023

Rapport

’n Teologiedosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) sê senior kerkleiers het hom “teologies verkrag” toe hy verhoor is oor ’n akademiese artikel waarin hy skryf Jesus is nie God nie.

“Ek is sprakeloos en probeer steeds verstaan hoe my navorsing tot my skuldigbevinding kon lei,” sê dr. Pieter Nagel, wat gelegitimeer is om in die NG Kerk te preek.

Die NG ring van Stellenbosch, onder voorsitterskap van ds. Charl Stander, het Nagel in Augustus verhoor weens leerdwaling.

Nagel is vier maande later skuldig bevind op drie van vier aanklagte, onder meer dat hy nie meer aan die Godheid van Christus glo nie.

Die ondersoekliggaam sê in sy uitspraak die klagte dat Nagel nie meer die leer van die verlossing soos die Gereformeerde kerke dit verstaan, onderskryf nie, is “nie voldoende ondersoek om tot ’n gevolgtrekking te kom nie”.

Die ondersoekliggaam het Nagel se ampsbevoegdheid vir ’n jaar van September af opgeskort en hy is verbied om van die kansel af te preek.

In sy artikel “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not Theós” [in die artikel verskyn dié woord deurgaans in antieke Griekse karakters], skryf Nagel Jesus is nie gedurende die eerste eeu beskou as een van ’n Godheid (of Theós) of as iemand wat nie mens is nie.

Theós is ’n antieke Griekse woord vir God of iets wat bonatuurlik is.

Die doel van sy studie was om die problematiek oor Jesus se godheid te ondersoek en aan die hand van Bybeltekste te beredeneer. Hy het ook gekyk na hoe ’n Hebreeuse godheid verstaan moet word.

Die ondersoekliggaam sê in sy bevinding Nagel se gevolgtrekkings hieroor weerspreek die kern van die kerk se belydenis van die drie-enigheid van God. “Die artikel poog om ’n saak uit te maak vir ’n bepaalde komplekse betekenis van [Theós] om dan vanuit daardie betekenis te beweer Christus was nie [Theós] nie, maar maak dan die kategoriese uitspraak wat ook al die term [Theós] gedurende die eerste eeu beteken het, die studie sal wys dat vir die Nuwe Testament-skrywers Jesus nie [Theós] was nie.”

Die liggaam het bevind Nagel het as ’n gelegitimeerde akademikus tot ander insigte gekom en gevolgtrekkings gemaak wat die kern van die kerk se belydenis weerspreek.

Nagel het aan Rapport gesê sy navorsing is aan portuurbeoordeling onderwerp en reeds drie jaar gelede in die vaktydskrif Neotestamentica gepubliseer.

“Die bevinding teen my is nie net ’n aanval op my as ’n akademikus en as ’n persoon nie, maar dit is ’n aanval op ’n gerekende vaktydskrif en op die beoordeling van my navorsing. Ek is uiters verbaas dat my stukkie navorsing skielik soveel opslae maak.”

Hy het die verantwoordelike en korrekte akademiese roete gevolg en word nou jare later daaroor vervolg, beweer Nagel.

Die inhoud van sy navorsing is nooit deeglik tydens sy verhoor bespreek nie en geen gesaghebbende Nuwe Testamentiese vakspesialiste was deel van sy verhoor nie, sê hy.

Volgens hom is hy verhoor om politieke redes om ’n voorbeeld van hom te maak.

“Dit dui op ’n poging om geen ruimte te skep vir behoorlike teologiese navorsing wat moontlik omstrede kan wees nie.

“Ek is die perfekte teiken vir die kerk om vir die behoudende groep te wys dat hul besware oor sogenaamde liberale teologiese opleiding by universiteite gehoor word.”

Nagel sê dr. Chris van Wyk, dr. Frederik Marais en dr. Pieter van der Walt, verteenwoordigers van die kuratorium, het hom in die beskuldigdebank geplaas om hom valslik daarvan te beskuldig dat hy sy standpunte, soos vervat in sy navorsingsverslag, vir studente leer.

“Hulle het my geestelik verkrag met hul bewerings en vrae. Dit was duidelik dat hulle ’n voorbeeld van my wou maak.”

Die dagbestuur van die kurato­rium van die sinode van Wes-Kaapland het toe ’n versoek gerig dat leerdwaling teen Nagel ondersoek word sonder dat enige amptelike klagte deur ’n individu teen hom aanhangig gemaak is, sê hy.

Van Wyk ontken Nagel se bewerings. “Die hart van die saak gaan daaroor dat ’n gelegitimeerde aanvoer dat Jesus nie God is nie, wat verskil van die leringe van die kerk. Dit het niks te make met enige twiste binne die kerk nie.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die algemene sinode, sê hulle het uit meer as een oord gerugte oor Nagel se standpunte oor die Godheid van Christus ontvang.

Volgens hom is Nagel se legitimasie tydelik opgeskort om hom tot herbesinning en bekering te begelei. “Indien Nagel sy standpunt regstel, sal die kerk sy legitimasie herstel.”

Janse van Rensburg het bevestig die US is Nagel se werkgewer en dat die NG Kerk nie sy dienste as dosent kan beëindig nie.

Kommentaar

Daniel Louw

In ‘n mate kan ‘n mens Peter Nagel se ontsteltenis verstaan. Tot op hede was hy waarskynlik vry om hierdie dinge openlik te sê.

In ‘n onderhoud met Dubois du Toit op 7 September 2021 het Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium, die teologiese fakulteite sterk verdedig. Hy het dit weer in ‘n video op 26 Oktober 2021 gedoen.

Nagel se skorsing is inderdaad hoogs waarskynlik polities van aard. Was dit nie weens die volgehoue druk wat die Kairos Netwerk op die kuratoriums geplaas het nie (kyk Kairos Netwerk Nuusbriewe: 24 Sep 2021, 3 Des 2021 en 1 Apr 2022), wonder ‘n mens of hulle hom uit eie oorweging sou skors.

Peter Nagel sal hoogs waarskynlik nie tot besinning kom nie. Hy sal hoogstens uit die NG Kerk bedank en steeds as teologiese dosent voortgaan om jong NG teologiese studente op te lei. Die enigste finansiële impak wat dit op hom sal hê is dat hy sy inkomste uit preke sal verloor.

Nagel is egter nie die enigste dosent wat hierdie tipe teologiese sieninge het nie. Louis Jonker het al byvoorbeeld tydens ‘n onderhoud op RSG ruimte gemaak vir die idee dat Moslems ook gered kan word en hy het soveel bewondering van Johannes du Plessis as teoloog gehad dat hy gereël het dat sy standbeeld (Pienk Piet) ‘n prominente plek by Stellenbosch gekry het. Hy was ook vriende met die Ferdinand Deist.

1 thought on “Kerkmense ‘het my teologies verkrag’, sê dominee”

  1. Ag asseblief. Die NG kerkie en sy Calvinistiese gemors was nog altyd maar ‘n klomp poefters en anti-Christus. Die Nagel twat met sy poofter hempie geen hom weg; akademikus….net in ‘n hool soos Suid-Afrika.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui