‘Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring’ – Kuratorium oor optrede teen dosent

******

‘Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring’ – Kuratorium oor optrede teen dosent | Kerkbode

Kerkbode

9 Januarie 2023

Verklaring van die dagbestuur van die Kuratorium van die Sinode van Wes-Kaapland na aanleiding van Johan Eybers se berig in Rapport op 8 Januarie 2023: Kerkmense ‘het my teologies verkrag’, sê dominee

Die dagbestuur van die Kuratorium het kennis geneem van bogenoemde berig en voel genoodsaak om die korrekte feite oor die aangeleentheid bekend te maak.

’n Kerklike ondersoek is ’n vertroulike proses en dit behoort so hanteer te word. Die dagbestuur spreek sy spyt uit dat hierdie aangeleentheid in die publieke domein beland het aangesien dit, binne die tydraamwerk wat daarvoor gestel is, nog nie afgehandel is nie. Tog oordeel die dagbestuur dat dit noodsaaklik is om ter wille van die kerklike publiek op die wanvoorstellings van die berig in Rapport te reageer.

Die Kuratorium het ’n navraag ontvang oor dr Nagel se standpunt oor die godheid van Christus. Lede van die dagbestuur het met hom daaroor gesprek gevoer en hy het sy artikel “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus is Not θεός”, aangebied as verduideliking van sy standpunt. Die gesprekke het plaasgevind binne ’n goedgekeurde protokol vir gesprekke oor teologiese opleiding. Na hierdie gesprekke het die dagbestuur van die Kuratorium geoordeel dat dr Nagel se standpunt ’n kerklike ondersoek regverdig.

Hierna het die dagbestuur ’n verslag opgestel en aan die Ring van Stellenbosch oorhandig om die aangeleentheid kerkordelik te hanteer. Die Ring van Stellenbosch het die kerkordelike opsie uitgeoefen om die Sinode van Wes-Kaapland te versoek om ’n ringstugliggaam saam te stel om die aangeleentheid te ondersoek. Die ringstugliggaam het, met inagneming van die dokumente wat aan hulle oorhandig is, geoordeel dat die aangeleentheid ontvanklik is en ’n klag geformuleer vir ’n leertugondersoek.

Die fokus van die ondersoek was om te bepaal of dr Nagel, as gelegitimeerde, steeds die godheid van Christus as sy persoonlike geloofsoortuiging handhaaf. Hier word spesifiek verwysing na die belydenis oor Christus in die Belydenis van Nicea.

Tydens die ondersoek het die ringstugliggaam omvattende gesprekke met dr Nagel gevoer oor sy teologiese standpunte. Die ringstugliggaam het tot die oortuiging gekom dat die akademiese artikel (wat hy aangebied het om sy standpunt te verduidelik) inderdaad sy persoonlike standpunt oor die godheid van Christus reflekteer en dat dit strydig is met die belydenis van die kerk en sy legitimasie-eed. Die belydenis van Nicea, wat amptelik deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk is, kom uit die vierde eeu nC en word deur die wêreldkerk as belydenis aanvaar. Hierdie standpunt van dr Nagel het sy legitimasie (predikantsbevoegdheid) in gedrang gebring.

’n Kerklike tugondersoek is ’n vertroulike proses en word as sulks hanteer. Dit is nie ’n heksejag nie en dra nie die karakter van vervolging of vergelding nie. Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring en as geloofsgemeenskap daarmee te werk – dit te beoordeel teen die agtergrond van vrae en gerugte wat sou ontstaan. Dit is gerig op die heil en welwese van die persoon sowel as van die geloofsgemeenskap. Dit is ’n poging om die een oor wie se leer en lewe daar gerugte en vrae ontstaan, op ’n broederlike wyse te begelei en te ondersteun, ten einde daardie optrede of leer weer te belyn met die belydenisskrifte, die legitimasie-eed en die gedragskode vir gelegitimeerdes. Dit is nie ’n poging om iemand uit die kerk te dryf nie – inteendeel.

Daarom is dr Nagel se legitimasie tydelik opgeskort hangende die uitkoms van ’n proses van kundige en begeleidende gesprekke met die oog op die regstelling van sy standpunte. Die doel van hierdie reëling is om vir dr Nagel tyd te gun om sy akademiese integriteit te belyn met kerklike integriteit. Die dagbestuur van die Kuratorium is besorg daaroor dat die berig in Rapport juis hierdie ruimte van besinning nou ernstig kan belemmer.

Die dagbestuur wys ten slotte daarop dat hierdie maatreëls van die kerk nie dr Nagel se posisie as dosent (hy is ’n werknemer van die Universiteit Stellenbosch) in gedrang bring nie, maar slegs sy predikantsbevoegdheid as gelegitimeerde van die NG Kerk.

Uitgereik deur:

Ds Peet Bester (Voorsitter van die Kuratorium van die Wes-Kaap)

Ds Charl Stander (Aktuarius en lid van die Dagbestuur van die Kuratorium)

Dr Frederick Marais (Skriba van die Kuratorium)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui